O1B1F3 'N KAROO-MEMOIRE (1955–1961)
- henniej42
- Feb 5
- 18 min read
OOMBLIKKE IN ONS LEWE: 'N KAROO-MEMOIRE (1955–1961)
O1B1F3. Die Anker op Cradock (1955–1956)
Die jaar 1955 het nie net 'n nuwe kwartaal gebring nie, maar 'n anker. Aan die einde van die tweede kwartaal het Pappa sy eerste permanente pos gekry met Cradock as middelpunt in die Noord-Oos Kaap. Daar het hy ons eerste eie huis gekoop, in Cradock-Oos, naby die NG Kerk en omtrent 'n kilometer van Cradock Hoër Seunskool, waar ek na Standerd 5 sou gaan.
Dit was 'n groot huis met 'n siel. In die middel was die eetkamer, sitkamer en kombuis, geflankeer deur twee vleuels met vier slaapkamers en Pappa se studeerkamer. Mamma en Pappa het in die linkerflank geslaap, terwyl ek en Louis die regterflank beset het; Joanie het in 'n klein slaapkamer langsaan geslaap. Die erf was ruim, met 'n enkel motorhuis en bediendekwartiere agter waar ons voltydse huisbediende gewoon het.
Dit was hier waar my eerste "argitek-impulse" vlamgevat het. Met verloop van tyd het Pappa die motorhuis verleng en twee groot sement watertenks laat bou—Cradock is immers in die Karoo, waar droogte 'n konstante bedreiging is. Ek kan nog onthou hoe ek en Louis gehelp het om 'n sementpaadjie van die agterdeur af te gooi. Ons moes die sement plat "flodder" met 'n plankie sodat die gruisklippies nie uitstaan nie. Elke meter was daar 'n kartonstrook om barste weens uitsetting te voorkom—my eerste les in die fisika van bouwerk.
In die voortuin was die stryd teen die natuur selfs harder. Pappa wou perskebome hê, maar die grond was klipharde skalie. Met pik en graaf het ons 60cm vierkant gate gekap. Ons het die gate oornag vol water getap om die grond sagter te maak, maar ek kan nie onthou dat dit enige verskil gemaak het nie. Die grawery het 'n paar dae aangehou. Toe het ons die bome geplant en die grond gemeng met plantmateriaal voordat ons dit terug gegooi het.
Terwyl daar nog sagte grond was, Ek het nie net met karretjies gespeel nie; ek het paaie gebou, 'n voorbode van die argitek wat in my gewag het. Die bouwerk was vir my altyd lekkerder as die speel self.
Die Ritme van die Karoo en die Inspekteur (1957)
Die Karoo was 'n plek van uiterstes. Mamma het op 'n stadium 'n vetplanttuin by voorste hekkie van die siersteenheining beplan. Sy het die plante waarskynlik by haar broers op Colesberg gekry; vetplante was die enigste dinge gehard genoeg vir daardie wêreld.
Ek onthou die droogte op 'n plaas in die Cradock distrik waar die boer geskroeide turksvyblaaie wat opgekap is vir die skape vanaf ‘n treiler gegooi het. Hy het gesê 'n mens kap net 'n blad af en gooi dit plat op die grond met 'n klip bo-op, dan groei dit vanself. Dit was 'n les in oorlewing.
Daar was min grasperk om die huis gewees, net een, kleinerig met 'n klein wilgeboom in die middel. Tussen die garage en die motoruitgang het Pappa 'n druiweprieël geplant, op stewige hout pale. Daar moes ek weekliks Pappa se kar was, ek dink vir 'n halkroon. Dit was nodig, omdat meeste van die paaie wat hy moes ry grondpaaie was.
Pappa was, soos altyd, baie konsensieus. Sy kring skole was sowat 150 myl in deursnee en hy het Sondagmiddae, na teetyd, reeds gery na die skool wat hy Maandag sou inspekteer. Ek weet nie of hy onaangekondig by skole opgedaag het nie, maar hy het saam met die skoolhoof Maandagoggend die skool ingestap as hulle oopsluit.
