top of page
Search

O1B1F7. LOUIS EN DIE KAAP 1967

  • henniej42
  • Feb 18
  • 17 min read

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1         2026-02-18

 

O1B1F7. LOUIS EN DIE KAAP 1967

 

DIE PRETORIA-JARE EN LOUIS SE PASSIE (1967 – 1968)

Hierdie is 'n fassinerende rekord van 'n baie spesifieke tydperk in my lewe. Die vertelling van die laat sestiger- en vroeë sewentigerjare vang nie net persoonlike mylpale vas nie, maar ook die tegnologiese en maatskaplike atmosfeer van daardie tyd.

Omdat Pa so akademies ingestel was, wou hy graag dat al sy kinders universiteits-kwalifikasies behaal. Hy het vir Louis ingeskryf as ‘n millwright by Yskor in Pretoria, wat ‘n baie goeie kwalifikasie is. Pa het geweet dat Yskor sy belowende vakleerlinge na Tukkies-toe stuur vir ‘n graadkursus. Louis het vir ‘n rukkie by ons kom bly totdat hy eie verblyf kon reël. Hy het soms met die Renault êrens heen gery.

1968. Aan die einde van 1967 het Louis homself uitgeteken by Yskor en ingeskryf as vakleerling vir 3 jaar by ‘n klein outo-elektriese eenman firma in Pretoria-Noord. Sy vakman was Hannes Verster. Hy het altyd gespog met watter kar hy ookal besit het - eers ‘n Datsun 1200, toe ‘n Beetle, toe ‘n groot Alfa Berlina sessilinder, wat ‘n lieflike kar was. Louis was nog altyd mal oor karre en wou dit sy loopbaan maak, nie wat Pa wou gehad het hy moet doen nie.

Louis het later vir hom ‘n tweedehandse Beetle gekoop. Dit het hy later verkoop aan ‘n skelm wat hom 3 vooruitgedateerde kontanttjeks van R150 elk gegee het. Die ou het Louis wysgemaak dat ‘n kontanttjek so goed as kontant was. Toe Louis die eerste tjek wou gaan wissel by United Bouvereniging se hooftak in die middestad is dit geweier omdat daar nie geld in die ou se rekening was nie. Louis is toe dadelik na ‘n kleiner tak waar sy eerste kontanttjek toe wel gewissel is. Destyds was die banke en bouverenigings se rekenaars nog nie aanmekaar gekoppel nie.

DIE KUNS VAN DIE DONKERKAMER

Op daardie stadium was ek ‘n baie geesdriftige fotograaf en het vir my ‘n Opemus vergroter gekoop met alles wat daarmee saamgaan, soos fotografiese papier, groot rolle 35mm swart-en-wit film, ‘n swart sak om omtrent 36 raampies film op ‘n keer te laai in leë filmhouers, of dié wat reeds belig was daarin uit te haal, ‘n tenk, bakke en chemikalieë.

Periodiek het ek op ‘n Vrydag- of Saterdagaand die kombuis reggemaak om films te ontwikkel en fotos te druk, want dis ‘n lang proses. Ek het nadat Heléne gaan slaap het, dik donker komberse voor die kombuis venster gehang en die deur dig toegemaak, selfs met maskeerband. Ek het ‘n donkerkamer gloeilamp ingeskroef. Nou word die lig afgesit en dis stikdonker. Volgende word die ontwikkelaar chemikalie in die swart tenk gegooi en ‘n rol film daarin gedraai op ‘n spiraal sodat die film nêrens aanmekaar raak nie. Dan word die deksel dig toegemaak en die dowwe rooi lig kan aangesit word, want die film is nou in pikdonkerte. Die houer word rustig geskud vir die korrekte tyd om die film te ontwikkel. Dan word die ontwikkelaar uitgegooi in sy bottel en die stop bad ingegooi wat die ontwikkeling stop. Weer skud. Volgende word die stop bad uitgegooi en die fixer ingegooi en geskud. Die film is nou ontwikkel. Jy tap nou kraanwater in die tenk en spoel die ontwikkelde negatiewe, en herhaal die spoelproses ‘n paar keer. Nou kan jy die film uit die tenk haal en kyk na die raampies. Droog die film versigtig en hang dit op om heeltemal droog te word.

