top of page
Search

‘N “ROAD TRIP” OM TE ONTHOU - 2026-09-28

henniej42
Oct 30
21 min read

 

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-2  2026-10-10

‘N “ROAD TRIP” OM TE ONTHOU - 2026-09-28

 

 

(Gemini) Hennie, hierdie is ’n ongelooflik aangrypende en pragtig geskrewe stuk herinnering. Jou vermoë om die atmosfeer, die emosies en elke klein detail so lewendig vas te lê — van die stil nagtelike ure in die kombuis met koffie en oorfone tot die helder indrukke van die pad — is werklik merkwaardig.

 

Die manier waarop jy die stilte, die klein gebare — soos die gebalde vuis teen sy rug en die woorde "Ek is lief vir Pa" — beskryf, tref 'n mens reg in die hart. Dit vang daardie bittersoet werklikheid van 'n afskeid van 'n kind met soveel waardigheid en diep gevoel vas.

 

Hier is enkele van die dinge wat hierdie storie so uitsonderlik en roerend maak:

Die hart van die gesin: Die teerheid waarmee jy Rinie beskryf, Zino se lojale en liefdevolle sorg, en die kosbare tyd saam met jou kinders (Marinus wat uit Australië kom kuier het en Heine in Gansbaai) getuig van diep gesinsbande en wedersydse respek.

 

Sintuiglike en historiese besonderhede: Jy weef die landskap en die geskiedenis so pragtig deur jou verhaal — van die kuspad en die wynproe by Seven Springs tot die rustigheid van die Kaap-Hollandse huis in Greyton en die diep erfenis van Genadendal se ou Gutenberg-drukpers.

 

Die introspektiewe begin: Dat die gedagte aan hierdie "road trip" in die stilte van die nag begin te midde van jou jarelange liefde vir musiek en jou plateversameling, gee die hele verhaal 'n wonderlike, nostalgiese ritme.

 

Dit is juis hierdie soort egte, deurdagte oomblikke wat ’n mens die diepte van die lewe laat aanvoel. Baie dankie dat jy hierdie kosbare herinnering met my gedeel het.

 

Wil jy dalk hê ek moet help om dit verder te verfyn, te formateer vir ’n spesifieke publikasie soos jou webtuiste, of wil jy net gesels oor van die plekke op julle roete?

 

(Hennie) Ek wil die gees en my woorde behou, maar jou inleiding, slotsom en verfyning sal welkom wees.

 

(Gemini) Dit is ’n absolute voorreg om aan hierdie kosbare teks te mag werk, Hennie. Jou skryfstyl het alreeds ’n pragtige, eerlike ritme.

 

Hieronder is die verfynde weergawe. Die oorspronklike gees, woordeskat, besonderhede en jou eie stem is 100% behou, maar die struktuur is effens aangepas om dit makliker leesbaar te maak (met 'n duideliker inleiding, netjiese paragraaf-indeling en 'n afgeronde slotsom wat die reis pragtig saamvat).

 

 

 

 

‘N “ROAD TRIP” OM TE ONTHOU - 2026-09-28

 

Inleiding: Die stilte voor die reis

 

(Hennie) 00:22. Ek staan op om badkamer toe te gaan en eet daarna ’n handvol rosyntjies. In die skemer-donker klim ek terug in die bed en draai op my linkersy sodat ek na Rinie kyk. Met die kombers toegetrek lê ek en wag om weer aan die slaap te raak. Sy lê op haar rug, soos altyd, en ek sien haar profiel dof wit teen die donker agtergrond. Ek luister na haar asemhaling, soms baie sag.

 

In my gedagtes draai insidente oor die “road trip” waaroor ek wil skryf, en mettertyd verdryf dit die slaap. Toe dit na ’n rukkie klink of haar asemhaling reëlmatig is, kom ek saggies orent en sit ’n rukkie op die kant van die bed om seker te maak sy slaap vas. Dan staan ek stilletjies op, neem my bril, selfoon, windbaadjie en ’n kniekombers en loop versigtig uit. Ek trek die slaapkamerdeur van buite toe en loop na die kombuis, waar ek die lig aanskakel.

 

Nadat ek water gekook het, maak ek ’n koppie sterk koffie met suiker en melk en loop na my rekenaar. Ek sit my oorfone op — wat Christiaan jare gelede vir my gegee het — en soek sowat 100 uitsoek-liedjies uit van die meer as 33,000 wat ek oor jare opgeneem het, vanaf onder meer die 900+ landspeelplate wat ek vir jare versamel het. Hierdie 900 plate in uitstekende toestand het ek aan ’n handelaar van Barrydale vir R1 600 verkoop toe ons moes trek vanaf Wellington, waar ons 34 jaar gebly het. Ons moes skuif nadat Rinie ’n ernstige beroerte gehad het op 14 Januarie 2023 omtrent 14:00, wat haar verlam gelaat het aan haar linkerkant. Omdat sy daarna 24/7 aandag nodig gehad het, het Marinus, toe op pad na Australië, vir ons plek gekry in Ametis, ’n aftree-oord in die Strand. Dis hier waar ek nou periodiek skrywe om my kop besig te hou.

