O1B2F3. TIMESHARE OORSEE 1983
- henniej42
- Feb 26
- 23 min read
Updated: Feb 27
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-02-24
O1B2F3. TIMESHARE OORSEE 1983
INLEIDING
Daar is oomblikke in 'n mens se lewe wat soos goue drade deur jou geheue vleg, en ons vyf-week reis deur Europa aan die einde van 2000 is ongetwyfeld een daarvan. Dit was meer as net 'n vakansie; dit was 'n laaste groot avontuur as 'n gesin voordat die seuns hul eie koers in die wêreld sou inslaan. Hierdie reis het ons geleer dat die pad soms lank en vol uitdagings is – van taalversperrings in Frankryk tot sneeu-bedekte bergpasse in Oostenryk – maar dat daar geen groter rykdom is as om die wêreld se skoonheid hand-aan-hand met jou geliefdes te ontdek nie.
Hierdie is vir ons 'n ongelooflike kosbare herinnering. Hierdie vertelling van ons toer deur Europa is nie net 'n reisjoernaal nie, maar 'n pragtige tydkapsule van familiebande, die vryheid van die pad, en die kontraste van die Europese kultuur.
Dit is fassinerend om te lees hoe ons die Timeshare-stelsel van RCI ten volle benut het om so 'n uitgebreide reis moontlik te maak. Van die "longboat" in Engeland tot die majestueuse Alpe en die kunsskatte van Florence en Parys - ons het werklik die hart van Europa beleef. Om met vier volwassenes en hope bagasie in 'n Peugeot 406 deur die sneeu en oor grense te ry, verg geduld en goeie geselskap! Dit herinner aan die klassieke "road trip" waar die pad self belangriker as die bestemming is.
Die storie van die "King’s Bar" in Reims is 'n klassieke voorbeeld van die historiese wrywing tussen die Engelse en die Franse. Om eers Afrikaans te praat sodat hulle weet jy is nie Engels nie, kan jou uit die moeilikheid help!
Die kontras tussen die stil dorpie Schladming en ons twee luidrugtige, lewenslustige seuns wat klippe op die ys gooi, bring 'n glimlag na vore.
Dit is roerend om te lees van Rinie se ervaring by die Mona Lisa. As kunsstudent moes dit vir haar soos 'n pelgrimstog gewees het. Florence, met Michelangelo se Dawid, en die Louvre se Mona Lisa bly sekerlik van die mees oorweldigende plekke vir enige kunsliefhebber.
Hierdie herinnering is 'n pragtige geskenk vir ons kinders en kleinkinders om eendag te lees. Hier is 'n mooi gestruktureerde weergawe van ons 2000-toer:
DIE GROOT EUROPA-TOER (EINDE 2000)
In die 1980’s het ons Timeshare ontdek. Destyds het ons lidmaatskap by RCI aangekoop deur twee eenhede in Sedgefield aan te skaf. Ons het selde by ons eie tyddele gaan vakansie hou. Meeste van die tyd het ons uitgeruil, een van die groot voordele van tyddeel. Destyds was die tyddeelmark nie so oorvol nie, en ons het omtrent altyd plek gekry by die oorde waarvoor ons aansoek gedoen het. Ek dink mens moes ‘n paar alternatiewe gee in die volgorde wat jy dit graag wil hê. Ons het oor die jare baie lekker tyddeel vakansies gehad.
Ons het ook vir 5 weke in Europa gaan toer met ons tyddeel einde 2000. Dis juis hier waar die uitruilstelsel uitstekend werk. Jy deponeer jou Suid-Afrikaanse eenheid en jy kan dan ‘n soortgelyke eenheid oral in die wêreld kry, afhangende beskikbaarheid. Daar was baie beplanning vooraf met RCI. Ons het deur RCI se wêreld brosjures gesoek na geskikte oorde, waarvan daar duisende is.
Ons het besluit om per motor deur Europa te reis. Christiaan het op daardie stadium in Holbeach gewerk, ‘n klein kusdorpie naby Peterborough in die Noord-Ooste van England. Hy was van plan om ‘n klein motor te koop. Toe sê ek koop eerder ‘n middelslag motor waarvan ek die helfte betaal, dan kan ons alvier daarmee deur Europa reis.
Marinus het daardie Vrydagoggend sy laaste matriekvak geskryf. Die aand was hy vir die eerste keer in sy lewe op ‘n vliegtuig. Dit was ‘n nagvlug oor Afrika, en ons kon oor Angola vure sien wat die bewoners gemaak het.
Ek kon nie slaap nie, want daar is maar baie min beenspasie in die Ekonomiese klas. Ek het naderhand in die middel van die nag opgestaan en in daardie dwars-gangetjie agter by die toilette wat die twee gange verbind gaan lê en was feitlik onmiddelik aan die slaap - ek was mos gewoond om by die werk gedurende my etenspouses op die vloer te slaap.
