O1B1F6. 1965 HELÉNE TROUE
- henniej42
- Feb 11
- 12 min read
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-02-09
O1B1D6. 1965 HELÉNE TROUE
DIE BEGIN VAN ONS PAD SAAM
Op 2 Januarie 1965 is ek en Heléne in die NG Kerk op Caledon getroud. Ek onthou nog hoe haar pa die bruidskar, ’n liggroen Ford, met ’n shammy blink vryf, sigaret stewig in sy mond.
Heléne was pragtig in haar spierwit trourok. By die onthaal het die Caledonners die gewoonlike "Hy lyk vir my so baie soos Tant Koek se hoenderhaan" gesing, asook ander grappe. Neels Henning, sy swaer Naude Henning en sy vrou Joanie het sowaar vanaf Pretoria gery om by ons troue te wees. Ons was diep geraak.
Die Consul was gepak met al ons klere en persoonlike items, want ons moes direk na die onthaal na Port Elizabeth ry, aangesien ek die Maandag weer moes gaan werk. Toe ek die Consul aanskakel het die toeter aan’t skree gegaan. Al oplossing vir my was om die toeters se drade uit te ruk. Toe stop Naude my en maak iets los - dit was hy wat vir my ‘n poets wou bak.
Ek het lekker gewerk by GM. Ons was op die eerste vloer, en ek kan onthou hoe die berugte PE wind die mense, soos hulle uit die draaideur kom, skeef laat loop voordat hulle hulself inbeur teen die wind in en pad vat na die hek toe.
Heléne het nie gewerk nie. Ons het naweke gereeld uitgegaan êrens na ‘n strandplek - gunstelinge was van Stadensrivier-mond en Bluewater Bay. Ons het ‘n pikswart katjie gehad, wat ons Swart Piet gedoop het. Ons het hom gekry by die SPCA en hy was so vol vlooie ons moes hom was met vlooigif. Hy was baie lief om in die Consul te ry, anders as ander katte wat ons later gehad het. Hy het saam met ons gery oral waar ons was.
Eendag was ek van die middestad af op pad woonstel toe en ek ry toe oor ‘n voetgangeroorgang waar ‘n tannie gewag het. Daar kom ‘n verkeersman by my verby en wys ek moet aftrek. Ek wonder toe wat ek verkeerd gedoen het. Die ou vra my “Het jy gesien daar staan iemand by die voetgangeroorgang? Hier in Port Elizabeth stop jy en laat mense oorgaan”. Gelukkig het ek nog met de Aar se CM nommerplate gery, so ek het weggekom met ‘n skrobering, omdat hy gedink het ek is nie van Port Elizabeth nie. Daarna was ek altyd oplettend hiervoor.
1965: TERUG PRETORIA: LESSE EN UITDAGINGS
Êrens in Januarie het die UP uitslae gekom. Dit het gewys my hart (en punte) nie by B.Com lê nie. Ek het aldrie vakke gedruip. Die motorfiets-ongeluk het beslis sy tol geëis. Dit het beteken ek sou moes teruggaan Pretoria toe om my B.Com graad klaar te maak. Op pad terug het ons by Mamma-hulle in de Aar omgegaan om vir Swart Piet te gaan afgee. Ma het hom summier Piet Swart gedoop en hy was baie gelukkig by hulle. Ons het swaar afskeid geneem.
Ons het blyplek gekry by ou mense in Malanstraat in die Riviera gebied, naby die Hendrik Verwoerd hospitaal. Ons het weer rondgesoek vir ‘n katjie en ‘n pragtige klein swart katjie met wit voetjies gekry. Ons het haar Sintie gedoop en ek het baie lief vir haar geword. Ek was nog my lewe lank ‘n katmens, is dit nog steeds.
In daardie tyd het ek by Louis Ginsberg by Capital Linen gewerk. Hy was ’n klein mannetjie vol energie; as hy jou roep, het jy die trappe opgehardloop! Ek het saam met ‘n baie oulike jong getroude vrou, Lucia Girodo, matte en gordyne in die ryk woonbuurte gaan vertoon en opmeet. Wanneer ons nie uit was nie, het ons saam met die personeel in die winkel in van der Waltstraat gewerk en materiale en matte verkoop. Die afwisseling was baie lekker en het die werk interressant gehou.Dit is iets om in gedagte te hou, afwisseling in jou loopbaan.
