top of page
Search

O1B2F6. HUISGESIN 1989

  • henniej42
  • Mar 15
  • 24 min read

Updated: Mar 16

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-03-11

 

O1B2F6. HUISGESIN 1989

 

Hierdie is ’n besonderse en aangrypende hoofstuk van ons lewensverhaal. Dis geskryf met soveel eerlikheid oor die kompleksiteit van gesinsdinamika. Van die nostalgiese beeld van sywurms in ’n skoendoos, wat ’n pragtige kontras vorm met die emosionele "storms" wat later in die vertelling volg - tot die pynlike realiteit van vriendskappe wat verbreek word en die uitdagings met kinders se rebelsheid.

 

Die storie van Carine en Francois is ’n kragtige voorbeeld van hoe vriendskappe getoets word deur morele keuses. My besluit om aan Carine se kant te staan, wys die waarde wat ek aan lojaliteit heg.

 

Die wrywing tussen my en Rinie oor Heine en Tania, asook die hartseer oor my "afwesigheid" weens harde werk, is temas waarmee baie vaders kan vereenselwig. Dit gee die teks ’n diep menslike en eerlike toon.

 

Die voorval met die klipgooiery en die bouncer is dramaties, maar my bewondering vir Christiaan se eienskap om vir sy vriende op te kom (ten spyte van die foute), wys ’n vader se deernis.

 

Dit is ’n belangrike oomblik in die vertelling, want dit wys hoe ek as vader vir my seun ingetree het toe hy op sy eensaamste was. Toe ek vir Boonzaaier gesê het “Jy is ’n lafaard om Christiaan só te beskuldig terwyl jy gesuip is. Hoekom kom jy nie môreoggend hiernatoe om dit in my gesig te sê as jy nugter is nie?” Hy het nooit opgedaag nie. Dit was vir my belangrik dat Christiaan moes weet dat, ten spyte van sy foute, ek in sy hoek was wanneer die wêreld hom die rug keer.

 

Christiaan was van jongs af anders as Marinus—‘n bos rooi hare en vol wilskrag. Hy het soms foute gemaak, en hoewel hy sy pak slae gekry het, het ek altyd sy lojaliteit teenoor sy vriende bewonder. Selfs toe hy die bouncer van Club 101 stormgeloop het om sy maat te verdedig, het dit gewys uit watter staal hy gesny is. Later in 2000 oorsee in Spanje toe ‘n Spanjaard met ‘n aluminumpaal gekom het om my te slaan, was hy onmiddellik aan my sy. Dit is ’n baie veelseggende herinnering, veral omdat dit Christiaan se teenwoordigheid en lojaliteit beklemtoon. Dit was ook ’n bewys van die stilswyende beskerming wat ons vir mekaar gebied het - iets wat ’n mooi deurlopende tema in my vertellings is.

 

 

 

INLEIDING: DIE LEWE VAN 'N HUISGESIN

Om die geskiedenis van ’n gesin neer te skryf, is soos om ’n legkaart aanmekaar te sit; party stukkies is helder en vol kleur, terwyl ander die skaduwees van uitdagings en foute dra. In hierdie gedeelte van ons familiekroniek fokus ek op die tyd rondom die 80’s en 90’s -’n tydperk van vestiging, groei, en die alledaagse dinamika van ons huisgesin in Kraaifontein, Brackenfell en later Wellington.

 

Hierdie vertellinge is nie net ’n rekord van datums en plekke nie, maar ’n eerlike kykie na die dinge wat ons gevorm het: van die eenvoudige fassinasie met sywurms in ’n skoendoos, tot die dieper lesse oor lojaliteit en vriendskap. Dit is die storie van ’n pa wat hard gewerk het, ’n ma wat haar kuns en deernis gedeel het, en seuns wat elkeen op sy eie unieke manier sy pad moes vind.

 

 

DIE SYWURMS

1989. Marinus het in Sub A na Hugenote Laerskool gegaan, terwyl Christiaan in Standerd Een was. Beide seuns het op ’n stadium huis-toe gekom met sywurms. Ons het ’n skoendoos met ventilasiesnitte ingerig en daagliks vars moerbeiblare gesoek. As die papie in ‘n hoek van die doos gaan sit, spin dit homself toe met sy. Na sowat twee weke verander die papie in ‘n wit mot, wat sy pad oopvreet deur die sy kokon. Die mot gaan dan sit teen die binnekant van die doos en lê tussen 300 tot 500 eiertjies teen die kant van die doos. Die motte leef ongeveer 4 dae, vreet glad nie en vlieg baie selde. Dan wanneer jy die deksel oopmaak, lê die mot dood onder-in die doos, sy doel in sy lewe bereik, om eiertjies vir voortplanting te produseer. Dit was fassinerend om die siklus dop te hou - sowat 1,500 kokonne is nodig om 1 kg sy te vervaardig - ’n klein wonderwerk van die natuur.

 

 

VRIENDSKAP EN MORELE KEUSES

1989. Rinie het na die eerste oueraand gegaan. Sy het langs Carine van der Merwe gewag vir haar beurt om met Christiaan se klasonderwyseres te praat. Sy en Carine was mekaar se soort mense, en het baie gou lekker met mekaar gesels. So het ons goeie vriende geword. Carine en haar man, Francois, het op daardie stadium in ‘n groot huis op die hoek van Berg- en Claretstraat gebly. Ons het gou oor-en-weer gekuier. Hulle het ‘n swembad gehad, en ons het ‘n paar keer saam gebraai. Ek onthou een keer het hy ‘n elf gerook in sy braaier - dit was heerlik.