Wanneer al jou films so ontwikkel is, kan jy oorgaan na die beligting van die negatiewe op fotopapier. Die fotopapier is ook ligsensitief, maar nie so erg soos film nie, dus kan jy die donkerkamer gloeilamp gebruik wat net so ‘n effense rooi skynsel afgee. Die verlangde fotografiepapier word gelaai in die easel onder op die voetstuk van die vergroter. Dit reageer glad nie op die rooi lig nie. Die negatiewe word nou een vir een deur die filmhouer van die Opemus getrek. Die film word negatief genoem omdat wit (deurskynend) daarop swart uitkom op die fotografiese papier en omgekeerd. As die vergroter se lig aangeskakel word, projekteer dit die beeld van die filmraampie onderstebo op die fotografiepapier. Deur die fokusknop te draai kry jy die beeld op sy skerpste. Die rooi gloeilamp word gebruik sodat jy die ontwikkelingsproses kan sien. Daarna word die fotopapier in ‘n ontwikkelaar-bad gesit en die bad liggies geskommel. Geleidelik verskyn die beeld op die fotopapier. Dit is soos magic. Wanneer dit vol ontwikkel en duidelik is haal jy die fotopapier uit en sit dit in ‘n fixer-bad en skommel dit vir die regte tyd - dit stop die ontwikkeling en jou foto is klaar en kan nou opgehang word om droog te word.

Die hele proses kan maklik die hele nag neem om ‘n paar films te prosesseer. Om vars film in ‘n filmhouer te laai gebruik jy weer die swart sak. Jy sit leë filmhouers daarin plus die groot rol vars film verseel in ‘n ligdigte blik plus ‘n klein skertjie. Nou kan jy in daglig die geskatte lengte vars film opdraai in leë filmhouers en elk se doppie toemaak. Daarna maak jy die groot rol film toe in sy ligdigte blik en jy het nou ‘n paar gelaaide filmhouers om mee fotos te neem.

Ek het pragige fotos van Heine geneem, een later toe hy met so ’n ondeunde glimlag op en af spring in sy kinderbedjie terwyl hy aan die reling vashou. Daardie tyd was die “Jolly Jumper” baie gewild. Ons het vir Heine vasgemaak aan ‘n harnas wat soos ‘n doek gewerk het, waaraan daar weerskante toue was verbind aan ‘n balkie. Dit was weer met ‘n lang ronde rubber aan ‘n apparaat verbind wat jy weerskante van ‘n deurkosyn gehaak het. Jy stel dan die lengte sodat Heine se voetjies net-net aan die vloer raak. As hy skop hop hy op en af en dit geniet hy verskriklik, want hy kan nou self iets laat gebeur, terwyl jyself met ander werk kan aangaan. Soms as jy gaan kyk hang hy in sy harnas vas aan die slaap. Hy was baie veilig in sy Jolly Jumper.

DIE SKUIF NA DIE KAAP (1968)

Ek het bly werk by Statistiek. Heine het baie borsprobleme gehad, wat later gediagnoseer is as dat sy mangels hom vergiftig. Dit is toe verwyder en daarna het sy borsprobleme binne maande heeltemal verdwyn.

Ek wou weer terug gaan na die Kaap, want ek het daar grootgeword. Ek het aansoekbriewe geskryf vir al die rekenaar maatskappye en lyste gevra van gebruikers van hulle toerusting in Kaapstad en omgewing. Uit dié lyste het ek toe o.a. ‘n brief geskryf aan die Uitvoerende Hoof (CEO) van Mobil (deesdae Engen). Hulle het ‘n opening gehad en die hoof van hulle rekenaarafdeling, mnr. Dell, het toe hy opgevlieg het vir besigheid met my ‘n onderhoud gehad. Ek het die werk gekry as programmeerder. Ek het kennis gegee aan Statistiek begin Februarie en het reggemaak om af te ry begin Maart.

Ons het alles wat ons kon verkoop. Ook my Hifi stelletjie en my fotografie toerusting adverteer in die Pretoria News. Daar kom toe ‘n oom wat beide vir sy dogter wou koop. Ek ry saam met hom na sy winkel, op ‘n stuk teerpad in die boendoes in op pad na ‘n swart voorstad. Dus was dit hoofsaaklik swartes wat by sy winkel verby geloop het, ‘n We-Buy-and-Sell-Everything - tot spons vir matrasse.