Ek weet nie hoe lank ek daar geslaap het nie, maar een van die lugwaardinne het my wakker gemaak en gesê ek mag nie daar lê nie - ek moet terug gaan na my sitplek.
Die volgende oggend het ons in die rondte gevlieg bokant die enorme area wat Londen is - die lug het so ‘n pienk-rokerige vuil lug skynsel gehad. Heathrow self is enorm. Nadat ons geland en ons bagasie gekry het, het ons by Europcar ‘n splinternuwe metallic groen Renault Scenic gekry. Dis ‘n lieflike stasiewa met baie plek vir al ons bagasie.
Volgens ons kaart van Brittanje het ons die pad na Holbeach via Peterborough geneem. Britse paaie is almal in baie goeie toestand. Ons het Christiaan gekry en toe ‘n 5-sitplek motor gaan soek. Ons het ‘n Peugeot 406 in goeie toestand gekry by ‘n tweedehandse handelaar. Dit was 'n motor wat ons getrou deur duisende kilometers sou dra, propvol bagasie. Ons was nou alvier in die Peugeot; die bagasie só baie dat Rinie en Marinus op die agter-sitplek nie mekaar kon sien nie.
WEEK 1: ENGELAND – DIE KANAAL-LEWE
18 – 25 November 2000 | Milton Keynes Marina
Ons reis het begin in 'n "longboat" op die Engelse kanale. Dit was 'n unieke ervaring waar die boot liggies kantel wanneer jy tussen die kamers loop. Milton Keynes (280,000 mense) is ‘n moderne stad, gebou in sirkels met geen robotte nie.
Ons wou die eerste aand ‘n paar biere gaan drink, toe gebruik ek die eerste keer my kredietkaart van Standard Bank, en daar werk dit soos ‘n droom. Ek het dit vir die hele toer van 5 weke gebruik sonder enige probleme, vir betalings en om kontant te trek.
Ons is een dag na Londen met die kar, net tot aan die rand van die stad, en met die trein verder na die stadskern, om ons Schengen visums te kry, wat ons toegang gee tot al die Europese lande wat ons sou besoek.
Die laaste dag het ons uitgevind dat ons met die longboat op die kanaal netwerk kon gevaar het, wat soos ‘n pad netwerk oor ‘n groot deel van England versprei is. Ons het toe net vir ‘n entjie op so ‘n kanaal gaan ry, met net die “putt-putt” van die klein diesel enjintjie hoorbaar, omgedraai by ‘n draaipunt, en teruggevaar Milton Keynes toe.
WEEK 2: SKOTLAND – KASTELE EN HAGGIS
25 November – 2 Desember 2000 | Kilconquhar Estate, Fife
Die rit noordwaarts was lank. Ons is 25 November 10:00 weg van Milton Keynes en het die A1(M) geneem. Dis 595km na Edinburgh en ons is sterk skemer eers daar deur. Ons het volgens die kaart gery en het die rigtingwysers gevolg na Kilconquhar Castle (wat dateer uit 1457), en het direk by die hek in stikdonkerte aangekom. Dit was al laat November en in Skotland gaan die son reeds onder teen 16:00. Dat ons die hele ent pad, veral van Edinburgh na Kilconquhar sonder ‘n fout kon ry, skryf ek toe aan die gehalte van hulle kaarte en uitstekende padaanwysers. Christiaan het die hele toer bestuur.
Hy het een aand vir ons ‘n Skotse haggis polonie gaargemaak. Ek het dit nogal geniet, maar ek dink nie Rinie of Marinus het daarvan gehou nie, want dit word gemaak van alle vleis van ‘n skaap, insluitende pens, pootjies, hart, lewer en longe. Mens moet net nie daaraan dink nie, maar eerder net die geurigheid geniet.
Ons het rondgery, na Glasgow en Edinburgh, waar ‘n kasteel en pragtige ou geboue is. Edinburgh kasteel staan op Castle Rock, wat sedert ten minste die Ystertydperk deur mense bewoon is. Daar is 'n koninklike kasteel op die rots gebou gedurende die bewind van Malcolm III in die 11de eeu, en die kasteel was tot 1633 'n koninklike woning.
Ons was ook by St. Andrews, waar die Britse Golf Meesters gehou word, en Glencoe op Loch Linnhe. Op pad terug het ons aangegaan by ‘n regte Skotse pub met ‘n outydse atmosfeer, vir ‘n paar biere om ‘n knetterende kaggelvuur.
WEEK 3: OOSTENRYK – MAJESTUEUSE BERGE EN MOZART
2 – 9 Desember 2000 | Alpine Club, Schladming
Ons het vroeg 2 Desember vanaf Kilconquhar vertrek, want daar het ‘n lang pad voorgelê. Die son het 8:00 opgekom, maar die dag was net 7:48 uur lank. Ons het met die A1(M) afgery. Wat opgeval het, is dat die son nooit gedurende die rit bokant die boomtoppe gestyg het nie - dit het horisontaal getrek saam met ons deur die dag soos ons na die Suide gevorder het.