 

Die voorbereiding en planning

Die gedagte van ’n “road trip” het lank gelede ontstaan toe Marinus beplan het om na Suid-Afrika te kom vir sy vakansie. Frieda-Marie wou haar Pa verras met sy 70ste verjaarsdag op 7 Oktober 2025. Marinus kon nie saamkom nie, want hy het kort vantevore begin werk as hoof ekologiese wetenskaplike by AI Carbon (Australian Integrated Carbon) in Adelaide. Frieda-Marie en Bernhard het toe alleen gekom, en hulle het beplan dat Marinus, wanneer hy genoeg vakansiekrediete opgebou het, op sy eie sou kom — hoofsaaklik omdat die vlugte so geweldig duur is. Dit het hom nou meer as R40 000 gekos; vir hulle drie om saam te vlieg sou meer as R120 000 kos, soveel as ’n kar!

 

Marinus het sedert April 2023 gewerk op ’n 3-jaar kontrak in Melbourne as wetenskaplike by La Trobe Universiteit om ’n program te lei wat ’n bedreigde orgidee-variëteit teen uitwissing wil beskerm. Vandaar het hulle verhuis na ’n klein firma gebaseer in Adelaide, 726 km wes op die kus. Hulle het vroeër daar gaan kuier vir ’n familielid van Frieda-Marie en dadelik van Adelaide gehou — ’n veel kleiner stad (minder as 1.5 miljoen mense) teenoor die 5.5 miljoen van Melbourne. Frieda-Marie sê hulle het in 8 maande meer vriende daar gemaak as gedurende die 3 jaar wat hulle in Melbourne was. Omdat hulle nog jare weg is van burgerskap, het hulle ’n groot ouer huis gehuur wat goed geleë is naby ’n goeie skool vir Bernhard, waarheen hy met sy fiets kan ry. Daar is ook goeie inkopiesentrums naby, en hulle is nie te ver van die see nie, juis nou dat Bernhard lief word vir swem.

 

Frieda-Marie werk al baie jare vir ’n Amerikaanse logistiese firma. Die enigste nadeel is dat sy dikwels gedurende die nag vir vergaderings moet opstaan, en sy begin dit oorweeg om ook vir ’n plaaslike firma te werk sodat sy saam met haar gesin kan eet en gaan slaap. Die buurt waar hulle tans bly is te duur vir ’n eerstehuis-koper, so wanneer daardie tyd aanbreek, sal hulle waarskynlik verskuif na ’n woongebied wat verder van die stadskern lê.

 

Toe Marinus vroeër vanjaar meld dat hy teen September gedurende Bernhard se Lenteskoolvakansie (26 September 2026 tot 11 Oktober) wil kom kuier in die Kaap, het hy sy vlugte by Qantas bespreek. Vir die “road trip” sou iemand moes saamgaan om Rinie te versorg. Ons het oor jare baie vertroue gekry in Zino, ’n sterk Xhosa-vrou wat Rinie altyd met gemak en deernis hanteer — iemand met wie ons beide lekker kon gesels en lag. Alhoewel sy Afrikaans verstaan, praat sy net Engels. Sy het by meer as een geleëntheid, wanneer een van ons ’n blykie van meelewing gegee het, soos ‘n stukkie tert, in trane uitgebars, sodat ek haar selfs eenkeer moes troos. Sy praat altyd met Rinie as “Mommy” en met my as “Pa” — haar eie pa is dood toe sy nog maar net ’n jaar oud was.

 

Ek het intussen op Maandag 14 September die Honda ’n vakansiediens laat gee om te verseker alles verloop goed. Hulle het aanbeveel dat ek die bande laat vervang aangesien hulle al ouer as 5 jaar was, alhoewel daar nog baie loopvlak was. Louise het aanbeveel dat ek na Hi-Q Strand moes gaan, en hulle het 4 Goodyear-bande opgesit. Lindsay Hahn het aanbeveel dat ek ook die skokbrekers moes vervang aangesien hulle begin lek het. Die uiteinde was ’n stywe rekening: Honda-diens R978; 4x Goodyear-bande R7 420; 4x KYB-skokbrekers R13 400 = R21 798! Maar nou het ek gerus gevoel, want Marinus wou behalwe vir die “road trip” ook vir sy vriende gaan kuier, veral Johan in Swellendam. Ons het nie die kar nodig gehad nie, so om dit vir hom te leen sou vir my nietig wees. Hy kon nou oral ry waar hy wou wees gedurende sy vakansie, en hy het dit baie waardeer. Ek was bly dat ek dit vir hom kon gee.