Hy was 'n meester van Wiskunde en Wetenskap en sy verslae was legendaries deeglik. Die Karoo is baie wyd uitgestrek en die dorpe vêr uitmekaar. Hy het gewoonlik eers Vrydagmiddae terug by die huis gekom. Hy het Saterdag sy handgeskrewe notas op 'n klein Remington-tikmasjien verwerk, met twee wysvingers getik, en dit dan Kaapstad toe gepos. Hy was 'n man van presisie en wetenskap.
Hy het verkies om met sy eie motors te ry—'n vloot wat gewissel het van 'n Opel Rekord en Vauxhall Velox tot die glorieryke Chevrolet Corvair van 1961 met sy ses-silinder boxer-enjin agter. Daarna het hy 'n Holden gehad, gevolg deur 'n Chrysler Valiant. Ek onthou hoe ek daardie Corvair later as student deur die draaie op die grondpaaie by Gansgat ge-"drift" het - 'n heerlike gevoel van krag vir 'n jong man.
Agter die huis het ek 'n groentetuintjie gehad, waar ek met verskeie saadjies eksperimenteer het, maar hoofsaaklik sukses gehad het met wortels en radyse, wat heerlik vars was aan tafel.
Die reuk van braaihoender en skaapkop op 'n Sondagmiddag was die tekstuur van ons bestaan, en seker vir baie huishoudings iets spesiaals. Mamma het ons hoofgereg afgewissel tussen skaapboud, beestong, heel hoender, en soms skaapkop. Hoender was destyds nie so algemeen soos vandag se battery-hoenders nie. Groot plaashoenders wat vry rondgeloop het, was bruingebraai uit die oond 'n lekkerny. 'n Beestong is 'n groot stuk pienk sagte vleis nadat die skurwe vel afgetrek is. Dit het 'n smaak van sy eie en Pappa het dit vir ons in sulke dik skywe gesny. Daar is min mense vandag wat skaapkop eet, seker omdat dit nie mooi op 'n bord lyk met sy grynslag van oopgetrekte tande nie, maar hulle weet nie wat hulle mis nie. As dit reg gaargemaak is, lekker sag uit die oond, is daar soveel verskillende smake: die wang, tongetjie, die brein wat anders smaak as enigiets anders en selfs die oë.
Dan was daar gewoonlik gebraaide aartappels, blomkool met 'n kaassous en nog ander groente soos vars ertjies en/of gesnyde groenboontjies. Nadat ons onsself knuppeldik ge-eët het, was daar een of ander poeding - dikwels gebak, of soms 'n koue poeding met jellie of 'n sponsgereg. 'n Gereg wat ons selde gekry het was "brawn", afgekook van hoofsaaklik bees bene, wat dan 'n soort bruin jellie gevorm het wat in die yskas gestol het. In skywe gesny is dit baie lekker.
Ek is nie 'n sosiale mens nie - onthou wat my Sub A juffrou geskryf het. Ek het gewoonlik só laat skool-toe gestap dat ek by die hek instap net wanneer die skoolklok lui. Sommige van die ander kinders het lank voor die tyd al saam met hulle maats teen die mure in die son gesit en kuier soos dassies, veral in die winterkoue, wat in die Karoo skerp kan wees. Dit was my hele lewe lank en nou nog my gewoonte, om net betyds by 'n geleentheid aan te kom - wanneer iets dan voorval is ek laat. Dit was nogal dikwels vir Rinie 'n probleem, want sy wil nooit laat kom vir enigiets nie, en sy is reg. Soos gewoonlik.
Vriendskap en die Kuns van die Woord (1957–1958)
In Standerd 7 het ek maats gemaak met Tommy Coupe. Sy broer was ‘n blacksmith. Hy was 'n "laatlam" met 'n Engelse vryheid wat vir my vreemd dog aanloklik was. Saam het ons met fietse die strate ingevaar. Sy Pa het vir hom baie meer sakgeld gegee as wat ons ontvang het. Tommy het dikwels vir ons Peppermint Crisps gekoop, wat vir my ‘n luukse was.