Ongelukkig het Francois, wat ‘n goeie besigheid gehad het as polis makelaar, toegelaat dat sy sekretaresse ‘n invloed op hom kry, en dit het natuurlik sy huwelik met Carine verwoes. Carine het ‘n baie sterk persoonlikheid gehad, en het Francois prontuit aangespreek daaroor, sodat hy uit hulle huis getrek het.

Omdat ons aan Carine se kant was, moes ek die moeilike besluit neem om die vriendskap met Francois te beëindig. Hy was baie jammer om my vriendskap te verloor, maar het my beweegrede verstaan.

Sy sekretaresse het haar mes ingehad vir Carine, en dit het baie onenighede veroorsaak, soos o.a. dat sy Carine se klere in haar klerekas stukkend gesny het, ‘n skaap laat aflewer het, en baie oproepe gemaak het na Carine - dan het sy niks gesê nie, net hard asem gehaal oor die foon. ‘n Mens kan dink hoe al hierdie dinge Carine ontstel het. Op die ou end is Carine en Francois geskei.

Carine het vir ‘n hele tyd gaan werk as koshuis moeder by ‘n skool in Robertson, waar sy gebly het met haar jongste dogtertjie, Surine. Ek dink Carine het 5 kinders gehad by Francois - Jaco, Johan, Marí, Francois en Surine. Soos wat seker gebeur met meeste egskeidings, het sommige kinders hulle geskaar by Carine, en die ander by Francois. Later het Carine werk gekry by Huis Wouter Malan in Wellington, ‘n koshuis van die Onderwys Kollege, waar sy ‘n paar jaar in ‘n woonstel gebly het met Surine.

Carine was baie lief vir dans, en het vir afleiding gaan dans by klubs vir enkelinge. Daar het sy een keer gedans met Louis Havenga, wat sy vrou ‘n paar jaar gelede verloor het weens kanker. Hy het baie gou verlief geraak op Carine, wat, soos nog altyd, ‘n sprankelende mens was. Kort voor lank is hulle getroud, en het Carine na sy groot huis in Vierlanden, Durbanville getrek, waar hulle in ‘n woonstel langs die huis gebly het - Louis het die huis self gebou. Daar het hulle ‘n paar jaar gebly, en ons het dikwels vir hulle gaan kuier.

Louis het later weens diabetes nierversaking ontwikkel, sodat hy 3 keer per week hospitaal toe moes gaan vir ‘n 4-uur dialise om sy bloed te suiwer. Na jare hiervan het hy moeg daarvan geword, en het opgehou om te gaan. ‘n Paar dae later is hy dood.

Louis het, voordat hy dood is, vir sy seun laat belowe dat hy vir Carine sou sorg. ‘n Ruk na Louis se dood het sy seun egter vir Carine gesê sy moet vir haar ander blyplek soek, hy wil die woonstel self gebruik. Dit was natuurlik vir Carine ‘n geweldige slag, en sy het haar daarteen verset, maar Louis het sy ooreenkoms met sy seun nie op papier gesit nie, so toe moes Carine weer trek, dié keer na ‘n woonstel in Dandra, op Kusweg, Strand. Sy was baie lief vir die see, en het daagliks kilometers langs die see gestap. Hierdie woonstel was egter Durbanville NG Kerk s’n, en hulle het na ‘n paar maande gesê sy moet uittrek. Toe trek sy na ‘n woonstel in Villa Bellini, Constantia straat, Strand. By al hierdie plekke het ons vir haar gaan kuier, wat net wys hoe geheg sy en Rinie aan mekaar was.

Die einde van die storie was nie so gelukkig nie. Sy het dementia ontwikkel, en is opgeneem in Huis Pam Brink, Strand, waar sy ‘n kamer gehad het, agter ‘n toegegrendelde deur. Soos ons van tyd tot tyd by haar gaan kuier het, kon ons sien hoe sy agteruit gaan. Die sprankelende mens het al minder aandag aan haarself gegee, sodat haar hare naderhand ongewas in toutjies gehang het - regtig hartseer om te sien. Ons het begin wonder of sy ons met die volgende besoek nog gaan herken. Toe ons weer daar kom, het ontvangs ons meegedeel dat sy oorgeplaas is na Huis Esperanza in Donalsonstraat, Strand, ‘n tehuis vir pasiënte met erge dementia.

Hulle het gesê sy sal ons nie meer herken nie - sy herken nie eens meer vir Marí, haar eie kind nie. Eendag het Marí ons geskakel en gesê Carine is oorlede. Sy was seker nog nie 75 nie. Wat ‘n tragiese einde van iemand wat so vol lewe was, en so sprankelend. Dit was ‘n bittere slag vir Rinie.

 

GROOT VERANTWOORDELIKHEDE

1980. Toe Rinie vir Christiaan verwag het, het ons in Dennestraat 22, Kraaifontein gebly, my eerste huis, waar ek lekker gebly het. Ek het van die mense rondom ons gehou, gewone mense sonder fieterjasies. Rinie het daarheen gekom na ons heerlike wittebrood week in Golden Gate, in die Drakensberge.