 

Die reis begin: Gansbaai en Kleinmond

Marinus het Woensdagaand 16 September om 20:00 op Kaapstad Internasionaal geland en weer op 4 Oktober om 18:00 vertrek. Vandat die besprekings gefinaliseer is, was ons almal baie opgewonde. Vroeg in daardie tyd het ek vir Marinus gevra of ons saam op ’n “road trip” kan gaan vir ’n paar dae. Almal het gehou van die gedagte dat ons vir daardie tyd net op mekaar aangewese sou wees. Ek het vir Zino gepols oor die moontlikheid om saam te gaan om Rinie te versorg, en sy was dadelik baie opgewonde oor die vooruitsig en het daarvoor beplan.

 

Sondag 27 September het ons saam met Fieka — om Rinie in en uit die Honda te help — na Hannes se kerk in Constantia gegaan. Dit is ’n besondere ontwerp, alhoewel dit al in 1973 gebou is — ontwerp deur Pieter Pelser. Daar kom baie natuurlike lig in en dit het ’n besondere toring. Hannes het werklik ’n gawe om te preek; nie soos ’n dominee nie, maar hy praat uit sy hart, en ’n mens kan dit aanvoel. Hy verwelkom aan die begin alle besoekers, ook vir ons en vir Fieka persoonlik, by name, en noem dat hy by geleentheid gepreek het by haar Moslem-imam se moskee in Kaapstad.

 

Toe is ons by Louis langs om sy sleutels te kry vir sy Kleinmond-strandhuis. Ons het ’n rukkie buite gekuier met Rinie wat in die Honda bly sit en met Moira gesels het.

 

Daarna is ons na Hannes en Louise vir ‘n braai. Marinus stoot sy Ma teen die steil helling op en dan deur die tuin na hulle buite eettafel. Fieka sit langs Rinie. Hannes verseker haar daar is net sout en peper op die vleis, want ons het al by vorige sulke geleenthede gevind dat sy slegs iets eet wat volgens Halaal voorskrifte gaargemaak is. Hy is lief vir braai en bederf elkeen van ons met ‘n heerlike dik biefstuk en Louise verskaf soos altyd baie bykosse en nagereg. Hulle is albei baie gasvry en dis lekker om daar te kuier.

 

Marinus het Sondagaand by ons geslaap op ’n matras wat Ametis beskikbaar hou vir inwoners se familie wat wil oorslaap. Die matras was hier vir die hele vakansie wat hy hier was, en hy was die meeste van die tyd by ons, alhoewel hy ’n paar nagte by Hannes en Louise geslaap het. Ons het dit baie van hulle waardeer dat hulle feitlik vir Marinus aan ons afgestaan het, want hulle het sekerlik ook baie na sy kuier uitgesien. Louise het gesê hulle gaan Desember lank vir Marinus-hulle kuier in Adelaide, dus gun hulle dit vir ons dat hy nou meer by ons kuier.

 

Die volgende oggend vroeg was ons uit die vere. Elkeen het net ’n klein, sagte tassie gepak, asook feitlik alle lakens, kussingslope en komberse wat ons het, omdat Louis dit nie voorsien nie. Dit het ons plat op die agtersitplek gepak. Daarna het die versorgers vir Rinie in die Honda gelaai, met die rolstoel in die bagasiebak. Toe het ons vir Zino gaan oplaai by Strand Square (Pick n Pay), omdat sy nie wou hê dat haar werkgewer weet dat sy vir die paar dae saam met ons gaan om Rinie te versorg nie. Sy het pas afgekom van nagskof en het verlof ingesit vir Maandag en Dinsdag; wanneer ons Woensdagmiddag terugkom, moes sy weer gaan werk vir ‘n nagskof. Ek verstaan nie die man se kop nie.

 

Marinus ry via Gordonsbaai met die pragtige kuspad. By een van die inhamme van die berg staan ‘n waentjie wat vars gebroude koffie verkoop en hy stop daar om vir elkeen ‘n beker vol Cappucinno te koop. Die hitte is heerlik op die leë maag. Dan verby Rooi-Els en Bettysbaai deur Kleinmond, deur Onrus en Hermanus. Ek het petrol volgemaak in Voëlklip. Toe ons verby Stanford gaan, bel ek vir Heine en sê ons is op pad. Hy verduidelik by watter advertensiebord in Gansbaai hy vir ons wag. Gelukkig is Gansbaai ’n relatief klein dorpie en ons sien hom gou waar hy wag en waai. Hy hardloop vooruit na hulle netjiese woonstelblok — redelik nuut, net om die draai — en wys waar ons kan parkeer.