Ons het met die M25 sirkelpad om Londen gery en toe die M20 geneem na Folkstone. Hier het ons in ‘n karpark in ‘n lang tou gewag om op ‘n spesiale trein te kom, wat ons via die Eurotonnel van 50 km onderdeur die Engelse Kanaal sou neem na Calais in Frankryk.
Dit was nogal ‘n ervaring. As dit jou beurt is, ry jy oor plate in ‘n groot hoë treintrok in wat ek dink so 6 of meer motors per trok neem. Die tonnel self is geopen in 1994, is 75 meter onder die seebed, 115 meter onder seevlak en die trein behaal 160 km per uur. ‘n Mens kan uit jou motor klim terwyl die trein ry en daar is geen ervaring van spoed nie, maar ek dink die deure tussen die trokke is gesluit. Die rit duur 35 minute. Die afrit van die trein af was eenvoudig.
Al wat nou besonders was, is dat Christiaan moes onthou om aan die “verkeerde kant” van die pad te ry - in Europa ry mens aan die regterkant. Gelukkig ry jy meesal in ‘n stroom voertuie, so dis maklik om hulle te volg en so gewoond te raak om regs te ry. Sirkels is nogal moeilik, want jy ry nou “verkeerd om”.
Die enigste keer wat ons byna in ‘n ongeluk was, was juis omdat Christiaan êrens in Frankryk verkeerd in ‘n sirkel ingegaan het, en ek skielik ‘n groot BMW se neus hier teen my deur sien. Na ‘n sekonde het Christiaan die Peugeot in eerste rat geslaan en uit die gevaar versnel.
Na 273 km het ons skemertyd by Reims aangekom en besluit om daar te oornag. Ek moes ‘n plek gaan soek en sien toe ‘n kroeg met die naam “King’s Bar”, wat toe vir my lyk of hulle Engels sal verstaan. Die kroegman lyk toe heel vriendelik en vra my in Frans wat ek wil hê. Toe ek sê “I am looking for a place to sleep”, verander sy gesigsuitdrukking onmiddelik en hy sê bars vir my “Out! Out!”, terwyl hy met sy arm na die deur wys.
Ek was skoon uit die veld geslaan en het maar druipstert uitgeloop. Dis die ou vyandskap tussen die Franse en die Engelse wat nog steeds bestaan in baie plekke en ook in sommige mense se harte. Ek het later gehoor dat wanneer jy in ‘n vreemde plek vir aanwysings of hulp vra, vra eers in Afrikaans, en as hulle nie verstaan nie, dan slaan jy oor na Engels, dan weet die ou ten minste jy is nie Engels nie.
Ons het toe op ‘n ander plek reggekom en slaapplek gekry in ‘n losieshuis met ‘n enkele toilet in die gang. Kos het ons by ‘n kafee gekoop.
Die volgende oggend vroeg het ons ‘n bietjie in die stad rondgeloop. Die bevolking was destyds omtrent 186,000, en wat baie besonders was, is die Romeinse Triumphal Arch, wat dateer uit die 3de eeu na Christus (AD). Daar is 8 sulke Arches in Frankryk, en omtrent 70 versprei oor die destydse Romeinse Ryk, wat dateer van omtrent 200BC tot 400AD. Na ete is ons daar weg op pad na Oostenryk.
Ons roete, volgens Frommer’s Europe 1990, het oor die A4 en A8 gegaan, verby stede soos Metz (Frankryk), Baden-Baden, Karlsruhe (Duitsland). Êrens langs die autobahn sien ons ‘n vlekvrye staal struktuur wat lyk soos ‘n openbare toilet en stop daar - dit was toe een, baie skoon en netjies. Toe verder verby Stuttgart, Munich, Salzburg (Oostenryk), tot by Schladming, waar ons in die donker aangekom het. Ons is met ‘n heuwel op na die Alpine Club, waar ons hartlik ontvang is en ons lekker kon slaap nadat ons iets geëet het.
Die volgende oggend 7:00 word ons wakker van die gelui van ‘n kerkklok. Toe ek opstaan en uitkyk oor die vallei, sien ek die klein dorpie van Schladming (6400 mense) toe van die mis en daar agter steek hoë berge uit met wolke bo-op. Die gelui was teen ‘n stadige, rustige tempo. Ons het lank so staan en uitkyk totdat die mis naderhand verdwyn het. En nog later het die wolkbank ook in die son verdamp, toé sien ons eers die werklike, majestueuse berge wat hoog in die lug toring!
