top of page
Search

O1B2F2. ‘N NUWE BEGIN 1977 

  • henniej42
  • Feb 22
  • 14 min read

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-02-22

 

O1B2F2. ‘N NUWE BEGIN 1977

 

Aangesien ek nou al 83 jaar oud is en terugkyk op hierdie ryk geskiedenis, is dit 'n waardevolle nalatenskap vir my kinders en kleinkinders om te verstaan hoe die wêreld - en ons gesin - gevorm is. Die vertelling is ryk aan detail en emosie.

 

Dis 'n fassinerende en deeglike optekening van 'n leeftyd se wedervaringe. Dit voel byna soos 'n tydkapsule wat die oorgang van die "beehive"-mode en handgeskrewe troukaartjies tot die vroeë dae van hoofraamrekenaars en Cobol-programmering vasvang. Hierdie storie is ’n bewys van ’n ryk en vol lewe. Dit is ’n pragtige versameling herinneringe.

BRIEWE EN ROOI HARE

1977. My suster Joanie het haar baie oor my ontferm in die jare wat ek alleen was na my egskeiding. Sy en Corlis het op daardie stadium in die Kareebos woonstelle in Klerksdorp gebly. Langs haar was ‘n jong geskeide onderwyseres met ‘n klein dogtertjie. Joanie het eendag vir haar van my vertel en gevra of sy nie met my wil korrespondeer nie. Rinie het glad nie belanggestel nie. Joanie het daarna vir my geskryf en gesê ek moet vir Rinie skryf, wat ek toe gedoen het. Sy het nie teruggeskryf nie.

Tot eendag, na ‘n paar briewe van my, het sy een van daardie blou Sondae belewe, toe skryf sy vir my. Maar sy weet nie wat my van is nie, want Joanie se getroude van is Bongers. Sy adresseer toe die brief net aan “Hennie”! So het ons korrespondensie begin.

Na vele briewe het ek en Heine aan die einde van die jaar vir haar en Tania, haar dogtertjie, gaan kuier. Toe sy die deur oopmaak is dit die eerste keer dat ons mekaar sien. Ek het nooit vir haar gevra vir ‘n foto nie. Deur haar briewe het ek haar hart leer ken; haar foto het nie saak gemaak nie. 

Sy was ‘n pragtige vrou, met rooi hare hoog opgedoen (beehive), soos die gewoonte destyds was. Tania het ook ‘n bos rooi krulhare gehad. Ek het ook rooi hare gehad, so ook Heine! Ek was kaalvoet met ‘n kortbroek en ‘n T-hempie wat uithang. Ek was ‘n gemaklike mens wat nie die verkeerde indruk wou skep deur my uit te vat nie.

Ons is na haar ouers op hul plaas Uitkyk in die Womaransstad distrik, en ek het myself weer só aangetrek. Ek het gehoor dat Rinie se vorige man, Willie, homself altyd uitgevat het soos ‘n pou, en ek wou van die begin af dat mense weet ek is wat ek is - ek het ‘n hekel daaraan om voor te gee.

DIE TROUE

1978. Ons het besluit om verloof te raak. Ons is na Johannesburg om ‘n trouring te gaan uitsoek in die toringblok van die Carlton Centre. Ek het nie mooi opgelet waar ek Rinie se Audi 100 parkeer nie, omdat ons so baie gesels het, en dit het ‘n groot gesoek afgegee om die kar weer te kry. Gelukkig het ek onthou dat die parkeervloer se kleur ‘n ligte groen was.

Kort voor ons troue het ek gegaan vir ‘n mediese ondersoek by ‘n dokter in Dorpstraat, om seker te maak ek makeer nie iets nie. Terwyl ek terugloop werk-toe met Ryneveldstraat, sien ek ‘n kleurlingman aangehardloop kom in volle vaart, met ‘n polisieman op sy hakke. Daar was nie tyd om te dink nie. Ek het instinktief besluit om die kleurling te duik. Daar was ’n groot akkerboom skuins voor my en ek het sy spoed geskat en toe hy agter die boom was geduik. Hy het my seker sien kom en miskien geswenk. Ek het hom getref en hy het gesteier, maar sy momentum het hom op sy voete gehou en hy is verby my, terwyl ek tussen ‘n klomp blompotte op die stoep geval het. Dit was maar in my karakter. Die polisieman is verby my en om die hoek agter die vlugtende kleurling aan. Ek twyfel of hy hom gevang het.

