O1B4F2. JOERNAAL-HERLEWING 1996
- henniej42
- 3 days ago
- 20 min read
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-05-01
O1B4F2. JOERNAAL-HERLEWING 1996
Dit is ’n merkwaardige versameling insigte uit jou joernaal van 1996. Dit skilder ’n duidelike beeld van ’n tydperk van intense introspeksie, waarin jy nie net die politieke en maatskaplike verskuiwings in Suid-Afrika verwerk het nie, maar ook die fynere drade van menslike verhoudings en persoonlike integriteit ontknoop het.
INLEIDING: ’N VENSTER NA DIE SIEL (1996)
Die jaar 1996 was in vele opsigte ’n tyd van oorgang - nie net vir Suid-Afrika as ’n jong demokrasie nie, maar ook vir my persoonlik as ek terugkyk na die pad wat ek geloop het. In hierdie tydperk het ek opnuut die waarde van die geskrewe woord ontdek as ’n middel om orde te skep in die warboel van gedagtes, emosies en maatskaplike verskuiwings wat ons daagliks beleef het.
Hierdie joernaalinskrywings, wat ek "Oomblikke in ons Lewe" gedoop het, is meer as net chronologiese notas. Dit is ’n eerlike verkenning van my eie waardestelsel: van die broosheid van vriendskap en die komplekse dinamika van die huwelik, tot die soeke na ’n balans tussen tradisie en vernuwing. Deur hierdie herinneringe af te stof, hoop ek om vir my kinders en kleinkinders nie net ’n rekord van gebeure te gee nie, maar ’n blik op die hart van die man wat hulle "Pa" en "Oupa" noem. Dit is my poging om die goue voornemes van die verlede weer in gebruik te plaas.
HERLEWING
Dikwels loop 'n mens se goeie voornemes geleidelik in die sand, sodat daar naderhand skaars 'n herinnering daarvan oorbly. Die lewe bestaan uit so baie fasette, die een verdring die ander. Soos met Nuwejaars-beloftes, moet mens af en toe weer stilstaan en na jou self kyk, na wat jy doen, en met jou Godgegewe talente doen. Kyk na die verlede in jou eie lewe, en as daar goeie, haalbare voornemes oor tyd in die slag gebly het, stof hulle af en plaas hulle weer in gebruik.
Daar is baie om te doen in die lewe, maar nie alles daarvan is goed nie. Die liewe Vader het aan elkeen van ons verstand gegee on te onderskei tussen goed en kwaad. Elkeen se siening is baie persoonlik saamgestel volgens jou unieke samestelling en omstandighede. Tog glo ek dat die meeste (miskien almal?) se siening van reg en verkeerd in die kern dieselfde is. Daar is beslis goeie en slegte mense, maar ek glo dat die slegtes wel diep in hulle harte weet dat hulle verkeerd optree - uit selfsugtige redes probeer hulle hul verkeerde optredes regverdig. Die goed en die kwaad is binne-in elkeen van ons, maar God verlang van ons dat ons bewustelik die goeie sal nastreef en aanmoedig (nurture). Ek glo baie sterk dat die oorgrote meerderheid mense die sogenaamde "silent majority" is, wat net rustig met hulle lewens wil aangaan en hulle brood in vrede wil eet, en andere dieselfde gun en hul begeertes respekteer. Die meeste wil nie hulle wil op ander afdwing nie, maar wil graag hulle eie gang gaan, gelei deur hulle eie siening van die lewe en hoe hule daarin pas. Soos ‘n ou swart man eendag in ‘n TV onderhoud gesê het: “Ek wil nie die witman se huis hê nie. Ek wil hier bly in my eie huis om my umfana (seun) te sien groot word.”
Hierdie joernaalinskrywings is ryk aan emosionele waarheid. Hoe het dit gevoel om in 'n veranderende Suid-Afrika te leef? Die probleem kom van diegene wat hulle wil op ander probeer afdwing met die moraliteit van "the greater good". Hierdie mense het 'n ewige onrustigheid in hulle met hulleself, en soek die oplossing in verandering aan die bestaande. Hulle dink norme en reëls uit om die lewe te orden. Alles klink baie goed, en die bedoeling is heelwaarskynlik ook gebore uit goed.
