top of page
Search

O1B1F5. 1963 TUKKIES (63 - 65)

  • henniej42
  • Feb 8
  • 14 min read

HOOFSTUK 1: DIE GOUE JAAR OP TUKKIES

In 1963, my derde jaar op Tukkies, het my wêreld verskuif na Sunnyside. Ek het losies gekry in Jorrisenstraat 541, in die studentehuis van ’n Duitse dominee. Hulleself het in ’n dubbelverdiepinghuis gebly vol karakter, bokant ons huis. Ek onthou sy twee kinders nog goed - albei in tipiese Duitse skoolklere van wit en rooi, die seuntjie met sy swart leerbroek en kruisbande.

Dit was ’n tyd toe gemeenskap en eenvoud die kern van studentelewe was. Daar was 14 van ons, en dit was sonder twyfel my lekkerste jaar op universiteit. Ek was die enigste derdejaar tussen ’n klomp eerstejaars, soos die twee Dawids (Vermeulen en Breedt) van Welkom in die groot voorkamer met die “bay window”. Neels Henning was van Zastron. Hy het my vertel hoe sy pa ’n een-silinder Bulldog Lanz se bearing met ’n stuk geoliede beesvel herstel het, wat jare lank gehou het - ’n staaltjie van ware boere-vindingrykheid wat my altyd sal bybly. Dis’n klassieke voorbeeld van boere-planmaak wat mens vandag selde meer hoor. Ek en Neels het groot vriende geword. Ons het altwee baie belanggestel in fotografie. Hy het Elektriese Ingenieurswese studeer.

Ekself het oorkant die twee Dawids in die voorste kamer gebly. Omdat baie Transvalers dikwels so smalend van die “Capies” praat, het dit my ‘n geswore Kapenaar gemaak. Ek het ‘n Skotse-patroon kombers gehad, dit teen die muur opgehang, en het daarop alle Kaapse fotos wat ek in die hande kon kry vasgesteek met spelde. Ek onthou ‘n sielvolle stukkie prosa met ‘n pragtige foto van die Langkloof, met die woorde “waar die rook regop in die blou lug opstyg”.

Coen Verhoop het B.Sc studeer. Onder ons groep was daar ook ‘n Duitser, Dieter, met wie ek ook goed bevriend geraak het. Sy Pa het ‘n Ysterkruis ontvang in die Tweede Wêreldoorlog, waaroor Dieter vanselfsprekend baie trots was.

Dit was ‘n stewige ou huis met plankvloere, ideaal vir ‘n studentehuis. Vier van ons, Neels, die twee Dawids en ekself, het eendag alvier saam dwars in die bad vol water en Omo seepskuim geklim en almal onder groot gejuig nat gespat. Die seepwater het in die gang afgeloop en ons het dit met die tuinslang by die agterdeur uitgespuit. Studente is nog net half-mens. Baie jare later, toe ek in Stellenbosch gewerk het, vra ‘n besoeker eendag vir die sekretaresse hoeveel mense is daar in Stellenbosch. Toe sê sy “Daar is 5000 mense en 5000 studente”.

Ons het etes gekry by ‘n tannie so ‘n paar huise verder af in die straat. Ons was nie baie vêr van die Tukkie kampus nie, en meeste van ons het met ons fietse daarheen gery - niemand het ‘n motor of motorfiets gehad nie. Ons was ook nie baie vêr van die middestad nie. Almal van ons het van die platteland af gekom, dus was dit lekker om stad toe te gaan vir afleiding of om te gaan fliek. Daar was verskeie flieks in die middestad, ook een waar jy die hele dag kon bly sit terwyl verskillende flieks een na die ander draai - natuurlik nou nie van die beter gehalte nie.