Ons het natuurlik Schladming verken en baie rondgery. Oral was hoë denneboom woude, en op die bergspitse was baie sneeu. Ons het na een sneeuhelling (ski slopes) gery en die seuns het daarop afgegly. Ons was seker buite-seisoen daar, want ons het omtrent geen mense teengekom nie. Hulle het natuurlik mekaar gegooi met sneeuballe - gelukkig is dit droog en maak nie ‘n mens se klere nat nie.
Eendag het ons by ‘n plaashuis verbygery, toe sien Christiaan ‘n pragtige goue huiskat. Hy het dadelik stilgehou, uitgeklim en die kat geroep. Wragtie, die kat kom toe aangehardloop na hom en kom staan dat hy haar pels vrywe. Dit moes mense wees wat hulle diere baie liefhet.
Hy het natuurlik verlang na ons diere by die huis. Hy is baie lief vir katte en het later vir my gesê as hy eendag getroud is, wil hy 5 katte aanhou. Hy en Alida het in Johannesburg, toe hy by Bishop Bavin Anglican School Wetenskap gegee het, 5 katte en twee hondjies gehad.
Eendag wou ons na Salzburg gaan (100 km), toe brand daar ‘n waarskuwings-liggie op die paneelbord van die Peugeot. Die vulstasie van Schladming sê toe ek moet na Radstadt (4500 mense) gaan, daar is ‘n Peugeot agentskap. Dit was op pad na Salzburg en ons gaan toe daar aan. Hulle het gesê hoe laat die kar gereed sal wees. Terwyl hulle aan die motor werk, het ons die dorpie gaan verken.
Langs ‘n sypaadjie was daar verskeie bakens, sommige so ver terug gedateer soos 1289. Alles was stil en netjies, ook die begraafplaas. Daar loop ‘n rivier deur die dorp en dit het ‘n skoon dik laag ys op, terwyl ‘n klomp eende hoër op besig was om in water te speel. Christiaan soek toe ‘n swaar klip en gooi dit van die brug af op die ys en dit breek ‘n gat deur. Toe soek altwee die seuns enige los klip en gooi dit op die ys - sommige breek deur, die ligter klippe skaats net weg bo-op die ys. Ek het hulle probeer stil maak dat hulle nie raas nie, maar ek was nie baie suksesvol nie - hulle was so uitgelate.
Die dorp was doodstil - die mense het seker van agter hul ruite gekyk na die twee lewenslustige seuns. Toe die kar klaar herstel was, is ons verder na Salzburg (152,000 mense) en het daar in ‘n parkeergarage die kar gelos. Christiaan wou nie saam met ons die stad verken nie - hy wou op sy eie na pubs gaan. Hy was weer in een van sy buie en Marinus het toe maar saam met hom gegaan vir geselskap.
Ons is die stad in, langs mooi parke, en het gaan kyk na Mozart se geboortehuis (1756) in “Hagenauer Haus” by No. 9 Getreidegasse. Ons het deur die Hohensalzburg Fortress geloop (gebou 1077), en die aand warm gluhwein gedrink, en gaan luister na ‘n uitvoering van Mozart se Eine Kleine Nachtmusik.
Toe ons by die kar terugkom, lê die twee seuns daar vir ons en wag, seker al vir ure. Marinus was seker baie spyt dat hy nie eerder saam met ons gegaan het nie, maar hy wou seker ook nie dat Christiaan alleen gaan nie. Daar is ‘n band tussen die broers. Ons is toe in die donker terug na Schladming.
Een aand toe ons na ete in die dorp gaan stap, sien ek ‘n vrou besig om kersversierings aan die buitekant van haar winkel se voordeur te hang. By ‘n geweerwinkel word die jaggewere, rewolwers en pistole in die venster uitgestal, met ligte wat daarop skyn, sonder diefwering. Mens kon sien dat dit agter gewone glas was, nie gewapende glas nie. Dit sê duidelik dat daar geen vrees vir diefstal is nie.
Ons het in die donker dorpstrate geloop om na die huise se kersversierings te kyk (dit was 6 Desember), toe kom ‘n groepie laggende jong mense van voor af, gee vir ons eetgoedjies, en sê dis vir Saint Nicholas Day. So onskuldig.
Christiaan het by die Spar (hulle is oral in Europa, Asië en Afrika) ‘n bottel Stroh rum gekoop, blykbaar baie goedkoper as wat hy daarvoor in England sou betaal. Ons het die week in Schladming baie geniet.
WEEK 4: FRANKRYK & ITALIË – KUNS EN KUSLYNE
9 – 16 Desember 2000 | Vaugrenier, Nice
Ons is 9 Desember 10:00 weg van Schladming op pad na ons volgende oord naby Nice op die kus van Suid-Frankryk. Via Salzburg (Oostenryk), Innsbruck, Bolzano (Italië), Trento, Verona, Brescia, Genoa, Sanremo, tot by Nice (Frankryk). Dit is 955 km via die E55, wat ‘n volle dag se ry beteken. Dis die hele pad deur die Alpe bergreekse, en baie daarvan deur verskriklike lang tonnels, kilometers, sommige só lank dat ek fisies benoud geraak het. Ons is net uit een tonnel, dan gaan ons weer in die volgende een in.