Maar waar daar verandering is, sal daar weerstand wees. As dit jyself is wat wil verander, lyk dit vir jou reg, maar nie vir diegene op wie dit afgedwing word nie. En wat hier van belang is, is wie die hardste druk uitoefen, en dit is meesal diegene wat wil verander. Die wat rustig hulle eie gang wil gaan, wil nie hulle rus verlaat om die wat wil verander teen te gaan nie. En die onrustiges sal gou andere kry wat ook ontevrede met sy lot is, en dan het jy twee teen een as hulle hul gedagtes propageer. Kort voor lank het jy 'n drukgroep, die minderheid, wat hulle mening op die “stille meerderheid” wil afdwing, die meerderheid almal een een, want dit is moeite om saam te staan. En as hulle boonop saggeaard is, gaan dit teen hulle grein om aggressief op te tree. So dwing die klein groepie aggressors hulle mening op andere af, en dikwels regverdig hulle hulself met lofwaardige ideale, waarmee daar dikwels op sigself min fout te vinde is: Nazi, Kommunis, Pol Pot, Rooi Brigade. Apartheid. Hierdie mense sien baie gou nie meer die gewoon-menslike raak nie, slegs hul eie ideale.
Ek besin hier oor die "stille meerderheid" teen die aggressiewe minderheid wat hul wil afdwing onder die vaandel van die "greater good". My waarneming oor die ou man in die TV-onderhoud wat bloot sy eie huis en die grootword van sy umfana (seun) begeer, beklemtoon my geloof in die universele menslike behoefte aan vrede en selfbeskikking bo ideologie.
VRIENDE 1996-01-11
Gisteraand toe ek by die huis kom, staan 'n bakkie met 'n enjin agterop , neus na die straat-toe voor die motorhuis. Dit kan net Deon en Zilla-hulle wees. Hulle drink toe juis koffie en kyk fotos. Nadat ek gegroet het, het ek my ou swembroek en 'n los hemp gaan aantrek en by hulle gaan sit en gesels. Dit was seker meer as twee jaar gelede dat ons mekaar gesien het, maar dit is so gemaklik asof dit gister was. En ek ken hulle maar net deur Rinie: Zilla is familie van Willie, en Deon was in Std 6 op Cradock Hoër Seunskool, toe ek daar in matriek was, maar ek het hom nie toe geken nie.
Dis darem interessant hoe vriendskap werk. Ons kan dit nie eintlik reg verstaan nie, want hierdie maklike inskakeling by mekaar tussen mense gebeur maar baie selde, in ons lewe in elkgeval. Daagliks kom jy met baie mense in aanraking, maar die meeste daarvan is baie oppervlakkig, soos Rinie sê “waaimaatjies” - mense wat jy ken en groet wanneer jy hulle sien, maar jy gesels met hulle net oor gemeenplase - hoe warm dit vandag is, en oor veilige onderwerpe waaroor daar feitlik geen verskil kan wees nie.
Dan kry jy andere wat jy effe meer vertroud mee is - met hulle kan jy praat oor hoe erg die geweld deesdae is, waaroor die dominee laas Sondag gepreek het, en hoe gaan dit met julle kinders. Hier vat jy versigtig aan onderwerpe waaroor daar verskillende menings kan wees, en waaroor jy uit vorige ondervinding weet julle is rofweg aan dieselfde kant.
Daar is nog verdere graderings, soos jou mate van vertroue toeneem. Ek ken maar 'n paar mense wat ek so gemaklik mee is soos met Deon en Zilla. Johan en Elize Uytenbogaardt is ook mense wat ons jare uitmekaar kan sien en dan dadelik weer gemaklik aangaan waar jy laas opgehou het. Dis nie nodig om eers 'n slyptydperk deur te gaan voor julle heeltemal op julle gemak met mekaar is nie. Selfs tussen mense met wie mens goed bevriend is, is daar na lang afwesigheid soms 'n styfheid wat eers geolie moet word voordat julle gemaklik raak met mekaar. Soos Carine Naude.