 

Studentestreke en die Gekaapte Trekkertjie

Ons studentepret het sy hoogtepunt bereik met die "kaping" van die Jool-trekkertjie by Asterhof se annex. Dit was ’n operasie met militêre presisie. Ons klomp studente het gereeld by meisies in ‘n annex van Asterhof gaan kuier. Daar in hulle voorportaal het ‘n trekkertjie van metaal gestaan, wat vir die meisies gebou is deur ingenieurs-studente vir die Jool. Ons het toe planne beraam om dit te steel. Ons het dit goed bekyk, gevoel hoeveel dit weeg en mates geneem. Dit was nogal swaar, want alles was van metaal. Ons het iemand gekry wat ‘n bakkie gehad het waarop die trekkertjie sou pas.

Die vorige aand het een van ons met ‘n kettie die straatlig voor die annex uitgeskiet sodat studente ons nie sou herken nie. Gedurende aandete, toe al die meisies in hulle eetsaal was, het die ou met die bakkie gery tot by die voordeur, en ons het die trekkertjie gelaai. Maar die wiele was te breed om heeltemal in die bak te gaan, toe het twee van ons agter-op die klap gestaan en met ons bene die trekkertjie opgehou terwyl die ander studente soos vlieë aan die kant gehang het. Die ou het met ‘n spoed weggetrek en ek kan onthou dat die trekkertjie baie sterk teen my bene gedruk het toe die ou versnel en ek moes saam met Dieter vir ‘n vale klou om te keer dat die trekkertjie afval. Dit was eintlik baie gevaarlik, want as ons voete uitgedruk was sou ons self moontlik afgeval het. Gelukkig het dit nie gebeur nie en ons is veilig tot by ons huis, waar ons die trekkertjie op die stoep voor my kamervenster met bloudraad aan die pilare vasgemaak het.

Met my studies in die middae het ek na ‘n rukkie gesukkel om my oë oop te hou. Dan doen ek iets anders, soos om ‘n boek te lees, en ek is wawyd wakker. Begin ek weer studeer, is ek binne ‘n kwartier weer aan die slaap. Toe het ek besluit om in die nag te studeer. Ek het vroegaand geëet en so sewe-uur gaan slaap. Net voor middernag het ek opgestaan, koffie gemaak met my dompelaar en begin studeer tot omstreeks vyf-uur. Dan weer gaan slaap to so sewe-uur, sodat ek nog betyds vir klasse was, wat omtrent agt-uur begin het.

Vir maande het daardie trekkertjie met bloudraad op my stoep vasgestaan, totdat ’n ander groep studente hom een nag stilletjies kom steel het terwyl ek sit en studeer het. Ek het hulle maar laat begaan; die nuwigheid was teen daardie tyd reeds afgeskuur.

 

HOOFSTUK 2: BRIEWE EN DIE BELOOFDE LAND

Terwyl in Pretoria, was my hart dikwels op Oukraal in Caledon. Ek en Heléne het gereeld korrespondeer. Die posdiens was destyds merkwaardig; ’n brief wat Maandagoggend in Pretoria gepos is, was Dinsdagmiddag op die plaas.

 

Gedurende vakansies op Oukraal het ek en Heléne die plaas verken en ek het my passie vir fotografie uitgeleef. Ek onthou die oorvloedige etenstye waar haar ma altyd eerste vir Eva, die bediende, en Lea, haar dogtertjie uitgeskep het voordat ons aan die beurt gekom het.

 

Saans het ons vir die eerste keer "opgesit" by die lig van ’n paraffienlampie. Later, toe sy Kaapstad toe is vir haar kursus, het ek haar in die Tuine gaan opsoek. Daardie foto van haar in die rooi pakkie onder die prieel in die Tuine is ’n kosbare herinnering aan die begin van ons pad saam. Die munisipale busdiens was baie goed destyds. Daar was omtrent elke paar minute ‘n bus, en hulle was baie op tyd. Ons het mekaar se geselskap geniet, en dit was lekker om die Kaap te verken. Voor dit het ek eintlik nie die Kaap geken nie, want ek het op Rawsonville en Cradock grootgeword.

