top of page
Search

O1B1F4. MY STUDENTEDAE 1961-1962

  • henniej42
  • Feb 5
  • 18 min read

O1B1F4.              MY STUDENTEDAE              1961–1962

 

Hoofstuk 1: Die Ontkieming van ’n Droom

 

Ek het van so Standerd 7 af geweet ek wil ‘n argitek word. Tydens ons kuiers by Oom Pieter en Tannie Salome op Twyfelpoort, het ek ure lank deur haar oorsese tydskrifte soos Garden & Home geblaai. Die glansblaaie uit die VSA het my verbeelding geprikkel.

 

In haar tydskrifte was baie voorbeelde van argiteks-ontwerpte huise, veral een van ‘n pragtige huis op ‘n klein driehoekige stukkie grond in die hartjie van New York, rondom ‘n binnetuintjie, met glasmure aan die gang se tuin kant. Dit het my verbeelding baie aangegryp en ek wou ook so ‘n argitek word.

 

Tannie Salome se eie tuin was ’n lushof, tipies aan ’n groot plaaswerf. Sy het nie die gewone kikuyu-gras gehad nie, maar ’n sagte mat van klein ronde blaartjies op fyn steeltjies wat sag onder my kaal voete gevoel het. Te midde van hierdie natuurlike skoonheid en die argitektoniese drome in die tydskrifte, het ek besef: dit is wat ek met my lewe wil doen. Ek het my drome met my ouers gedeel, onbewus van die paaie wat die noodlot (en my vader se oortuigings) vir my sou kies.

 

 

Hoofstuk 2: Die Bastion van die Noorde

 

In matriek moet ‘n mens kies in watter rigting jy wil gaan indien jy naskools verder wil gaan studeer. Daar was net twee universiteite in Suid-Afrika wat Fakulteite gehad het vir Argitektuur – Universiteit Kaapstad (Ikeys) en Universiteit Pretoria (Tukkies). Ons was ons lewe lank Kapenaars, so dit was logies dat ek na Ikeys sou gaan.

 

Maar Ikeys was baie bekend vir sy liberale uitkyk, en Pappa baie konserwatief. Hy het gesê: “Oor my dooie liggaam sal jy na Ikeys toe gaan – jy gaan na Tukkies.” Synde in Pretoria, wat die bastion van Afrikanerskap was, het Pappa gevoel sal ek behoudend groot word.

 

Ek is ingeskryf in Tukkies en het plek gekry in Sonop, die tokkelok koshuis, waar baie van die studente studeer het wat dominees wou word. Die eerste twee weke is al die eerstejaars ontgroen. Meeste van die eerstejaars (ienks) was gehuisves in die Stalle, die grootste dubbelverdieping gebou in Sonop. Die res was klein kamers in blokke van vier gebou, waar meesal seniors gebly het.

 

Gewoonlik net voor ete, in die middae en saans, moes al die eerstejaars aantree voor die stalle, waar hulle deur die seniors “inspekteer” is. Elke ienk moes ‘n kartonbord om sy nek hang met sy gegewens: naam, ouderdom, skool, kerkverband en – belangrik – ‘n foto van sy meisie.

 

Ek het nie ‘n meisie gehad nie, maar die seniors het aangedring. Radeloos is ek met my fiets na die middestad, op soek na ‘n fotografie winkel. Ek het ‘n klein winkel in Arcadia in Kerkstraat gekry, en my probleem aan die eienaar verduidelik. Heel gemoedelik het hy deur koeverte gesoek van mense wat nie hulle fotos kom haal het nie, en daarin ‘n foto van ‘n meisie gekry.  Sy het op my bord "Maureen van Staden" geword—’n fiktiewe liefde wat my deur die ontgroening gehelp het.

Hoofstuk 3: Dissipline en die "Night Lights"

Koshuislewe in 1961 was nie vir sissies nie. Ek onthou die vrees wat die seniors ingeboesem het. Ek was gelukkig redelik groot gebou en het minder as ander deurgeloop, maar ek het gesien hoe diegene wat fouteer het, fisies gestraf word.