 

Dis die eerste keer in ’n lang tyd dat ons mekaar weer sien, en dit is lekker om hom vas te druk. Verna is ook daar om te groet. Nadat hy vir Rinie gegroet het — soos al die jare “Tannie Rinie” — laai Zino vir Rinie in haar rolstoel, en al geselsende loop ons in na die hyser. Hulle woonstel is op die eerste vloer en dis ’n redelike ruim eenheid met ’n groot stoep wat Heine onlangs laat toebou het met swart aluminiumvensters wat goed vertoon.

 

Hulle stel hul twee swart pleegsorgkinders voor, Jaden (11) en Elize (9), wat beide skaam groet. Heine-hulle was vroeër by Joanie en Corlis, en Joanie is beïndruk met die kinders se gedrag en maniere. Hulle praat ook vlot Afrikaans, wat help in ’n Afrikaanse gemeenskap soos Gansbaai. Ek haal regtig my hoed af vir Heine. Hy was nog altyd kleurblind — dit gaan vir hom oor die mens, nie oor sy velkleur nie. By Heine en Verna het hierdie twee swart kinders ’n toekoms soos enige blanke kind. As hulle by hulle ma, Kadoesie, in Johannesburg moes agterbly, sou hulle, soos Verna gesê het, “they would have gone straight down”. Blykbaar het Heine en Verna hulle daar reeds lankal oor die twee ontferm, en nou gaan hulle na die Laerskool Gansbaai, binne loopafstand van hul woonstel. Hulle sê die onderwysers is vriendelik — ons leef nou in die nuwe Suid-Afrika.

 

Heine sê hulle kan stap na alles: die winkels, kerk, skool en hawe. Hulle VW Caddy is veilig geparkeer onder die woonstelblok in die kelder. Hulle is beide fikse mense wat gereeld in die gimnasium geoefen het in Virgin Active Florida, en het al baie met hulle fietse die area rondom Gansbaai verken.

 

Nadat ons lekker gekuier en foto's neem het, het ons afskeid geneem. Toe Heine my groet, het ons mekaar gedruk en hy het my instinktief met ’n soen gegroet op my mond, wat my geraak het. My oudste seun. Ten spyte daarvan dat ek geskei is van Heléne toe hy maar in Sub A was, het hy altyd vir my lief gebly — iets wat ek nie altyd verdien het nie. Zino sê sy kan sien hy is my seun; seker behalwe die voorkoms, ook sy persoonlike ingesteldheid en sensiwiteit. Ek het al vir baie mense gesê as daar nou iets oor Heine is waaroor ek my nog nooit bekommer het nie, dan is dit dat hy ’n pragtige geaardheid het wat mense na hom aantrek — die soort mense wat die moeite werd is om te ken.

 

Van Heine-hulle is ons terug na Voëlklip, Hermanus, om vir Joanie en Corlis te gaan kuier. Ek het afgedraai in 10de in plaas van 9de Straat en dus verdwaal, so ek moes vir Corlis bel. Daar gekom, is ons deur na die agterstoep, wat hulle kuierplek is. Die tuin is privaat en ’n lushof, want Joanie is lief vir tuinmaak en Corlis help haar. Ons het lekker gekuier en baie gesels. Corlis het vir elkeen ’n blikkie yskoue koeldrank gegee, wat heerlik was in die hitte.

 

Hierna is ons terug na Kleinmond. Louis se bure wat die spaarsleutels hou, is met vakansie, dus moes ons ’n duplikaatsleutel vir die garage kry by Henry, wat ook sy spaarsleutel vir iemand anders geleen het. Henry sê toe daar is ’n duplikaatsleutel by die “Blou Bakkie”, ’n winkeltjie regs van Spar. Hannetjie krap tussen al die sleutels in die laai onder die kasregister, maar dis nie daar nie. Sy is duidelik gefrustreerd. Volgens die inhoud van die groterige laai is daar heelwat mense wat só hulle vakansiehuise se sleutels by die Blou Bakkie bêre. Henry skakel en sê sy moet kyk in die ander kasregister se laai, en daar kry sy toe die sleutel met die naamkaartjie “Louis”. Toe ons by Louis se strandhuis kom, is Henry reeds daar en het reeds die goedkoop slotjie met twee skroewedraaiers oopgebreek, soos Louis gesê het ’n mens kan — maar hy het net vir ons een skroewedraaier gegee! Henry sê hy is al 80, maar nog duidelik kapabel — dis hoekom Louis hom gebruik om te sorg dat alles reg loop.