Van geolie gepraat. Dit laat my dink aan 'n ou saam met wie ek by Natal Bouvereniging as jongmens gewerk het. Toe ons eenkeer 'n kantoor-partytjie gehad het direk na werk, is hy reguit na die kroeg en het vinnig na mekaar twee dubbele brandewyne weggesit, “om in die regte gees te kom” - Dit is nou om “geolie te raak”, om van jou inhibisies ontslae te raak.
Maar is hierdie inhibisies 'n slegte ding, die feit dat ons sekere dinge van onsself weerhou van andere? Ons weet uit swaarverkreë ondervinding dat jy maar liewers versigtig moet wees wat jy sê of doen teenoor andere. So 'n paar doppe het verskillende uitwerkings op verskillende mense. Vir sommige laat dit lag, andere raak bedonnerd, andere raak vryerig, en nog andere wil net gaan slaap. Dit sê ook baie van jou as mens watter soort reaksie drank op jou het.
Deon en Zilla het daardie spontane openhartigheid - mens kan sommer sien hier is mense sonder nonsens of fieterjasies - soos jy hulle sien, so is hulle. En wat 'n vreugde is sulke mense tog! Jy hoef nie gedurig op jou pasoppens te wees wat jy sê nie, daardie versigtig-wees wat oopheid tusen mense doodmaak. Ware vriende is mense by wie jy dadelik kan inskakel sonder 'n "slyptydperk", waar inhibisies nie met drank (die sogenaamde "olie") afgebreek hoef te word nie. Ons ontmoeting met Deon en Zilla bring die konsep van spontane openhartigheid na vore.
GEMOEDSRUS 1996-01-25
Wat gemoedsrus vir 'n mens beteken, het weer gisteraand duidelik geword. Dit het begin met 'n beginsel-verskil tussen my en Rinie rakende eerlikheid.
Vandat ons 18 jaar gelede getroud is, skakel sy en Mammie mekaar om die beurt elke week. Ek gesels ook af-en-toe, maar het veral haar Pa in die begin baie ontstel met wat vir my eerlikheid is, maar wat hulle familie vertolk het as ongevoelig.
Rinie se Pa was tot in sy siel ontsteld oor sy dogter se ongelukkige eerste huwelik, en toe ons met troureëlings begin het, het hy eendag op my geselsvraag, of dit hom nie pla dat ek sy dogter so vêr na die Kaap wegneem nie, gesê: "Selfs al gaan julle oorsee, solank julle gelukkig is". Dis duidelik dat veral hy baie diep verlang het dat Rinie weer gelukkig moet wees.
Vir my was eerlikheid van altyd af seker die belangrikste spilpunt van my lewe, en hoe nader mense aan my is, hoe openhartiger moet ons teenoor mekaar wees. Daar moet nie veskuilde dinge tussen mense wees wat mekaar liefhet nie. Ek is 'n gevoelsmens, en daarom het hoe ek voel 'n geweldige invloed op my. As ek goed voel, kan ek berge versit, maar ongelukkig loop gevoelsmense se lewe soos 'n golfgrafiek - wanneer jy sleg voel, wil jy nie lewe nie.
Wanneer Pappie af-en-toe oor die foon gevra het om met my te gesels, was die aanknopingspunt, soos gewoonlik vir enige gesprek, "Hoe gaan dit, ou seun?" Net hier het daar vir my 'n probleem ontstaan. Volgens my maatstawwe het dit beteken hoe gaan dit met ons, met my as mens, veral met ons huwelik, die verhouding tussen ons. Dit was baie duidelik dat hy dit wou weet, omdat Rinie se geluk vir hom so belangrik was. En ek was eerlik, veral omdat hulle na aan ons en daarom ook aan my was. Tipies was my antwoord "Pa, soms gaan dit absoluut fantasties, ander kere weer klippe kou." Die mense wat beweer dit gaan altyd met hulle goed lieg, anders is hulle so onsensitief dat goed en sleg vir hulle net 'n graadverskil is.