Die “inspeksies” moes vir sommige van die kleiner en tingerige ienks skrikwekkend gewees het. Seniors het in ‘n ry stadig afbeweeg voor die ry ienks, van links na regs. Die senior het gewoonlik vir die ienk gevra “Wie is ek?”, dan moet jy weet wat sy naam is, wat hy swot en waarvandaan hy kom, en nog ander inligting soos hy verkies. Ek was redelik groot, so ek dink nie ek het so erg deurgeloop nie.

Daar was so ‘n dik senior met ‘n woeste bos rooi hare, Rooies, vir wie almal lig geloop het. Soos Rooies langs die ry ienks af kom is al die ienks van hom bewus. Eenkeer het hy Erasmus, ‘n klein outjie langs my, iets gevra wat die arme ou toe verkeerd geantwoord het. Toe slaan Rooies hom voor die bors met sy plat hand dat hy op sy gat oor die stoep skuif tot agter teen die muur.

Oor die algemeen het ienks veral nie van tweedejaars gehou nie, omdat baie van hulle, laasjaar nog ienks, nou hulle status misbruik het om hierdie jaar se ienks af te knou.

Tog is daar uitsonderings. Ek onthou eenkeer was daar twee tweedejaars wat vir Antonides ondervra het, van Griekse afkoms en baie senuweeagtig. Rooies was in aantog. Toe bly die twee tweedejaars staan, kastig om Antonides te ondervra, wat Rooies toe dwing om verby hom te gaan.

Ek dink Antonides was ‘n senuwee-lyer. Later gedurende die Junie vakansies het hy blykbaar ‘n senuwee-ineenstorting gehad en nooit weer teruggekom universiteit toe nie. Waarskynlik was dit omdat van die seniors voor die vakansie vir die ienks gesê het hulle gaan die ienks “doodmaak” wanneer hulle terugkom.

Eendag het ek op Sonop se tennisbane gaan tennis speel met swart kouse - ek het nie wit kouse gehad nie. Daardie nag word ek wakker van ‘n gehamer op my kamerdeur. Toe ek oopmaak, staan daar 4 of 6 gedaantes geklee in pikswart lang jasse met swart balaklawas waar net die oë wys.

Hulle stoot my terug in my klein kamer. Toe vra hul leier of ek weet hoekom hulle daar is. Ek het nie die vaagste benul nie. Toe sê hy ek mag nie met swart kouse gaan tennis speel nie. Een van hulle gaan staan toe direk voor my en vat my hande met my arms oor sy skouers. Hy buk vooroor. Een van die ander neem my bene en lig dit op, sodat ek in die lug hang tussen die twee. Twee van die ander neem toe weerskante van my stelling in en begin my boude ritmies slaan met tekkies.

Dis in die begin nie erg nie, maar na sowat 50 slae begin dit brand. So by 80 begin ek my lyf krul van die pyn. “Lê stil!”. Verby 100 het ek ophou tel. Voor hulle loop gee hulle my nog ‘n woordelikse skrobering.

Dis nou die gevreesde Night Lights, wat nou hulle kastige dissipline in Sonop moes handhaaf. Ek is nog ‘n keer so deur hulle geslaan, ek dink omdat ek, komende van die platteland, baie keer gedurende af-periodes met my fiets afgery het na die middestad. Na so ‘n loesing was my boude vol sulke pers kolletjies. Die derde keer het hulle my, oor iets wat ek nie nou kan onthou nie, verneder deur vir my 100 keer my “oortreding” laat uitskryf het.

Ek wonder of hulle die guts het om die hardegatte van die koshuis só te dissiplineer. Een van my maats onder die ienks was Eugéne Potgieter, effens kleiner as ekself, maar gespierd en vreesloos. Een Sondag net voor ete is hy vir ook vir so ‘n gewaande “oortreding” opgetel en ‘n klomp tweedejaars het hom begin slaan.