In daardie tyd het Sound of Music uitgekom, met Julie Andrews en Christopher Plummer in die hoofrolle. Dit was ‘n lang fliek, byna drie ure, met ‘n uitstekende storie en spel. Ons het dit 4 of 5 keer gaan sien in die inryteater op pad na Hartebeespoortdam. Elke keer is jou hart in jou mond in die spannende dele waar hulle vlug vir die Gestapo, al weet jy hulle kom weg, so goed is die storie.
Dit was nie altyd maklik nie. Ek het my ou Consul buitekant in Malanstraat parkeer. Een oggend toe ek by die kar kom moes ek sien een van die wiele is gesteel en die kar staan op bakstene. Dit was groot frustrasie, om met die bus werk-toe te ry, te verduidelik, en ‘n wielvelling gaan koop en ‘n band. Ek het toe die Consul binne-in die Oom se agterplaas parkeer.
‘n Paar weke daarna toe ek die oggend by die Consul kom sien ek die klein voorvenstertjie is effens oop, wat vir my snaaks was. Toe ek die aansitter se sleutel draai is daar niks, nie eens die gebruiklike klik geluid nie. Ek maak toe die masjienkap oop en sien dadelik die battery is weg. Bliksems! Weer die gesukkel om die battery te kry en in te sit.
Aan die positiewe kant het ek nou ‘n nuwe battery. Draai die sleutel. Niks, geen klikgeluid nie. Kyk voor wat is verkeerd. Wragtig, die starter is saam met die battery gesteel! Ek kon slange vang. Terug by die kantoor het mnr. Ginsberg, toe ek verlof moes vra, vir my geld gegee vir die skade wat ek gely het, wat ‘n heel ander kant van sy persoonlikheid gewys het.
Ek en Heléne het ‘n bachelor staatswoonstel gekry in Stalshoogte, net onderkant die Uniegebou, op die eerste vloer. Sintie sou nou ‘n woonstelkat moes word. Ons het gelukkig ‘n balkon gehad. Ek het ’n groot houtkas vir haar sand gebou en met ‘n paar lae rooibruin onderlaag geverf. Die nat sand het ek elke week of so by ‘n nabygeleë riviertjie wat daar wit sand was gaan wegspoel en nuwes ingeskep.
Een nag word ek vroeg-oggend wakker van ‘n sagte gemiaau. Ek soek toe vir Sintie, maar kry haar nêrens. Toe ek oor die balkonmuur kyk met die flits sien ek haar onder teen die grondvloer se balkonmuur sit. Sy moes gedurende die nag van ons balkonmuur afgeval het, maar het gelukkig nie weggeloop nie en maar bly miaau totdat ek haar kom haal het.
1966: DIE DAG WAT MY LOOPBAAN VERANDER HET
Ek het rondgekyk vir ander werk, en dit gekry by die Departement van Statistiek in Schoemanstraat, in die middestad. Ek het of met ‘n bus werk-toe of met die Consul gery, maar ek het altyd gesukkel om parkeerplek te kry, baie vêr van die werk, soms tot naby die stasie. Daarom het ek dikwels gestap. Die werk het 7:30 begin tot 16:00, met ‘n etenstyd van driekwart-uur. Die tye is aangekondig met ‘n sirene - die direkteur was vroeër in die OssewaBrandwag (OB) en baie streng en militaristies.
Destyds in Pretoria, waar baie mans van die Staatsdiens safaripakke gedra het, meesal kortbroeke, het ons opdrag gekry dat ons enige kleur mag dra, behalwe blou - dit was net die direkteur wat blou gedra het. Eendag het ek vir my so ‘n grys-blou pak gekoop. Ek was dadelik in die sop. My hoof het my ingeroep en uitdruklik gesê ek mag nie blou dra nie. My pleidooi dat dit grysblou was het op dowe ore geval. Wat nou gemaak? My geld was maar skraps. Toe besluit ek om die pak in die drukkoker te kook - dalk maak dit die kleur ligter. Wat ook gebeur het - dit was toe meer grys as blou en ek kon dit dra.