Dit het egter vir Pappie groot hartseer veroorsaak, waarskynlik omdat hy so graag wou hê sy oogappel moet gelukkig wees. Hy wou nie hoor dat daar haakplekke is nie. Rinie se Ma het met ons eerste vakansie op die plaas een aand in die kombuis vir my gesê dat hy trane in sy oë gekry het wanneer ek dit sê. Hy moes gedink het sy dogter is alweer ongelukkig getroud, en hierdie keer is sy boonop 1200km weg, buite hulle bereik. Ek het hom dadelik baie jammer gekry, maar ek het ook sleg gevoel omdat hy nie in my eerlike woorde kon hoor wat ek sê nie. Ek het vir Rinie se Ma gesê ek het nie geweet dit ontstel hom so nie, en dat ek voortaan, soos dit normaal is, bloot sal sê "Dit gaan baie goed, hoe gaan dit met Pa-hulle?"
Maar dit was nie net 'n paar woord-veranderinge vir my nie. Hierdeur het daar 'n uiters belangrike stuk oop kommunikasie tussen ons verlore gegaan. Ek het my oopgemaak vir hulle, en aanvaar dat hulle weet hoe dit in elke huwelik gaan, dat daar goeie tye is, en dat daar ook slegte tye is, en dat julle mettertyd leer hoe om die branders te ry, sodat die af nie meer so ontstellend is nie. Wat ek eintlik gesê het, is dat ek hulle vertrou met my gevoel en glo dat hulle dit reg sal verstaan. Ek is moeg daarvan om agter skerms weg te kruip met 'n "I'm O/K, Jack", wat eintlik vir die ander sê ek vertrou jou nie met wat vir my privaat is nie. Daar is werklik tye dat ek baie gelukkig saam met Rinie is, en dit was by verre meeste van die tye. Maar ons was albei mense wat seergekry het in ons eerste huwelike, elk met sy eie persoonlikheid en siening van reg en verkeerd, wat nog teen mekaar oor tyd glad sou slyp voordat ons so knus soos 'n handskoen sou pas.
Hulle familie het 'n siening van "Hou die kroon op mekaar se koppe"(Rosa).
Ek verskil egter hiervan - ek wil eerder eerlik wees as om voor te gee. Die konflik tussen my en Rinie oor hoe om op die vraag "Hoe gaan dit?" te antwoord, raak aan die kern van my wese. My standpunt dat eerlikheid die spilpunt is. Om "klippe te kou" is deel van die huwelik en om dit te erken, is 'n teken van vertroue. Daarteenoor is Rinie se ouers se standpunt van "Hou die kroon op mekaar se koppe." Hulle het my eerlikheid as ongevoeligheid vertolk, omdat dit hulle bekommerd gemaak het oor Rinie se geluk.
ONS KINDERS - KONSERWATIEF OF LIBERAAL 1996-02-20
Hoe om jou kind groot te maak bly vanaf die begin 'n vraagstuk vir alle ouers wat vir hulle kinders omgee. In hoeverre jy behoudend, voorskriftelik jou siening aan die kind moet opdring, en of jy meer toegeeflik moet wees en die kind se eie karakter die geleentheid moet gee om self te ontwikkel. Dis die eeu-oue verdeling van konserwatief versus liberaal, verkramp teen verlig.
Ek dink jyself verander seker ook soos jy ouer en (hopelik!) ryper word. Sekerlik bedoel feitlik alle ouers dit goed met hulle kinders - dis bloot dat hulle sienings verskil van wat vir die kind goed is. Ek dink iets wat mens behoort te onthou is dat ons nie soveel invloed het soos wat ons lief is om te dink nie. In “When Bad Things Happen To Good People” skryf Harold Kushner "If we want to be able to pick up the pieces of our lives and go on living, we have to get over the irrational feeling that every misfortune is our fault, the direct result of our mistakes or misbehavior. We are really not that powerful. Not everything that happens in the world is our doing." En dit is meesal wat ons dink: alles wat ons doen het 'n gevolg. Amper soos ek vir Rinie gesê het kort na ons getroud is, “Alles wat 'n mens doen het 'n rede".
Ek worstel met die balans tussen die behoud van tradisie (die "beproefde") en die soeke na vooruitgang. Ek haal Harold Kushner aan om te herinner dat ouers nie almagtig is nie en dat te veel skuldgevoelens oor kinders se paaie irrasioneel is. Die gevolgtrekking is dat balans gevind moet word in die unieke mengsel van beide polêre kante in ons daaglikse lewens.