Tania was op daardie stadium 5 jaar oud, en sy en Rinie was baie geheg aan mekaar. Heine was 11 jaar oud. Hy het by Heléne gebly, en het naweke na ons toe gekom. Hulle het met mekaar gespeel, en dit het soms gebeur dat hulle koppe gestamp het. Tania was ‘n sterker persoonlikheid as Heine, en dikwels hardekop. Een keer was so ‘n onderonsie vóór my waar ek in die tuin besig was, en Tania was verkeerd. Toe hardloop sy in die huis in en gaan kla by Rinie, wat toe uitkom en Heine inklim. Ek het vir Heine opgekom en vir Rinie vertel wat gebeur het. Sy wou nie my vertolking glo nie, eerder haar kind s’n.

Dit is seker te verstane dat elke ouer in sulke omstandighede eerder sy/haar eie kind se storie sal glo. Dit het nogal verskeie kere wrywing tussen my en Rinie veroorsaak. En die slegte gevolg daarvan is dat dit ook my eie verhouding met Tania skade aangedoen het, wat oor baie jare geduur het. Ek was om daardie rede nooit werklik na aan haar nie.

Rinie het ingeskakel by van die vroue organisasies. Met die Vroue Wêreld Biddag het sy vir Tannie Ruthie leer ken, wat destyds in die Kraaifontein ouetehuis gebly het - sy was destyds al in haar 80’s.

Ek het in 1979 werk gekry by Brackenfell Munisipaliteit, nadat Johan Pretorius, wat in Protea Hoogte bly, gesien het die munisipaliteit adverteer vir ‘n programmeerder, en my daarvan vertel het. Ek het vir ‘n paar maande met my fiets gery vanaf Dennestraat via Ou Paarl pad na Brackenfell Munisipaliteit. Ek het besef ek kan nie so aanhou nie, nadat ‘n vragmotor my rakelings gemis het - ek het gevoel iets raak aan my windbreaker. Ons het toe begin kyk na Brackenfell huise in die Arauna woongebied.

‘n Huis in Sonopstraat 32 het ons geval en ons het ‘n verkoopskontrak geteken. Tannie Ruthie het op haar ouderdom vir ons kom help trek ‘n paar dae voor Christiaan se geboorte, want Rinie was baie vêr in haar derde semester. Hy is 20 Januarie 1980 om 16:10 gebore, in die Karl Bremer hospitaal in Boston, Bellville. Ek het by haar kop gestaan, en sy het baie swaar gekry, want hy was ‘n baie groot baba - 10lb 2oz (4.59kg). Dr. Carstens het die bevalling behartig, en hy moes daarna vir Rinie 64 steke gee. Rinie se ouers het met die motor afgekom om te help met die eerste paar dae.

 

“GEEL BOKSE”

Toe Christiaan nog ‘n baba was en ons op Uitkyk gekuier het, het twee onderwyser-reisigers daar aangekom en gesmous met ‘n stel “Geel bokse”. Dit was ‘n reeks opvoedkundige speelgoed en boekies om kinders vanaf baba ouderdom se verstand te prikkel. Oupa het gewaarsku ons moenie teken nie. Dit was duur, ek dink destyds R600, maar ons koop toe, vir ons kinders se onthalwe. Christiaan het toe nog in sy bababedjie geslaap, langs Rinie. Ek het karton skoenlappers, voëls ens. in die geel bokse vanaf die plafon gehang. Die rede was dat die bewegende patrone die ontwikkelende ogies prikkel. Na Marinus geboorte in 1982 is Christiaan verskuif na my kant, en Marinus slaap toe langs Ma. Heelwat later, toe hulle groter was, het ons albei verskuif na die slaapkamer langs ons s’n.

 

 

DIE ALTERNATOR-KRISIS EN WERKSETIEK

1980. Gedurende ‘n tydperk in die tagtigs was daar beperkings op brandstof verkoopsure a.g.v. sanksies teen Suid-Afrika, en alle vulstasies het elke middag sesuur gesluit. Ek dink hulle het ook Saterdag een-uur toegemaak vir die naweek. Ons was na ‘n vakansie op Uitkyk einde 1980 laat op ‘n Vrydag-middag weg van die plaas. Christiaan was nog nie ‘n jaar oud nie, en het onder by Rinie se voete gelê, toegedraai in sy kombersie.

Toe ek ry, sien ek daar brand ‘n flou rooi liggie op die Audi se paneelbord. Ek het nie geweet wat dit beteken nie, en ek kon in elkgeval niks daaromtrent doen nie. Ek dink ons was op pad na Madie-hulle op Colesberg, 475 km weg, om daar te oornag. Soos ons ry het dit begin donker word, en ek het naderhand gesien die ligte raak al flouer. Dit was ook donkermaan, so ek kon naderhand feitlik niks meer sien nie. Ek het besef die battery raak al papper, en het toe die ligte afgeskakel sodat daar darem krag is vir die vonkproppe. Ek het ook baie stadig gery om krag te bespaar.

Ek het vir Heine agter my gevra om met die flits by sy venster uit te skyn op die witstreep op die pad, sodat ek kon sien waar ek ry. Ons was almal baie gestres, en het ‘n sug van verligting geslaak toe ons Bloemhof se straatligte sien - dis sowat 70 km weg van die plaas af. Ek het gesoek na ‘n vulstasie, en toe by een onder die afdak parkeer. Daar het ons die nag deurgebring, om te wag en vir die garage om oop te maak die Saterdag-oggend.