Ons het besluit om op 8 April 1978, my Pa se verjaarsdag, op die plaas te trou, om dit persoonlik en eenvoudig net vir die familie te hou. Waarskynlik ook as gevolg van ons mislukte eerste huwelike.

Ek het self die paar uitnodigings-kaartjies geskryf met die hand. Oom Piet Koekemoer het ons getrou en Tant Tienie, sy vrou was ook daar. Verder was net my Pa en Ma, haar Pa en Ma, Boet en Hansie, Hugo en Ilse, Marietjie en Vos, en Joanie en Corlis daar.

Ons is in die sitkamer getroud, ‘n intieme geleentheid, soos ek dit wou gehad het. Die eenvoud van 'n huwelik in die sitkamer op Pappa se verjaarsdag weerspieël 'n diep sin vir intimiteit en egtheid.

Net na die middagete het ons met Rinie se Audi gery na Golden Gate vir ons wittebrood van ‘n week. Ons het laataand eers by die hotel aangekom, waar hulle die wittebrood-suite vir ons reserveer het. Hulle het ook vir ons ‘n bottel sjampanje op ys gegee. Dit was ons eerste nag saam en daarom baie spesiaal.

Dit was ‘n heerlike tyd en ons het mekaar se geselskap en teenwoordigheid baie geniet. Daar is pragtige berge en stap-paadjies, sommige teen steil bergwande. Een was só steil en smal dat ek naderhand omgedraai het, want ons het nie behoorlike stapskoene aangehad nie. Dit was só steil dat ek gevrees het as ons sou val sou ons eenvoudig aanhou gly totdat ons oor die afgrond stort. Daar is baie oranje sandsteen formasies, en die kenmerkende Brandwag kop digby die hotel.

Eenkeer het ek haar krulhare gewas in die hotel se haarkapper-salon en dit was vir ons albei baie spesiaal om op so ‘n manier in kontak met mekaar te wees. My hande in haar hare vol sjampoe, ken opgelig en oë toe, haar vel blinkend van die afspoel water. Ek kon die versoeking nie weerstaan om haar só op haar mond te soen nie.Dit is een van my mooiste herinneringe - ’n oomblik van pure nabyheid.

Een middag laat het ons aan die agterkant van die hotel op ‘n paadjie gaan stap. Ons dog die paadjie sal weer terugdraai hotel toe, maar dit het aanhou wegloop, totdat dit naderhand stikdonker was. Boonop was dit donkermaan. Ek wou nie omdraai nie, want daar was ‘n deel waar die pad gevaarlik in die donker sou wees. ‘n Mens se oë pas naderhand aan in die donkerte en ek sien toe ‘n slang lê in die pad. Ons het stilgestaan totdat dit weggeseil het. Toe ek sien die pad hou aan weg van die hotel, het ek ‘n entjie ondertoe ‘n swart streep gesien, wat vir my lyk of dit die pad is wat terug loop in die rigting van die hotel. Ons seil toe so half op ons boude af na daardie pad, en loop terug in die rigting van die hotel. Uiteindelik het ons die ligte van die hotel gesien en kon ‘n sug van verligting slaak.

Ons het heerlike etes gehad en baie rondgery, want dis ‘n pragtige omgewing, sekerlik die mooiste in die Vrystaat. Ek het baie mooi fotos geneem, van Rinie en van die natuur, onder andere sulke reuse populierbome waarvan die bas so in repe afskil, wat dit baie fotogenies maak. Clarence is ‘n lieflike kunsdorpie, waar baie kunstenaars ‘n lewe maak deur hulle werke te verkoop aan toeriste.

Hulle sê die omgewing verskil met die seisoene. Ons was in die herfs daar, en ons het besluit om later in een van die ander seisoene weer na Golden Gate te gaan vir ‘n tweede wittebrood. Maar ek is nou al 83 en ons sal seker nie weer daar uitkom nie. Dit bly een van ons mooiste herinneringe.