Daarteenoor het Pappa weekliks 'n sjieling (10 sent) vir ons drie gegee vir lekkers (4 pennies elk vir myself, Louis en Joanie). Ek kan onthou hoe ons Saterdae na Limburghia geloop het, 'n klein winkeltjie naby ons huis. Hulle het so 'n glaskas gehad waaragter die lekkers was, die meeste waarvan ons nooit gekoop het nie, want dit was te duur. Ons keuse was beperk tot drop, sulke lang "liquorice" stringe vir 'n pennie; swart "nigger balls", wat verskillende kleure het hoe verder jy suig, 4 vir 'n pennie; 4 Wilson toffees vir 'n pennie of 4 Hills toffees wat so hard was dat ek 'n paar keer 'n tand daarop gebreek het.
Die eienaars van Limburghia het hulle bestaan gemaak deur daaglikse produkte soos suiker, botter of wit margerien, melk, brood en vleis aan die omliggende huise te verskaf op krediet. Hulle het 'n bruin man daagliks (behalwe Sondae) rondgestuur met 'n gewone skryfboekie waarin elke huisvrou opgeskryf het wat sy benodig. Elke huis se bestelling word dan opgemaak en dieselfde dag afgelewer. Aan die einde van die maand word 'n handgeskrewe rekening gelewer, wat dadelik met kontant betaal word.
Tommy was ook die een wat my 'n fundamentele lewensles geleer het. Hy het my eendag gevra om saam per fiets na Lake Arthur te ry. Toe hy die Vrydag weer vra of ek regtig gaan, het hy verduidelik dat sy ander vriende dikwels met flou verskonings vorendag kom. Net daar het ek besluit my woord is my eer. Niks behalwe 'n gebreekte been sou my keer nie.
Tommy het nooit aan skolesport deelgeneem nie, maar indien hy het, sou hy baie goed gevaar het, want sy reaksies was vlymskerp. Later toe ons mekaar in Pretoria ontmoet, het hy vir my gesê hy het tweede gekom in die Noord-Transvaal landloop terwyl hy sy weermagdiens gedoen het.
Ons paaie het weer gekruis in Port Elizabeth. Daar het hy my vertel dat hy eenkeer teen byna 'n 100 myl per uur op sy BMW motorfiets in Lyttleton, Pretoria in 'n botsing met 'n motor betrokke was wat oor 'n rooi lig gery het. Tommy is deur die geweld van die botsing hoog in die lug opgeskiet. Terwyl hy in die lug getol het, het hy die ongeluk onder hom sien gebeur. Soos 'n kat het hy op sy voete geland met net oppervlakkige skrape.
Wendy en die Lugruim (1958)
Teen Standerd 7 het modelvliegtuigies my wêreld geword. Ek het my eie ontwerp op die Hurricane, die Britse vegvliegtuig in die 2de Wêreldoorlog, geskoei en haar Wendy gedoop. Dit was 'n control line model, ek dink met 'n .5cc diesel masjien. Die brandstof was 'n mengsel van eter en kasterolie.
Ek het ure en ure daaraan spandeer, eers die ontwerp, toe die bou uit hoofsaaklik balsahou, behalwe die hardehout balkies waarop die masjien vasgeskroef is. Toe alles glad sandpapier. Die vlerke is oorgetrek met sy, wat met dope styfgetrek is. Alles is weer met dope geverf. Laastens was dit met kleur dope geverf, 'n pragtige metaalblou, ek dink met rooi strepe afgerond.
Tommy was teen daardie tyd 'n meester met sy “Stunt Queen”, wat basies 'n vlieënde vlerk control line model was met ek dink 'n 1.5cc glow plug masjien, baie kragtiger as my diesel, en sy brandstof was 'n meer plofbare mengsel. Sy control lines was ook langer as myne.