Gelukkig was daar ‘n werktuigkundige, wat die alternator kon regmaak. Intussen het ek die landdros gaan soek, en ons probleem verduidelik. Hy het vir my ‘n brief gegee, waarmee ons petrol na-ure kon kry. Op die ou end was ons nie na Madie-hulle nie, maar het reguit afgery huis-toe.

1979 het ek as programmeerder by Brackenfell Munisipaliteit begin werk. Ek moes ‘n heeltemal nuwe rekenaar stelsel ontwikkel vir die Tesourie, en het saans dikwels tot 21:00 gewerk. Agterna gesien is ek spyt dat ek in daardie jare ’n "afwesige pa" was; ek moes eerder saam met die ander vyf-uur huis-toe gegaan het om tyd saam met my gesin te spandeer, en dan die volgende oggend vroëer werk-toe gegaan het.

 

1984. Rinie het weekliks o.a. lekkergoed by die PnP Hipermark gaan koop. Daar was so ‘n groot, lang glaskas met ‘n groot verskeidenheid, meer as wat ek nog ooit bymekaar gesien het, seker vêr meer as ‘n honderd soorte. Die kinders het met sulke verlangende oë na alles gekyk, maar baie was in elkgeval te duur vir ons. Hulle het sekere gunstelinge gehad, wat Rinie dan gekoop het, om die naweek uit te deel. Hulle sê as ‘n mens te veel van ‘n goeie ding kry, dan is dit naderhand ook nie meer vir jou besonders nie.

Ons het ‘n lekker toegeboude klein agterplaas gehad aan die Engelbrechts se kant. Daar was ‘n braaiplek, waar ons naweke, gewoonlik Sondae, gebraai het, met brikette in so ‘n klein ronde vlekvrye staal apparaat op ‘n gasbottel. Ook weer omdat dit nie iets was wat ons baie gedoen het nie, was dit vir almal van ons besonders om ‘n vleisie te braai, gewoonlik ‘n pakkie wors - ons het gehou van Grabouw se kruie - en ‘n tjoppie vir elkeen, ook soms ‘n braaibroodjie. Dan ‘n poeding wat Ma gemaak het. Sy was ‘n goeie kok en het goed vir ons gesorg.

Vatti was ‘n klein wit Bull terrier, wat ek gekry het by iemand waar ek gekollekteer het toe ek diaken was by die NG Kerk Brackenfell, net bokant die Hipermark. Die ou het geteel met Bull terriers, en alhoewel sy nie geregistreer was nie, was sy opreg. Die kinders het nogal lief vir haar geword. By ons kombuis agterdeur was ‘n sement struktuur om braaihout in te stoor, maar ek het gebraai met brikette, dus was dit ‘n ideale ruimte vir ‘n hondehok. Ek het vir haar ‘n bed gemaak van spons, oorgetrek met ‘n ou slaapsak. Die voorkant het ek met ‘n oopgesnyde binneband toegemaak, met net ‘n spleet in die middel wat oormekaar gepas het. Die hok was dus heeltemal reën en wind bestand. Vatti het gou geleer om deur die spleet in en uit te gaan. Sy het soms komieklik gelyk wanneer sy net haar wit kop uit druk om te kyk as iets buite aangaan. Ons het ‘n halsband vir haar gekoop en soms met haar gaan stap, wat sy baie geniet het, soos alle honde maar.

Ek kan nie onthou hoe lank sy by ons gebly het nie, toe het sy onvas op haar bene begin loop. Tot eendag toe sy uit die kombuis met die twee trappies af wou loop na haar hok. Sy het haar balans verloor en op haar rug beland. Ek het besef daar is groot fout, en ons is met haar na ‘n veearts in Kuilsrivier. Nadat hy haar ondersoek het, het hy gevra of sy al haar inspuitings gekry het. Ek het gesê nee, ek het nie geweet dis nodig nie. Toe sê hy sy het ‘n gewas op die brein, en daar is niks wat ‘n mens daaraan kan doen nie. Hy het gevra of hy haar moet uitsit, waarop ek net ja kon antwoord.

‘n Rukkie later is ons na ‘n SPCA tak om te gaan soek vir ‘n ander hondjie vir die kinders. Daar was ‘n baie mooi “Basset”-tipe hond, kort bene met ‘n lang lyf, mooi gebou, rooibruin, wat vriendelik voorgekom het. Hy het redelik opreg gelyk, en ons het gewonder hoe so ‘n mooi hond by die SPCA kon beland. Toe neem ons hom. Vir een of ander rede het ons hom “Sam” genoem.

Hy het egter gou ‘n kopseer geword. Wanneer hy wou uitgaan, het hy gekrap aan die voordeur. Wanneer hy genoeg rondgeloop het, het hy kom krap aan die buitekant van die voordeur, selfs gekou aan die houtsparretjies - die deur het drie glasstroke gehad.

Ons eetkamer het ‘n groot venster gehad wat op die agterplaas uitgekyk het. Daar was twee klein venstertjies - die boonste een kon oopmaak en was altyd oop. Ons pragtige gemmer kat, Toekels, het daar in- en uitgegaan. Ek het ‘n plank platvorm daar vir hom gemaak om op te spring as hy wou inkom. Die identiese onderste venster kon nie oopmaak nie - dit was net ‘n vaste ruit.