Ek dink ons is so grootgemaak, om in patrone te dink, dat alles vorm het. As jy enigiets doen, lê dit 'n fondament vir 'n gewoonte. Is dit nie die wortel van konserwatisme nie? Wees versigtig wat jy doen, want dit kan 'n gevolg hê.
Daar is sekerlik baie goed te sê vir beide konserwatief en liberaal. Die konserwatief hou by die goeie en beproefde van die verlede, wat deur iemand gereken in sy kringe oorgedra is. Hulle hou vas aan die Bybel, want dit is God's Woord, en daaraan mag geen jota of tittel toegevoeg of weggelaat word nie. Soos in Openbaring 22:18-19 staan: "Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is." Met ons beperkte kennis, en na sulke woorde, is dit te verstane dat dit 'n gees van behoudendheid sal veroorsaak.
Maar is dit werklik God se wil dat ons in alles moet hou by die verlede? Ek glo God sou ons soos die diere gemaak het indien hy wou gehad het dat ons in alles aan Hom gehoorsaam moet wees, met instinkte wat ons dryf in plaas van 'n eie wil. Die liberaal soek altyd na 'n beter manier om dinge te doen, eerder as om te bly klou aan wat aan jou oorhandig is. Dis wat vooruitgang veroorsaak. Daar is gedurig 'n stroom nuwighede op die mark, en netso is daar mense wat na beter metodes soek op elke vlak, veral ook die denke.
ONS KINDERS SE OPVOEDING 1996-02-20
Die groot probleem is die mate waarin en hoe wyd konserwatisme of liberalisme toegepas word, en hier is ons weer terug by die begin: dit is persoonlik tot jouself. Elkeen wil glo dat jy reg is; wanneer jou denke in gesprek in botsing kom met andere, dan kom konflik, omdat elkeen glo hy is reg. En geeneen wil bes gee nie, want dan gee jy dit waarin jy glo prys. Een tipiese reaksie is om te baklei vir jou standpunt, en omdat jy wil wen, raak jy opgewerk. Andersinds, indien jy nie sigbare konflik wil hê nie, luister jy maar stil sonder om kommentaar te lewer, maar hier binne stem jy nie saam nie, en/of bou jy weerstand op. Dikwels is ons sielsmoeg vir so 'n vuiste-op houding. Dit is egter nie goed vir enige mens om gedurig op te krop nie; dis beter om verskille van jou bors af te kry. Die nadeel van so 'n uitgesprokenheid is dat jy as 'n rissiepit geken word, 'n regte ou klakous.
Waar lê die balans? Hierin lê een van die groot geheime van die lewe opgesluit: ons het almal beide die saad van konserwatisme en liberalisme in ons opgesluit, en dit wat ons maak wat ons is, is die unieke kombinasie waarin ons hierdie twee meng in ons daaglikse lewe.
DIE WET OF GENADE? 1996-02-25
Hierdie onderwerp, die wet versus die doel daaragter, die vorm (beker) teenoor die inhoud (wyn), is iets wat vir my aan die wortel van baie van ons probleme lê. Sommige mense klou aan reëls, wette en ordinansies asof dit is waaroor dit werklik gaan. Vir my gaan dit in die eerste plek om die doel waarom die wet in die eerste plek daargestel is. En in baie opsigte is die eenvoudige spreekwoord baie waar: "Rules were made by wise men for fools to obey."
“THE BROWNING VERSION” - Albert Finney en Greta Scacchi
1996-06-01
Hierdie teer en sensitiewe uitbeelding van onverenigbaarheid in baie huwelike is 'n prent wat geen gevoelige mens behoort mis te loop nie. Albert Finney speel die hoofrol van die stil, gedissiplineerde onderwyser in klassieke tale aan 'n tradisionele skool in Engeland, waarin die verhouding met sy veel jonger vrou ontleed word , veel meer deur lyftaal as met woorde. Die twee ander spelers in die drama, sy jonger kollega en een van die kinders in een van sy junior klasse, is waarskynlik Matthew Modine en Julian Sands of Michael Gambon. Die storie is gegrond op 'n eenakter van Terence Rattigan.