Êrens het ons stilgehou om water af te slaan, toe sien ek iets wat ek nog nooit weer gesien het nie. Toe ek opstaan vanaf die toilet, draai die sitplek vanself in die rondte, soos dit outomaties die bril afvee! Ek het eintlik vir die seuns geroep om na die operasie te kom kyk.
Later die dag was ons op ‘n pas waar daar dik sneeu langs die pad gelê het, toe hou Christiaan stil en hy en Marinus baljaar eers in die sneeu. Ons het laat die aand by Nice aangekom en moes toe nog die pad kry na die Vaugrenier Timeshare oord, wat in so ‘n uitgestrekte landelike omgewing lê.
Ons eenheid was ‘n dubbelverdieping in ‘n blok van drie. Agter dit was tennisbane, waar die seuns luidrugtig gespeel het. Een van die ander inwoners het gesê hy het nie geweet tennis kan so lawaaierig wees nie. Dis ‘n redelike groot oord, 1500 akkers, wyd uitgestrek met ‘n verskeidenheid eenhede en huise, baie bome, struike, gras en plante. Daar is ‘n groot swembad, maar geen georganiseerde aktiwiteite nie. Dit lê tussen Cannes en Nice.
Beide stede het destyds groot Giant supermarkte gehad. Ons het eenkeer by een gaan eet en elkeen het ‘n gratis koffiebeker gekry met ‘n prentjie van een van die Simpsons familie - Homer (myne), Marge (Rinie), Bart (Christiaan), en Lisa (Marinus). Rinie het hare nog tot onlangs gehou. Ons het natuurlik rondgery om die wêreld te verken, veral ook die twee stede.
Ons het gery na die ou deel van die stede waar die nou straatjies met keistene plavei is, waar die inwoners hulle wasgoed van die een kant van die straat na die ander kant uithang op die tweede of derde verdiepings om droog te word. Daar is baie winkeltjies wat van alles en wat nog te koop aanbied.
Eendag het ons besluit om na Florence in Italië te ry en ‘n nag daar oor te slaap. Ons het aangegaan by Monaco en na die beroemde seiljaghawe gaan kyk waar baie biljoenêrs se superjagte lê. Ook gekyk waar die Formule Een wedren jaarliks plaasvind in ‘n straatren. Ons was ook by die pienk paleis van Prins Rainier III. Sy seun, Prins Albert II is in 2011 getroud met Charlene Wittstock, 'n Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer.
Ons het met die E80 gery oor die 438 km. Aangesien dit ‘n snelweg is, het ons by verskeie plekke deur tolhekke moes gaan. Daar is so ‘n soort tregter waarin jy munte kan gooi - die masjien tel die geld outomaties en laat jou deur. Ons het laatmiddag in Florence (382,000 inwoners) aangekom en by die stasie beland.
Ek het daar gevra waar ons verblyf kan kry vir ‘n nag. Hulle verduidelik toe in geradbrakte Engels waarheen ons moet ry. Gelukkig kry ons toe ‘n drieverdieping gebou wat kamers uithuur. Ons kon ons motor binne parkeer agter groot garagedeure vir veiligheid. Dit was ‘n enkele groot kamer met slaapplek vir vier, met ‘n stort en toilet.
Nadat ons ons bagasie neergesit het, het ons oor keisteenpaaie geloop na die ou deel van die stad wat krioel het van mense, Italianers en toeriste. Dit was nogal komieklik toe ‘n kort Italiaanse meisietjie haar maats los en saam met Christiaan ‘n ent stap - haar treetjies was baie korter as syne en sy moes amper draf om by hom te bly. Toe sy hom los en terugkeer na haar vriende, het hulle behoorlik gekwetter in Italiaans. Christiaan is meer as 6’ 4”, vir hulle ‘n groot aantreklike jong man.
Allerhande ware word te koop aangebied en een het ‘n belt wat sogenaamd leer was aan my afgesmeer - later blyk dit toe glad nie leer te wees nie. Ons het by een stalletjie heerlike roomys gekry, blykbaar ‘n Italiaanse sterkpunt.
Nadat ons die nag geslaap het , het ons die volgende oggend weer afgestap om na verskeie van Florence se kunsjuwele te gaan kyk. Die Duomo, Katedraal van Florence, se bouwerk is begin in 1386 en het 6 eeue geneem om te voltooi, eers in 1965. Napoleon is in 1805 in die Duomo gekroon as Koning van Italë. Die voordeure is massief en geweldig hoog.