Ons het sommige naweke gaan vlieg op die Rovers Rugbyklub se veld, wat 'n atletiekbaan gehad het. Om te vlieg het Tommy die tenk vol brandstof gemaak. Hy het die Stunt Queen staangemaak in die middel van die atletiekbaan omtrent op die 50 meter merk. Ek moes die stertvin vashou. Tommy swaai die houtskroef (propeller) 'n paar keer anticlockwise om brandstof in te suig in die ontbrandingskamer. Dan koppel hy die twee drade van die groot battery aan die glow plug en die exhaust poort met crocodile clips. Dit laat die glow plug gloei. Dan swaai hy die propeller clockwise. Gewoonlik vuur die masjien onmiddelik en hy verstel die brandstof toevoer sodat die masjien sy hoogste toere behaal.
Hy loop dan na die middelpunt van die rugbyveld met sy handkontrole. Hy trek die drade styf en toets dat die ailerons reg werk - bo is op, onder is af. As hy reg is, wys hy vir ek kan maar die stertvin los, wat nou vibreer van die krag. Die Stunt Queen skiet vorentoe. Tommy laat die stert lig, maar hou die voorwiele op die grond totdat die vliegtuig naby die kant van die atletiekbaan kom. Dan trek hy die handkontrole op en die Queen skiet vertikaal in die lug op. Die stertvin is só gestel dat die vliegtuig weg trek van die handkontrole om sodoende die control lines styf te hou sodat die vliegtuig reageer op die kleinste beweging van die handkontrole.
Tommy is 'n meester en laat die Queen allerlei toertjies uithaal. Wat hy graag doen is om die Queen onderstebo te laat vlieg, en dit net sowat 'n voet bokant die rugbyveld. Dis baie waaghalsig, want as jy die vliegtuig só omdraai beteken dit dat bo op jou handkontrole nou onder is en vice versa. As jy dit 'n oomblik vergeet vlieg jy jou vliegtuig in die grond in. "No room for errors".
Ek het nooit die moed gehad om met Wendy te "loop" nie, wat nog te sê onderstebo vlieg. Ek kan onthou dat ek menige Sondae saam met die familie in die kerkbanke gesit het en gedurende die preek vêr weg in my gedagtewêreld was, besig om Wendy nog 'n laag kleur dope te gee.
Later jare het Tommy vir my vertel hoe sy Stunt Queen aan haar einde gekom het. Op daardie selfde baan het hy eendag gevlieg en die handkontrole net liggies vasgehou. Miskien was daar 'n wind, toe glip die kontrole uit sy hand en daar vlieg die Queen weg, totdat die kontrole, wat toe oor die grond sleep, êrens vashaak. Daar duik die Queen in die pawiljoenbanke vas, heeltemal vernietig. Ek kan nog die reuk van die eter en kasterolie ruik terwyl die diesel en glow-plug masjiene gebrul het.
Rugby, Rofstoei en die "Ore" (1958–1959)
Die Karoo-lewe was vol drama. In 1958 was daar ‘n stoeigeveg op ‘n Saterdagaand tussen die Wildeman van die Kalahari en Ski Hi Lee, ‘n reuse lang Amerikaner. Ski Hi Lee is gedurende die voorafgaande Vrydag in ‘n Fiat 500 met ‘n oopskuif dak deur Cradock se strate paradeer. Hy het van sy bobene af buite die Fiat getroon en het werklik reusagtig vertoon, terwyl hy uitdagings skree hoe hy die Wildeman gaan verskeur. Alles natuurlik advertensie om meer mense te trek na die geveg.
Die kryt is opgestel in die middel van Rovers se rugbyveld en honderde stoele is rondom die kryt gepak. Saterdagaand was man en muis van Cradock en ook omliggende dorpe daar om die geveg van die eeu te sien. Dit was rofstoei op sy beste. Die Wildeman was soos gewoonlik geklee in pikswart met ‘n noupassende swart skedelkap (balaklawa) sodat net sy oë en neus wys. Hy het klein vertoon teen die Amerikaner, wat geklee was in net ‘n noupassende rooi short, sy hele lyf bruingebrand.