Een van die slaners was Steyn, ‘n reus van ‘n tweedejaar, en hy maak toe die fout om Eugene met sy vuiste op sy rug te slaan. Eugene het homself oombliklik losgeruk en Steyn voor sy bors gegryp en gesê hy bliksem hom as hy hom weer met sy vuiste slaan. Dit het die wind skoon uit Steyn en die klomp tweedejaars geruk en dit was die einde van daardie slanery.

Hoofstuk 4: Jool, Boks en Buitengewone Oorwinnings

Die Jool word jaarliks gehou omtrent in Februarie/Maart, net na die ontgroening. Dis ‘n vreugdevolle tyd waartydens elke koshuis en fakulteit ‘n vlot bou met een of ander tema. Ek dink dis meesal die seniors wat daaraan gewerk het - die ienks het die vuilwerk gedoen soos aandra en skoonmaak.

Basies word iets rondom ‘n groot vragmotor se kajuit gebou. In Sonop se geval was dit ‘n reuse pampoen oor ‘n raamwerk van ysterstawe, oorgetrek met kuikendraad (chicken fence). Dit is dan toegesmeer met papierpap (paper mache), en dan geverf. ‘n Gat is gelaat vir die bestuurder om deur te kyk. Ons het meesal staan en kyk hoe dit vorder.

Op die bak van die vragmotor was ‘n reuse gorilla wat op ‘n grasbank gesit het. Sy voete was geskarnier en hy kon opstaan en sy hoed oplig - die ingenieurs studente het natuurlik hierdie meganika uitgewerk. Die gorilla was oorgetrek met klapperhaar uit ‘n ou matras, en bo-oor dit het hy ‘n spoggerige satyn pak klere aangehad. Die kroon hiervan was dat as die gorilla opstaan en vorentoe buk, het hy ‘n grys rookwolk uitgepoep! Dit was natuurlik iemand wat binne-in die pampoen sit met ‘n stofsuier wat rook van iets wat brand uitgeblaas het, en dit het elke keer ‘n groot gelag ontlok.

Die dag voor die Jool is ‘n Joolprinses en 4 of 6 runners-up gekies - die mooiste meisies daardie jaar op UP. Die dag van die Jool ry al die vlotte agtermekaar deur Pretoria se strate, ook af met Kerkstraat, met die vlot van die Joolprinses en die runners-up meisies die belangrikste, waaraan almal hulle vergaap het, want hulle was werklik pragtige meisies, geklee om hulle bates ten beste te vertoon. Ons poepende gorilla het almal laat kraai van die lag, so die hele Sonop was baie gelukkig met ons vlot.

Ek onthou nou een komiese insident. Gedurende my ienkjaar was daar ‘n Tukkie bokskompetisie, waaraan alle koshuise en privaat eerstejaars deelgeneem het. Sonop se seniors wou uit ons ienks iemand inskryf vir elke gewigsafdeling. Hulle het my ingeskryf vir die ligswaar afdeling. My beswaar dat ek nog nooit bokshandskoene aangehad het nie het op dowe ore geval.

Die aand van die kompetisie het al ons Sonop ienks wat moes boks bymekaar gesit. Hulle het begin met die vlieggewig en deurgewerk tot die middelgewig (160 lb). Toe Wynand Malan, die ienk van Sonop, ‘n hou vat het hy geval en bly lê - soos hulle sê, hy het die geveg “gegooi”, eerder as om homself te laat stukkend slaan. Toe was dit my beurt - ligswaargewig (175 lb). My opponent was van Boekenhout manskoshuis en hy was in die Tukkie boksspan (eerstejaar akademies, tweedejaar histories).

Ek het stadig uit my hoek beweeg en my handskoene by voorbaat gelig en voor my gesig gehou, met my elmboë teen mekaar. My opponent het op ‘n besliste manier na my beweeg. Ek het my gesig meer toegemaak. Die volgende oomblik slaan die ou ‘n harde hou teen my handskoene, sodat dit teen my gesig slaan. Dit was seer, my eie handskoene teen my neus.

