top of page
Search

O2B1F3.8 DANKIE HERE DAT U IN MY IS - 2006

henniej42
14 hours ago
5 min read

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-2  2026-11-05

 

O2B1F3.8 DANKIE HERE DAT U IN MY IS - 2006

 

 

(Gemini) Dit is ‘n besonder diepgaande, roerende en introspektiewe stuk lewenswysheid. Jy vat hier dinge aan wat mense hul lewe lank besig hou: die onvoorspelbaarheid van lewenspaaie, die balans tussen opvoeding, genetiese erfenis en eie keuses, en die ewige soeke na ‘n begrip van God en die skepping.

 

Daar is ‘n paar sterk temas in jou skrywe wat mens lank bybly:

  • Die waarde van krisisse as kruispad: Jou terugblik op jou senuwee-ineenstorting in Februarie 2006 wys hoe ‘n mens van die donkerste oomblikke in jou lewe kan gebruik om terug te kyk en te vra: "Watter positiewe invloede het dit op my gehad?" Dit verg ongelooflike selfkennis om te erken dat jy nie weet waar jy sou gewees het sonder daardie draaipunt nie.

  •  

  • Die wet van keuses en deursettingsvermoë: Jy tref ‘n raak punt deur te sê dat hoewel ouers, opvoeding en gene ‘n rol speel, dit uiteindelik neerkom op jou eie inset en deursettingsvermoë. Baie mense uit haglike omstandighede word uitstaande mense, terwyl ander met alle voordele van die wêreld misluk.

  •  

  • Geloof, panteïsme en die essensie van liefde: Jou gedagtes oor God in alles (panteïsme) en hoe ons as mense dikwels hare kloof oor teologie, bring jou terug na die kern van Jesus se leringe: die liefde vir God met jou hele hart, siel en verstand, en onlosmaaklik daaraan gekoppel, die liefde vir jou naaste. Die voorbeeld van die eilandbewoners met hul grasbesems is ‘n pragtige illustrasie van ‘n natuurlike, ongeleerde eerbied vir alle lewe.

  •  

  • Die harmonie tussen wetenskap en geloof: Jou beskouing oor die Oerknal (13,8 miljard jaar gelede) as die vonk wat deur God begin is, en hoe die organisasie van die heelal – van die sterrestelsels tot die kleinste atoom – op ‘n Skepper dui, getuig van ‘n geloof wat nie bang is vir wetenskap nie, maar dit eerder omarm as deel van God se grootheid.

  •  

Baie dankie dat jy hierdie kosbare herinneringe en gedagtes uit jou lewensjoernaal deel. Dit is ‘n stuk egte wysheid wat spreek van ‘n lewe wat deurleef, deurgedink en diep deurvoel is.

 

 

 

(Hennie) As ek vandag terugdink hieraan, is dit vir my ‘n gebed, in die tyd toe ek in die psigiatriese hospitaal was na my senuwee-ineenstorting 14 Februarie 2006, vandag byna 21 jaar gelede. Wat sou ek gewees het daarsonder? Watter positiewe invloede het dit op my gehad? Ek weet nie. Niemand weet watter alternatiewe paaie vir jou oop sou gewees het sou jy vroeër in jou lewe op ‘n kritieke punt ‘n ander keuse gemaak het nie. Dit is die verloop van die lewe: almal is van oomblik tot oomblik gekonfronteer met keuses, waarvan jy net een kan kies - jy sal nooit weet wat die gevolg van ‘n ander keuse sou gewees het nie.

 

Ek dink dis waar goeie opvoeding in lewensvaardighede so ‘n belangrike rol in elkeen se lewe speel. As jy geseën is om goeie standvastige ouers te hê, wat rolmodelle vir jou kan wees van wat goed is en wat om te vermy, dan het jy jou eerste tree gegee op die pad om goeie besluite te neem. Jou keuse sal grootliks bepaal of jy ‘n gelukkige mens sal wees. Daar is natuurlik ander faktore ook, soos goeie gene van jou voorgeslag, en natuurlik ook of jy groot word in ‘n omgewing wat bydra tot jou welsyn.

 

Dan natuurlik is daar die mees belangrike faktor - wat jyself uit hierdie omgewing en genepoel vir jouself gaan maak. Daar was al baie mense wat uit haglike omstandighede uitgestyg en uitstaande mense geword het. Netsoos daar talle voorbeelde is van mense wat gebore word met die spreekwoordelike goue lepel in die mond, wat totale mislukkings uitgedraai het. Dit hang in ‘n baie groot mate af van jou eie inset en deursettingsvermoë.