In 1963 was my studies heelwat beter. Ons het regtig goeie lektore gehad, soos Professor Botha, wat gedien het op Dr. Verwoerd se Ekonomiese Adviesraad. Vir die eerste semester het Professor Gerhard de Kock, President van die SA Reserwebank, vir ons klas gegee in Handel. Hy was ‘n pragtige mens en ek het 67% gekry, die hoogste wat ek nog ooit vir ‘n vak gekry het. Vir die tweede semester het Dr. Francois du Plessis, die Besturende Direkteur van Sanlam, vir ons klas gegee. Wat ‘n kontras. Hy begin sy heel eerste lesing met “Ek gee nie om of almal van julle onderskeidings kry en of almal druip nie”.

HOOFSTUK 3: 1964 – DIE JAAR VAN DIE TRIUMPH EN DIE TRAGEDIE

In 1964 registreer ek om Buitemuurs by UP in Proesstraat klas te loop. Beide ek en Heléne het gaan loseer in die Jeugsentrum in Vermeulen straat, net onder Kerkplein.

Ek het aansoek gedoen vir werk by die Staatsdiens. Die ondersoek was nogal komieklik. Daar was seker so 20 van ons. Almal moes natuurlik jou gegewens invul op ‘n vorm. Vanaf die vorms roep die personeelklerk ons toe een vir een uit . Daar is toe twee Piet Venters. Toe hy die tweede een uitroep antwoord niemand nie. Dit blyk toe dat een ou sy inligting van die ou langs hom afgeskryf het, tot die naam ook!

Die medies was netso snaaks. Almal trek uit, net met die onderbroek aan. Die dokter loop dan van die een na die ander en kyk almal deur, selfs tot tussen jou boude!

Ek het by die Departement van Invoere gaan werk. Ek het buitemuurs begin studeer en by die Jeugsentrum in Vermeulenstraat loseer. Na ’n kort tydperk by die Departement van Invoere, het ek by die NBS begin werk.

Die Triumph Bonneville en die Lark

In daardie tyd het ek my eerste kar gekoop, 'n ou Triumph TR2, wat maar redelik gaar was. Daar was sowat R50 oor van my salaris maandeliks nadat alles betaal is. Daarvan het ek een maand vir Heléne 'n verloofringetjie by Sterns gekoop, en die volgende maand pistons, ringe en bearings vir die Triumph. Koop is een ding, maar aanmekaar sit iets heel anders - die dose parte het in die TR2 se kattebak gelê vir 'n paar maande. Coen Verhoop het destyds 'n pragtige ligblou Triumph Bonneville 650cc motorfiets gehad. Sy Pa was 'n ingenieur by Yskor in Vanderbijlpark en hy was kundig met motors. Coen vra my toe of ek nie die TR2 wil ruil vir die Bonneville nie. Ek het ingestem.

So het ek en Heléne 'n ryding, en ons het dit baie geniet. Daar is niks so opwindend soos die krag van 'n groot fiets nie. Die parkeerplek van die Jeugsentrum was onder die gebou en ek onthou soos vandag hoe ek stadig met die "ramp" opgery het, oor die sement voetpaadjie, tussen die geparkeerde motors deur. Dan gooi ek die fiets na regs en draai die petrol oop - jy voel behoorlik hoe die krag die fiets optel en dit vorentoe skiet. Die krag:gewig verhouding van 'n groot fiets is baie beter as dié van meeste kragtige sportmotors. Daardie tyd was 650cc een van die grootste motorfietse.

Eenkeer was ons op 'n oop pad uit Sunnyside by 'n robot toe hou 'n Studebaker Lark met 'n V8 masjien langs ons stil. Die Larks is o.a. deur verkeerspolisie gebruik vir onderskepping, so hulle was vinnig. Die ou rev toe sy V8, wat beteken hy wil dice - ‘n algemene taktiek in Pretoria. Ek het vir Heléne gesê sy moet vashou en toe die lig groen slaan los ek die koppelaar en draai die petrol vol oop. Die Lark het net eenvoudig uit my gesigsveld verdwyn.