Ek knipmes met my bolyf sodat dit horisontaal met die vloer is. Uit daardie posisie swaai ek ‘n paar houe na die vyand. Toe vir ‘n paar sekondes gebeur niks. Versigtig kom ek orent en loer tussen my handskoene deur. My opponent staan met sy regterarm hoog in die lug en die skeidsregter staan by hom en vat aan sy arm.

Dan wys hy die geveg kan aangaan. Met ‘n kwaai uitdrukking kom die ou dadelik op my af. Skielik lui die klok en die geveg word gestop deur die beoordelaars buite die kryt. Die skeidsregter roep ons albei na die middel van die kryt en lig my hand. Ek het gewen!??

Later het ek uitgepluis wat gebeur het. Toe ek so gebukkend voor die ou staan, wou hy ‘n geweldige hou slaan om die geveg te beëindig, en het sy arm uit potjie geswaai! Die beoordelaars het gesien hier kom moord aan, want dit was duidelik dat ek niks van boks geweet het nie, toe stop hulle die geveg en ken dit aan my toe - ‘n tegniese uitklophou!

Vir my moeite het ek ‘n klein silwer bekertjie ontvang. My Handelsreg lektor, Advokaat Mostert, het met die eerste klas wat ons daarna gehad het vir my in die klas geluk gewens met my oorwinning en gevra of ek my titel die volgende jaar gaan verdedig!! Ek was so skaam oor daardie bekertjie dat ek dit diep in my kleretas gebere het.

Gedurende so ‘n eerstejaar is daar natuurlik geleenthede waar mansstudente kontak maak met damestudente, en by een so ‘n geleentheid het ek vir Isobel Fourie leer ken en ons het mekaar baie gou leer verstaan en aangetrokke geraak. Sy het van Westonaria gekom. Ek dink sy het Liggaams Opvoeding (L.O.) studeer.

Ek onthou eenkeer was ‘n klomp eerstejaars so bymekaar en almal het op die gras onder komberse gesit. Ek het haar hand vasgehou. Dis tog lekker om lief te hê as mens jonk is. Gedurende die universiteitsvakansies het ons baie lang briewe aan mekaar geskryf, myne soms op pad na 20 bladsye.

Toe ons vir die tweedejaar terug is na die universiteit, het sy vir my ‘n mooi briefie geskryf en gesê sy voel teenoor my soos teenoor ‘n broer. Dit was ‘n groot hartseer, al het sy probeer om die afsê so lig as moontlik te maak. Sy was ‘n meer aktiewe mens as ek, so miskien was dit goed so.

Ek onthou ek het eenkeer daarna saam met ‘n oulike meisie in die 20th Century Fox net onderkant Kerkplein gaan kyk na Ben Hur, met Charlton Heston, wat omtrent 4 ure gedraai het. Ons albei het verskeie kere trane gestort. Sy was ‘n diep gelowige meisie.

Hoofstuk 5: Akademiese Kruispaaie

1961. Ek was maar ‘n swak student. Gedurende die eerste kwartaal het ons klas geloop by die Argitektuur gebou. Ek onthou eenkeer moes ons ‘n fiets teken van voor af met die voorwiel effens gedraai. Dit was nogal vrek moeilik en my probeerslag het nie so goed uitgekom as sommige van die ander studente nie. Ek het begin twyfel aan my vermoë om argitek te word. Wat vir my veral gepla het, was Toegepaste Wiskunde, wat vir my baie moeilik was.

Op skool, met sowat 30 leerlinge in die klas, was dit normaal om, wanneer jy iets nie verstaan nie, vir die onderwyser te vra om te verduidelik. Op universiteit is dit heel anders. Daar is miskien tussen 100 en 200 studente in ‘n lesingsaal, en wanneer die lektor inkom en sy lesing gee, is daar geen geleentheid om vir hom iets te vra nie. As die periode verby is, loop hy eenvoudig uit. Komende uit matriek in ‘n redelike groot skool waar ek die boekprys gekry het vir Eerste Klasposisie, was dit vir my moeilik om te aanvaar dat ek sukkel, en ek het gewonder of ek nie dalk van kursus moet verander nie.