Ski Hi Lee het voor die geveg teenoor die skare gespog hoe hy die klein Wildeman gaan verniel. Toe die geveg begin het hy gegryp na die Wildeman, maar hy het net lug gegryp, so rats was die Wildeman. Wildeman se beste wapen was sy volstruisskoppe, waarmee hy die Amerikaner telkens laat steier het. Soos dit met rofstoei gaan het elkeen hul kans gekry om ‘n hou te slaan of ‘n greep toe te pas. Die mense het hulle aanmoediging geskree vir Wildeman en naderhand het dit warm gegaan daar in die kryt.
Tot Wildeman die Amerikaner met ‘n goedgemikte volstruisskop uit die kryt geskop het. Toé was die Amerikaner kwaad. Hy klim toe terug in die kryt en daar gooi een van die boere hom met ‘n stoel (destyds nog hout voustoele). Ski Hi Lee spring toe uit die kryt en skree “Who done it!”. Die mense storm nader, toe bestorm hy hulle en hulle trek weg soos ‘n terugtrekkende brander. Dit was fassinerend om te sien. Hy los toe uiteindelik die skare en klim terug in die kryt, waar Wildeman hom weer peper met volstruisskoppe.
Mens hoor dikwels dat rofstoei baie vertoon is, maar een ding is seker: daardie manne is werklik bonatuurlik sterk en hulle kan baie straf verduur. DIe einde van die storie was dat Wildeman die geveg gewen het. Almal het ‘n heerlike opwindende aand gehad en baie se harte het by tye in hulle kele geklop, so goed was die vermaak.
Periodiek in daardie dae het Boswell sirkus Cradock besoek. ‘n Reuse tent is opgeslaan en die waens met al die diere daar rondom. Veral ons jongklomp het gepoog om voor die vertoning na die diere, meesal in hulle hokke, te gaan kyk. Veral die roofdiere, die leeus, tiere en luiperds. Die artieste kon ‘n mens soms ook sien, nog vaal sonder hulle grimering. Die olifante was ook ‘n groot gunsteling, elk net met ‘n tou aan die slurp vasgemaak aan ‘n paaltjie. Blykbaar is hulle so gekondisioneer om net daar te bly staan en nie weg te loop nie.
Met die vertoning sit almal op steiers rondom ‘n sirkel waarbinne al die vertonings afspeel. Sommige kinders wat nie geld het om ‘n kaartjie te koop nie glip onderdeur die seile van die tent en klim dan op die steiers vir ‘n plekkie.
Die vertoning word goed afgewissel, van artieste wat asemrowend hoog swaai aan die toue, roofdiere wat deur hulle passies gesit word deur hulle temmer met net ‘n sweep gewapen, olifante wat in ‘n sirkel loop met die slurp aan die koddige stertjie van die een net voor, en wat staan op ‘n stoeltjie, of op hul agterbene. Apies is ook geleer om baie truuks uit te voer. Tussendeur vermaak die narre almal met hulle grappies - hulle is groot gunstelinge veral by kinders, veral die dwergies, almal baie opgemaak met dik lae helder verf en koddige klere. Deesdae het sirkusse baie afgeneem in populariteit, seker deels omdat almal nou TV’s het, en ook omdat baie mense die diere jammer kry wat so in gevangeneskap moet lewe.
Ek self het rugby gespeel vir die "Fish & Chips" 3de span. Een wedstryd teen Volkskool op Graaff-Reinet staan uit omdat Pappa onder die toeskouers was. Ek het alles ingesit en het baie balle in die lynstaan gevat, totdat my opposisie eenkeer my bene onder my uitgevat het en ek met ‘n harde slag die gras getref het sodat my wind amper uit was. Dit het my net meer gedetermineerd gemaak en ‘n paar lynstane later het ek die bal skoon gevang, deur die lyn gebars en gehardloop vir die doellyn - die lynstaan was omtrent op Volkskool se kwartlyn.