 

GESIN EN WERK IN DIE KAAP

KRAAIFONTEIN EN BRACKENFELL

Terug in Kraaifontein het Rinie al haar meubels met Biddulphs laat vervoer van Klerksdorp af. Ek het maar die minimum meubels gehad, want Heléne het meeste van ons meubels saamgeneem, so nou het ek skielik ‘n huis vol meubels gehad. Ek moes my tuisgemaakte sapele bed van 7 voet by 6 voet se koppenent afsaag sodat haar kopstuk daarop kon pas. Dit was heerlik om weer lewe in die huis te hê.

1979. Rinie het gevra of sy by die huis kon bly totdat Tania skool-toe gaan. Toe sy skoolgehou het, nadat sy en Willie geskei is, het Tania elke dag hartstogtelik gehuil wanneer sy haar afgelaai het by dagsorg. Ek het gesê solank ons dit kan bekostig kan sy permanent by die huis en by Tania bly.

VAKANSIEDAE BY WAENHUISKRANS

Met een Paasnaweek het ons die Peugeot gepak met ons groot tent, die pale, matrasse en komberse. Heine en Tania het bo-op gelê, net onder die dak - ek kon hulle gesiggies sien in my truspieëltjie. Ons bestemming was Waenhuiskrans (Arniston) in die Suid-Kaap vir ‘n paar dae. Ons het die groot tent opgeslaan in die karavaankamp.

Dit was ‘n paar baie lekker dae van uitspan. Dis ‘n pragtige dorpie, saans pikdonker - jy hoor net die kragopwekker van die hotel se doef-doef-doef. Ons het langs die spierwit strande geloop, op die duine gespeel, en in die see geswem. Dis baie warmer as die Kaapse strande omdat die warm Agulhas seestroom vanaf die ewenaar kom. Ons het natuurlik ook gaan kyk na die Waenskrans grot, so groot “dat jy met ‘n wa daarin kon draai”, uitgekalwer deur die see oor eeue.

Hierdie vakansie-herinneringe oor Waenhuiskrans en hoe die kinders bo-op die matrasse in die Peugeot 404 gelê het, is ’n kosbare beeld in my gedagtes.

Toe ons moes besluit om een van die twee motors te verkoop, het Rinie gekies om die Audi 100 te hou, omdat dit ’n geskenk van haar pa was. Dit was eintlik ’n swak keuse, want die Peugeot 404 was ’n yster van ’n kar. Johan Pretorius het dit gekoop en sy hele strandhuis op Kleinmond met daardie stasiewa gebou. Hy het al die boumateriaal daarmee aangery, en die ou Peugeot het hom nooit in die steek gelaat nie.

 

DIE REKENAAR-PIONIER

 

STELSELONTWIKKELING

My loopbaan by die Munisipaliteite van Stellenbosch en Brackenfell bied 'n seldsame kykie in die vroeë rekenaarwêreld se tegnologiese evolusie.

Na ons troue het ek Rinie gaan voorstel aan die mense by Stellenbosch Munisipaliteit. Lucia het dadelik van haar gehou. Ek het my werk daar geniet die 8 jaar wat ek daar gewerk het, want dit was produktief.

Johan Pretorius het omtrent in Junie 1979 vir my gesê Brackenfell Munisipaliteit adverteer vir ‘n programmeerder, hoekom doen ek nie aansoek nie. Wat ek toe gedoen het, en ek het die werk gekry. Toe ek die dag weggaan, sê Pieter Diener dat ek seker omtrent 100 programme vir hulle geskryf het. Willie Pieterse is ‘n paar jaar later onverwags aan ‘n hartaanval dood. Piet Coetzee is ook vroeg dood, seker ook aan ‘n hartaanval of weens kanker.

Ons het op daardie stadium nog in Kraaifontein gebly en ek het met die fiets op die Ou Paarlpad gery na my werk in Brackenfell, 6km weg. Die pad was destyds maar smal en eendag het ‘n vragmotor in die verbygaan aan my geraak - gelukkig het ek nie geval nie. Toe koop Rinie vir my ’n luminous oranje sweetpakbaadjie om my meer sigbaar te maak.