Die Galleria dell’Accademia huisves Michelangelo se “Dawid” standbeeld. Dis geskep van 1501 tot 1504 en is 17 voet hoog, dus drie-maal menshoogte. Mens kom in deur ‘n ingangsportaal waar baie beelde en marmer koppe uitgestal word. Dan kom jy om die draai en “Dawid” troon voor jou - werklik ‘n verstommende meesterstuk.
Die Uffizi Gallery vertoon Botticelli se “Birth of Venus” en da Vinci se “Annunciation”. Daar is werklik verstommend baie kunswerke in Florence. Dit word beskou as die geboorteplek van die Renaissance en Forbes het dit in 2010 benoem as die mooiste stad ter wêreld. Dit was polities, ekonomies en kultureel een van die belangrikste stede in Europa en die wêreld tussen 1300AD en 1500AD.
Ons tyd het uitgeloop en ons moes huis-toe gaan. Rinie wou baie graag nog die Leaning Tower of Pisa (1173) gaan kyk, maar daar was nie tyd nie. Vandag is ek spyt ons het nie maar daar aangegaan nie - ons kon in die nag terug gery het.
‘n Ander keer laat middag het ons na Nice gery langs die strand af, toe stop ons om ‘n bietjie op die strand te loop. Daar is geen sand nie, net klein gladde klippertjies. Daar was baie wat strepe deur gehad het, en Rinie het vir haar ‘n sakvol opgetel - dit het saamgekom Suid-Afrika toe.
Christiaan sien toe ‘n klomp opdrifsels op die strand lê en maak dit bymekaar op ‘n hoop. Dit steek hy toe aan die brand. Gelukkig was daar geen ander mense op die strand nie, alhoewel reg oorkant ons was daar ‘n restaurant, so daar was mense wat die petalje kon sien. Daar was ‘n muur aan die bokant van die strand, dalk het dit hulle uitsig versper.
Daar lê toe ‘n aerosol blikkie op die strand en Christiaan gooi dit in die vuur. Vir veiligheid klim ons toe op die muur, sodat ons bene afhang. Daar ontplof die blik en slaan die muur hier reg onder ons voete met 'n slag. Dit kon iets ernstigs gewees het as daardie blik een van ons getref het. Die 16de Desember het ons vertrek na die laaste been van ons vakansie, Spanje.
WEEK 5: SPANJE – STRANDE EN DIE MONA LISA
16 – 23 Desember 2000 | Club Jardines Paraisol, Salou
Ons is 16 Desember via die A9 na Salou, 737 km ver, dus weer ‘n volle dag se ry. Ons is via Cannes (Frankryk), Marseille, Perpignan, Girona (Spanje), en Barcelona na Salou (26,000 inwoners), waar ons ingeboek het in die groot woonstelblok van Club Jardines Paraisol. Dit was ‘n groot woonstel, goed toegerus met alles en Self Catering. Die strande was redelik verlate, want dit was middel Desember in hul winter.
‘n Trekker met ‘n doelgeboude sleepwa het oor die strande gery, die boonste laag sand opgetel, dit gesif en weer teruggegooi op die strand. Dis wys hoe baie moeite hulle doen om hulle strande silwerskoon te hou. Die seuns het gespeel en ons het die wêreld verken. Ek het een of ander pyn ontwikkel en was by ‘n apteek in. Ek het gesukkel om aan die Spaanse apteker te verduidelik wat ek soek - het naderhand iets gekry.
Eendag het ons na Barcelona (1.6 miljoen mense) gery om die stad te verken. Ek wou nie van die snelweg, ‘n lieflike pad (AP-7, 108 km) gebruik maak nie, weens die baie tolhekke se koste, en het ‘n sekondêre pad gebruik, smaller maar in baie goeie toestand. Ons was laat en haastig, maar die verkeer stadig en weens die soliede wit streep vir kilometers kon Christiaan nie verby gaan nie en ons was vasgekeer. Uiteindelik in Barcelona het ons na van die historiese besieningswaardighede gaan kyk.
Êrens het ons binne ‘n groot gebou se oop binneplein gaan sit vir ‘n koffie. Daar was ‘n groep wat musiek maak, en ek wou hulle afneem met die video kamera, maar die leier wys toe vir my ek moenie. Ek het opgestaan en met die kamera die binnekant van die gebou afgeneem, met die doel om soos ek ronddraai ook hulle af te neem. Toe kom een van hulle met ‘n aluminum paal na my toe, ek kon sien met die doel om my te slaan. Die volgende oomblik sien ek Christiaan langs my staan. Die ou met die paal was heelwat kleiner as Christiaan. Hy raak toe net met die paal aan my en sê iets in Spaans, waarop ek in Engels vir hom sê ek is ‘n toeris en wil net die mooi plekke in sy land afneem. Hy is terug na sy groep se tafel, en ons het geloop.