Die werk was baie vervelig. As ek in die oggende werk-toe stap, wens ek dit is al 16:00 dat ek kan huis-toe gaan. Nie dat daar veel by die huis aangaan nie, net om van die oninteressante werk weg te kom. Ons moes kaartjies sorteer sodat alle eenderse produkte bymekaar was. Ek het saam met Tiny gewerk, ‘n baie oulike getroude vrou - haar ouers het geboer in Marblehall, Noord-Oos Transvaal. Ons geselskap was die ligpunt van my werk. Ons hoof was ‘n Duitser, Hans Kohl, ‘n vakkundige, wat baie by ons op die lessenaar kom sit en gesels het.
Hy het verskeie kere vertel hoe hy en sy vrou die vorige naweek gaan fliek het en daarna in hul woonstel soutigheidjies geeët en “lekker gegat geraak het” - brandewyn gedrink het. Nadat hy ‘n paar Maandae só gepraat het, het ek vir Heléne daarvan vertel en gesê ons moet dit ook probeer.
Ek het ‘n halfbottel Richelieu brandewyn gekoop vir my, ‘n bottel Marsala vir haar, en grondboontjies en skyfies om daarmee saam te gaan. Ons het een Saterdagaand gaan fliek by die Capitol in die middestad waar iets moois gedraai het. Ons het so na 23:00 by die woonstel teruggekom. Heléne het die eetgoedjies reg gekry en ek het vir elkeen van ons ‘n dop geskink.
Ek het geen, maar géén kennis van drank gehad nie - nie eens geweet mens gooi ‘n mixer by die brandewyn nie, so ek het ‘n stywe dop vir my gegooi, seker meer as drie vinger. Toe ek dit probeer, het dit aaklig gesmaak, so ek het dit vinnig afgesluk, en gewag dat iets moet gebeur, die “gegat raak”. Niks het gebeur nie. Toe eet ons maar ‘n bietjie soutigheidjies en ek gooi die glas half-vol en sluk dit vinnig af. Nog niks gebeur nie. Heléne het intussen liggies gedrink aan haar Marsala, wat eintlik ‘n lekker soet wyn is. Ons eet intussen nog soutigheidjies, maar steeds gebeur daar niks van die “gegat” nie.
Teen die tyd is ek al redelik keelvol, want my Richelieu drank bly aaklig. Toe besluit ek om die glas vol te maak en sluk alles af so gou as moontlik. Nog niks. Toe maak ek die halfbottel leeg. Nog niks. Uit frustrasie gooi ek toe ‘n halwe glas van Heléne se Marsala in, waarvan daar nog die meeste oor was. Die soutigheidjies is ook al opgeëet.
Toe skielik moes ek hardloop vir die toilet en ek braak geweldig. Ek voel ook nie beter nie en braak ‘n tweede keer. En weer. Teen daardie tyd was dit al lank verby middernag en ons gaan toe maar bed toe, ek skoon uitgeput. Ek bly sleg voel en uit moedeloosheid drink ek ‘n glas water. Dit help ook nie - ek moet nog steeds kort-kort na die toilet gaan. Selfs toe daar niks meer opkom nie voel ek steeds mislik. Moet ek iets eet? Dit help nie, ook nie as ek water drink nie. Ons het ook geen medisyne nie. Uiteindelik is die nag verby, maar die nare gevoel bly.
Teen Sondagmiddag besluit ek om na ‘n nood-apteek te gaan, dalk kan die apteker help. Ek vertel hom wat gebeur het. Hy kon nie help om te lag nie. “Jy het alkohol vergiftiging man”. Hy gee my iets om te drink en pille. Verlig noudat ek weet wat verkeerd is, is ek terug woonstel toe.
Die gevolg hiervan was dat ek vir jare nie die ruik van brandewyn kon verdra nie. Wanneer ek in ‘n situasie beland het, soos by ‘n partytjie, het ek met my vol glas rondgeloop, en wanneer niemand kyk nie, het ek dit in ‘n potplant uitgegooi. Die goed daarvan is dat ek my nog nooit weer vergryp het aan drank nie, waaroor ek baie bly is. Ons drink ons drankies, maar altyd met matigheid. Soms as ek twee glase drink sal ek voel die vel van my gesig span, dan weet ek niks meer vir my nie. Daardie een nag het my lewenslange uitkyk op matigheid gevorm.