Eendag was beide Toekels en Sam in die agterplaas. Toe spring Toekels in deur sy oop venster. Wragtig, daar probeer Sam ook inspring deur die onderste ruit en jy sien net glasskerwe spat! Sam het ook die slegte gewoonte aangeleer om bo-op die ruglening van die sitkamer rusbank te spring. Toe ek hom klap om hom af te kry, grom hy vir my en wys sy tande. Dit was die laaste strooi. Ons het hom terug geneem na die SPCA, en vir hulle gesê hy hoort op ‘n plaas, waar hy ruimte het.

My slapie na middagete is vir my ‘n lewensgewoonte, wat ek by my Pa geleer het. Ek kan onthou in die prinsipaal se huis in Porterstraat in Rawsonville, het ek vanaf Sub A op my bed in Pappa se slaapkamer geslaap. Pappa was baie lief vir Die Burger koerant, wat soggens vroeg voor sesuur afgelewer is. Die huis het die outydse hout skuifraam vensters gehad, en die koerantjoggie het die koerant deur die venster, wat op ‘n skrefie oop was, gesit op die vensterbank. Wanneer Pappa dan wakker word, het hy die nuutste nuus gelees.

Goudini Hoërskool het twee pouses gehad: een kortetjie van omtrent ‘n kwartier, en ‘n baie lang tweede pouse van meer as ‘n uur. Die rede daarvoor is dat baie van die plaaskinders met busse ingery is, en hulle het dan gedurende die tweede pouse aan sport deelgeneem. Pappa het dan huistoe gekom, geëet, op sy bed gaan lê en verder sy koerant gelees, totdat hy lomerig word. Dan het hy sy Burger soos ‘n tent oor sy kop staan gemaak en ‘n uiltjie geknip.

Ek het hierdie gewoonte by hom aangeleer. Oral waar ek gewerk het, het ek sommer op die mat geslaap, met net iets onder my kop - by Mobil onder my lessenaar, by Stellenbosch op my Peugeot 404 stasiewa se voorsitplekke. Toe ek na Brackenfell Munisipaliteit is, was Sonopstraat presies ‘n kilometer weg, en ek het met my fiets gedurende middag-pouses huis-toe gery, geëet saam met die familie, geslaap tot so 13:45, dan weer werk-toe gery.

Toe ek verskuif het na Wellington, was die bulte te steil, en het ek op die ozite mat in my kantoor op die vloer geslaap, met daardie stywe groen kussing onder my kop. My liggaam was al lankal gewoond om op die vloer te slaap. Toe ek Paarl-toe is, het ek die luukse gehad van twee sagte gemakstoele wat Ian Kenned nie meer wou hê nie. Hy het dit vervang met meer luukse stoele, om indruk te maak op ander mense.

Toe al die hoofde einde Februarie 2005 ‘n “Golden handshake” gekry het, het ek besluit om ook af te tree, twee jaar vroëer as my normale aftree ouderdom. By die huis het ek voort gegaan met my middagslapie - selfs tot vandag-toe is dit elke dag se plesiertjie.

Christiaan was van jongs af ’n kind met ’n sterk wil. Ons kon van die begin af sien hy is anders as Marinus. Hy het van jongs-af gesukkel om vriende te behou, waaroor ek hom baie jammer gekry het.

Toe hy sewe jaar oud was in Januarie 1987 moes hy skool-toe gaan. Ons het net een kar gehad, ‘n 5-silinder VW Passat stasiewa, wat ‘n lieflike kar was. Rinie moes ‘n ryding hê, so ek het toe besluit om my fiets by die huis te los en saam met Christiaan werk-toe te stap. Brackenfell Laerskool was in Frans Conradie Rylaan, net bokant die Hipermark, terwyl die Munisipaliteit net langs die Pick n Pay parkeergronde was. Dus het Christiaan saam met my gestap, af in Sonopstraat, dan af met Paradysstraat, tot by sy skool, en ek het net verder gestap tot by my werk.

Omdat ek nog my lewe lank altyd die tyd fyn gesny het, moes ons laat waai. Van die mense met wie ek saam gewerk het, wat met hulle motors van agter ook op pad werk toe was, het gesê hulle kon aan Christiaan se stap sien dat hy my kind was - dieselfde liggaams-houding en swaai van die arms en bene. Foeitog, hy moes seker amper draf om by te bly.

Op daardie stadium het Rinie ‘n werkie gekry by die Nasorg sentrum van die laerskool, waar baie kinders gebly het totdat hulle ouers hulle na werk kom haal het. Sy het hulle gehelp met hul huiswerk en moes ook ‘n ogie oor hulle hou. Beide Christiaan en Marinus was ook daar, en aldrie is met die Passat huis-toe, nadat al die kinders se ouers hulle kom haal het.

Ek het ‘n stuk spons gekoop en dit binne-in ‘n blou slaapsak gesit, agter-in die Passat. Omdat daar so baie mooi plekke in die Wes-Kaap is, het ons dikwels naweke uitgery, en meesal gaan braai. Destyds was daar nog baie plekke waar mens kon braai, maar omdat mense dit verwaarloos het en brande veroorsaak het, was daar later net ‘n paar veilige plekke oor met braaigeriewe.