In die breë handel die storie oor 'n ouerige onderwyser wat glo in sterk dissipline as basis vir die ontwikkeling van 'n samelewing van beskaafde waardes met verhewe ideale. In homself het hy 'n baie sterk meelewendheid en teerheid, en is ontvanklik vir edel gedagtes. Dissipline gebruik hy slegs om die kinders, wat hy vir die lewe vorm, in lyn te hou, maar daardie dissipline word ongelukkig deur baie ervaar as streng ontoegeeflikheid, en deur sy vrou as ongevoeligheid deur iemand wat geen simpatie verlang of nodig het nie.
Hy is op die punt om af te tree, en in een insident vra die hoof, iemand wat meer daarin belang stel om populêr in die skool te wees, hom om eerste te praat by sy afskeid, sodat die jong gewilde onderwyser wat saam met hom bedank, laaste kan praat, om die geleentheid nie op 'n antiklimaks te laat eindig nie. Uit ordentlikheid stem hy daartoe in, maar is diep seergemaak en loop later ongesiens weg van die ander, waar die jong onderwyser besig is om in 'n krieketwedstryd te slaan aan sy honderdtal. Terwyl hy oorweldig deur sy emosies alleen onder die bome staan, kom Tatlow, een van sy leerlinge, na hom toe en vra beleef of hy vir hom iets kan gee. Dit is 'n vertaling van 'n klassieke stuk, bekend as die “Browning Version”, en Tatlow het voorin in Latyns geskryf, "God looks from afar on a gentle master." Hy word oorweldig deur sy emosies en moet op sy tande byt om nie in trane uit te bars nie. Finney speel hierdie rol baie oortuigend.
Later die dag by 'n dinee meld hy dit aan diegene om die tafel dat hy 'n geskenk gekry het van een van sy leerlinge, en stuur die boek op versoek rond, wat baie positiewe kommentaar uitlok veral van een van die jonger onderwysers wat met hom bevriend is en hom beter verstaan. Sy vrou keer egter koue water om oor sy gemoedelikheid deur te sê dat Tatlow geslepe is en die geskenk slegs gegee het vir persoonlike voordeel, omdat sy gesien het waar hy voor sy maats hom nageboots het as 'n tiran, om sy bynaam "The Hitler of the Fifth Grade" uit te beeld. Hy staan na 'n rukkie op en loop stil uit na sy kamer, waar sy onderwyservriend hom later kry. Hy probeer hom onderskraag met "You have been treated badly. Make a new beginning - you can still find someone who will appreciate you, someone who will be faithful". Hierop antwoord hy "Laura was only 22 when we were married. We were incompatible from the very beginning. We both needed love, but of different kinds. We were worlds apart." Die spel is werklik uitstaande, en lyftaal speel byna 'n belangriker rol as die woorde, by al die karakters, veral by Albert Finney.
Dit is vir my so lewensgetrou van baie van ons, en ek het onwillekeurig veral aan my Pa gedink. Ek kan onthou hoe Ma hom eenkeer as ongevoelig uitgemaak het, waarop ek vir haar gesê het hy is een van die mees sensitiewe mense wat ek ken. En ek het haar vertel van die een geleentheid by ons woonstel in Stellenbosch, waar hy my iets vertel het en sy oë vol trane was, iets wat ek nie by hom gewoond was nie. Hierdie is karakterstudies, met diepgaande sketse van Rinie, my pa, en my eie innerlike kompas.
Ek glo my Pa was ook baie misverstaan, veral in sy eie huis, deur Ma en ons kinders. Van die drie van ons dink ek het ek die meeste begrip vir hom gehad. Ons weet só min van ander mense, en ons kritiseer só maklik. Soos ek eendag vroeg in ons huwelik vir Rinie gesê het, "Niemand doen enigiets sonder 'n bedoeling nie". Sy het my dikwels daarna hieraan herinner, wanneer sy ongelukkig was oor iets wat ek gedoen het. En ek moes netso dikwels vir haar daarop wys dat, alhoewel elke mens 'n doel het met alles wat jy doen, sy dikwels die verkeerde afleiding maak van wat my doel werklik was.