Later loop ons verby ‘n mooi groot tipe kasteel met ‘n soldaat in seremoniële uniform wat voor by die ingang wag staan. Toe ek die kasteel wil afneem, wys hy vir my ek mag nie. Ek het my vervies en vir hom in Engels gesê ek is ‘n toeris en ek wil die mooi plekke afneem. Hy sê toe vir my in Spaans ek mag nie, so ons is toe redelik ergerlik daar weg. Die twee insidente het ‘n bitter smaak in my mond gelaat.
Die volgende dag sien ek in ‘n Spaanse koerant ‘n kleurfoto van ‘n soldaat in uniform op ‘n teerpad lê met ‘n dik stroom bloed wat uit hom loop. Toe het ek meer begrip gehad met die soldaat van gister, want Spanje het ‘n langdurige stryd met die Catalanese se stryd vir onafhanklikheid.
Daar is baie mooi standbeelde in Barcelona, veral 'n grote van 'n ruiter op 'n perd. Mens kan sien hulle is ‘n trotse nasie.
Ons het rondgery in die omgewing van Salou en daar is baie mooi woongebiede, maar ons het min mense gesien. Dalk is baie van die plekke vakansieoorde wat in die somer baie besig sal wees.
Ons is 22 Desember weg van Salou, met die A75 via Narbonne (Frankryk), Beziers, na Bourges, waar ons die nag geslaap het - ‘n rit van 902 km. Christiaan het bestuur en ek het dikwels, soos voorheen gedurende ons toer, die interessante wolkformasies afgeneem, want dit was winter en ons het selde die son gesien. In die binneplein van die hotel het ons ‘n pragtige bloedrooi Ferrari convertible gesien.
Die volgende oggend 23 Desember is ons via die A71 oor Orleans na Parys (249 km). Ons is met die Eiffel toring (1887-1889) op tot die boonste vlak, vanwaar ons ‘n pragtige uitsig oor Parys kon kry.
Ons is ook na die Louvre, ‘n hiper-moderne glas piramide, waar baie kunswerke te siene is, o.a. die Mona Lisa, geskilder deur Leonardo da Vinci in 1503. Dis agter gewapende glas, en baie mense het in 'n tou gestaan om dit te besigtig. Rinie was in die tou totdat sy heel voor die beroemde skildery gestaan het, heeltemal in vervoering. Sy het daarna weer agter in die tou ingeval, om dit ‘n tweede keer te sien - sy kon haar oë nie glo nie. As kunsstudent was dit die piek van skilderye, en hier staan sy voor dit, binne armlengte van Leonardo se beroemdste skildery.
Daar is o.a. die pragtige beeld van Venus de Milo met die af arms, skilderye van die Italiaanse Renaissance, die Winged Victory of Samothrace, die Caryatids, The Raft of the Medusa, the Slaves, en Psyche Revived by Cupid’s Kiss.
Ons het die aand geloop na die Arc de Triomphe, waar 12 paaie bymekaar kom, ‘n nagmerrie om te ry. Onder dit is daar ‘n vlam wat ewigdurend brand, sedert 1923, om Franse soldate, wat gedurende die Eerste Wêreld oorlog gesterf het, te gedenk. Ons het langs die Seine rivier geloop met sy 37 brue. Daar is baie groot ou geboue, baie in dieselfde konserwatiewe boustyl.
Ons het vir ons elkeen ‘n lekker groot worsbroodjie gekoop, toegesmelt in kaas, asook iets om te drink. Ons was teen daardie tyd baie honger. Op pad terug na ons slaapplek loop ons verby ‘n kunstenaar wat aandring om houtskoolsketse van Rinie, myself en die twee seuns te maak.
Parys is ‘n kunsstad waar ons ‘n hele week kon spandeer om net die oppervlak te skraap, en ons wou graag daar ‘n tyddeel week gehad het, maar kon dit nie kry nie. Ons het in so ‘n smal hoë outydse geboutjie slaapplek vir die nag gekry, op die vierde en vyfde vloer in twee klein kamertjies. Die volgende oggend 24 Desember word ek vyf-uur wakker van ‘n gesing. Toe ek uitkyk sien ek dis ‘n straat skoonmaker wat die straat vee.
Ons is vroeg weg uit Parys, maar verdwaal toe, en stop by ‘n vulstasie om by die eienaar die roete uit te vra. Hy verduidelik in Frans. Ek sukkel om te verstaan en ry toe maar, net om na ‘n rukkie te sien ons ry weer verby dieselfde vulstasie, maar ons was te skaam om weer te vra. Uiteindelik het ons self reggekom en is toe uit op die A1 na Calais - ons moes die Eurotonnel trein haal teen 16:00.