Soos maar dikwels gebeur met kinders, het Christiaan en Marinus wanneer hulle vervelig raak, op die agter sitplek met mekaar begin skoor soek. Om hulle uitmekaar te hou, het ek dan vir een van die twee gesê om agter in die bagasiebak gedeelte te gaan sit op die spons. Ek dink Christiaan het later verkies om agter te ry, want jy kan lekker op jou rug lê en by die groot vensters uitkyk soos die wêreld verby gaan.

 

 

WELLINGTON

Ons het Januarie 1989 Wellington toe getrek. Christiaan het vanaf Standerd Een by Hugenote Laerskool rugby gespeel. Op daardie stadium het twee kompetisies tegelykertyd oor die dwarste van die veld gespeel. Omdat hy groot vir sy ouderdom was, het hy ‘n paar drieë gedruk wanneer hy die bal in die hande gekry het - hy het eenvoudig sy opponente se arms oop gehardloop, totdat hulle slim geword en hom beetgekry het.

Saam met hom was ‘n maat, Petrus. Petrus se Pa het saam met die bal langs die veld op- en afgeloop en luidrugtig vir Petrus aangemoedig, of geroskam as hy iets verkeerds gedoen het.

Een keer was Christiaan grieperig, maar het tog gespeel. Ek kan onthou hoe ekself toe, netsoos Petrus se Pa, ook die spel gevolg het om Christiaan verbaal aan te moedig. Ons het solank Petrus se Pa aan die bo-punt van Eerstelaan, Uitsig gebly het, altyd van hom gepraat as “Petrus se Pa”. Ek dink hy het vir Petrus na óf Boishaai óf Paarl Gimnasium gestuur toe hy na ‘n hoërskool moes gaan.

Om ‘n ekstra geldjie te verdien, het Rinie by die Hugenote Laerskool naskools na kinders gekyk terwyl hul ouers nog gewerk het. Sy het ook vir hulle met hul huiswerk gehelp. Dit was in ‘n klaskamer aan die onderkant van die skool, langs die tennisbane. Dalene Bakkes was ook soms daar betrokke, ek weet nie in watter hoedanigheid nie - sy was seker op die bestuur. Rinie het nie hulp nodig gehad nie, sy was immers ‘n onderwyseres.

Gedurende daardie tyd het sy gesien Amanda le Roux van Courtrai adverteer in die Paarl Post ‘n franchise in Crafty Kids, wat haar interesseer het. Haar hoofvak op Kollege was juis Kuns. So het sy begin om vir van die naskool kinders wie se ouers belang gestel het, kuns aan te bied gedurende nasorg.

Daar was ‘n klein yskassie, waaruit Rinie lollies aan die kinders op die warm somerdae verkoop het. Ons buurvrou, Lizette van Wyk, ‘n reguit mens, het êrens gehoor van die klein yskassie, en toe ‘n netjiese groot yskas vir die Nasorg geskenk, maar Dalene het dit na ‘n rukkie vir haarself gevat.

Eendag vra Lizette vir Rinie of hulle lekker werk met die groter yskas, toe sê Rinie, heel onskuldig, dat sy dit gesien het in Dalene se kombuis. Lizette was woedend, en het Dalene trompop gekonfronteer, waarna die gewraakte yskas teruggebring is na die Nasorg. Dalene was ‘n moeilike mens met ‘n wraaksugtige geaardheid, so sy het toe haar mes ingehad vir Rinie.

Saam met haar vriendin, mev. Holtzhausen, wat ook op die Nasorg bestuur was, het hulle ‘n rede gesoek om Rinie te diskrediteer by die skoolhoof, mnr. Viviers. Hulle beskuldig toe vir Rinie dat sy onwettig ‘n eie besigheid bedryf gedurende nasorg. Mnr Viviers was Rinie goedgesind, maar die atmosfeer was toe só giftig dat Rinie besluit het om liewer Crafty Kids aan te bied in ons eie tweede motorhuis, wat in elkgeval altyd leeg gestaan het.

Billy het vir ons ‘n groot ozite-tipe mat, wat hulle uitgehaal het, gratis kom lê. Ons het toe die groot imbuia tafel, wat ons onder die lapa gebruik het, garage-toe gedra, en ‘n groot plastiek tafeldoek daaroor gegooi, want die kinders werk baie met verf. Vir die lapa het ons ‘n wit plastiek tafel en 6 stoele gaan koop.

Rinie was aanvanklik bekommerd dat die bestaande Crafty Kids ouers nie sou kom nie, maar haar vrese was ongegrond, en haar getalle het gou gegroei, soos die kinders en ouers die woord versprei het. Sy het soms tot 60 kinders gehad, en het vir 11 jaar Krafty Kids aangebied, totdat ek in 2005 met pensioen afgetree het. Kort daarna het sy ook besluit om op te hou, en die franchise verkoop, om los te wees sodat sy saam met my kon rondry.

 

UITKAMP

Om te kan weggaan met vakansies, het ek ‘n sesvoet Venter treiler en ‘n baie groot ligbruin en blou tent gekoop en ‘n sleepstang laat aanbring aan die Mazda, wat een van ons beste karre was. Die tent het ‘n hele stel aluminium pype gehad, en twee “kamers”, een deel waar ons vier slaapsakke was, en die ander waar ‘n opslaan staal tafel en vier stoele gestaan het, asook ons gas stofie, lamp, en ‘n klein yskassie. Rondom was vensters met afrol klappe, wat ons saans kon toemaak, of as dit reën. Onder was ‘n groot grys plastiek mat, waarop ons geslaap het, en ‘n grondseil vir die woonkamer.