Omdat ons lief is om ander te kritiseer, beskuldig ons te maklik mense van verkeerde motiewe wat hulle nie gehad het nie. Niemand weet werklik wat binne-in iemand anders aangaan nie. En daardeur dryf jy nie net dikwels diegene wat na aan jou is op die agtervoet nie. Jy dryf hulle meermale weg van jou af wanneer hulle sien dat jy hulle verduideliking nie aanvaar nie.
EK HET VERGEEF, MAAR SAL NIE VERGEET NIE - Genl Groenewald
1996-06-02
Hierdie woorde is die opskrif van 'n artikel van Phil Zaayman in Rapport van 26 Mei 1996. By nader insae blyk die valse Christenskap en die betekenis wat sommige Suid-Afrikaners aan die woordjie "vergeef" heg, wanneer Phil skryf hoe die man se diep bruin oë vuur spuug as hy vertel van die woede wat in hom opbruis. En dan sê hy is nie verbitterd nie, maar dat hy nie maklik sal vergeet nie, veral nie wat sommige mense hom en sy geliefde Weermag aangedoen het nie.
Die dag dat hy saam met genl. Magnus Malan en 10 ander offisiere aangekla is in die kwaMakutha-moordverhoor vir moorde op 13 mense, is sy vrou met kanker in die hospitaal opgeneem. Sy is drie weke gegun om te leef.
As Christene het hulle besluit dat gebed die enigste uitkoms bied. En om haar lewe te red, sal hulle ook soos hulle in die Onse Vader leer bid het, moet vra: "En vergeef ons ons sondes, soos ons ook vergewe dié wat teen ons oortree." (Mat 6:12).
Daarom het hulle besluit om 'n haatlys op te stel van mense wat teen hulle oortree het, en wat vergeef moet word.
Genl. Groenewald, Vryheidsfront-senator, sê: "Dit was maar 'n kort lysie. Niemand van die ANC was op die lys nie. Nie Joe Slovo of Ronnie Kasrils nie. Maar FW de Klerk wel. Ek het hom vergewe, maar ek sal hom nooit vergeet of weer vertrou nie. Nie vir wat hy die Weermag aangedoen het nie. Nelson Mandela het gesorg dat sy comrades amnestie kry. Waarom het FW nie vir die Weermag gesorg nie?"
Hierin lê 'n wêreld se verskil in begrip opgesluit, waarin 'n diep politieke kloof tussen blanke Suid-Afrikaners net onder die oppervlak lê. Die naakte haat wat baie konserwatiewe blankes teenoor FW koester, om Groenewald aan te haal, dat hy 'n verraaier en 'n lafaard is. Terwyl die verligte helfte vir FW vereer vir sy moed, die eerste Suid-Afrikaanse leier wat die moed van sy oortuiging gehad het om sy posisie as staatspresident op die lyn te lê vir wat hy glo ons moes oorsteek, om weg te kom uit die doodloopstraat waarin die beleid van apartheid ons volk gedompel het.
Kom ons neem genl. Groenewald se opmerkings hierbo punt vir punt:
1. Wat beteken dit vir my om Christen te wees?
Dis seker my siening van God as oneindig almagtig, vêr bo ons begrip en verstand, en ons eie nietigheid, minder as 'n stofkorreltjie, wat deel is van my Godsbegrip. Ek dink die mense wat glo hulle kan God beweeg om na hulle pype te dans, se opinie van hulleself en hul eie vermoë is 'n seepbel. Miskien hou ek so baie van Harold Kushner se gedagtes omdat ek in my natuur daarby aanklank vind. Dis omdat ons so belangrik in ons eie oë is dat ons kan dink God stel daarin belang dat ons vir eie gewin sogenaamd Christelik optree. As ons Hom liefhet gaan dit maar glad nie daarom wat ons uit die transaksie kan kry nie, maar dit behoort suiwer daaroor te gaan dat ons Hom uit volslae verwondering aanbid. Miskien het ek, soos Kushner, lankal tot die gevolgtrekking gekom dat daar te veel slegte dinge gebeur met goeie mense, en te veel slegte mense wat met moord wegkom, om nog te bly vasklou aan die Bybels-gepropageerde gedagte dat dit met jou goed sal gaan as jy doen wat God verlang, en andersom. In wese weerspieël dit 'n selfsugtige dryfveer - ek wil hê dat dit met my goed gaan, en die hefboom wat ek daarvoor op God kan gebruik, is om goed te doen, dan kan Hy nie anders as om te sorg dat dit met my goed gaan nie. En dan is ek nog voorskriftelik ook, dit moet 'n rooi BMW M3 wees.