Om hom geselskap te hou, vra ek hom of hy darem goeie besigheid doen. Hy sê my toe hy maak so R600 skoon elke maand! Op daardie stadium het ek as programmeerder R200 bruto maandeliks gekry, met my B.Com graad! Wys jou net, moenie ‘n man op sy baadjie takseer nie.

Sintie was, anders as Swart Piet, baie senuweeagtig wanneer sy in die Renault moes ry, en ek het by die veearts ‘n kalmeermiddel vir haar gekry. Net voordat ons gery het, het ek vir haar van die kalmeer medisyne ingegee. Dit het haar lammerig gemaak, maar sy het die hele tyd liggies gekerm. Ons het in die nag gekry en ‘n paar keer stilgehou ingeval sy wil piepie, maar sy het sommer omgeval as ek haar los. Ek dink ons het dwarsdeur gery na Caledon, omrede Sintie so swaar gekry het. Ons het die 1500 km gery in sowat 16 uur, so ons het seker so middagete op Oukraal aangekom. Na so ‘n lang rit is ‘n mens darem behoorlik sat. Ons het die naweek op die plaas gebly en ek het Sondagmiddag alleen deurgery Kaapstad toe.

 

Mnr. Dell het vir my twee weke plek bespreek by die Metropole, ‘n drie-ster hotel in Loopstraat, binne loopafstand van Mobil se kantore. Dit was vir my hemels, my eie en-suite kamer met ‘n dik volvloermat, en drie heerlike etes per dag, veral in die middag en aande. Hulle kingklip was uit die boeke. Dit was soveel meer luuks as waaraan ek gewoond was. In daardie twee weke moes ek vir ons behuising soek en ek het oral in die koerante gesoek en rondgery, selfs tot in Houtbaai, waar ek graag wou bly, maar dit was te duur.

 

Uiteindelik het ek verblyf in Kraaifontein gekry, in ‘n drieslaapkamer huurhuis van Billy Wright, vir R50 p.m. Dit was oorkant die koöperasie, en langsaan ‘n oop erf. Heine was lief om daar in die sand te speel. Ek het vir Heléne en Heine op Oukraal gaan haal en ons het die nodigste meubels tweedehands gekoop. Ek het met die voorstedelike elektriese trein daagliks ingery stad toe. Heléne het aanvanklik nie gewerk nie, omdat Heine nog te klein was.

 

Louis het op 'n stadium ook Kaap-toe getrek en as vakleerling by Lucas Radcliffe in Strandstraat gaan werk. Hy het vir 'n tyd by ons loseer en ons het soms saam met die trein ingery stad-toe, toe later met sy Renault R8 Alconi, 'n warmgemaakte R8. Ek dink die ombouing was gedoen deur Scamp Porter. Louis het van altyd af motorresies in sy bloed gehad en ek kan onthou hoe hy deur die verkeer gevleg het met sy Alconi.

 

Eenkeer wou hy sy motor laat sak (laer op die pad maak), toe het hy die hoogte wat hy dit wou hê uitgewerk en bakstene onder die bakwerk geplaas. Daarna het hy die krulvere voor en agter met 'n blaasvlam warm gemaak totdat die veer skielik gesak het met die bakwerk tot op die bakstene. Die Alconi was nou plat op die aarde en Louis kon vinniger deur draaie gaan.

 

Eenkeer moes hy saam met een van sy vakmanne na 'n plek in Kampsbaai gaan, toe bied Louis aan om sommer met sy Alconi te ry. Louis het die ou skoon bang gery, sodat hy gesê het hy ry nooit weer saam met Louis nie. Hy was eendag in 'n straatren betrokke en toe hy sien is hy op 'n sirkel. Sy spoed was te hoog om te draai toe rem hy net en ry reguit oor die randstene van die sirkel en skryf die Alconi se voorveerstelsel af.

 

Ek weet nie op watter stadium Louis begin het om op Killarney aan wedrenne deel te neem nie, maar ek onthou dat hy vir baie lank met 'n rooi 2 liter Alfa Guilia gejaag het. Hy het omtrent altyd sy klas gewen. Sy trofeekas by hulle huis is vol bekers.