Die Slag van Loftus

Op Saterdag 1 Augustus 1964 was daar ‘n reuse botsing tussen die WP en Noord-Transvaal, die gunstelinge vir die Curriebeker daardie jaar, op Loftus Versveld. In die WP span was Springbokke John Gainsford, Mike Lawless, Dave Stewart, Doug Hopwood (kaptein) en Jannie Engelbrecht - die Noord-Transvalers het hom “Bang Jan” genoem, want hy was nie bekend vir sy lakvermoë nie. In die Noord-Transvaalspan was Frik du Preez, Mof Myburgh, Stompie van der Merwe, Louis Schmidt, Thys Lourens en Ernst du Plessis, wat hulle gesê het ‘n veel beter vleuel as Jannie was. Die Pretorianers het hulle reggemaak vir ‘n slagting.

Die lug bo Pretoria was dik van die hitte en die reuk van braaivleisrook, maar binne die kalklyne van Loftus het daar 'n yskoue spanning geheers. Die skare van 50,000 was doodstil—’n ongewone verskynsel vir hierdie rugby-mekka. Gedurende die wedstryd het Dave Stewart ‘n strafskop geskop en toe Jannie buk om die bal op te tel, het Louis Schmidt doelbewus van agter in hom vasgehardloop en hom skouer eerste in die veld vasgestamp. Jannie het sy sleutelbeen gebreek en hy was in erge pyn. Hopwood het na hom gekom en vir hom gesê “Jannie, jy gaan nie af nie.” Daardie dae was daar geen vervangings nie. Jannie het gebly.

Hy het sy hand in sy broek gedruk om die pynlike beweging van sy skouer te verminder. Gedurende pouse het Hopwood vir Jannie gesê “Bly Jannie. Moenie vir hulle enigiets wys nie.”

Gedurende die tweede helfte het Wynand Mans ‘n springende bal opgetel en dis seepglad met die lyn af na Jannie. Hy het met sy goeie hand die bal teen sy swak arm vasgedruk en onder die pale gaan druk - hy moes op die bal gaan sit omdat hy nie normaal kon druk met sy af sleutelbeen nie. Op daaardie stadium was die pyn amper ondraaglik en Jannie het vir Hopwood gesê hy kan dit nie meer hou nie. Hopwood het weer vir Jannie gesê om te bly. Met 2 minute oor en net treë van hulle doellyn het WP die skrum gewen en Dirkie de Vos het verby Louis Schmidt gebreek en vir Jannie gegee, 60 treë van Noord-Transvaal se doellyn. Hy het verby Noord-Transvaal se geroemde Ernst du Plessis gehardloop en onder die pale gedruk. WP was toe 11-9 voor. Rooies van Wyk het nog ‘n drie gedruk vir WP, om die eindtelling 16-9 te maak. Die skare, wat eers die

WP uitgejou het, het die WP nou toegejuig, veral vir Jannie se brawe vertoning. Jannie is hospitaal toe.

Die volgende week is Louis Schmidt, Thys Lourens en Ernst du Plessis weggelaat uit Noord-Transvaal se span. Op die bus wou ek ‘n geselsie aanknoop met ‘n ou. Toe ek laat blyk dat ek ‘n WP ondersteuner was, draai die ou vererg sy rug op my. Dis hoekom ek nie van Noord-Transvaal se rugby publiek hou nie - hulle kan nie ‘n pak vat nie.

Dit was inderdaad een van die mees heroïese vertonings in Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis. Die detail van hoe Jannie op die bal moes sit om te druk, laat ’n mens opnuut besef hoe hard die spel destyds was.

Kom ons plaas onsself terug na daardie geskiedkundige middag:

“Skielik breek die stilte. Die bal versprei vinnig, van hand tot hand, ’n presisie-beweging wat die Westelike Provinsie-agterlyn soos ’n geoliede masjien laat vertoon. Engelbrecht ontvang die bal. Die skare snak na hul asem. Hy hardloop nie net teen die verdedigers nie; hy hardloop teen die pyn. Met sy arm wat gevoelloos aan sy sy hang, trap hy binne-toe. Sy spoed is sy skild. Hy duik oor die lyn, die gras van Loftus spat op, en die skare ontplof in ’n dawerende gejuig wat tot in Kerkstraat gehoor kan word. Dit was nie net ’n drie nie; dit was ’n bewys van onverdunde murg in die pype. Jannie het nie met sy bene gehardloop nie, hy het met sy hart gehardloop.”

