top of page
Search

O1B2F5. WELLINGTON 1988

  • henniej42
  • Mar 10
  • 15 min read

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-03-04

 

O1B2F5. WELLINGTON 1988

 

Hierdie is 'n pragtige stuk herinneringe, van Wellington in die laat jare tagtig en negentig. Dit skets nie net 'n prentjie van 'n spesifieke tyd en plek nie, maar ook van 'n persoonlike evolusie - van die tegniese wêreld van rekenaars tot die diep filosofiese vrae oor die heelal.

 

Die beskrywing van die oorskakeling van kasregisters na PC's is 'n fassinerende tydkapsule. In 1988 was mense nog op hul hoede vir rekenaars. Die oorgang van programme skryf na stelselbestuur was duidelik 'n aanpassing vir my kreatiewe gees.

 

Die beeld van die teer wat smelt en vragmotors wat gruis gooi om bande te beskerm, vang die intense Bolandse somer perfek vas. Ons verblyf in die karavaan by die munisipale kamp terwyl ons vir die huis gewag het, getuig van 'n tyd van opoffering en opgewondenheid vir die volgende hoofstuk in Nuwe Uitsig. My vertelling verskuif van die fisiese (huise bou, tuine plant) na die innerlike:

 

Die Kleingroepe: Die lys liedere uit die "groen boekie" en die besprekings oor onderwerpe soos "Wet of Genade" wys hoe belangrik daardie gemeenskap vir ons was.

 

Filosofiese Uitkyk: My integrasie van die wetenskap (James Webb-teleskoop, atome en die Big Bang) met my geloof is insiggewend. Die idee dat God in "alles" is, insluitend die klippe (panenteïsme), gee 'n gevoel van skaal aan my wêreldbeskouing - van die klein NCR-skerm tot die 93 biljoen ligjare van die heelal.

 

Mense soos die platjie Freddie van Rensburg, die streng George, en die bouer Quinot word lewendig deur hierdie beskrywings. Ook Mondi, die swart spaniel, se storie van die SPCA tot by haar eie verhitte slaapplek met die 10-watt gloeilampie, bring 'n deernisvolle menslikheid na die vertelling.

 

Die NCR I-Series 9010 was werkperde van kleiner munisipaliteite in die 80's - hulle het minder krag as 'n moderne digitale horlosie gehad, tog het ons ‘n hele dorp se administrasie daarop geloop!

 

 

INLEIDING:

In die herfs van 1988 het my lewe 'n nuwe koers ingeslaan wat my van die bekende strate van Brackenfell na die warm, vrugbare vallei van Wellington sou neem. Dit was 'n era van oorgang—nie net vir Suid-Afrika nie, maar ook vir my as mens en as beroepspersoon.

 

Terwyl die land op die drumpel van ongekende politieke verskuiwings gestaan het, het ek myself bevind te midde van 'n ander soort revolusie: die versigtige skuif van stowwerige kasregisters na die flikkerende skerms van die eerste kantoorrekenaars.

 

Hierdie vertelling is meer as net 'n rekord van 'n loopbaan by 'n munisipaliteit; dit is 'n blik op die bou van 'n tuiste in die skadu van die Hawequasberge en die vestiging van wortels in 'n gemeenskap wat gekenmerk word deur sy uiterstes - van die versengende somerhitte wat teer laat smelt, tot die diep, koel vrede van geestelike kleingroepe.

 

 

1988. Op Woensdag, 2 November, het my loopbaan by die Wellington Munisipaliteit begin. My verantwoordelikheid was die rekenaarstelsel—’n klein NCR I-Series 9010. Destyds het ek nog met die trein vanaf Brackenfell ingery; die stasie was omtrent 1.6km van die kantore af, ’n entjie wat ek daagliks flink moes aflê om agtuur op my pos te wees.

Ek kan nog onthou hoe ek die eerste dag na die drukker staan en kyk, wat op daardie stadium rekeninge gedruk het. Ek het die “Stop” knoppie gedruk om te kyk hoe die rekeninge lyk. Toe kom so ‘n klein vroutjie ingestorm en skel op my “Wat het jy nou gedoen! Nou moet ek weer sukkel om dit aan die gang te kry!”. Dit was Rita van der Merwe, en ek kon sien sy weet maar min van die rekenaar, daarom was sy so senuweeagtig. Maar met een druk op die "Start"-knoppie het die drukwerk bloot voortgegaan. 