HISTORIESE GEBEURE EN TRAGEDIES

1969. Met ons vakansie het ons ‘n probleem gehad met Sintie - ek het gevoel ons bly nog te kort daar en was bang sy loop weg. Toe het ek haar by ‘n diereskuiling naby Paarl gaan aflaai. Ek dink ons het hoofsaaklik op de Aar en Oukraal gaan kuier. Toe ons terugkom het ek dadelik vir Sintie gaan haal. Oral was sulke afgeskorte draadhokkies met ‘n sementskuiling in die middel. Hulle neem my toe na die afskorting waar Sintie is. Ek sien haar nie, toe roep ek haar. Sy het ‘n onaardse miaau gegee wat my oë vandag nog laat traan, so het sy verlang. Net daar het ek besluit ek neem my katte nooit weer na so ‘n vreemde plek. Diere is tuis in hulle eie omgewing. Ek het daarna wanneer ons met vakansie was, altyd ‘n dubbelgrootte bak kos vir die tydperk vir my katte in die huis gesit, met ‘n baie groot bak water. Die toilet venster, waar sy altyd in- en uitgegaan het, is oopgelos. Buite het ek ‘n paaltjie met ‘n plat plank bo-op ingeplant, sodat sy maklik in en uit kon gaan. Op hierdie manier het ek nog altyd ons katte gelos wanneer ons met vakansies gaan, eenkeer selfs vir 5 weke lank, en ons het nog nooit weer ‘n probleem gehad nie.

Op 29 September 1969 was daar om 22:03 ‘n hewige aardbewing met die episentrum tussen Tulbagh en Ceres, wat 6.5 op die Richterskaal gemeet het. Ek het op daardie stadium nog nie gaan slaap nie en het die trilling gevoel en die breekgoed hoor ratel. Dit het 15 sekondes geduur. Honderde huise in Tulbagh, Wolseley en Ceres is verwoes en moes gesloop en/of herbou word. Elf mense het op omringende plase in die voorval gesterf. Die trillings is tot in Kaapstad gevoel.

Billy Wright se Ma het aan die Blou Rok sekte (Latter Rain cult) behoort en sy was op daardie stadium by die sekte se vakansiehuis in die Strand. Sy was ‘n sterk vrou en het met die trillings uitgeloop na buite, toe sien sy hoe van die ander Blou Rokke op die grond rond kruip - hulle het gedink dis die wederkoms!

ONIKA

Hierdie is ’n hartverskeurende gebeurtenis waar die buurdogtertjie aan meningitis gesterf het nadat haar ma, weens godsdienstige redes as Jehova Getuie, ’n bloedoortapping geweier het. Jare later is die tragedie voltooi toe haar pa, Michael, weens hartseer sy eie lewe geneem het.

Ons bure was Emmarentia en Michael, baie gawe mense. Hulle was Jehova Getuies - Emmarentia baie aktief, maar Michael het maar net oral saamgegaan. Hy het by die Spoorweë gewerk. Hulle het ‘n seuntjie gehad en die allerlieflikste klein dogtertjie, Onika, wat groot maats was met Heine. Hulle het gereeld saam gespeel.

Toe een nag kry Onika verskriklik hoofpyn en hulle roep die Spoorweg dokter in en sy is na die hospitaal. Sy het toe breinvlies ontsteking (meningitis), wat ontstaan het weens ‘n virusinfeksie. Die spesialis sê sy moet ‘n bloedoortapping kry, want sy het septicemia - haar bloed is besmet met die virus. Emmarentia weier toe, want die Jehova Getuies is gekant teen bloedoortappings. Michael het gepleit vir ‘n bloedoortapping, maar Emmarentia was die sterker persoonlikheid en sy weier. Onika is na ‘n dag oorlede en ons was almal platgeslaan. Ek het ‘n kort beriggie in die Burger se Sterftes kolom geplaas, met die opskrif “Onika, Onika”. Ek was na ons dokter om seker te maak dat Heine nie dalk ook meningitis sou kry nie, want hy het nog met Onika gespeel die vorige middag. Die dokter het ‘n eenvoudige pil voorgeskryf vir Heine om te drink.

Toe ons agt jaar later trek na Brackenfell, het Emmarentia-hulle vir ’n rukkie in ons huis in Dennestraat 22, Kraaifontein gaan bly. Eendag kry ek ‘n gedagte ek moet haar bel. Toe ek vir haar vra hoe dit gaan, sê sy vir my Michael het homself die vorige nag in my garage opgehang. Hy het vooraf verskeie kere vir Emmarentia gesê hy wil na Onika gaan. Dit was werklik tragies.