Ek was nie bewus van wat om my aangaan nie, maar ek het net gehoor iemand skree vir my “Hennie”, toe gooi ek die bal vir ons linkervleuel, wat gaan druk het onder die pale. Dit was ‘n wonderlike gevoel, en ek het geweet my Pa het gesien ek het daardie drie gemaak. Ons het die wedstryd verloor, want die opponente was ‘n sterker span as ons, maar dit het nie saak gemaak nie - ek het my beste gegee.
Daardie aand het ek saam met Pappa huis-toe gery in sy Opel Rekord. Êrens langs die pad in die donker sien ons net twee ligkolletjies in die pad en die volgende oomblik is ons bo-oor ‘n steenbokkie wat verblind was deur die ligte. Pappa het stilgehou en ons het die bokkie, papgeslaan, opgetel en in die kattebak gelaai. Mamma het die vleis opgekook vir ‘n paar lekker etes. Ek het die arme bokkie baie jammer gekry.
In Standerd 9 het Louis en ek onder Pa se hand deurgeloop. Dit was ‘n Sondagmiddag en Pappa en Mamma het soos gewoonlik in hulle slaapkamer in die linkervleuel geslaap na ete. Ek en Louis was in ons kamer in die regtervleuel.
Ons het gedink ons praat saggies, maar Pa se gehoor was altyd baie skerp. Hy kom toe in ons kamer in en loop na Louis waar hy by sy tafel sit. Hy draai toe sy oor en sê “Julle het mos nie ore nie”. Louis skree van die pyn, seker om Pa te laat ophou. Ek was woedend daaroor. Toe kom Pa na my waar ek by my lessenaar sit met my gesig na die muur. Toe hy my oor draai en weer sê “Julle het mos nie ore nie”, sê ek ewe bars “Ja, ons het ore!”.
Die volgende oomblik pluk hy my uit my stoel, swaai my om en klap my dat ek op my hurke gaan sit. My oë het geblits van woede. Op daardie oomblik het ek hom gehaat. Gelukkig het my gevoel nie lank geduur nie, ek dink omdat ek geweet het ek het sy gesag uitgedaag, en dit was nie my bedoeling nie. Ek weet nie wat my Pa van daardie hele episode gedink het nie, maar verseker was my uitdagende gedrag nie vir hom aanvaarbaar nie, want dit het nie gestrook met sy eie lewensfilosofie nie.
Colesberg: Die Stilte van die Veld
'n Plaasvakansie is soos geen ander vakansie nie, die onvergelykbare ruimte en stilte. Die vakansies op Gansgat en Twyfelpoort was vir my heilig. As oudste kleinkind het ek die veld alleen verken.
My eerste taak wanneer ons op Gansgat kom was om vir my 'n kettie te maak. Eers soek ek 'n mooi mik, veral van perskebome. Dit word die regte lengte gesny, met die bas af waar die rekke moet vaskom. Dan soek ek rek in die trekkerstoor, waar stukkende binnebande gebêre word. Laastens soek ek 'n stukkie leer, waarin twee gate gesny word waar die rek vasgebind word. Die rek word gesny in die regte lengte en breedte en vasgemaak met tou.
Gewapen met my kettie gaan soek ek nou 'n broeksak vol ronderige klippe van die regte grootte, dan is ek gereed om voëltjies te soek. My Pa weet hoe om mense te motiveer. Die voëls eet die vrugte, so hy betaal my 'n pennie vir 'n mossie, 'n sikspens vir 'n muisvoël, en 'n sjieling vir 'n spreeu. In al die jare wat ek so gejag het, het ek slegs eenkeer 'n muisvoël geskiet en hy het bly klou bo in die boom, so ek kon hom nie vir my Pa wys nie. Ek kon nooit eens naby 'n spreeu kom nie. So my prooi was altyd die onskuldige mossies. Later jare het ek 'n boek gelees oor 'n mossie gesin, en was ek baie jammer dat ek hulle so gejag het.