 

Nadat die huis oopgesluit is, probeer ek die ligte oor die kombuistafel aanskakel, maar kry dit nie reg nie en bel vir Louis. Na ’n gesukkel kry ek die krag aan by die yskas, geyser en mikrogolf, maar die buislig bo die tafel bly af. Nadat ons bagasie ingedra is, kyk Marinus na die woonstel voor aan die motorhuis en besluit om liewer die enkelmatras daar in te dra en in die sitkamer te slaap.

 

Ek ry saam met Marinus na Spar om ’n paar items te koop: botter, brood, kaas, tamaties, uie, wors om te braai, ’n klein pakkie suiker, koffie, ’n liter melk, asook ’n bottel Krush-lemoensap, ’n sak kameeldoringhout en blitz. Ook ‘n melktert. Terug by die huis neem Marinus omtrent alles oor. Hy maak braaibroodjies, soek sout en peper, asook vuurhoutjies wat ons vergeet het om te koop. Gelukkig kry hy ’n dosie met ’n paar en gaan uit na Louis se buitebraai in die koue, soos dit maar gewoonlik in September by die see is — die res van ons bly binne. Hy sê later op my vraag dat hy nie koud kry nie. Ek sien hoe Marinus sukkel om die blitz aan die gang te kry, want daar trek ’n luggie. Gelukkig kom die vuur aan die gang en na ’n rukkie is die groot stukke hout aan die brand. Marinus kom in om alles reg te kry vir ete.

 

Daar is maar min wat ek kan doen, en ek dink Zino voel ook vreemd in die onbekende omgewing — sy is seker ook versigtig om nie op iemand se tone te trap nie. Gelukkig is Marinus ’n raakvatter en ek dink hy geniet dit om die meeste werk te doen. Soos ook later op ons toer, is dit duidelik hy geniet dit om alles vir ons te doen. Hy werk ook vinnig en metodies, en ek dink nie hy hou daarvan wanneer ons stadig en onseker help nie.

 

Daar is gelukkig genoeg kole en hy braai die broodjies en die wors, alhoewel daar net die minimum apparate is. Daarna deel hy dit in almal se borde, elkeen met ’n glasie Krush. Zino het na ete al die skottelgoed gewas en weggepak. Na die dag se rondryery is ons almal moeg en omdat daar geen TV is nie, gaan ons vroeg bed toe. Gelukkig het ons genoeg beddegoed saamgebring, so almal het lakens en komberse gehad. Zino is blykbaar bang vir die onbekende en vra of sy haar lig kan aanhou gedurende die nag. Ek dink dis die kultuur waarin sy grootgeword het in Idutywa, ’n klein dorpie in die Oos-Kaap.

 

Nadat ons goed uitgerus het in die stilte van Kleinmond, het ons die oorblywende kos vir ontbyt geëet, alles weggepak en skoongemaak — Zino skrik vir Louis se rubberslangetjie wat hy op die vloer gooi om moontlike inbrekers af te skrik! Ons pak alles terug in die Honda, ook die melktert, want ons het nie daarby uitgekom nie. Marinus het vroegoggend gaan hardloop en hy sê ons moet afstap see toe voordat ons ry. Soos dikwels is ek redelik moeg — waarvan weet ek nie. Zino stoot Rinie in haar rolstoel en by Kusweg draai ons in die rigting van die strand. Ons geniet die vars seebries en die blou lug. Na ’n rukkie voel ek moeg en sê vir Marinus ons moet omdraai. Êrens is daar drie groot klippe langs die pad en ek gaan sit daar om te rus. Baie foto's word geneem van almal, ook van Zino wie se pers chiffon rok wyd waai in die seelug waar sy voor ’n moderne huis staan en haarself vertoon met arms in die lug.

 

Oor die berge na Greyton

Soos altyd bestuur Marinus, met Rinie langs hom, omdat die Civic se voordeur wyer is om haar vanaf die rolstoel in te laai. Ek en Zino sit agter, bo-op die klomp beddegoed. Marinus is baie behulpsaam met my wanneer ek in- en uitklim — hy skuif sy sitplek vorentoe sodat ek makliker my voete kan in- en uitkry. As ek uitklim, neem hy my linkerarm en trek my uit, want my regterskouer is nog steeds baie seer van die harde val op 20 September, toe my stoel onder my uitgegly het toe ek opstaan. X-strale het getoon dat daar gelukkig niks gebreek is nie.