Toe eendag laat weet die hoofde hulle soek programmeerders. Ek het nie geweet wat dit beteken nie, maar het my naam opgegee. Dit het letterlik my lewe gered. Ons rekenaar was ‘n ou IBM 360, wat ‘n hele vleuel van die grondvloer beslaan het, meer as die helfte van ‘n groot huis. Daardie ou 360 het ‘n geheue van 16 KB gehad, oftenwel 16,384 bytes (karakters). Dit het bestaan uit fisiese ferriet-ringe. Dit was letterlik handgeweef met drade. Dit is hoekom rekenaars destyds so groot was - elke "bit" het fisiese spasie opgeneem. Dit was nou in 1965. Vergelyk nou daarmee die Samsung Galaxy S selfoon van vandag, wat ‘n geheue van 1 TB = Terrabyte het, dis ‘n triljoen bytes, of 1,100,000,000,000 karakters. Wow!! Om dit in perspektief te plaas: 'n Foto wat jy vandag met jou Samsung neem, sal ongeveer 250 tot 300 keer meer spasie opneem as die totale geheue van die hele 1965-rekenaar.
Ek het my passie gevind. Ons eerste IBM (Intenational Business Machines) kursus was een van daardie selfleer kursusse, waar almal wat gekeur is die lesse op jou eie deurgewerk het teen jou eie spoed. Na elke hoofstuk was daar ‘n selftoets wat jou kennis-inname evalueer. Elke fout wat jy maak het jou verwys waarna jy moet teruggaan om die korrekte antwoord te leer. Dit was ‘n twee-weke kursus en ek het 97% behaal, die hoogste in die klas van 20, waar daar ‘n paar ouens was wat B.Sc grade gehad het. Vergelyk dit nou met my uiters swak B.Com resultate, en dit is duidelik dat dit ‘n baie groot fout was om ooit vir B.Com in te skryf. Waar die handelsvakke vir my grieks was, het die logika van tale soos RPG, Assembler en later Cobol my soos ’n handskoen gepas. Skielik was die sirene om 16:00 nie meer ’n verlossing nie, maar ’n verrassing, want ek het my werk geniet.
1967. DIENSPLIG
In 1967 is ek opgeroep vir diensplig by die Administratiewe Dienskorps (ADK). Terwyl ander troepe in die stof gebyt het, was ek by Presas as hulp-rekenaaroperateur. Ek moes werk van 16:00 tot 24:00, wat beteken ek het hoofsaaklik in die dag gewerk, en kon dan slaap van so 01:00 tot sê 08:00 of 09:00. Ek het nagskof gewerk, wat beteken het ek kon die hele dag by Heléne en ons nuwe babaseuntjie, Heine, wees.
My sewe maande van diensplig was eintlik baie gemaklik: ek het ‘n baie lekker werk gehad, het feitlik normale ure in ons woonstel geslaap, en was die hele dag tot 16:00 los. Ek moes natuurlik altyd my khaki uniform dra, maar in Pretoria, waar die Weermag en Lugmag hoofkwartiere gesetel is, is daar duisende manne in uniform, so ek is nooit deur iemand voorgekeer nie. Die groep permanente magslede by Presas waarmee ek te doene gekry het, was almal aangenaam, glad nie van die militêre soort nie, want feitlik almal het basies siviele werk gedoen.
Na my diensplig is ek terug na die Departement Statistiek. Ons het kort daarna gegaan vir my derde taalkursus, Cobol, wat later een van die mees-gebruikte rekenaartale in die wêreld sou word. Dit was ‘n hoëvlak taal, wat maklik gelees het. Dit het gebruik gemaak van prosedure name soos Open, Read en Write, wat elkeen ‘n hele masjienkode prosedure teenwoordig het, menende dat die programmeerder nie in daardie detail hoef te gaan nie, anders as met Assembler.