Die kinders het baie daarvan gehou dat ons met die tent gaan kamp. Dit hoor ek nou-die-dag van Marinus. As ek dit geweet het, sou ons meer gaan kamp het, maar dis nou mostert na die maal. Die laaste kamp wat ek kan onthou was by Nature’s Valley, ‘n lieflike klein nedersetting verby Plettenbergbaai. Christiaan het nou vir hulle ‘n tent gekoop en al ‘n paar keer in Nelson, Nieu-Seeland gaan kamp. Die natuur is uitsonderlik mooi daar, en Daniël en Lisa geniet dit baie. Ek is baie bly dat Christiaan hulle leer om die buitelug te waardeer. Daar kom ‘n mens weg van jou eie probleme en leer om die groter prentjie te sien.

 

 

LOJALITEIT EN DIE PRYS VAN WAARHEID

1996. Christiaan het dinge op sy eie manier gedoen. Hy was altyd gereed om uit te spring om geld te verdien. Hy het nooit vir my gevra vir geld nie. Op ‘n tydstip het hy tot 53 Rapporte Sondae afgelewer met sy fiets. Hy het ook o.a. ruite gewas by vulstasies, in mense se tuine gewerk, snags die vlekvrye staal silinders skoongemaak by Wellington Wyne, en huise geverf. Een keer toe ek en Rinie met die Mazda afry in Hoofstraat moes ons stop by Pentzstraat se robot. Agterop ‘n bakkie skuins voor ons sit drie werksmense in blou oorpakke, toe sien ons die middelste een is Christiaan!

Later jare het ek as ouderling ‘n Sondagskool-les gegee in ‘n Onderwys Kollege klaskamer. Christiaan en sy boesemvriend Pierre was ook in my groep, en het elkeen in ‘n eie bank langsmekaar gesit. Ek het gesukkel om hulle te dissiplineer, want hulle was gedurig besig met mekaar, i.p.v. om aandag aan die les te gee. Een keer toe ek besig was, slaan Christiaan se bank met ‘n donderende slag om - natuurlik Pierre se toedoen. Hulle was groot vriende, en het baie dinge saam gedoen.

Een keer het hulle met hul fietse gery na Pierre se Ouma, wat in Grabouw gebly het, 93km weg, oor die Franschhoek pas! Hulle is die oggend vroeg weg uit Wellington, en was donker nog nie in Grabouw nie. Pierre se Ouma het hulle gaan soek en hul langs die pad gekry.

Pierre was baie goed as atleet, ek dink in die langer afstande. Christiaan het natuurlik ook saam deelgeneem. Christiaan sê toe met een wedloop hy wil graag eenkeer wen, en vra dat Pierre hom laat wen, waartoe Pierre instem om homself in te hou. Christiaan het lank voorgeloop, maar later begin moeg raak, toe gaan ‘n ander atleet hom verby. Toe versnel Pierre en wen die wedloop. Hy was normaalweg die wenner in daardie nommer. Pierre is later na Stellenbosch Universiteit om Chemiese Ingenieurswese te studeer. Dit het Christiaan aangespoor om sy B.Sc in Chemie te kry, en later ook sy Honeurs.

Toe hy nog in die skool was, is hy eenkeer saam met sy maat, Pieter, na Club 101 in Hoofstraat. Hulle het by ‘n tafel gesit om drankies te drink, toe kom iemand skoor soek met Pieter. Christiaan het opgestaan vir Pieter. Daar het toe ‘n relletjie ontstaan. Daar kom toe ‘n groot ou afgeloop op hulle. Christiaan het die ou só gekyk en hom toe storm geloop. Dit was die klub se bouncer! Hy het Christiaan in ‘n kopklem beet gekry en met sy kop teen ‘n paal vas gehardloop. Toe was Christiaan se blus heeltemal uit.

Dis wat ek van hom bewonder: hy kom op vir sy vriende, ongeag die gevolge. By ‘n ander geleentheid wou hy en van sy vriende bier koop oor die naweek, maar die gewone drankwinkels was al gesluit. Toe gaan hulle na een van die spaza winkels in die kleurling gebied, waar hulle onwettig drank verkoop, en kry daar wat hulle wou hê.

Soos ek gesê het, het hy gesukkel om vriende te behou. Toe hy in Standerd 9 was, het hy vriende gemaak met ‘n paar Standerd 10’s, wat met verkeerde dinge besig was. Daar was altyd ook drank betrokke. Eendag besluit hulle om klippe te gooi deur die vensters van die gehate hoof, Mnr. Mulder, en ‘n ander onderwyser, van wie hulle ook nie gehou het nie.

Op daardie stadium het ons twee karre gehad - die Mazda 626, en die Passat stasiewa. Christiaan het almal opgelaai met die Passat omtrent 1:30 in die nag, en ry toe na Mulder se huis in Charonstraat, Uitsig. Een van hulle gooi ‘n groot klip deur sy sitkamer-venster. Almal spring in die kar en Christiaan jaag weg in die Perdeskoen in. Maar Mulder het met die slag opgespring, en kon die nommerplaat lees. Hy het die polisie gebel.