 

Marinus neem die pad na Hermanus. Ons volgende bestemming is Greyton, waar hy ’n 4-slaapplek huis vir ons bespreek het op sy koste. Toe ek vir hom sê ek wil hom terugbetaal, het hy dadelik gesê: “Nee — dit is my bydrae.” Hy sê ons gaan via die Hemel-en-Aarde-pad, en ek verwag dat ons by die Sandbaai-kruising links sal draai. Hy draai egter by die Karwyderskraal-bord links af op ’n grondpad, en toe ek vra hoekom, sê hy dis die pad wat sy GPS vir hom aandui. Ek aanvaar sy beter inligting en ons geniet dit om vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer op ’n goeie grondpad te ry, verby baie plase, landerye en damme, asook ’n groot opstal wat ver van die pad af aan die linkerkant lê — seker die hoofopstal. Na ’n lang pad draai ons na links op die geteerde Hemel-en-Aarde-pad. Ons was redelik aan die einde van die pad na Caledon en is ’n rukkie later verby Creation Wyne, wat baie goeie wyne maak, maar baie duur. ’n Paar kilometers verder kom ons by Seven Springs-wingerde, die laaste van die wynplase. Marinus het daar ingedraai, en daar was slegs twee ander besoekers aan wie die wynproe-aanbieder William Kimber aandag moes gee voordat hy sy volle aandag aan ons kon gee. Op ons vraag of hulle iets te ete aanbied, het William gesê hulle verskaf net wyn.

 

Die proesessie het 6 wyne behels vir R150 per persoon, maar as jy bottels koop, is die proe gratis. Die eerste wyn wat hy ons laat proe het, was ’n heerlike dubbelgoud Sauvignon Blanc, waarvan ek baie gehou het. Tweede was ’n Unwooded Chardonnay, ook baie lekker, en derde ’n Wooded Chardonnay. Vierde was ’n Syrah Rosé, vyfde ’n Pinot Noir, en die sesde wyn was ’n Syrah. William het hom uitstekend van sy taak gekwyt, en waarskynlik omdat ons die enigste besoekers op die oomblik was, kon hy werklik in diepte ingaan op elke wyn: hoe en waar dit gemaak is. Al hulle wyne is uitsonderlik, en ons het besluit om ’n bottel elk van die Sauvignon Blanc (R155) en Unwooded Chardonnay (R155) te neem, asook twee Syrahs (elk R215), vir ’n totaal van R740. Rinie het een Syrah vir Marinus gegee as ’n present om saam te neem na Australië. Dis nou nie wyne vir alledaagse gebruik nie, maar om te geniet met besondere vriende wat goeie wyn sal waardeer.

 

William het ons 4 bottels in ’n stewige kartonhouer verpak en ons toe op ’n toer deur hulle kelder geneem, waar talle houtvate staan asook ’n hele paar groot vlekvrye staaltenks. Soos hy verduidelik, is die maak van uitsonderlike wyne ’n fyn kuns deur hulle wynmaker, Jaydee Scholtz, en hulle fasiliteite word ook in die afseisoen uitgehuur aan ander wynplase wat stoor-spasie nodig het. Die wyne moet net die regte tyd in die korrekte vate teen die vereiste temperatuur gehou word om dit teen die beste gehalte te kan botteleer. Ons het William bedank vir al die inligting. Mens kan sien hy geniet dit om besoekers te vertel van die lewe op Seven Springs.

 

Ons is toe verder na Caledon en daarna op die N2 in die rigting van Kaapstad. ’n Paar kilometer verder draai ons regs af op die R406, op pad na Genadendal en Greyton, ons bestemming. Dit is nou na twee-uur, so ons kan al ingaan by die huis wat Marinus met Booking.com vir ons bespreek het vanaf Adelaide — rolstoelvriendelik met 3 slaapkamers. Ons ry verby Genadendal en kom net meer as 4 km verder by Greyton — beide lê teen die Riviersonderend-bergreeks.

 

Greyton is werklik ’n bekoorlike klein plekkie wat skaars 2 000 inwoners het. Dit is ’n kunstenaarsmekka met smal straatjies — meeste grondpaaie, waar die ruie plantegroei van baie tuine oor die sypaadjies groei. Die besigheidsarea waar ons inkom, bestaan uit baie besigheidjies in klein, outydse huisies, en mens kan met die verbyry sien hulle is besig, waarskynlik met toeriste. Die algemene indruk is “laid-back” — juis wat die stadsmoeë toeriste soek. Hier is besonder baie B&B’s, soos mens kan sien op Google Maps.

 

Marinus soek met sy GPS die adres van ons verblyf en kry na ’n paar probeerslae die plek: ’n pragtige ou dubbelverdieping Kaap-Hollandse styl grasdak-huis op ’n groot erf met baie groot ou bome en struike. Hy sukkel eers om die sleutel te kry — blykbaar toegesluit agter ’n deurtjie wat hy moet oopsluit met ’n kode wat Booking.com na sy selfoon gestuur het. Baie slim; die huis word baie uitgehuur en daar is op dié manier nie iemand nodig om daar te wees om vir besoekers oop te sluit nie.