Gedurende die Maart vakansie het ek dit bespreek met my ouers. Hulle was natuurlik bekommerd daaroor en nadat ek met die trein terug is na Pretoria, het hulle met die Corvair opgery en was saam met my na die Voorligtingsbeampte van Tukkies. Hy het gesê volgens my aanlegtoetse, wat alle nuwe studente moes aflê, het ek die vermoë om enige kursus op Tukkies suksesvol te studeer. Maar my probleem is dat wanneer ek ‘n probleem kry, is ek geneig om om die bos te loop, nie daardeur nie. Medies en Ingenieurs het albei Wiskunde as hoofvak, so ek kon dit nie kies nie.

Argitektuur het net Toegepaste Wiskunde in die eerstejaar. Pappa het gesê ek kan maar Toegepaste Wiskunde sleep, maar ek het teen daardie tyd myself so in ‘n gat ingedink dat ek wou verander na B.A. Daarvoor was Pappa glad nie te vinde nie, want hy sê mens gaan sukkel om werk te kry met B.A, ek moet eerder B.Com neem. Op die einde het ek daarvoor ingestem, wat ‘n groot fout was, want ek het geen begeerte of belangstelling in handel of die ekonomie nie.

Ek was nou ‘n kwartaal agter, maar dit was nie ‘n groot probleem nie. Ek het al my vakke geslaag behalwe Ouditkunde, wat eintlik ‘n halwe eerstejaars vak was, alles net leerwerk, met net een klein handboek.

Omtrent in September is ons klomp ienks weer ontgroen. Die seniors het ‘n lang bouplank hoog op ‘n terras opgestel met die punt bokant ‘n grasperk, waarvan net ‘n smal deel skoon was - die res was bestrooi met gebreekte bottels en glasskerwe. Elkeen van die ienks moes loop tot op die punt van die loopplank en mooi kyk waar hy moet spring.

Dan is jy geblinddoek en jy het voetjie vir voetjie vorentoe gestap tot op die punt van die loopplank. Dan moet jy met ‘n reuse sprong reg spring om nie in die glasstukke te beland nie. Toe jy klaar gespring het, haal hulle die blinddoek af en sien jy dat die plank plat op die gras lê en geen glasstukke nie!

Daarna moes ons almal “begrawe” word. Almal moes in ‘n watersloot gaan lê, met jou bolyf op ‘n ander ienk se bene. Almal word dan natgespuit en toegegooi met grond. Elkeen hou ‘n sementblad regop in sy hande - dis sy grafsteen - en jy moet vrot - rook uitblaas.

Die ergste het in die aand laat gebeur. Al die ienks is twee-twee in ‘n kamer in die Stalle ingedruk, met minstens twee seniors ook. Die ingeboude kaste was van sement met ‘n blad bo-op waar almal hulle koffers gebêre het, en die kasdeur ‘n normale houtdeur met ‘n knop.

Dan skree die seniors “Wat soek julle op die grond? Spring bo-op die kas! Jurie, wat so effens mank geloop het, was saam met my, toe gee ek vir hom die deurknop om op te trap. Ons pas skaars bo-op daardie blad - jy sit eintlik geboë met jou skouers teen die dak. Ons was skaars bo, toe bulder hulle ”Wat soek julle daar? Julle is nie ape nie! Klim af!”. Toe ons onder is, skree hulle weer ons moet op. Toe weer “Waar is julle beddegoed? Klim af!”. Toe is ons weer af en toe weer op met die matras - ons beddegoed.

So gaan dit nog verskeie kere. Intussen neem die seniors fotos. Nie almal het ‘n “flash” nie, so die lig word afgesit, almal maak hulle kamera sluiters oop en die een met ‘n “flash” verskaf die lig.

Een van die ienks, Johan Malan, ‘n fris ou wat L.O. studeer het, kon hulle nie breek nie. Hy het gemaklik aanhou op en af spring totdat die seniors opgehou het.