Rinie het verwag en ons het in Brackenfell ‘n huis gaan soek in Arauna en dit gekry in Sonopstraat 22, waar ons tot 1989 gebly het. Christiaan is gebore in Karl Bremer hospitaal in Bellville, op 20 Januarie 1980 om 16:00, ‘n baie groot 10lb 2 onse = 4.6kg. Rinie moes daarna 64 steke kry.

Rinie se ouers het afgekom om ons, maar veral vir Rinie te ondersteun. Tannie Rutie, van die ouetehuis in Kraaifontein, met wie Rinie baie goed bevriend geraak het, het ons kom help trek, ‘n paar dae voor Christiaan se geboorte. Die saamstaan van familie en vriende, soos Tannie Rutie, wat help trek het, wys die sterk bande van daardie tyd.

 

DIE OORGANG VAN PONSKAARTE OP DIE ICL 2903 NA DIE SKRYF VAN KOMPLEKSE INTYDSE (REAL-TIME) STELSELS

1979. By Brackenfell Munisipaliteit was ek op my eie, met net ‘n ponsdame, Leonie Bosman. Die programme daar was baie elementêr, net die basiese Munisipale Dienste Water en Elektrisiteit. Met die munisipale programmerings-ondervinding van Stellenbosch agter my en niemand om my te beïnvloed nie, was dit ir my baie lekker om my eie stelsels te ontwikkel. Ons het ‘n ICL 2903 mainframe rekenaar gehad wat kaarte ingelees het. Ek het met Cobol gewerk, waarmee ek vanaf Departement Statistiek se dae vertroud was.

Leonie het aanvanklik gedink ek dink baie van myself, maar dit was waarskynlik omdat ek stil van geaardheid is, wat sy as bot interpreteer het. Later het ons groot vriende geword met Leonie en haar man Danie. Hy het gewerk by Everite, die groot asbesvervaardiger. Brackenfell was op daardie stadium ‘n klein dorpie gewees, met net drie groot besighede - Everite, Eskom en die Pick ‘n Pay Hipermark, met 64 verkoopspunte (tills).

Destyds was Everite die grootste verskaffer van asbes dakplate in die land, wat gebruik was vir meeste van die gewone huise in die Kaap. Die asbes is gemyn by Koegas in die Noord-Kaap. Heelwat later is gevind dat asbes asbestose veroorsaak by mense wat daarmee in kontak was en dit was dodelik wanneer die vesels ingeasem is, soos by die myn van asbes en verwerking daarvan in fabrieke. Baie mense is dood aan asbestose en Everite en die myn moes reuse bedrae aan vergoeding uitbetaal aan die agtergeblewenes. Asbes is later verbied en vervang deur ‘n sellulose asetaat sement.

Ek en Leonie het lekker saamgewerk. Op ‘n tyd wou Ilse en Hugo met hulle 4 dogters vir ons kom kuier. Dieselfde tyd was Danie en Leonie en hulle 2 kinders met verlof, en hulle bied toe aan dat Hugo-hulle kosteloos in hulle huis kon bly vir hulle vakansie, en ook hulle kar kon gebruik. Dit was ‘n baie groot vergunning, en ons kon toe almal saam die vakansie geniet en die Kaap platry, want op daardie stadium het Hugo-hulle nog geboer op Schweizer-Reneke in Wes-Transvaal (Noord-Wes) - hulle het glad nie die Kaap geken nie. Voor Hugo-hulle terug plaas-toe is, het almal huis skoongemaak en Hugo het die gras gesny en onkruid uitgetrek. Toe Leonie-hulle terugkom was hulle verbaas om alles so netjies te kry, beter as wat hulle dit afgegee het. Dit wys die gasvryheid van daardie tyd. Dit was die tipe vriendskap en hulpvaardigheid wat daardie jare so spesiaal gemaak het.

Danie het later vir die vloot in Simonstad gaan werk, waar hy ook met asbesprodukte gewerk het. Hy het later longprobleme ontwikkel en is dood aan asbestose, wat ook longkanker veroorsaak.

Daan Rossouw was my tesourier, en ek het ook met hom van die begin af baie goed klaargekom. Hy was ‘n baie gemaklike mens wat geen houdings gehad het nie. Miskien omdat hyself swaar grootgeword het. Dikwels vorm so-iets baie mense se karakter, soos ook my eie Pa s’n. Sy rekenmeester was Danny Pols, wat so ‘n bietjie van homself gedink het, maar ons het ook lekker saamgewerk, alhoewel ek min met hom te doen gehad het.