 

Toe Marinus die huis oopgesluit het, kom help hy my uit die motor terwyl Zino vir Rinie in haar rolstoel sit. Elkeen se klere word afgepak, behalwe die beddegoed, want hier is alles voorsien — ook warm water. Die huis word duidelik goed onderhou: wit geverf en in ’n reguit lyn uitgelê, met die kombuis aan die linkerkant, eet/woonkamer in die middel, en die ensuite-hoofslaapkamer regs, waar Rinie en ek sou slaap. Aan die kant van die woonkamer gaan ’n trap op na die boonste vloer, waar Marinus en Zino elk ’n volledig toegeruste ensuite-kamer het. ’n Mens kan dit ook met ’n buitetrap bereik.

 

Al die vertrekke is baie groot in vergelyking met vandag se standaarde. Daar is besonder baie versierings wat dateer uit daardie tyd (waarskynlik die 1800’s), wat die gevoel van antiekheid verhoog. Alles is goed toegerus met letterlik alles wat besoekers nodig mag hê — selfs twee apparate om mee koffie te maak, en boonop ’n nog verseëlde houer gemaalde koffie van Lourensford, Somerset-Wes, asook ander droë benodighede soos suiker. Sover moontlik verskaf die eienaar alles, selfs ’n stofsuier en strykyster, wat Zino die volgende dag gebruik. Alles saam, ook die pragtige kandelare en die egte stinkhout deure en ruitjievensters, skep ’n gevoel van welbehaaglikheid by ’n mens — van ’n verlange na ’n vervloë tyd toe alles nog eenvoudig was.

 

Daar is twee groot outydse vuurherde vir die winter en ’n groot, swaar geelhouttafel in die kombuis, waarom ons almal sit terwyl Marinus loop om ’n paar vars items soos brood, eiers, wors, tamaties en melk te gaan koop by die naaste winkeltjie. Toe Marinus terugkom, het hy begin om vir ons aandete te maak. Zino het gehelp waar sy kon sonder om in sy pad te wees. Rinie en ek was maar meestal toeskouers. Nadat ons hande gehou het, het ons lekker geëet. Daarna het hy moerkoffie gemaak, en ons drink dit saam met die melktert, ‘n lekker nagereg. Dit was net lekker om so rustig bymekaar te wees. Zino skakel ook gemaklik in. Daar is geen TV nie — waarskynlik doelbewus, maar rakke vol koffietafelboeke en tydskrifte. Die bedoeling is duidelik dat die besoeker vir sy verblyf moet wegkom van die klatergoud van sy daaglikse stedelike bestaan.

 

Toe dit slaaptyd was, het Zino vir Rinie kom versorg en in die bed gesit onder ’n lekker groot duvet. Elkeen het ’n bedlampie, so dis nie nodig om op te staan om die lig af te skakel nie. Na ’n nag se heerlike rus is ons almal kombuis toe, waar Marinus vir ons ’n heerlike ontbyt voorgesit het. Daarna was dit amper tienuur, die tyd wat ons uit moes wees. Ek het vir oulaas foto's van alles geneem — ons kan hierdie dag nooit vergeet nie. Zino wou dat ek ’n paar foto's van haar neem om haar te herinner aan hierdie paar dae saam met haar “Mommy” en “Pa”.

 

Geskiedenis in Genadendal en die pad huis toe

Op pad terug het ons aangegaan by Genadendal. Hulle was besig met herstelwerk aan die kerk — die middelpunt van die oudste Morawiese sendingstasie in Suid-Afrika — so ons kon nie daar ingaan nie. Daar is egter baie ander historiese geboue, onder andere die museum waar ons aangegaan het.

 

Die Duitse sendeling Georg Schmidt het op 23 April 1738 die sendingstasie as Baviaanskloof gestig om die plaaslike Khoi-bevolking te evangeliseer. In 1806 word Baviaanskloof amptelik hernoem na Genadendal tydens die tweede Britse besetting. ’n Openbare biblioteek word in 1823 geopen, gevolg deur die eerste binnelandse gastehuis en apteek in 1830. In 1838 het Genadendal Suid-Afrika se eerste onderwysers-opleidingskollege geopen, asook vroeë biblioteke, drukkerye en ambagte.

 

Die Genadendalse drukkery het ’n baie ryk historiese betekenis as een van die heel eerste en mees invloedryke baken-drukkerye in Suid-Afrika. Dit het ’n deurslaggewende rol gespeel in die geskiedenis van die vroeë Afrikaanse letterkunde, godsdiensmedia en musiekdrukkuns. Die drukkery se geskiedenis het reeds in 1837 begin toe biskop Hans Peter Hallbeck ’n ou hout Gutenberg-model drukpers vanaf Nederland na Genadendal ingevoer het. Toe Suid-Afrika se eerste onderwyskollege (Kweekschool) in 1838 op Genadendal gestig is, het setwerk, drukwerk en boekbindery ’n amptelike deel van die kurrikulum geword. Die jong onderwysers is hier opgelei om die pers te bedryf.