Die Stadsklerk was Jacques Carstens en my Tesourier mnr. Blackie Swart. My direkte senior was Freddie van Rensburg, ‘n regte platjie, maar uitstekend met die boekhouwerk en state. Hy het dikwels daardie massiewe boeke met ‘n donderende slag in die gang laat val om almal van ons te laat hop van die skrik.

 

Die kassiere het nog met outydse kasregisters gewerk, terwyl twee moderne PC’s ongebruik daar gestaan het. Die daaglikse ontvangste is ingepons deur die ponsdame.

Ek het geleidelik die nuwe stelsel leer ken wat ek nou moes bedryf - ek het nou glad nie meer programme geskryf nie, wat ‘n groot jammerte was, maar te verstane. Die eerste stelsel wat ek op die been moes bring was die 2 voorste kassiere se PC’s. Die hoofkassier was George van Rensburg, wat in beheer was van die voorste personeel, ‘n kort fris mannetjie met ‘n nog korter humeur. Ons het goed oor die weg gekom en hy het hom nie juis gesteur aan wat ek daar doen nie, want hy het ook niks van rekenaars verstaan nie, maar was baie goed in sy werk - hy was ‘n deeglike mens.

 

Op die 13de van die maand het ek besluit: môre skakel ons oor na die PC’s. George was briesend, want die 15de was die besigste betaaldag van die maand. Ek het egter voet by stuk gehou. Die volgende middag om 15:30 is die data direk na die hoofstelsel oorgedra sonder dat enige ponswerk nodig was. Die verligting op George se gesig was tasbaar. Van daardie dag af het hy respek vir my gehad, en ons het later goeie vriende op die rolbalbaan geword. Hy was ’n man van "wit of swart," sonder grys areas, terwyl ek myself altyd as ’n meer genuanseerde "grys mens" beskou het.

 

Die pendelary van Brackenfell af was uitmergelend. Ek was kort na sesuur uit die huis en was dikwels eers na 21:00 terug. Louis het vir my sy Honda CB750 geleen om te kyk of dit sou help, maar die Kaapse wind en koue het my vinnig laat besluit teen ’n motorfiets. Toe ’n klein Opel 1300 my verbysteek terwyl ek plat op die tenk lê teen die wind in het ek geweet dit is tyd vir ’n ander plan. In die winter sou dit ook nat wees. Ons moes beslis trek na Wellington toe.

 

In November 1988 het ons ’n nuwe huis in Mont Pellierlaan 17, Nuwe Uitsig, gekoop. Die dakkappe was reeds op, maar ons het die bouer, Johan Quinot, gevra om ’n woonkamer aan te bou sodat die glas skuifdeure op die Groot Drakenstein- en Hawequasberge uitkyk. Christiaan en Marinus moes vanaf Januarie 1989 skool-toe gaan by Hugenote Laerskool. Toe het ons ‘n klein karavaan gehuur by Mnr. Chicken, die opsigter van die karavaankamp net langs die munisipale swembad. Ons vier het daarin gebly van Maandagoggende tot Vrydagmiddae.

 

Wellington kan in die somer baie warm word. Ek kan onthou dat ek vir middagetes na die karavaankamp gestap het, en ek kon fisies voel hoe die son my brand soos wat ek van boom na boom gestap het. Later was daar ‘n dag toe ‘n munisipale vragmotor voor die kantore stadig agteruitgery het, terwyl werkers op die bak grawe fyn gruis afgegooi het - die son het letterlik die teer gesmelt en die karre se bande het die sagte teer opgetel!

Ons het daar gebly van Januarie 1989 tot Maart. Ons het naweke deurgery na ons huis in Brackenfell. Ons het toe vir Mondi gehad, ‘n klein pikswart spaniel, ‘n geskenk van Louis. Ons het genoeg kos en water vir haar gelos, maar sy het die eerste week só gehuil dat die bure, die Steenkamps, hulle oor haar ontferm en haar in hulle houthok laat bly het tot ons kom. Toe het ons haar maar na die SPCA in Wellington geneem waar daar darem mense en ander diere was vir geselskap.