My deur was altyd oop en Daan het soms by my in die kantoor kom sit en gesels, en gesê ek was baie anders as die vorige programmeerder, wat altyd sy deur toegehou het, ‘n duidelike teken dat hy nie gesteur wil word nie.

Ons personeel het op daardie stadium rekenaarskerms gekry, maar Susan het geweier om hare te gebruik en aangehou werk met haar handstelsels. Eendag toe ek haar uiteindelik sovêr kry om die skerm te gebruik, het ek haar gevra hoekom sy só daarteen geskop het. Toe sê sy “Ek was bang dit ontplof!”. Dis 'n klassieke voorbeeld van hoe vinnig tegnologie mense destyds oorval het.

 

Daan het gevra dat ek ‘n program vir hom skryf waarmee hy ‘n lys van die Raad se inkomste en uitgawe transaksies kon kry. Dit was heel eenvoudig in vergelyking met die stelsels wat Stellenbosch gehad het, en het basies bestaan uit ‘n lys van transaksies met totale, opgebreek in groepe, gedefineer volgens elke transaksie se nommer. Dit was soortgelyk aan die program wat Pieter Diener vir Stellenbosch geskryf het. Dit het baie vir Daan beteken en hy het die lys saamgeneem ooral waar hy na Tesourie kongresse was en daarmee gespog.

Ek het eers gewerk met die huidige stelsels terwyl ek die programme bestudeer het met hul invoer- en uitvoeruitlegte. Toe het ek stadigaan my eie programme ontwikkel on die take oor te vat, asook ‘n program om die data oor te neem. Ek het alles parallel geloop om doodseker te maak alles werk, en ook die Tesourie personeel opgelei hoe om die nuwe invoer-dokumente te gebruik. Ek het vir hulle instruksies geskryf hoe om die nuwe sisteem te gebruik.

Op D-dag het ek die oorskakeling in die nag geloop. Die volgende dag het die personeel begin om met die nuwe stelsel te werk. Alles, maar alles het vlot verloop. Joan, die senior meisie van die kantoor, het gesê sy het nog nooit so-iets gesien nie - daar was letterlik geen haakplekke nie. Dit het my natuurlik groot bevrediging gegee, want dit was ten volle my eie skepping.

 

Die data-invoer was baseer op die Belasting en Dienste stelsel wat ek ontwikkel het by Stellenbosch, maar nou verbeter en met Water en Elektrisiteit daarby. Dit het bestaan uit ‘n horisontale koderingsvorm. Alle syfers is opgetel om ‘n proeftotaal te vorm, soos met die Stellenbosch stelsel. Al die kodes is bo-aan die A4 bladsy gelys. Soos die klerke die nuwe stelsel gebruik het, het daar aanpassings gekom, totdat dit soos ‘n geoliede masjien geloop het. Die Munisipale rekening drukprogram het ook totaal verander, in ‘n nuwe formaat wat ek geskep het.

My grootste uitdaging was die skryf van ’n intydse (real-time) stelsel vir die kassiere. Daar was twee kassiere en ek het nogal gesukkel om die twee se invoere uitmekaar te hou. Toe dit al redelik goed gewerk het, het dit nog soms gebeur dat die terugvoer van die een op die ander se skerm vertoon het. Toe Ronel dit die eerste keer sien, het sy my geroep. Ek kan onthou dat ek sommer so ‘n hol gevoel in my maag gekry het, want ek kon sien dis iets wat ek nie reg verstaan nie.

Die "hol gevoel" in jou maag wanneer die skerms se data deurmekaar raak, is iets waarmee enige moderne programmeerder vandag nog kan identifiseer - daardie oomblik dat jy besef 'n stelsel se logika nog nie perfek is nie. 