 

Onder leiding van die Morawiese sendeling Benno Marx het die pers in 1859 begin om die maandelikse nuusblad De Bode van Genadendal te druk. Dit word histories wyd erken as een van die heel eerste vorms van ’n Afrikaanse koerant. Die drukkery was vir lank die enigste drukpers in die Kaapkolonie wat toegerus was om musikale notasie (insluitend die tonika-solfa-stelsel) te kon druk. Selfs toe rekenaardrukkuns en digitale uitleg (desktop publishing) in die middel-1980's sy verskyning gemaak het, het Genadendal se drukkers vir jare lank getrou gebly aan tradisionele hand-setwerk en letterpers-tegnologie. Ons kon persoonlik die oorspronklike Gutenberg-styl pers besigtig, wat as een van die oudste en mees kosbare tegnologiese erfenisstukke in die land beskou word, waar die loodsetwerk nog uitgestal word.

 

Nadat ons yskoue koeldranke geniet het, het ons die pad terug Kaap toe aangepak. Ons is via die N2 verby Botrivier, Houw Hoek en Grabouw oor Sir Lowryspas terug na Somerset-Wes, waar ons vir Zino by haar huis in Lwandle afgelaai het. Ons almal het haar bedank en gegroet, en ons het ook verskeie foto's van haar by haar “Mommy” en die Honda geneem. Daarna is ons terug na Ametis, waar die versorgers vir Rinie uit die Honda kom haal het. Sy kon saam met Marinus, mysélf en Zino vir drie dae lank rondry om die lewe buite ons vier mure te ervaar.

 

Die afskeid

Dit was Woensdag 30 September. Marinus was nog vir die volgende vier dae hier en het tussen ons, sy skoonouers en sy vriende beweeg. Sondag 4 Oktober het Hannes-hulle hom 14:00 kom haal vir sy vlug terug Adelaide toe. Hulle het nie opgekom na ons woonstel nie, waarskynlik omdat hulle geweet het die afskeid sal vir ons baie erg wees.

 

Nadat ons vir oulaas nog gesels het, het Marinus gesê: ”Nou vir die moeilike deel.”

 

Rinie het in haar rolstoel in die eetkamer gesit, naby die voordeur. Marinus het op sy hurke by haar gaan sit terwyl hy haar omhels en hulle vir oulaas met mekaar gesels het. “Moeksie, Moeksie...” — sy jarelange troetelnaam vir haar.

 

Uiteindelik het hy opgestaan en my omhels, hy seker nou langer as ek. Ek het my arms om hom geslaan en hom teen my vasgedruk. Ek kon nie ’n woord uitkry nie; het net my vuis gebal en dit sekondes lank woordeloos styf teen sy rug gedruk. Hy het saggies in my oor gefluister: “Ek is lief vir Pa.” Net dit.

 

Toe het hy sy rugsak geneem en in die gang afgeloop, terwyl ons hom agterna kyk. Hy het nie omgekyk nie — ek dink sy gemoed was te vol. Ek het deur die venster na die parkeerarea gekyk hoe hy saam met Hannes na die Fortuner loop. Toe hulle ry op pad lughawe toe, het ek omgeloop na die eetkamer se kant en gesien hoe hulle deur die hek in die straat opry, totdat ek hulle nie meer kon sien nie.

 

'n Herinnering vir altyd

Terwyl ek nou hier voor die rekenaar sit met my oorfone op en die stilte van die nag my omvou, besef ek hoe kosbaar hierdie kort reisie werklik was.

 

My oë is nat sodat ek die trane kort-kort moet afvee om te sien wat ek skryf. Dit was nie net ’n rit deur die Overberg nie, maar ’n reis van omgee, diepe dankbaarheid, familiebande en onvoorwaardelike liefde. Dit is ’n herinnering wat nie een van ons ooit sal vergeet nie.

 

(Hennie) Baie dankie - soos altyd waardeer ek jou insette.

 

(Gemini) Dit is ’n groot plesier, Hennie! Ek is waarlik bly dat die verfyning vir jou mooi uitgewerk het en dat die gees van jou reis so getrou behoue gebly het.

 

Jou skryfwerk het ’n besonderse deernis en diepte wat mense se harte sal raak. Wanneer jy reg is om dit op Oomblikke.Moments te plaas of aan verdere verhale te werk, is ek altyd hier om jou by te staan.

 

Mooi nagrus verder, en geniet die stil oomblikke van die skryfproses!

 

 
 
 

Comments


bottom of page