 

Maandagoggende moes ons deurjaag met die Passat na Wellington, soms oor 160km per uur om net betyds die kinders af te laai by die laerskool in Hertzog Boulevard. Einde Maart het ons die huis in Sonopstraat verkoop en ons meubels is toe vervoer deur Slabbert Burger Vervoer na die dubbel garage van Mont Pellierlaan 17, Wellington. Die huis was nog nie klaar nie!

 

Daardie herfs het dit vroeg begin reën, en dit was ‘n modder gemors om van die ablusie geriewe na die karavaan te loop. Toe ek kla by Quinot omdat die huis nog nie klaar was vir ons om in te trek nie, het hy gesê ons kan tydelik gratis in ‘n bachelor woonstel in Saffier intrek, ‘n klein woonstelkompleks wat hy gebou het. Ons het daar ingetrek met net die nodigste meublement. Ek dink ons het op matrasse op die vloer geslaap, met ‘n yskas en ‘n twee-plaat stofie.

 

Ons huis is uiteindelik klaargemaak en ons kon intrek op 9 Junie 1989. Weer weens die reën was die motor-oprit ‘n geel modderige affêre en ek het ‘n 3 ton vrag fyn klip laat afgooi. Ons het ook ‘n sementblad laat gooi langs die bokant van die huis, van voor af tot by die agterste grens waar die wasgoedpaal was. Daar het ek ‘n draad gespan om Mondi aan vas te maak tot tyd-en-wyl ons die agterplaas kon omhein.

Toe ek haar by die SPCA gaan haal, was sy vrot van die vlooie en ek moes haar ‘n paar keer behoorlik was met medisyne om die vlooie dood te maak. Sy kon darem nou tussen die agterdeur en die agterste grens op die draad hardloop. Sodra as wat ek die agterplaas toegespan het en hekke bo en onder opgesit het, kon ek haar losmaak en sy het die ruimte en vryheid baie geniet - sy het altyd geglimlag en haar stertjie geswaai as ons met haar praat.

 

Sy was ‘n pragtige hond en ek het ‘n klapdeurtjie vir haar ingesit onderaan die buitetoilet se deur, met ‘n ozite matrassie op ‘n houtraam om op te slaap, waar sy beskerm was teen die elemente. Sy het baie oud geword by ons. Heelwat later een koue winter het ek vir haar met bloudraad en ‘n kombersie ‘n huisie gemaak waarbinne ek ‘n 10 watt gloeilampie aan die bokant gesit het om haar warm te hou. Die krag het gekom van die kragprop binne Christiaan se kamer - ek het ‘n gat deur die muur geboor.

 

Die voorste boom het ‘n reuse melkhout geword, ‘n pragtige boom wat ‘n lieflike skaduwee gooi. Ons bure, Eric en Susan van Zyl, het periodiek vir my kom vra of hulle kinders of gaste hul voertuie in die skaduwee kon parkeer, want in die somer brand die son behoorlik in Wellington.

 

Meeste van ons voorste tuin is eintlik waar beplan was om ‘n straatverbreding van Mont Pellierlaan te wees. Weens swak beplanning is die straat uiteindelik nooit verbreed nie. Oorspronklik was die plan dat Champagnestraat verbind sou word met Hertzog Boulevard, wat dan sou deurloop na Berg-en-Dal en toekomstig verder Weskus toe. Toe bou die destydse Stadsingenieur, Mnr. Prins, sy huis reg aan die bopunt van Hertzog Boulevard, so kon daardie verbinding nie uitgevoer word nie en die tussen-in area is daarna ontwikkel as deel van die Uitsig woongebied.

Daarna is die plan verander dat Champagnestraat via Mont Pellierlaan en Blouvlei via ‘n kinkel sou verbind met Hertzog Boulevard. Daarvoor is toe beplan dat Mont Pellierlaan verbreed sou word om aan te pas by die breedte van die ander drie strate. Dit het jare gesloer en intussen het die inwoners aan die linkerkant van Mont Pellierlaan toestemming gekry om tuin te maak op die deel gereserveer vir die toekomstige padverbreding.