Daarna, lank verby middernag, het hulle ons almal poedelkaal laat uittrek en vir ons groot blikke met swart en Military Tan skoenpolitoer gegee, waarmee ons mekaar van kop tot tone moes smeer. Ek het nog ‘n skyfie waar ‘n klomp van ons ienks gestaan het, met Chris Verwoerd voor, een van Dr. Verwoerd se kinders, wat medies studeer het.

Toe is ons almal gejaag na die badkamers. Hulle het vooraf al die warm water uitgetap en ons moes die politoer met seep afwas met yskoue water onder die storte, en dit pas verby die winter. Daar was gelukkig ‘n paar ure oor om te slaap. Die volgende oggend kon ek skaars my hemp aantrek, ek kon nie my linkerarm oplig nie. My linker borsspier was so geswel dat dit gelyk het soos ‘n vrou se bors. Dit was natuurlik omdat ek met my linkerarm myself moes optrek teen die kasdeur.

As gevolg van my ervaring met die Night Lights het ek besluit om vir my tweedejaar privaat te gaan loseer, net ‘n paar huise van Sonop af. Dit was net losies, ek het nog steeds my etes by Sonop geneem en het dus kontak behou met my mede tweedejaars.

Aan die einde van my tweedejaar het Wynand Malan my eenkeer gevra om saam met hom te gaan een naweek na die matriek afskeidsfunksie van sy suster. Sy het ‘n maat gehad wat nie ‘n kêrel gehad het nie. Ons het lekker gedans. Ek kon nou nie eintlik veel dans nie, behalwe dat ek met walse dit geniet het om met spoed te swaai oor die vloer.

Die volgende oggend sê Wynand ek moet saam met hom kom na sy ouers se slaapkamer. Ek het eers baie terug gestribbel, maar hy het my saamgesleep. Sy ouers lê nog in ‘n groot dubbelbed en Wynand se twee mooi susters sit alreeds ook op die bed en hy sê ons moet ook opklim.

Sy Pa was ‘n vooraanstaande prokureur en hulle het in ‘n groot dubbelverdieping huis in Randburg gebly. Ek het so-iets nog nooit ervaar nie - die hartlikheid en gemaklikheid tussen al die lede van daardie gesin.

Toe ons vroeg Maandagoggend saam met ons geleentheid, ‘n student met ‘n ou Peugeot 203, terugry na Pretoria, het die Peugeot ‘n paar keer gaan staan en ons het ons slap gelag vir die bestuurstoel, waarvan die ruglening heeeltemal platgeslaan het - die bestuurder moes behoorlik hang aan die stuurwiel, en dit was natuurlik moeilik om die pedale te beheer!

Ek weet nie wat verkeerd geloop het nie, seker maar die groter vryheid, maar aan die einde van 1962 het ek drie vakke gedruip - Ekonomie II, Handelsreg II en weer Ouditkunde. Ekonomie en Handelsreg was hoofvakke, wat beteken het dat ek nou vier jaar sou neem om my driejaar B.Com graad te kry.

Pappa-hulle het intussen verskuif na Hermanus. Dit was vir my baie lekker om by die see te wees. Terwyl ek nog in Pretoria was, het ek vir Mamma in een van my gereelde briewe gevra om vir my ‘n vakansiewerk gedurende Desember te kry op een van die vissersbote. Dit het nie so uitgewerk nie - ook maar goed, want ek het later agtergekom dat ek nie die maag het vir die op-en-af beweging van skuite nie.

Sy het wel vir my werk gekry om saam met die houtwerk-onderwyser te gaan perlemoen duik, ‘n meneer van Zyl. Ek het saam met hom op sy bootjie en ‘n helper net agter die branders gaan lê. Daar was ‘n klein enjin wat lug afgepomp het na hom, waar hy met ‘n loodbelt onder op die seevloer rondloop om perlemoene met ‘n skroewedraaier af te haal van rotse en hulle in ‘n sak te gooi wat hy rondgesleep het.