Op hoërskool het Oom Pieter sy .22 geweer vir my geleen, wat ek baie geniet het, om veld-toe te gaan en dassies te gaan jag wat sy veld opvreet. Ek onthou eenkeer van verskeie wat ek die hoë berg agter die opstal uitgeklim het. Bo regoor die kranse waar die dassies bly het ek vir my 'n lêplek uitgesoek, met die .22 gerig op waar die dassies in die son sit - hulle kruip natuurlik soos blits weg wanneer ek naby kom.
Omdat hulle gehoor so skerp is, laai ek 'n patroon in die kamer en druk die slot af sodat dit amper vuurgereed is. Nou lê ek doodstil en wag, die visier gerig op die plek waar hulle in die son lê, aangedui deur die urine strepe af teen die rotse.
Dis ‘n hoë berg waar ek lê en wag en dit is doodstil, net die suising van die bergwind wat teen die hange optrek. Ek hoor Tannie Salome roep: “An-ge-lii-naaa”. Die strooise is ‘n hele ent van die plaashuis af. Angelina antwoord: “Jaaa Noo-oi”. Die klank word gedra en verwring deur die wind. Soos die kraai vlieg is dit seker tussen een en twee myl van die huis af na die krans waar ek lê.
Na 'n lang tyd stuur die dassie leier 'n klein dassie uit om te kom kyk of alles veilig is. Ek lê doodstil. Na 'n rukkie kom die groot dassie, seker die leier, uit en gaan lê. Ek neem versigtig en geluidloos korrel. Dan druk ek die slot die laaste paar millimeter af. Die slot maak 'n sagte klikgeluid soos dit vuurgereed kom.
Oombliklik swaai al die dassies se koppe na my toe. Ek lê gevries. Na 'n hele tydjie ontspan die dassies en kyk nie meer in my rigting nie. Ek korrel presies op die leier en trek die sneller stadig. Toe die skoot afgaan, rol die dassie van die krans af en die ander verdwyn soos blits binne-in die krans.
Angelina was getroud met Jerry en saam met hulle kinders bly hulle al baie jare lank by Oom Pieter-hulle, selfs so vêr terug soos toe Oom Pieter-hulle nog op Gansgat in die bywonershuis gebly het, en daarna op Villeria in die Hanover distrik.
Daar het ek die heerlikste waterperskes geëet. Oom Pieter het altyd ‘n voorliefde gehad vir vinnige motors, destyds almal Amerikaans. Hy het ‘n pragtige slanke plat Studebaker Commander gehad, waar die V8 die hele enjinruim vol gelê het. Oom Piet het dit later verkoop, omdat hy gesê het dis te vinnig.
Oom Piet het altyd ‘n baie goeie verhouding met sy werkers gehad. Hy het hulle gevloek wanneer dit nodig was, maar die wat murg in hulle pype gehad het, het by hom gebly, soos Jerry en Apools. Eenkeer in koue weer moes hulle Tannie Salome se Angora syhaar-bokke kraal toe bring vir die koue wat voorlê en hulle het slap gelê, toe jaag Oom Piet hulle met sy Vespa en ‘n sweep deur die veld sodat hulle hardloop dat hulle klein word.
Oom Piet was blykbaar ‘n motorwertuigkundige op Colesberg voor hy begin boer het, en hy was altyd baie geïnterreseerd in alles meganies. Hy het ‘n groot werkswinkel gehad op die plaas en het vir ‘n paar jaar met sy “Caterpillar D6” kruiptrekker damme gebou vir boere.
Ek kan nog goed onthou een winteroggend so by 9 uur toe ons nog in die bed gelê het. Tyre, die pikswart drywer, trek die klein petrolenjin aan die brand, wat met so ‘n hoë “prrrrr” klank hardloop vir ‘n rukkie. Toe laat hy die koppelaar stadig uit en die groot diesel begin met sy diep bas stem “Doef-Doef-Doef” totdat hy glad loop. Dan maak Tyre die petrolenjin dood en begin met sy werk.