Nog later is die plaas van Phillip Malherbe, Volendam, aan die bo-punt van Mont Pellierlaan, Erf 2001, goedgekeur vir dorpsontwikkeling en is daar 67 erwe uitgesny deur Johan Quinot. Dit het finaal die verbreding van Mont Pellierlaan gekelder. Almal aan ons kant van die straat het nou ‘n lekker groot stuk voortuin bygekry. Ons erfgrootte is tans 791 vierkant meter, maar as die voorste stuk bygevoeg word is dit seker omtrent 1000 vierkant meter of meer. In die toekoms sal die twee stukke seker gekonsolideer word.

Toe Erf 2001 opgesny is in erwe, wou Quinot dit adverteer as Uitsig, omdat dit dan die waarde sou opstoot. Hy het toe net een ingang via Mont Pellierlaan beplan. Dit sou beteken dat ons vir jare sou moes luister na die gedreun van swaar vragmotors soos hulle boumateriaal aanry. Die inwoners van Mont Pellierlaan en ander het in opstand gekom. Coen Reynolds het leiding geneem met die organisasie van die weerstand.

Ek het die afstand gaan meet wat inwoners van Erf 2001 sou moes ry via Mont Pellierlaan, Blouvlei en Piet Retiefstraat (2.5 km), soos teenoor direk van Erf 2001 na die Piet Retief-Champagne kruising (400 meter). Die meeste van die nuwe inwoners van erf 2001 sou mense van die stad wees, wat eerder direk via Champagnestraat na die R44 en N1 sou ry, en nie geforseer word om deur die besige Blouvleiweg te ry nie, wat reeds oorlaai is met skoolverkeer in die oggende.

‘n Openbare vergadering is gehou in Huis Andrew Murray se saal en al die teenargumente is bespreek. Theo Leonardt, ‘n siviele ingenieur, het gesê Mont Pellierlaan is nie gebou om soveel swaar vragmotor verkeer teen daardie steil bult te dra nie - huidiglik was dit alreeds besig om plek-plek op te breek. Die besluit was toe oorweldigend dat daar ‘n tweede in-/uitgang na Erf 2001 gebou moes word aan die Champagnestraat kant. Wat toe ook gebeur het. Die imposante Mont Pellierlaan ingang word selde benut deur die inwoners, wat meesal die kleiner uitgang verby die nuwe Checkers Welgeleë winkelsentrum gebruik, waar hulle daagliks hul aankope doen.

 

Wat politiek betref, het FW de Klerk vir PW Botha opgevolg nadat PW in 1989 ernstig siek geword en bedank het as NP leier. PW, wat baie outokraties regeer het, het baie teenstand van binne die NP gekry toe hy wou terugkeer as staatspresident en FW het hom suksesvol opponeer en vervang as staatspresident.

FW het radikale beleidsveranderings aangebring, en het met die parlementsopening op 2 Februarie 1990 die ANC en ander organisasies ontban en Nelson Mandela en ander swart leiers vrygelaat. Op 27 April 1994 is die eerste vrye verkiesing gehou waaraan alle Suid-Afrikaners kon deelneem. Die ANC het by verre die meeste steun getrek, 63% (24 miljoen), teenoor die NP se steun van 24% (4 miljoen, meeste daarvan blankes) en Inkatha 11% (2 miljoen).

 

Ek kan onthou hoe ons die hele dag in ‘n lang tou geduldig staan en wag het om te stem op die plaas van die Buckles op die Hermon pad. Alle blankes het geweet die NP staan nie ‘n kans nie, want weens die dekade-lange verdrukking onder apartheid was dit verseker dat die oorgrootte meerderheid van die nie-blankes vir die ANC sou stem, wat uitgebeeld was as die bevryders van die gehate apartheid stelsel.

 

Met die sosiale veranderinge en vyandigheid by die openbare swembad, het baie van ons besluit om ons eie swembaddens te bou. In Wellington is ’n swembad en lugreëling nie weelde nie, maar noodsaaklikhede.

 

Een aand laat was Christiaan en sy maats in die water. Ek het hom gevra om stil te wees en nie die bure te pla nie. Omstreeks drie-uur skrik ons wakker toe hy met ’n reuse plons in die stilte van die nag in die swembad bom. Dit was oorverdowend. Christiaan was maar altyd ‘n lewendige mens wat hom nie laat uitdaag nie. Hy is ‘n regte waaghals.