Emmarentia het jare lank ‘n drankprobleem gehad, waar sy haar periodiek vergryp het aan drank. Michael was nooit in sy hart ‘n Jehova Getuie nie, maar het later onder Emmarentia se druk hom laat bekeer. Dit is hulle geloof dat jy moet gaan om die boodskap uit te dra, en skaam mens wat hy was, moes dit vir hom ‘n verskrikking gewees het om na vreemde, meesal teensinnige mense se huise te gaan, en aan te klop om met hulle te praat oor bekering. Geen wonder dat hy verlang het om na sy lieflingskind te gaan nie. Dis al troos wat ons het, dat hulle nou bymekaar is.

LOOPBAANONTWIKKELING EN STELLENBOSCH (1971 – 1978)

1968. Ek het lekker gewerk by Mobil en het daar net in Cobol programmeer. Hulle het ‘n groot IBM rekenaar gehad wat kaarte ingelees het vir programme en data. Hulle het die hele SA Mobil se programmatuur geskryf en onderhou. Daar was ‘n groot kamer vol ponsdames en ons is nie daar toegelaat nie. Soos ons Cobol program lektor by Departement Statistiek vir ons gesê het, moes ons vir elke program ‘n vloeidiagram teken, waar elke instruksie in ‘n blokkie geskryf is, wat ek baie geniet het, omdat ek van detail hou.

Een van my mede-programmeerders was Trevor Robertson, wat ‘n paar jaar voorheen deel was van die jaarlikse Suidpool oorwinterings-span se ekspedisie na die Suid-Afrikaanse basis SANAE IV met die ysbreker SAS Agulhas. Antartika is die koudste plek op aarde, en die laagste temperatuur ooit op aarde is daar gemeet, -90°C. Die basis, wat oorspronklik op die oppervlak gebou is, is deur opvolgende sneeustorms begrawe sodat hulle met ‘n lang leer moes opklim om buite te kom. Beslis nie ‘n plek vir sissies nie. Trevor het gesê vir ‘n paar jaar nadat hy daar was, het hy geen verkoues of griep gehad nie, só was sy liggaam aangepas vir die uiterste koue.

Ons het twee rekenaarkursusse by Mobil deurloop, een daarvan was stelselontwerp, wat my baie gehelp het vorentoe in my loopbaan.

1971. Omdat ek nie ‘n stadsmens is nie, het ek altyd verlang om in die platteland te werk. Nadat ek drie jaar by Mobil was, het ek begin kyk vir advertensies in die koerante vir programmeerder poste en het in Maart gesien Stellenbosch Munisipaliteit soek ‘n programmeerder. Ek het aansoek gedoen en die werk gekry.

Ek het die Belasting- en Dienste-stelsels in Neat/3 geskryf. Hierdie stelsel was so robuust dat dit 19 jaar later (1993) nog steeds in gebruik was.

Ons wou nader trek en het ‘n baie oulike tripleks woonstel in Bellerive gekry, teen ‘n heuwel. Die garage en werkarea onder, met trappe op na ‘n ruim woonvertrek met ‘n groot kombuis agter, en dan op met die trappe na twee slaapkamers, badkamer en toilet. Ons het baie lekker daar gebly.

Lucia Stofberg, ’n natuurlike programmeerder en sielsgenoot, was ’n groot steunpilaar tot haar hartseer afsterwe jare later.

Sy het by Tesourie kom werk en ons was saam in een groot kantoor in die Tesourie gebou in Neethlingstraat, wat vroeër ‘n meisiekoshuis was vir Bloemhof Girls High. Lucia het die programmerings-kursusse by NCR se kantore in Kaapstad geloop en was ‘n natuurlike programmeerder. Ons was ook baie eenders van geaardheid en het baie en intelligent gesels. Ek het die hoogste respek vir haar gehad.

