top of page
Search

DIE STEMMETJIE HIERBINNE

  • henniej42
  • Mar 20
  • 8 min read

DIE STEMMETJIE HIERBINNE - Hennie de Jager        2004-09-26

 

In Maart 1994 het Zach de Beer in ‘n artikel oor die DP gesê “Die wese van ons filosofie is die oorweldigende waarde van die individu.” Dis vir my die kernbeginsel, en dis seker daaroor dat Brian Newton in die sewentigerjare in Stellenbosch van my by ‘n ete gesê het "Here is a true liberal", want ek voel baie sterk daaroor dat elke mens die reg het om self te besluit wat jy met jou lewe wil maak.

 

Die groot verskil tussen konserwatiewe en liberale uitkyke is met watter mate van dwang dit gepaard gaan. Hoe meer ons dwing, hoe meer probeer ons ons lewens-siening op 'n ander afdruk, hoe meer maak ons òf hul inisiatief dood òf ons veroorsaak rebelsheid. Ek het nog altyd sterk gevoel oor dit waarin ek glo en waaraan ek oor jare tot oortuiging gekom het, my geloof as jy wil. Omdat ek liberaal in my gedagtes is, het ek dit maar merendeels vir myself gehou. Dit was nog nooit deel van my om ander mense te oortuig van wat ek glo nie.

 

11 September 2001 het die wêreld vir altyd verander, en een van die grootste tragedies daarvan is dat werklike verdeling misgekyk word. Dit gaan oor die verskil tussen goed en kwaad, nie tussen Christen en Moslem nie. Hoekom luister ons nie na die stemmetjie hierbinne ons wanneer ons met mense te doen het nie, en vergeet van die reëlboek?

 

Die ernstige streep het ek blykbaar van kleinsaf. Ek kan nou nog onthou dat my Sub A-juffrou in Rawsonville, juffrou Rademeyer, in my eerste rapport geskryf het ek is te ernstig. Ek was baie lief vir haar. Sy het so 'n wyemond-glimlag van 'n warmhartige mens gehad. Ek het nog die klasfoto van ons klomp haasbek-glimlaggies om haar, soos bytjies om 'n blom.

 

Ek is nog altyd ’n baie inkennige mens, wat meer geneig is om op die rand van die groep te staan. Ek praat nie maklik voor mense nie, behalwe as wat gesê word my teen die bors stuit. Dan is dit vir my moeilik om stil te bly. Soos die spreekwoord sê “Stand up and be counted.” Die mense wat ek bewonder is feitlik sonder uitsondering diegene wat nie hoofstroom mense is nie, mense wat bereid was om hulle nekke uit te steek vir dit waarin hulle glo.

 

Dit lyk my my kop is te hard, of ek gee te min om wat van my persoonlik word, of dit wat ek werklik glo is so diep binne my gewortel, dat geen geskuur of aanplaksel op die oppervlak dit kan vervang nie. Alles, maar alles waarmee jy te doen het, het ’n invloed op jou denke. Alles wat na binne kom deur my sintuie moet bepeins word, voordat dit êrens ’n bêreplekkie kry binne my eie verwysingsraamwerk.

 

‘n Onlangse voorstel by ‘n kerkraadsvergadering was dat almal skriftelik moet sê wat hulle maandelikse bydrae sal wees, en dat dit aan almal gekommunikeer word. Deur hierdie voorstel word die privaatheid van mense aangetas, een van die hoogste regte van mense. Wat jy gee is 'n saak tussen jou en jou Here, en dit het absoluut niks met enigiemand anders te make nie.

 

 

MY GELOOFSBELYDENIS

Ek glo ons het godsdienstig die kat aan die stert beet. Ons aksent lê op die verkeerde plek, veral op drie plekke:

1.Dat mense sondig gebore is.

2.Dat mense tot niks goeds in staat is nie.

3.         Dat God alles beskik.

 

God reël en skep alles, deur sy natuurwette, waaraan alles onderhewig is. Vir ons het Hy die vermoë gegee om self te besluit wat ons met ons talente wil maak. Ons kan nie in een asem sê Hy besluit oor elke haar van ons hoof, en dan terselfdertyd sê ons is skuldig aan sonde in alles wat ons doen nie. Dit maak eenvoudig nie sin nie.