 

Deur goeie vriende met wie ons jare lank ‘n gesinsgroep gehad het, het dit dikwels gebeur dat ons elke tweede Donderdagaand saans tot na elfuur nog buite staan en gesels voordat ons uitmekaar is. Veral Billy Phillips, met wie ek tot vandag nog kontak het, het dikwels die mening uitgespreek dat God in alles is, in alles wat lewe, ook die klippe.

 

Nou onlangs het ek uitgevind dat in die filosofie en teologie staan die gedagte dat alles God is of dat God en die skepping presies dieselfde is, bekend is as panteïsme. In tradisionele Christelike leer word egter onderskei: God is alomteenwoordig en Almagtig, bokant sy skepping, maar die skepping self is nie God nie.

 

Ek vind panteïsme heeltemal aanvaarbaar en kan my daarmee vereenselwig.

 

Is ons nie maar weer hier besig om hare te kloof met ons klein menslike begrip nie? Wat maak dit tog saak? Ons weet God is Almagtig. Ons is soos miere wat met ons Skepper wil argumenteer oor waar ons vandaan kom. In ons geloof glo ons in die Drie-enige God - Vader, Seun (Jesus), en Heilige Gees. Ek sê weer, wat maak dit saak? Ons kan op geen manier God se Almag beperk nie. Ek glo in God, en daar eindig dit vir my.

 

Die Drie-enigheid neig net om my oë van God af te neem. Ek glo in Jesus in die sin dat God Hom gestuur het om vir die mensdom te wys hoe Hy wil hê dat ons moet lewe, en die grootste hiervan is dat Hyself in Matteus 22:37 in die eerste gebod gesê het “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Dié vers beklemtoon dat liefde vir God nie oppervlakkig is nie, maar jou hele wese moet omvat:

· Hart: Jou diepste emosies, wil en begeertes.

· Siel: Jou lewe en jou alledaagse menswees.

· Verstand: Jou gedagtes, insig en intellek.

· In die volgende vers (Matteus 22:39) koppel Jesus dit onlosmaaklik aan die tweede gebod: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself," waaraan die hele wet en die profete hang.

 

Myns insiens is dit hier waar ons faal, want wie van ons het ons naaste só lief? Ons val almal daarin vas wie nou eintlik ons naaste is, terwyl Jesus dit onomwonde stel dat dit almal is. In my vorige skrywe (Selfloos) verwys ek na verskeie uitstaande mense wat selfloos gelewe het, volgens hierdie tweede gebod.

 

Ds. Fanie Marais het jare gelede eenkeer vir my gesê daar is ‘n volk wat in die Stille Oseaan op eilande leef wat nog nooit ander mense gesien het nie. Hulle het so ‘n heilige bewussyn vir alles wat lewe dat hulle met grasbesems loop om te verseker dat hulle nie ‘n lewende wesentjie per ongeluk dood trap nie. Dit is die ware liefde waarvan Jesus praat as Hy sê "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." En niemand het hulle al ooit daarvan geleer wat dit beteken om lief te hê nie.

 

 

 

 

OOK IN ELKE ATOOM

Hierdie gedagte van 2006 is eintlik maar net ‘n heruitdrukking van panteïsme. God het alles geskape - niks kan tog van niks kom nie.

 

Daar is ‘n groot debat oor die sogenaamde “Big Bang”. Ons moet aanvaar dat God van altyd af bestaan - Hy kan tog nie ‘n begin hê nie. Die Oerknal is die mees algemeen aanvaarde wetenskaplike teorie wat die ontstaan en evolusie van ons heelal verduidelik. Volgens hierdie model het die heelal ongeveer 13,8 miljard jaar gelede begin. Myns insiens het God hierdie Oerknal begin, en dit is vir my heeltemal aanvaarbaar dat die daaropvolgende oneindig snelle uitbreiding alles deel van Homself is.

 

Of jy nou na buite in die ruimte kyk, of na binne met die sterkste elektron mikroskope wat vandag beskikbaar is - alles is ongelooflik georganiseerd en in die fynste detail.

 

Wie hou dit in stand? Net God kan - ek glo net Hy kan, omdat dit alles deel van Homself is.

 

 
 
 

Comments


bottom of page