Vir my as jong kind was dit altyd baie indrukwekkend om swaar masjienerie te sien werk. Selfs toe ek in Pretoria student was, het ek waar nuwe toringgeboue opgerig sou word gestaan en kyk hoe kruiptrekkers die grond en klippe uitgrawe, hoe die drywer selfs vorentoe lê wanneer die masjien sukkel om ‘n harde stuk grond te breek.
Angelina was Tannie Salome se regterhand in die kombuis. Hulle het jare lank tuisgebak en vleis gelewer vir die Tuisnywerheid in Colesberg. ‘n Staaltjie wat ek onthou was eenkeer toe ons daar met vakansie was, het Oom Pieter buite langs die rondawel gesit en ons het bier gedrink.
Jerry kom toe daar aan, toe sê Oom Piet vir vir hom: “Jerman, kom sit hier by ons”. Jerry het so ewe op ‘n stoel gaan sit. Toe gesels Oom Piet en hy oor die plaas, en hoe meer hulle gesels, hoe losser raak Jerry se tong. Totdat hy op ‘n kol vir Oom Piet sê: ”Pietman, jy maak nie reg met onse plaas nie”. Oom Piet het nog ‘n rukkie met Jerry gekorswel, en toe vir vir hom gesê hy kan nou maar loop.
Toe Jerry te oud geword het vir plaaswerk, het Tannie Salome hom aangestel as haar tuinman en hy het haar tuin pragtig gehou, totdat hy daarvoor te oud geword het en hy op die plaas op genadebrood gelewe het tot sy dood. Hy is op sy geliefde Twyfelpoort begrawe.
Tommy se broer moes op 'n keer 'n as en twee wiele op 'n plaas gaan haal om vir die boer 'n waentjie te bou. Hy sien toe 'n ou “Red Indian” motorfiets tussen die rommel lê en vra die boer of hy dit kan kry, dan maak hy die waentjie goedkoper. Hy het toe die motorfiets weer opgebou, en so het Tommy 'n motorfiets gekry in Standerd 9. Ons het dikwels daarmee rondgery.
Dit was vir my 'n skok toe Tommy eendag vir my vertel dat sy ervaring met plase beperk was tot een keer wat hy saam met sy ouer broer op 'n plaaswerf was. Tommy wat sy lewe lank in 'n boere samelewing was, en hy was nog nooit werklik op 'n plaas nie. Dit was kort voor die Maart skoolvakansie in Standerd 9.
Ek het Oom Pieter gebel, die situasie aan hom verduidelik, en vir hom gevra of ek en Tommy gedurende die vakansie by hulle kon kom kuier. Ons het toe die pad gevat na Colesberg. Die ou Red Indian motorfiets se enjin het 'n paar keer weens oorverhitting net gaan staan. Nadat Tommy dit 'n rukkie laat afkoel het, kon ons verder ry.
Middelburg, Noupoort, Colesberg, 200km. Toe nog uit na Twyfelpoort, sowat 30km grondpad. Oom Pieter en Tannie Salome het ons hartlik verwelkom. Oom Pieter het sy .22 geweer vir ons geleen met patrone en ons het oral op die plaas rondgery met Tommy se motorfiets. Ons was berg op, het oral deur die veld gery, en het selfs met Oom Pieter se rivierpont in die Oranjerivier rondgery. Virseker was dit vir Tommy iets besonders.
Matriek en die Kersvlam (1961)
Teen matriek het die wêreld begin verander. Ek was altyd vreeslik skaam vir meisies - ek sou letterlik oor die pad loop om hulle te vermy. Maar toe ontmoet ek Maureen van Staden. Sy was in die Handelskool en het 'n paar strate bo ons gebly.
My hart was onherroeplik verlore. Ons het in die aandkloktyd fliek toe gestap, veilig in 'n era wat nou verby is. Ek het destyds vir haar geskryf: "Ek is soos 'n mot om 'n kersvlam". Ek was vasgevang in die gloed van 'n jeug wat so hard en eg soos die Karoo-klip was.

Comments