 

Die Bybel is nie deur die vinger van God geskryf nie, maar deur geïnspireerde mense. Ek verkies om die Bybel as `n versameling van menslike gedagtes te sien, met baie abstrakte gedagtes, waarin God se Woord te vinde is (prof. Pienk Piet du Plessis, 26 November 1931). Gods Woord beteken vir my pitkos, iets wat vir my geestelike waarde het.

 

Ek glo dat mense se siening van godsdiens geweldig gaan verander. Ek glo nie daar is `n hel of `n wederkoms nie - beide is fabels. Netsoos Adam en Eva en die slang, waarskynlik ook die duiwel. Ek glo dat elke mens se gees onsterflik is, en as daar `n oordeel is, sal dit die oomblik wees wanneer elkeen hierdie wêreld verlaat.

 

In my hart is ek `n rebel, wat my teenstem wil aanteken teen wat ek as onregverdig sien. Êrens in my kinderjare het ek my die lot van die Rooihuide baie aangetrek, God se natuurkinders. Vir een of ander rede ondersteun ek van kleins af altyd die underdog. Miskien is dit die Christen geloof se uitgangspunt dat jy slegs in die hemel kan kom deur Jesus as jou Saligmaker aan te neem, wat veroorsaak het dat ek teen eenogige sienings rebelleer. Ek kan vandag nog my vrae aan my Ma onthou “Maar wat dan van die Rooihuide, Ma, wat nooit die kans gehad het om Jesus te leer ken nie?”.

 

Dat my woord my woord is, en om openhartig en eerlik te wees, beskou ek as die belangrikste hoekstene van my menswees.

 

 

Brief aan my Ma       1993-02-08

Liefste Mamma

‘n Mens se lewe ondergaan gedurig veranderinge waarvoor daar aanpassings gemaak moet word en jy nuwe uitkyke moet ontwikkel. Dis maklik om te sê vergewe en vergeet, maar vergeet vereis 'n eienskap wat ek nie besit nie. Ek dink nie dis dat ek haatdraend is nie - om die waarheid te sê, dink ek dat ek baie maklik vergewe, maar ek kan nie my geheue van dinge wat my raak net eenvoudig uitvee nie. Almal van ons het beide goeie en swak eienskappe. Binne die talente wat ons van Bo ontvang het, asook die omstandighede waarbinne ons geplaas is, kerf elkeen vir hom of haar 'n lewe uit, tot eie voor- of nadeel. Die gevolge daarvan moet jyself dra, beide vreugde en hartseer. As jy wroeging het vir wat verkeerd geloop het, is dit genoeg straf dat dit nie nog vir ander nodig is om hulle vinger op die seerplek te draai nie. 'n Mens kan net natuurlik wees as jy jouself is. Ons almal haat geveinsdheid.

 

Brief aan my suster

Hallo Joanie

Ek waardeer dit dat jy reguit met my is, want dit is hoe ek verkies om in my verhouding teenoor mense te wees. Daar is gans te veel valsheid in die lewe, omdat dit vir mense belangriker is hoe hulle voorkom, as om te sê wat hulle werklik dink. Soos jy sê, dinge is selde wat hulle behoort te wees of kan wees, omdat ons almal mense is. Is dit nie die kern van seker die meeste godsdienste nie, om te strewe na iets beters as waartoe jyself instaat is? Soos Browning eeue gelede gesê het: "Aye, but a man's reach should exceed his grasp, else what's a heaven for?".

Myns insiens is die lewe veel meer as om net jou oog op die hemel gerig te hou. Ek is seker die Here het ons hier met 'n doel geplaas, en daardie doel strek veel verder as om onsself en soveel andere moontlik in die hemel te kry. Daardie soeke na die werklike doel van die lewe IS die doel van die lewe. Om die ryke verskeidenheid van die lewe te ondersoek, om dit wat mooi en goed, verrykend en veredelend is jou eie te maak, te soek na wat dit beteken om mens te wees in al sy fasette. Albert Camus (1913 - 1960) het gesê: "Living an experience, a particular fate, is accepting it fully......It is not a matter of explaining and solving, but of experiencing and describing".