 

Verbeel jou die krakerige ontvangs van 'n draadloos destyds, vir die duisende rugby geesdriftiges wat nie die geluk gehad het om self om die veld te wees nie. Diegene wat die klank van daardie era, die opgewondenheid in die stem van Gerhard Viviers wat amper breek, en die gebrul van Loftus in die agtergrond gehoor het:

 

Die klank van 'n skerp fluitjie sny deur die lug, gevolg deur 'n dawerende dreuning van die skare.

 

"Dames en here, u kan die elektrisiteit hier op Loftus met 'n mes sny! Dis Noord-Transvaal teen die Westelike Provinsie, en die lug is dik van die stof en die drama. Maar kyk daar... kyk daar op die kantlyn. Dis Jannie Engelbrecht. Hy byt op sy tande, sy skouer hang vreemd, en die dokters skud hul koppe. Maar Jannie? Jannie skud die pyn af! Hy weier om die veld te verlaat. Hy staan daar soos 'n eensame wagpos op die vleuel, sy gesig getrek van die pyn, maar sy oë vasgenael op die bal.

 

Hier kom die aanval nou! Die bal kom uit die skrum... dis vinnig, dis skoon! Die WP-skakelpaar laat dit loop. Die bal trek soos 'n streep deur die lug na die senters. Die verdediging skuif oor, maar hulle vergeet van die man met die gebreekte skouer!

Jannie kry die bal! O, genade, u moes dit sien! Hy vang hom met een hand, hy druk hom teen sy bors vas. Hy trek weg! Hy trap binne-toe, hy laat die verdediger staan soos 'n skilpad! Die pyn moet ondraaglik wees, maar hy jaag na die hoekvlag!

HY IS OOR! HY IS OOR! Jannie Engelbrecht druk 'n drie wat die geskiedenisboeke gaan herskryf! Loftus word mal! Mense gooi hul hoede in die lug! Dit is nie net rugby hierdie nie, dames en here... dit is pure, onverdunde heldemoed!"

Die Ongeluk

Hierdie deel van hierdie verhaal is geweldig ontroerend. Dit beklemtoon hoe vinnig ’n oomblik van vrygewigheid in ’n leeftyd se hartseer kan verander. Dis ’n somber herinnering aan die broosheid van die lewe.

 

Ons het by die Jeugsentrum aan sulke 4-sitplek tafeltjies gesit vir ete en saam met ons was 'n paartjie van omtrent ons ouderdom. Hulle was van plan om die naweek vir haar ouers in Thabazimbe te gaan kuier met hulle Lambretta 175 scooter, en hulle was van Maandag af baie opgewonde daaroor. Woensdag hang hulle gesigte aan tafel en die ou sê toe daar was 'n probleem met die Lambretta en hulle sou nou nie kon gaan nie. Impulsief sê ek toe hulle kan die Bonneville leen, waarop hulle toe dadelik baie dankie sê. Ek het dadelik besef dit was 'n fout, maar hulle was só kinderlik bly dat ek dit nie oor my hart kon kry om my aanbod terug te trek nie.

Ek het geweet ek moet hom touwys maak met die Bonneville en die Donderdag na werk is ek en hy toe uit die middestad na stiller paaie by die Fonteine. Daar het ek hom verduidelik hoe alles werk en hy het toe oorgeneem. Ek het nie eens my valhelm saamgeneem nie.