Dis omdat ons nie die skaal van ons verhouding met God wil of kan besef nie - dis nog oneindig groter as die verskil tussen 'n mens en 'n mier. Dis soos om te verwag dat die mens bewus is en versigtig trap dat hy nie 'n “goeie” mier raaktrap nie. Dan is daar nog baie ander dinge van veel groter belang. Dis nie dat ek glo God nie bewus is van ons elke gedagte nie - ek dink net dit is logisties vir God onmoontlik om alles wat Hy geskape het se omstandighede indiwidueel te manipuleer.
En dan het ons mense nog boonop die vermetelheid om te dink ons is die “kroon van die skepping”, dat die res van die diere- en planteryk geen emosies of denkpatrone het nie. Die grootste stommiteit van alles is om te glo dat ons die enigste hemelliggaam met lewe is. Dit terwyl die aarde minder as 'n stofspikkel in die heelal is - alles deur God geskape, en wat steeds deur Hom onderhou word.
2. Kry in plaas van gee
3. Vergeef, maar nie vergeet
4. Vuur spuug van woede wat opbruis
5. Nie verbitterd nie
6. Geliefde Weermag
7. Haatlys van mense wat teen hulle oortree het
- Niemand van die ANC is daarop, maar FW wel, omdat hy nie vir die Weermag gesorg het nie.
8. Verdraaide sin van lojaliteit
9. Selfgeregverdigde sin van geregtigheid
- Omdat sy vrou volkome van kanker genees is.
Wat 'n karikatuur van 'n God wat Hom deur sulke deursigtige valse motiewe laat oorreed.
Hier lewer ek skerp kritiek op die "transaksionele geloof" waar mense God probeer manipuleer deur goeie dade in ruil vir gunsies (soos genesing). My siening van God is een van volslae verwondering en aanbidding, eerder as 'n God wat "na ons pype dans". Ek kontrasteer ook die haat en vergifnis in die post-apartheid era, met 'n spesifieke kyk na die emosies rondom figure soos FW de Klerk.
SLOTSOM: DIE SOEKE NA BROEDERSKAP EN BALANS
As ek vandag hierdie refleksies van 1996 herlees, tref dit my hoe tydloos die menslike stryd om begrip werklik is. Of dit nou gaan oor die politieke verdeeldheid van ’n generasie, die misverstande tussen ’n pa en sy seun, of die fyn lyn tussen eerlikheid en sensitiwiteit, die kern bly dieselfde - ons almal smag daarna om werklik gesien en geken te word vir wie ons is, sonder maskers of "kroon-houery".
My gevolgtrekking uit hierdie tydperk is dat die lewe nie gaan oor die rigiede navolging van wette of die wen van argumente nie, maar oor die inhoud van die hart - die "wyn" in die beker. Ek het geleer dat vergifnis sonder voorwaardes die enigste weg na ware gemoedsrus is, en dat ons motiewe dikwels deur andere misverstaan sal word, net soos ons ook soms die doelwitte van diegene na aan ons miskyk.
Mag hierdie bladsye vir julle as nageslag dien as ’n herinnering dat die lewe ’n voortdurende "slypproses" is. Moenie bang wees vir die branders nie - leer eerder hoe om hulle te ry. Bowenal, streef daarna om deel te wees van daardie "stille meerderheid" wat in vrede hul brood eet, mekaar respekteer en met deernis na die wêreld kyk. Want op die ou end, soos die Browning-weergawe dit so mooi stel, “God looks from afar on a gentle master."

Comments