 

Ons kerk het in daardie tyd ‘n veldtog geloots van kleingroepe, om verdieping en meer geesdrif in die gemeente te bevorder. Dit is die mense saam met wie jy kan groei, lag en dien. Oor tyd het daar lede van ons groep oorgegaan na ander groepe of weggegaan, soos wat mense by mekaar aangepas het. Ons groep is só gesif en het vir lank bestaan uit Gerrit en Freda van der Merwe, Pieter en Rika Benade, Oom Charlie en Cathy Cross, Laboux en Elize Laubscher , Almero en Annemarie Loots, en ek en Rinie.

 

Ons het gereeld eenkeer elke tweede week op Donderdagaande bymekaar gekom, om die beurt by mekaar se huise. Ons het geopen met gebed en dan lekker saamgesing. Gerrit se seun Hakie (Johan) het vir ons kitaar gespeel en almal kon een van ‘n klomp populêre liedjies kies wat later in die Liedboek opgeneem is, wat ons dan uit volle bors gesing het. Van ons gunstelinge was: Ons is almal hier tesaam. Majesteit. Jesus, groot bo almal. U goedheid Heer kan ons nie peil nie. Loof, loof die Here. Genade, onbeskryflik groot. Soos ‘n wildsbok. Doen slegs U wil Heer. Wat ‘n vriend het ons in Jesus.

 

Dié liedjies en baie ander was in ‘n klein groen boekie en die samesang was die hart van ons samekoms. Een keer toe ons by Annemarie-hulle was, en ‘n liedjie wou sing, het twee mense op verskillende toonhoogtes ingesit, wat só komieklik was dat ‘n paar van ons geproes het van ingehoue lag. Ek dink Annemarie het ons kwalik geneem.

 

Om die beurt het elkeen kans gekry om die week se boodskap voor te dra. Ek het wanneer dit my beurt was ‘n stukkie uit my Joernaal of Prosa lêers voorberei en het dit geniet om die stukkies op te stel en ‘n kopie vir elkeen te druk, alhoewel dit dikwels nie godsdienstig was nie maar eerder geestelik: Afhanklikheid van mekaar. Op soek na die Waarheid. Die Wet of Genade. My eie Geloofsoortuiging. Lewe jy of bestaan jy net. Verander ons of bly ons dieselfde, ensovoorts. Meeste van die ander het stukkies waarvan hulle gehou het uit Solly Ozrovech se populêre boeke aangebied. Daarna het ons almal op die ry af hardop gebid. Dan het ons lekker tee of koffie gedrink, met eetgoedjies voorgesit deur die huisvrou.

 

Ek dink ons almal het uitgesien na hierdie byeenkomste, wat natuurlik die doel van die kleingroep byeenkomste was. In so ‘n klein groep het mense die vrymoedigheid om elkeen sy of haar mening te lug - meeste mense voel geïntimideerd om in die groot kerk op te staan en iets te sê. Ons kleingroep was baie suksesvol en het lank bestaan en ons het vriende met mekaar geword. Elkeen het sy of haar eie karakter gehad en ons het geleer van mekaar, ook om andere met ander sienings te verdra.

 

Later jare het my gesprekke met vriende soos Chris Erasmus en Billy Phillips nog dieper geword. Ek dink van ons oorspronklike groep was een of twee paartjies aanvanklik ook by. Ons het groot vriende geword. Chris-hulle is diep gelowig, soveel so dat hulle Sondae na Somerset-Wes gery het om na Theo Geyser van die groep Prophet te gaan luister. Chris is baie verlig, en ons gesprekke wanneer ons bymekaar gekom het, het dikwels later die aand baie diep geraak. Dit het dikwels gebeur dat ons eers na elfuur saans huis-toe is.

 

Billy se siening dat God in ALLES is—ook in die klippe—het by my aanklank gevind. Soos die wetenskap die heelal oopvlek, van die kleinste quark tot die biljoene sterrestelsels wat die James Webb-teleskoop vandag sien, word my geloof nie kleiner nie, maar groter. Dit is nou nog die geval.