Ek kan net onthou dat ek baie benoud was omdat ek kon aanvoel hy is onhandig met die fiets. Ons het met 'n afdraende paadjie gery in die rigting van Waterkloof, toe ry hy oor 'n stopstraat. Daar kom 'n splinternuwe Cortina aan, die bestuurder swaai vir ons uit en rol sy kar. Ons swaai uit en ry teen die graswal van die sypaadjie op. Die ou trek deur die lug, sy been tref die ankerdraad van 'n lamppaal en breek. Ek trek deur die lug en my kop slaan teen die tuinmuurtjie en ek is uit soos 'n kers.

Vaagweg kan ek die geloei van die ambulans se sirene hoor. Per toeval het een van die ouens saam met wie ek gewerk het by NBS in daardie omgewing gebly en hy het die ambulans gehoor. Hy het veel later vir my gesê die Bonneville se enjin het nog geloop toe hy daar kom en hy het dit afgeskakel.

Die ambulans het ons na die Pretoria Algemene Hospitaal (Hendrik Verwoerd) geneem. Ek het harsingskudding opgedoen en my linkerbeen se fibula was gekraak. Toe ek bykom wou ek net uit die bed kom en het afgeklim, maar toe my voete die vloer raak sak ek inmekaar. Daarna het hulle sulke hoë tralies om die kante van my bed gesit om te vehoed dat ek weer afklim. My linkerbeen was gespalk.

Met die ander ou het dit nie so goed gegaan nie. Blykbaar het murg uit die gebreekte been in sy bloedstroom beland en op sy brein gepak. Hy is na 'n paar dae dood.

Ek het 'n paar weke herstel nodig gehad en Pappa-hulle het gereël dat ek by hulle aansterk. Op daardie stadium was hulle in de Aar, en dit was lekker om by hulle te wees. Saans het ons om die paraffien verwarmer gesit. Dit was in die winter en ek onthou hoe daardie been saans in die bed so gepyn het dat ek gewens het ek het 'n byl, dan het ek dit afgekap.

Ek moes seker van my vakboeke saamgeneem het, maar ek kan nie onthou dat ek veel geleer het nie. Dit was nou die 4de jaar van my studies en ek het nog Bedryfsekonomie III, Ekonomie III en Ouditkunde gekort. Toe my been na behore herstel het, is ek terug na Pretoria en Heléne en Buitemuurs.

 

HOOFSTUK 4: NUWE BEGIN IN DIE BAAI

Teen die einde van 1964 het die gety gedraai. Mamma het haar 1953 Ford Consul vir my as trougeskenk gegee. Ek wou nog altyd graag by General Motors in Port Elizabeth gaan werk en het aansoek gedoen. Hulle wou my sien vir ‘n onderhoud. Dit was die eerste keer dat ek in ‘n vliegtuig was, ‘n Viscount Turboprop. Dit het my verstom hoe vinnig dit versnel met die opstyg - jy word behoorlik vasgedruk teen jou sitplek se ruglening wanneer die loods die krag vol oopstoot.

 

Nadat ek my eksamens geskryf het, het ek 'n woonstel in Sydenham, Port Elizabeth gekry en die noodsaaklikste meubels gekoop. Toe het ek van 23 November 1964 af begin werk by General Motors.

 

Ek was van skooldae af lief vir fotografie, maar het nie op skool geld gehad vir ‘n goeie kamera nie. Destyds was die toppunt van 35mm kameras die Nikon F refleks kamera - dit is deur baie professionele fotograwe gebruik. Toe sien ek by ‘n fotografie winkel in die middestad van Port Elizabeth ‘n tweedehandse Nikon F Photomic vir R167, wat op daardie tyd ‘n goeie prys was, en ek koop dit. Ek was soos ‘n kind met ‘n nuwe speelding. Ek het dit baie jare gehou, totdat ek naderhand nie meer fotos geneem het nie, en ek dit in Brackenfell verkoop het.

Met daardie kamera in my hand, ’n nuwe werk, en die vooruitsig van ’n lewe saam met Heléne, het ek gedink die hoofstuk van my studentejare is nou afgesluit en die pad vorentoe lê oop.

 
 
 

Comments


bottom of page