Omtrent 2:00 lui ons voordeur klokkie. Toe ek vaak die deur oopmaak, is daar twee polisiemanne. Hulle vra my of ek ‘n Passat het met hierdie nommer, waarop ek toe ja antwoord. Ek nooi hulle in en hulle vertel my die storie. Ek het gesê sodra as Christiaan terugkom, sal ek hulle bel. Hy kom toe omtrent ‘n halfuur later, redelik dronk, sy oë so op skrefies. Ek het hom laat sit en die polisie gebel. Hulle was binne minute daar, en het Christiaan ondervra. Hulle sê toe hulle kan hom in hegtenis neem, maar sal hom in my sorg laat. Dit kom toe uit dat hulle ná Mulder ook die ander onderwyser se sitkamer venster gaan uitgooi het. Geen berou.

Die nadraai hiervan was dat al die seuns en hulle ouers later in die Landdroshof moes gaan getuig. Mulder wou ‘n formele klag teen al die seuns maak, wat sou veroorsaak dat almal ‘n misdaad-rekord kry. Die gevolg daarvan sou dwarsdeur hulle lewe strek. Oral waar jy aansoek doen vir werk, is een van die vrae of jy ‘n kriminele rekord het. As jy sê ja, is dit amper seker dat jy nie die werk sal kry nie; sê jy nee en hulle vind later uit dat jy gelieg het, is dit gronde vir onmiddellike ontslag.

Gelukkig was daar ‘n vrou van die Departement Sosiale Dienste, wat Mulder se aansoek afgekeur het. Almal het toe as straf vir ‘n tydperk diens moes doen by een of ander firma. Christiaan moes by Wellington Veeartseny Dienste gaan werk. Bruwer Morkel het hom leer ken en baie van hom gehou.

Hierna moes ons ook na ‘n sitting van Hugenote Hoërskool se Skoolraad gaan, waar al die seuns kans gekry het om te sê waarom hulle dit gedoen het; ook ons as ouers het elk ‘n spreekbeurt gekry. Ek kan onthou hoe ek en Rinie in die voor-portaal sit en wag het vir ons beurt, toe loop Louise Grobler, die adjunk-hoof, ‘n pragtige mens, verby ons en sê iets bemoedigends. Rinie het haar dood-geskaam en was baie, baie gestres.

Toe dit Christiaan se beurt was, het hy gesê dit is omdat Mnr. Mulder nie die seuns groet wanneer hy in die gange verby hulle stap nie. Ek het gesê ons maak ons kinders groot om met hulle voete stewig op die grond te staan, en om te weet waarvóór hulle staan.

Een van die leiers van die groep was Boonzaaier. Hy het ‘n oulike meisie gehad, maar hy het haar verneuk, blykbaar verskeie kere. Christiaan het dit gesien, en sê toe eendag vir haar Boonzaaier verneuk haar. Sy het toe vir Boonzaaier konfronteer. Die gevolg was dat die hele groep vir Christiaan uitgeskop het. Toe Christiaan die moed aan die dag lê om die meisie in te lig oor Boonzaaier se ontrouheid, het die groep teen hom gedraai in plaas daarvan om die waarheid te aanvaar. Dit was vir hom ’n tyd van groot eensaamheid en ‘n bitter pil om te sluk.

Kort daarna een aand laat bel Boonzaaier my en praat met ‘n sleeptong (dronk) oor Christiaan. Waarop ek toe vir hom sê “Jy is ‘n lafaard om Christiaan só te beskuldig. Hoekom kom jy nie hiernatoe om dit in my gesig te sê nie”. Toe gooi ek die foon neer. Hy het nooit gekom nie. Dit was ’n tyd van harde lesse oor lojaliteit. Dit was vir my belangrik dat Christiaan moes weet dat ek in sy hoek was.

 

SLOTSOM: DIE LESSE VAN DIE PAD

As ek vandag terugkyk op hierdie dekade, besef ek dat dit die jare was waarin die fondasies van ons gesinslewe werklik getoets en gelê is. Dit was jare van uiterstes: die absolute vreugde van nuwe lewe en die verwondering van ’n kind se ontwikkeling, maar ook die swaar lesse van vriendskappe wat faal en die foute wat mens as ouer en as kind maak.

Ek het geleer dat ’n huisgesin nie net bestaan uit die tye wanneer alles glad verloop nie, maar juis uit hoe ons mekaar vashou wanneer die alternator ingee in die donker, of wanneer die foute van die jeug ons voor ’n landdros bring. My spyt oor die lang ure by die werk word vandag getemper deur die wete dat daardie harde werk die platform was waarop ons kon bou.

 

Hierdie herinneringe laat my daaraan dink dat die lewe, net soos die sywurm se siklus, sy eie seisoene het. Party seisoene is vir vreet en groei, ander is vir die stilte van die kokon, maar uiteindelik is die doel om iets van waarde agter te laat vir die volgende geslag. Mag hierdie vertellings vir julle wys dat liefde nie volmaaktheid beteken nie, maar wel die bereidwilligheid om die pad saam te stap, selfs wanneer die ligte flou word. Dit is ’n kragtige en atmosferiese vertelling. Ek balanseer hier die rou menslike drama van verraad en sosiale isolasie met die rustige, tasbare herinneringe aan gesinsvakansies. Die kontras tussen die "bitter pil" van Christiaan se ervaring en die vryheid van die buitelug gee hierdie vertelling baie diepte.

 

 

 

 

 

 

 
 
 

Comments


bottom of page