By die huis het ek ‘n paar lae warm nagklere aangetrek en daar bo-oor ‘n swart rubber “dry suit”. Dit het voor die bors ‘n groot gat gehad waar mens inklim en het styf om my polse, enkels en gesig gepas. Die gat het sulke los rubbervelle gehad wat mens dan styf toedraai en vasknoop met ‘n lang stuk rubber so breed soos ‘n liniaal. As jy in die water ingaan bly jou hele lyf behalwe hande en voete dan kurkdroog.

Ek het my bo in die bootjie reggemaak om te duik. Ek het ‘n opgeblaasde binneband gehad met ‘n goingsak daarbinne om die perlemoen in te hou. Ek het met net ‘n duikbril, snorkel, paddavoete en skroewedraaier geduik na waar ek dink perlemoene is. Hulle is lief om in kolonies teen rotse te bly. Meesal was daar ook lang bamboese in die omgewing met sulke breë blare aan hul bokant, geanker op rotse. Ek gereeld sulke “klik-klik” geluide gehoor wanneer ek perlemoene gesoek het - ek weet nie of hulle dalk die geluide maak nie.

Met ‘n snorkel swem mens bo-op die water en kyk deur die helder water af of jy onder perlemoene sien, sulke kenmerkende groot ronde skulpe. As jy een sien, “jack-knife” jy sodat jou bene jou onder die water indruk, dan swem jy af na die perlemoen met jou paddavoete.

Normaalweg sit hulle met die dop so ‘n halwe sentimeter weg van die klip of rots af. Jy moet baie stilletjies tot by hom kom en dan blitsvinnig die skroewedraar se plat punt onder sy voet indruk en hom losruk van sy sitplek, dan kom hy maklik los. Maar as jy nie vinnig genoeg die skroewedraaier ver genoeg inkry nie, dan suig hy vas sodat jy hom nie kan loskry van sy sitplek nie, selfs al breek jy ‘n stuk van sy dop af.

Weens die klomp droë lug in die “dry suit” skiet jy soos ‘n prop op boontoe as jy ophou om af te skop met jou paddavoete. Ek het nie ‘n loodbelt gehad nie. Ek dink eintlik het ons nooit baie diep geduik nie, seker maar 6 na 10 meter. Bo gooi ek die perlemoen in die sak en herhaal dan die proses. Aan die einde van die dag het die onderwyser my perlemoene getel en my dan daarvoor betaal.

Destyds (1962) was die perlemoene nog volop en ons het baie afgehaal. Eenkeer was ek na ‘n tydjie moeg, toe klim ek in die bootjie en sit en wag vir die onderwyser. Ek het nog so lomerig in die son gesit en wag, toe voel ek skielik naar, en besef gelukkig dis die op-en-af wiegery van die boot, wat lê net agter waar die branders breek. Ek het dadelik terug geklim in die water en die naargevoel het feitlik dadelik verdwyn.

Die gemiddelde verskil tussen hoog- en laagwater is omtrent ‘n meter of meer. Met hoogwater staan die bamboese regop met hul blare op die oppervlak, en wanneer dit laagwater is, lê daar ‘n dik laag bamboese op die wateroppervlak.

So het ek eenkeer byna aan my einde gekom. Ek het gesukkel om ‘n perlemoen los te kry en toe my asem amper op was, los ek die perlemoen en skiet soos ‘n prop op. Maar dit was laagwater, toe lê daar ‘n klomp bamboese bo my en ek kan nie my kop deurkry nie. Gelukkig het ek kopgehou en steek toe die snorkel tussen die bamboese deur om lug te kry. Dit was so amper of ek het daar verdrink.