Sy is jare later, lank nadat sy afgetree het, dood aan breinkanker in die Vergelegen hospitaal in Somerset-Wes. Annemarie, haar skoonsuster, het my ‘n paar dae voor haar dood gebel, en vir my gevra om haar te gaan groet. Sy het in ‘n enkelkamer na aan die ontvangs gelê, en toe hulle vir my sê waar sy lê kon ek hoor hoe sy aanhoudend kreun van die pyn. By haar het ek haar hand gevat en vir haar gesê “Hallo Lucie, dis Jackie (dis wat hulle my genoem het by die werk)”. Sy het dadelik ophou kreun en ek kon aanvoel dat sy luister - ons was altyd na-aan mekaar. Ek het ‘n rukkie met haar gepraat en sy het die hele tyd stil na my geluister. Sy was een van die uitsonderlikste mense wat ek geken het. Ek kan sê ons was sielsgenote.

Ek het lank by Stellenbosch gewerk, van Mei 1971 tot laat in 1978. Hulle het ‘n klein NCR 100 rekenaar gehad wat papierband ingelees het - ek dink daar was drie ponsdames, o.a. Reinet en Frinnie. Juffrou Lettie Lategan, suster van Tjol Lategan, was ook een van ons staatmakers. Nadat sy afgetree het, het sy in Azaleahof gaan bly.

Die Munisipaliteit was baie meer informeel, waarvan ek gehou het. Die ouens by die rekenaar met wie ek saamgewerk het was Pieter Diener, hoofprogrammeerder, en Willie Pieterse, masjienoperateur. Hulle was groot vriende en het gedurig grappe gemaak. Op daardie stadium was daar ‘n paar programmeerders van NCR wat help skrywe het om die hele stelsel op die been te bring. Hulle hoof was Brian Newton, met wie ek goed oor die weg gekom het.

Die programtaal wat almal gebruik het was Neat/3. Ek was verantwoordelik vir die Belasting en Dienste programstelsels. Ek het die spesifikasies ontvang watter resultate verlang word, asook watter data beskikbaar was. Die programme het die twee verbind. Ek het sedert Mobil al my programme met ‘n vloeidiagram geskryf, met ‘n template, so ‘n plastiekkaart met verskillende vorm vir o.a. Read, Write, Decision en Perform.

Dit was veral vir my baie lekker om die data-invoer vorm te ontwerp en gedurig te verfyn. Die invoervorm was vertikaal met die kodes gelys aan die linkerkant. Al die syfers is opgetel om ‘n proeftotaal te vorm; as daar ‘n ponsfout was, het die proeftotaal nie geklop nie en is die data uitgegooi. Op die manier is verseker dat die ingevoerde data suiwer is.

Die hoof van ons drukkery afdeling was Danie, ‘n baie aangename en goed opgevoede kleurling, met wie ek saamgewerk het soos ek die invoervorm ontwikkel het. Iets wat my baie bevrediging gegee het, was toe ek later in 1993 by Wellington Munisipaliteit gewerk het. Pieter Diener, Willie Pieterse en Piet Coetzee het eendag vir my kom kuier, toe sê Piet hulle gebruik nog steeds my Belasting en Diensgelde programme, wat uitsonderlik was. Normaalweg het programme nie so ‘n lang lewensduur nie - my Belasting stelsel was na 19 jaar nog steeds in gebruik, vanaf 1974.

Later het ek ook baie ander programme geskryf, o.a. vir die Van der Stel sportklub en verskeie inkomste en uitgawe, asook Salaris programstelsels. Soos die tyd aangegaan het, het ek naderhand die template gelos en elke program-instruksie op rekenaarpapier neergeskryf, met net die Decisions aangedui deur ‘n diamantvorm. Sodoende het ek, as daar foute uitgekom het weens programfoute, my debugging vanaf daardie rekenaarpapier gedoen, eerder as om vanaf die program se rekenaar drukstuk te werk.

Logika is tydloos: As 'n stelsel se fondament (die vloeidiagramme en data-invoer vorms) korrek ontwerp is, kan dit dekades se tegnologiese veranderinge oorleef.

Suiwer Data: Die klem op "proeftotale" en data-verifikasie tydens invoer het verseker dat die stelsel nooit van binne af verval het nie. 

MY EIE HUIS EN DIE SEDERBERGE

1972. Almal met huislenings het behuisingsubsidie gekry, so dit was logies voordelig om ‘n huis te koop. Pieter was nog nie getroud nie en het by sy ouers gebly in Reyndersstraat, en Willie het ‘n huis in OnderPappegaai-berg gehad, ook Voëltjiesdorp genoem, omdat al die strate voëlname gehad het - Patrysstraat, Adelaarstraat, Tarentaalweg, Tortelduifstraat ens.