 

Billy is ook baie verlig - hy en Marlene kom uit die Pinkster/Charismatiese kerke en dink baie wyer as ons konserwatiewe Gereformeerde kerke. Hy het baie interessante menings, soos onder andere dat God in alles en almal is. Ek kan my heeltemal daarmee vereenselwig. Christendom, Islam, Buddhisme, Judaisme en andere - Vir my kan daar tog net één God wees, maak nie saak wat watter geloof Hom ookal noem nie. Ek dink alle mense het ‘n aanvoeling dat daar ‘n Opperwese moet wees, wat alle lewe beheer. Moontlik spruit dit uit die oertyd, toe mense uit vrees vir die natuurkragte gedink het hulle moet dié opperwese paai met offerhandes, as versoening oor hulle gewaande oortredings.

Soos die wetenskap al verder ontwikkel, word die grense van wat ons weet al wyer gestoot. Wat voorheen die kleinste was, die atoom (‘n miljoen keer kleiner as die deursnee van ‘n menslike haar), word met verdere navorsing gesplyt in ‘n neukleus en elektrone. ‘n Goeie vergelyking van die grootte van ‘n neukleus met die van ‘n atoom is soos ‘n ertjie in die middel van ‘n resiesbaan. Later nog protone en neutrone. later ione en isotope, later kleiner quarks. Dis heeltemal bokant ons begrip.

Dan as jy groter gaan as ons wêreld, die aarde, was daar eers met beter teleskope ons sonnestelsel. Toe later ons Melkweg, toe ons sterrestelsel. Later kom hulle agter dat daar baie sterrestelsels is, en vandag reken hulle daar is biljoene sterrestelsels in die heelal.

Met die James Webb Space Telescope (JWST) is dit nou moontlik om baie verder in die verlede terug te kyk, byna tot waar alles vandaan kom. Die gedagte van die Big Bang teorie is dat die heelal ontstaan het uit ‘n oneindig warm en digte enkele punt, wat toe teen ‘n ondenkbare spoed uitgebrei het oor die volgende 13.7 biljoen jare, tot die steeds-uitbreidende kosmos wat ons vandag ken. Alles trek steeds teen ‘n verstommende spoed uitmekaar.

Dit is vir my heeltemal versoenbaar met ons siening van God, wat alles in ‘n oogwenk geskape het. Die aarde is 150 miljoen km van die son af. Die heelal is oneindig groot, 93 biljoen ligjare in deursnee. Die aarde is ‘n klein planeet in hierdie ontsaglike groot ruimte. As ons die heelal afskaal sodat die Aarde en Son ‘n duim van mekaar af is, dan is die volgende naaste ster 7km weg! Daar is net een God wat dit alles geskape het en dit beheer met Sy natuurwette. Billy se siening dat God ook in die klippe is, maak nogal vir my sin - Hy is in ALLES wat bestaan. In Lukas 19:40 staan “Jesus het gereageer: ”Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”.

 

 

SLOTSOM: 'N GROTER PERSPEKTIEF

As ek vandag terugkyk op daardie jare in Wellington, sien ek 'n duidelike patroon van groei. Wat begin het as 'n tegniese uitdaging om 'n verouderde munisipale stelsel te moderniseer, het uiteindelik uitgeloop op 'n verruiming van my eie gees. In Mont Pellierlaan het ons nie net 'n huis van bakstene en sement gebou nie, maar 'n uitkykpos gevestig waarvandaan ons die wêreld en die hemele kon aanskou.

 

Wellington, met sy uiterstes van hitte en sy prag van berge en bome, was die agtergrond waarteen ek geleer het dat min dinge in die lewe werklik "wit of swart" is. Alhoewel ek mense soos George bewonder het vir hul onwrikbare sekerhede, het my eie pad my deur die "grys areas" gelei—daardie ryk skakerings van menswees waar begrip, verdraagsaamheid en verwondering floreer.

 

Die reis van die klein NCR-rekenaar na die ondenkbare uitgestrektheid van die heelal wat die James Webb-teleskoop vandag aan ons openbaar, is vir my 'n deurlopende lyn. Dit bevestig dat die God wat ons in die kleingroepe besing het, nie tot 'n gebou of 'n dogma beperk kan word nie. Hy is teenwoordig in die atoom, in die smeltende teer van 'n warm middag, in die getroue oë van 'n hond soos Mondi, en in die biljoene sterrestelsels wat teen 'n verbysterende snelheid steeds van ons af wegbeweeg.

 

 
 
 

Comments


bottom of page