Om Jesus as jou persoonlike Saligmaker aan te neem, maak nie voorsiening vir die oorgrote meerderheid mense wat al ooit gelewe het nie. Ek kan dit nie eenvoudig afmaak omdat julle nie 'n aanvaarbare verklaring daarvoor het nie. Oor eeue heen was daar in beskawings, waarvan ons vandag maar net 'n paar opgetekende woorde het, mense wat vir ons verhewe gedagtes aangegee het. Dit verryk ons lewe vandag, mense wat in hulle lewe ook lief en leed soos ons vandag ondervind het. Julle siening verwag van my om doodgewoon oor hulle die oordeel uit te spreek. Hulle, Bybel in die hand, die verdoemenis vir ewig in te stuur?

Dink jy werklik oor die implikasie van dit waarin jy glo, Joanie? Wat julle glo is doodgewoon 'n menslike swakheid om altyd te wil glo dit wat jy glo is die enigste reg; die Bybel is die enigste Woord van God; die aarde is die enigste plek in die heelal waar God lewe geskep het. Julle glo eintlik God is so groot soos julle gedagtes, soos 'n mier wie se wêreld so groot is as daar waar hy rondbeweeg. Ek dink in elk geval die meeste, waarskynlik almal van ons, het `n totale onvermoë om die skaal van God en Sy skepping te begryp.

My eerste prioriteit is nie om in die hemel te kom nie, maar dat my denke, bedoeling en my optrede hier waar ek lewe my God se goedkeuring sal wegdra. God kyk wyer as ons eng uitsig, en ek laat die besluite wat Hy met my lewe wil maak, gewillig in sy hande.

Wat God vir my beteken, is dat ek enigiets teenoor Hom kan bieg, my siel in Sy aller-teenwoordigheid kan ontbloot in selfondersoek, want ek weet Hy ken my elke gedagte nog voordat dit diep in my binneste ontstaan. By Hom is daar geen gevaar van misverstande, want Hy ken my volledig. Hy weet, wanneer ek verkeerd is, hoekom ek so is, wat die bedoeling in my hart is. Juis daarom kan ek my alles aan Hom toevertrou. Hy is nie eenogig of bevooroordeeld nie, iets wat ons mense so dikwels is omdat ons nie diep genoeg in ander kan sien nie.

My siening oor die lewe is nie iets ligteliks vir my nie. Dis oor baie jare van herkou en introspeksie gevorm, en soos by almal vorm wat van dag tot dag met my gebeur my voortdurend. 'n Mens doen niks sonder bedoeling nie. Ek 'n hekel aan mense wat ander kritiseer. Ons moet maar almal teruggaan na wat die Here gesê het: Moenie andere veroordeel nie, sodat julle nie self veroordeel word nie.

Die kern van my geloof lê in Mat 25:41- 45 - “Gaan weg van my, julle vervloektes. Ek was honger, en julle het My nie niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie. Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit ook nie aan My gedoen nie. ”

Ek is oortuig dat die verskuilde Opperwese wat ons almal aanhang dieselfde Almagtige God is, want daar kan tog werklik net één God wees. Maak nie saak of ons Hom Jesus, Mohammed of Boeddha noem nie. Elke geloof se priester of iman of lama sal tog vir hul volgelinge sê húlle geloof is die regte een. Persoonlik het ek nie `n probleem met ander gelowe nie. Hoe kan ek mense verdoem met wie ek nog nooit eers gedagtes gewissel het nie?

As mens terugkyk na die ontstaan van godsdiens, dan is vrees en straf baie duidelik die hoof-motiveerder, beslis nie liefde nie. Dit maak dit vir my baie verdag. Hoe beskou ons vandag vrees as motiveerder? Beslis met veragting. Netso min het ons respek vir wraaksugtigheid en jaloesie. Dis mos onmoontlik om `n karaktertrek wat ons in mense verag, aanvaarbaar te vind wanneer dit aan God toegedig word.

Netso is dit vir my totaal onaanvaarbaar om te dink dat `n Almagtige God behae daaruit kan put dat mense Hom gehoorsaam is uit vrees vir die hel. Dit pas eenvoudig nie. Ons kan nie laakbare karaktereienskappe van mense netso aan God toedig nie.

Dit lyk asof ek met verloop van tyd voortdurend meer verander in 'n gevoelsmens, geheel gedryf deur my emosies, wat gevorm is oor my hele lewe.

 

 
 
 

Comments


bottom of page