Ek het Cobol geniet en dit was die hooftaal wat ek gedurende my hele programmeringsloopbaan gebruik het. Gelukkig was ek nou goed gekwalifiseerd in die rekenaar rigting, waarin ek baie goed was, so ek het nie kennis nodig gehad vir ‘n handelsrigting nie. Die presiese detail van programmering het my soos ‘n handskoen gepas.
Dit was nog altyd in my geaardheid. Dit was so met die fyn afwerking van Wendy, my model control-line vliegtuig op skool. Dit was ook so met die skryf van my belastingprogram in Stellenbosch Munisipaliteit, waar ek baie tyd oor maande daaraan spandeer het totdat die data-invoer vorm perfek gewerk het.
Op dieselfde trant het ek ook ‘n verbeterde data-invoer program geskryf by Brackenfell Munisipaliteit, waar ek ‘n instruksie handleiding geskryf het sodat die gebruikers presies kon sien wat om te doen, in detail en opsommend langs mekaar: detail was letterlik stap vir stap; opsommend was net in hooftrekke, sodat die gebruikers hulleself kon help. Ek het ook ‘n moeilike on-line kwitansieprogram geskryf wat baie detail verskaf het.
Dan ook die uitset van behoeftes en funksionaliteit in detail, 40 bladsye, van die aanbiedings van drie rekenaarfirmas vir die behoefte van Drakenstein Munisipaliteit se munisipale programmatuur, punt vir punt langs mekaar, wat voorgelê is aan die Raad. Een van die raadslede het daarna gesê hy het nog nooit so-iets gesien nie.
Die oorskakeling van 'n "vervelige" B.Com-gebaseerde pos na die opwindende wêreld van programmering is 'n klassieke voorbeeld van hoe belangrik dit is om jou passie te vind.
DIE RENAULT 16 EN ONS EERSTE VAKANSIE
My pa het vir my R700 gegee as deposito vir ‘n nuwe motor. Ons het rondgesoek vir ‘n soort motor waarin ons kon slaap as ons met vakansies gaan. Die Renault 16, ‘n donker groene, was so ‘n soort motor, met baie gemaklike sitplekke wat heeltemal platslaan om ‘n bed te vorm. Daardie kar was sy tyd vêr vooruit. Dit was baie gerieflik en in alle opsigte ‘n uitstekende kar; al tekortkoming dat hy te min krag gehad het, net 40Kw. Dis gebou in Mercedes se fabriek in Oos-Londen en was dus goed afgewerk omdat dit op dieselfde produksielyn gebou is as Mercedes.
Heine was maar ‘n paar maande oud toe ons met ons eerste ordentlike vakansie gegaan het. Ons het eers by my ouers in de Aar gaan kuier vir ‘n week, en toe by haar ouers op Oukraal. Almal was natuurlik gaande oor Heine, wat ‘n baie oulike seuntjie was. Vir die derde week van my vakansie het ons met die Tuinroete opgery, daarna langs die grens tussen Vrystaat en Lesotho na Transvaal.
Ons het oral langs die pad in die Renault geslaap, voor polisiestasies en in kampplekke. Dit was ‘n heerlike vakansie, pragtige natuurskoon, en ons het by baie see-plekkies aangegaan wat ou herinneringe opgeroep het. Omdat Heine nog op doeke was, het ons dit gewas by kampplekke. Die volgende oggend as ons ry na die volgende bestemming, was die doeke vasgedraai in die agtervensters, sodat dit al wapperend droog geword het in die wind! Ek wonder wat die mense in motors wat by ons verby is gedink het.
Daardie dae was daar glad nie weggooi doeke nie. Al ons kinders is grootgemaak met materiaal doeke, wat daagliks in ‘n groot wit emmer vol water gegooi is waarin ‘n doppie SteriNappy opgelos is. Dit het al daardie doeke spierwit gebleik, soos nuut. Dit kos ‘n breukdeel van wat deesdae vir weggooidoeke betaal word, en het nie die gesukkel om van die weggooidoeke ontslae te raak nie. Werklik ‘n baie beter stelsel wat ons gehad het. Dit was ’n tyd van min geld, maar groot rykdom aan herinneringe. Dis 'n briljante beeld van "maak 'n plan" in die jare sestig.

Comments