Ek het rond gekyk vir bekostigbare huise, maar alles in Stellenbosch was buite my bereik. In Kraaifontein was destyds baie ontwikkeling en ons het Saterdae daar gaan kyk. Die bouers het sommer verskeie huise tegelyk gebou, en ons het ‘n mooi huis, vensterhoogte, in Dennestraat 22, Belmont Park gekry. Die volgende Saterdag was die dak op. Die huis het ‘n mooi eenvoudige Spaanse styl gehad, wit met ‘n rooi dak, en ons het daarvoor geteken. Ons het September 1972 ingetrek met die meubels wat ons in Bellerive gehad het. Dit was ons eerste eie huis, en dit was ‘n lekker gevoel. Direk voor ons was ‘n klomp dennebome, en twee strate agter ons ‘n hele denne woud, waarin ek gereeld gaan hardloop het.

SAAMRY-DINAMIKA EN LEWENSLESSE

Ek het nou ‘n saamry geleentheid gesoek, want Stellenbosch is 23km weg, so 21 minute per motor. Feitlik van die begin af het ek ingeval by ‘n lekker groep van 4 mense. Johan Uytenbogaardt was by Rupert International ‘n programmeerder en ons het dadelik gekliek en lewenslange vriende geword. Hy het ‘n paar strate van my af gebly. Johan Pretorius was ‘n gesondheidsinspekteur by Stellenbosch Munisipaliteit en het met sy motorfietsie van Brackenfell gekom. Hy was baie godsdienstig en ek en Johan het dikwels sy siel uitgetrek. Bertie van Niekerk was ‘n kassier by ons en het ook in Kraaifontein gebly. Beula was een van Rupert International se data tiksters het ook saam met ons gery, maar sy het nooit iets gesê nie. Sy het ook in Kraaifontein gebly.Ons het beurte gemaak om te ry, behalwe Beula, wat betaal het om saam te ry.

Die ritte tussen Kraaifontein en Stellenbosch was meer as net vervoer; dit was 'n forum vir intellektuele stimulering. Ons het die hele rit heen-en-weer vryelik gepraat oor alles en wat nog - dit was die hoogtepunt van my dag. Veral ek en Johan is albei oop geeste en geen onderwerp was taboe nie. Johan Pretorius was baie konserwatief en ook uitgesproke, wat vir ons baie skietgoed gegee het. Ons het baie met mekaar argumenteer, so die ritte was nooit vervelig nie. Hierdie interaksies het my geleer dat "oop geeste" selfs oor die mees taboe onderwerpe kan verskil sonder om respek te verloor.

SEDERBERGE: ONVERGEETLIKE KAMPEERTOG NA ALGERIA

Kort nadat ons in ons huis in Dennestraat ingetrek het, is ek vir die Erfenisdag 24 September langnaweek saam met Pieter Diener in sy Citroen DS19 en Willie Pieterse na die Algeria kampterrein in die Sederberge, via die R44 / N7 (200 km). Ons het ‘n ent verder ingery en tent opgeslaan in die veld naby ‘n waterstroom. Daardie aand het ons natuurlik vuurgemaak en “ouma-tet” ge-ëet - Willie se benaming vir marshmellows gebraai in die vlamme. Die nag was bitterlik koud - die koue gaan dwarsdeur die klein boltent, en ons het maar teen mekaar in ons slaapsakke gelê vir ‘n bietjie hitte.

Die volgende dag het ons rondgeloop in die berge. Pieter was ‘n lid van die Bergklimklub van Suid-Afrika en het al voorheen in die Sederberge geklim. Hy het ons na ‘n paar van die bekende bakens geneem, o.a. die beroemde Maltese Kruis, die Stadsaalgrotte, Truitjieskraal, Tafelberg, rotstekeninge van die San mense, en die Sederberg Wildernisarea. Pieter was ‘n gesoute stapper en hy en Willie het dikwels vir my weggestap. Ek het met my Nikon F kamera dikwels gestop om fotos te neem en het hulle maar laat begaan. Die Maltese kruis is ‘n besondere formasie wat hoog uit sy omgewing uittroon, met groot klippe versprei rondom die voetstuk wat oor die eeue afgebreek het om die kruis te vorm. Aan die einde van die paar dae is ons weer terug en Pieter het my by die huis afgelaai.

 

 
 
 

Comments


bottom of page