 

Hoofstuk 6: Getye van Verandering

Ons het in Mussonstraat gebly, naby Hoy se Koppie. Reg agter ons, in Moffatstraat, was die vakansiehuis van Oom Mike en Tannie Lena du Toit, wat geboer het op Oukraal in die Caledon distrik, op die Napier pad. Mamma was altyd iemand wat, wanneer Pappa na ‘n nuwe kring verskuif het, gou met die nuwe bure kennis gemaak het. Sy het gou met Tannie Lena vriende gemaak, en toe ek met vakansie gekom het, het sy vir my gesê die bure het ‘n oulike dogter en ek moet vir haar gaan kuier. Mamma het sommer dat Pappa ‘n trappie oor die draad tussen ons huise moes bou.

So het my verhouding met Heléne begin. Ons het mekaar se geselskap geniet en sy was ‘n sprankelende mensie, net 5 voet 2 duim lank. Ons het oral saam rondgeloop, ook met die kuspaadjies langs, waar ek baie mooi fotos geneem het. Hermanus is ‘n pragtige plek, destyds nog ‘n klein dorpie. Ons het Fernkloof geklim, die ou hawe verken, en ek het baie verlief geraak. Ons het die eerste keer gesoen op ‘n stoepie van die Marine Hotel.

Later gedurende die vakansie roep Pappa my eendag na die sitkamer toe en sê die feit dat ek drie vakke gedruip het, het nie in sy klere gaan sit nie. Dit sou beteken dat ek ‘n ekstra jaar op universiteit moes studeer en ek sou self daarvoor moes betaal.

Hy het my ‘n keuse gegee om volgende jaar te gaan werk terwyl ek die drie vakke wat ek gedruip het buitemuurs sou loop, of dat ek binnemuurs al my vakke loop en dan die wat nog kortkom die volgende jaar buitemuurs sou studeer terwyl ek werk. Miskien deels weens die vreemdheid om te gaan werk, het ek vir hom gevra of ek my derde jaar nog voltyds kan studeer, waarmee hy toe ingestem het.

Hoofstuk 7: Die Corvair en die Krag van Broerskap

Pappa het destyds ‘n Chevrolet Corvair gehad en ek en Louis is eendag daarmee na Grotto Beach en het gery na daardie groot hardgepakte sand-area langs die Kleinrivier lagoon waar baie mense hulle motors parkeer het. Uit die vlei het die rivier in die see ingeloop. Met tipiese jongmens bravade het ek langs die rivierwal gery in die rigting van die strand. Na so ‘n entjie het ek omgedraai om weer terug te ry na waar al die ander voertuie staan. Die Corvair het begin swaar trek, toe skakel ek na ‘n laer rat en ek het seker die koppelaar te vinnig laat uitkom, toe grawe die agterwiele hulself in die sagte sand in en daar staan ons.

My hart was in my keel, want ons was nie baie vêr van die see af nie en die gety besig om in te kom. Gelukkig was daar 2 ou sitplekoortreksels in die kattebak. Ons grawe toe die agterwiele oop en druk die sitplekoortreksels onder die agterwiele in.

Louis het nog nooit bestuur nie, maar hy sou nou moes. Ek het die enjin aangeskakel met die ratkas in neutraal en aan hom verduidelik hy moet die koppelaar inhou en die ratkas in eerste sit. As ek skree moet hy die petrolpedaal trap en die koppelaar laat kom. Ek het agter die enjinkap gestoot en vir hom geskree.

Gelukkig sit die Corvair se sessilinder enjin agter die agteras, soos ‘n Porsche, en trap toe vas op die sitplekoortreksels. Sy voorwiele loop lig want daar is nie ‘n enjin nie. Die Corvair bokspring toe soos hy elke keer ‘n nuwe stuk sand vat, maar die belangrikste is dat hy loop. Louis klou aan die stuurwiel totdat hy uit die sagte sand in veiligheid is.

Louis het ‘n baie goeie aanvoeling vir voertuie en was later jare baie lank die kampioen in elke klas waaraan hy deelgeneem het, by talle motorwedrenne oor die hele Suid-Afrika, maar veral op Killarney renbaan in Kaapstad. Daardie dag het hy my uit groot moeilikheid gery. Ons het natuurlik nooit vir Pappa van hierdie episode vertel nie.

 

 
 
 

Comments


bottom of page