Dit was die eerste intydse program wat ek geskryf het, en omdat beide skerms terseldertyd met dieselfde lêers gewerk het, moes ek spesiale roetines skryf om te sorg dat die twee nie deurmekaar raak nie. Die skerms het met verskeie lêers tegelyk gewerk: Belasting, Tussenskattings, Riool, Vullis, Elektrisiteit en Water. Alles was tegelykertyd oop vir beide invoer en uitvoer, en dit het al daardie lêers intyds bygewerk, sodat al daardie lêers direk na so ‘n betaling op datum was met die betaling se detail.

Daar is ook lys gehou van alle betalings. Die kwitansie drukstuk het behalwe die rekeningnommer, naam en adres, ook al hierdie inligting vertoon - die bedrag wat teen elke diens gepos is, asook die bedrag nog uitstaande vir elke diens. Indien iemand net ‘n navraag kom doen het, is dieselfde roetines gebruik en die drukstuk was identies aan die kwitansie, maar het net daaroor gedruk “NAVRAAG”.

‘n Rugsteun is geneem nadat die kassiere vir die dag afgesluit het en ek het totale vir hulle gedruk waarteen hulle hul ontvangste kon balanseer.

Die program het meer roetines gehad as enige van my vorige programme, om die basiese hoof vloeidiagram skoon te hou, wat meesal net uit ‘n klomp Perform instruksies bestaan het. Dit was by verre die moeilikste program wat ek ooit geskryf het. Dit het my ‘n baie groot bevrediging gegee.

1986. Later het pakket-stelsels die bedryf oorgeneem, en teen die tyd dat Brackenfell na ’n nuwe ICL-pakket oorgeskakel het, het ek geweet dit is tyd vir ’n nuwe uitdaging.

Dit is duur en moeilik om rekenaar stelsels te onderhou en te ontwikkel, ook omdat regulasies gedurig verander. Munisipale stelsels is maar baie eenders. So die skryf van pakkette wat aan baie munisipaliteite verkoop kan word het ‘n betalende besigheid geword. Die oorgrote meerderheid munisipaliteite, selfs stede soos Kaapstad en Johannesburg, het mettertyd oorgeskakel na een van hierdie pakkette.

Die programmeerders het nou hoofsaaklik gesorg dat die gebruikers die pakkette reg gebruik en parameters onderhou wat in die pakkette ingeskryf is om dit meer buigbaar te maak. Daar is nog plek vir programmeerders om ander stelsels vir ander departemente soos Stadsklerke, Biblioteke, Siviele Ingenieurs, Elektriese Ingenieurs, Verkeer en ander te onderhou, ook stelsels soos Word, Excel en Powerpoint.

Daar is gewoonlik nog steeds ‘n rekenaar afdeling met ‘n paar programmeerders, afhangende hoe groot die munisipaliteit is, om te sorg dat alle rekenaar stelsels loop, en as iets by ‘n gebruiker haak om die probleem te gaan oplos. By die groter munisipaliteite is daar gewoonlik een of meer konsultante van die program stelsels in gebruik wat sorg dat alles glad verloop, en hulle is duur!

Op daardie stadium het Brackenfell besluit om oor te gaan na ‘n ICL munisipale pakket, en ons ou ICL 2903 is vervang deur ‘n stelsel wat gebaseer was op ‘n klein ICL Personal Computer Model 30, met skerms vir elke gebruiker. Dit was ‘n nuwe stelsel vir ICL en hulle stelsel-ontleders het lank by ons gewerk om al die probleme uit te stryk. Ek het ook ‘n paar oorskakelings-programme geskryf omdat ek my eie stelsel goed geken het. Ek kan onthou hoe hulle hoof stelsel-ontleder die naweek voor die oorskakeling op ‘n rusbank by die werk lê en slaap het.

 

Wat positief was van die oorgaan na ‘n pakket is dat daar nou breër gekyk is na programmatuur behoeftes, nie net na die Tesourie nie. So is die Store nou ook gerekenariseer en ek dink die Biblioteek. Die feit dat Brackenfell nou eintlik nie meer ‘n programmeerder nodig gehad het nie, het beteken dat ek nou ‘n soort operateur geword het, en my toekoms was nie meer so seker daar nie. Ek het dus begin uitkyk vir ‘n ander werk. Wellington Munisipaliteit het adverteer vir ‘n programmeerder en ek het daarvoor aansoek gedoen en die werk gekry.

 

 
 
 

Comments


bottom of page