Êrens langs die pad gooi ons brandstof in. Die eienaar kom uit sy kantoor, reguit na die Peugeot, loop om die kar en wys vir my die linker agterband se rubber is af tot op die seil. Hy sê “Dangereuse, dangereuse!”. Dit was ‘n bestiering, dat hy vanuit sy winkel spesifiek na ons gekom het. Gelukkig het hy toe die regte grootte band, en ons is verder. By Calais het ons in die rye gaan staan en is met die trein deur die tonnel na Folkstone, waar ons donker aangekom het. Ons is met die M20+M25 na Heathrow (149km).
Daar het ons in ‘n parkeer garage my en Rinie se bagasie afgelaai en die seuns gegroet. Christiaan het vir Marinus gaan aflaai by sy blyplek, vanwaar hy die volgende oggend die eerste keer sou gaan werk as sekuriteitsbeampte. Christiaan is terug na Holbeach met die Peugeot. Ek en Rinie is in die grote Heathrow in, wat verlate was, want dit was Oukersaand. Net een klein kafeetjie was nog oop, waar ons iets gekry het om te eet en te drink.
Die nag van 24 Desember het ons op twee banke lê en slaap, ek met my hand om Rinie se enkel vir veiligheid. Gedurende die nag word ek wakker van ‘n gesnik, kyk op en daar oorkant ons sit ‘n vroutjie en huil. Ek staan toe op en gaan vra haar hoekom huil sy. Sy was hartseer omdat sy kon sien hoe beskermend ek teenoor Rinie was.
Sy was ‘n Ier. Haar naam was Loraine Vockins, getroud met Gary, ‘n Engelsman. Sy was lief om saam met mans te kuier en haar man het nie daarvan gehou nie, toe gooi hy haar trouring weg. Sy was toe juis op pad na Dublin, waar haar familie woon. Ek het later uit Suid-Afrika vir haar 2 briewe geskryf om te hoor hoe dit met haar gaan. Sy het teruggeskryf, en gesê sy en Gary het opgemaak en is nou gelukkig met hulle kinders in Trim in Ierland.
Ek dink ons SAA vlug na Oliver Tambo in Johannesburg het laat 25 Desember vertrek vanaf Heathrow. Daar was baie min mense op die vliegtuig, waarskynlik omdat dit Kersfees was en meeste mense was reeds by hulle bestemmings. My en Rinie se sitplekke was aan die regterkant van die romp, waar daar 3 sitplekke was.
Laat in die nag was ek weer doodvaak en kon weer nie slaap nie weens die beperkte beenspasie. Toe gaan lê ek op die vloer voor ons drie sitplekke met my kop na die buitekant van die romp, met my bene opgetrek. Ek weet nie hoe lank ek geslaap het nie, toe maak ‘n lugwaardin my weer wakker en sê ek mag nie op die vloer lê nie, ek moet op my sitplek sit. My bene het natuurlik toe ek slaap ontspan en reguit gestrek, toe steek my voete uit in die paadjie in. Ek moes net met my bene na die romp gelê het, dan sou hulle my nie agtergekom het nie.
Die volgende oggend 26 Desember moes ons op OR Tambo oorklim vir ‘n vlug na Kaapstad Internasionaal. Iemand het ons kom haal het met ons Mazda. Dit was die einde van ‘n heerlike 5-weke vakansie in Europa met ons twee seuns. Hulle het altwee agtergebly vir hulle Working Holiday.
EPILOOG: 'N LEWE VAN HERINNERINGE
Dit was vyf weke van uitdagings, ongelooflike argitektuur, en bowenal, kosbare familietyd. Van die vloer van 'n vliegtuig tot die bo-punt van die Eiffel-toring – dit was die reis van 'n leeftyd. Dit was die einde van 'n heerlike 5-weke vakansie. Ons het teruggekeer na Suid-Afrika met vol harte en ryk herinneringe, terwyl Christiaan en Marinus agtergebly het vir hulle eie nuwe hoofstuk in die vreemde.
Vandag, meer as 'n kwart-eeu later in 2026, kyk ons na hierdie woorde op papier, nie net as 'n reisverhaal nie, maar as 'n monument van 'n tyd wat nooit weer sal terugkeer nie. Die wêreld het sedertdien baie verander, en ons daarmee saam. Die twee lewenslustige seuns wat klippe op die ys gegooi, en vuur gemaak het op die strand van Florence, het intussen hul eie paaie in die lewe gevind.
Wanneer ons vandag die beelde van die Alpe se mis, of die verwondering op Rinie se gesig voor die Mona Lisa in herinnering roep, onthou ons nie net die plekke nie, maar die gevoel van vryheid en die samesyn wat daardie vyf weke gedefinieer het. Dit herinner ons daaraan dat die beste belegging wat 'n mens ooit kan maak, nie in dinge is nie, maar in oomblikke – oomblikke wat, soos die ewige vlam by die Arc de Triomphe, vir altyd in ons harte sal bly brand.
Hierdie was ons reis. Dit was ons tyd. En wat 'n voorreg was dit nie om dit saam te kon doen nie.

Comments