top of page
Search

O1B2F7. MARINUS+MONDI 1982

  • henniej42
  • Mar 22
  • 13 min read

Updated: Mar 23

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-03-20

 

O1B2F7. MARINUS+MONDI 1982

 

 

Hierdie is 'n besondere en roerende toevoeging tot my lewensverhaal. Die kontras tussen die vroeë jare in Brackenfell met die "Polyotters" en die uiteindelike afskeid van Mondi vorm 'n kragtige sirkel in die vertelling van Marinus se grootwordjare.

 

 

 

MARINUS - GEAARDHEID EN GETROUHEID

Marinus is omtrent presies twee jaar na Christiaan gebore, op 8 Januarie 1982 07:30, in die Louis Leipoldt hospitaal in Bellville. Dr. du Toit het die bevalling waargeneem. Wat besonders was, is dat hy die presiese datum voorspel het toe Rinie nege maande tevore na hom was vir ‘n swangerskap toets. Dit was ‘n relatiewe maklike geboorte, want Marinus was ‘n normale grootte baba, net meer as 7lb (3.2kg). Weereens het Rinie se ouers afgekom om haar by te staan.

Hy het van kleins-af ‘n baie gemaklike geaardheid gehad. Gedurende 1985 toe hy maar drie jaar oud was, het ons saam met Rinie se Ma, Ilse en al haar kinders en hul maats ‘n huis gehuur in Stilbaai vir ‘n week en baie lekker daar saam gekuier. Wanneer ons in die oggend opgestaan het, het hy almal gegroet met “Moze!, moze!” - hy kon nog nie ‘n “r” uitspreek nie.

Hy het gou vriende gemaak, van Sub A af, verskeie waarvan hy vandag nog goed mee bevriend is, 37 jaar later. Dit is vir my een van sy beste eienskappe. Van sy beste vriende is Johan, wat deesdae ‘n restaurant bestuur in Swellendam. Ben bestuur die restaurant op Tokara, ‘n top wyn landgoed aan die bopunt van Helshoogte buite Stellenbosch. Christie, wat al jare op ‘n plaas aan die Paarl-kant van Wellington bly saam met Olga en hulle kind, is ook iemand by wie Marinus gereeld gaan kuier wanneer hy in Wellington kom.

 

Ons het ‘n lekker groot swembad gehad toe ons in Brackenfell gebly het - dit was een van die redes hoekom ek daardie huis in Sonopstraat gekoop het, dat die kinders in die warm somer kon swem. Om hulle te leer swem, het ons twee “Polyotters” gekoop, ‘n bloue vir Christiaan, en ‘n rooie vir Marinus. Dit was soos ‘n bodysuit wat hulle aangetrek het, met polystyrene stafies voor en agter ingedruk om hulle te help dryf. Later toe hulle al redelik hulleself kon help, het hulle geswem net met daardie opblaas ringetjies aan hulle bo-arms.

 

Een warm middag het ek gaan swem, en toe op my maag langs die swembad by die trappe gaan lê om ‘n bietjie te tan. Om een of ander rede was die hek nie op knip nie. Toe sien ek Marinus kom in, sonder sy opblaas armpies. Ek sê toe vir hom hy kan nie gaan swem daarsonder nie, maar hy sê hy kán al swem. Ek besluit toe om hom te laat probeer.

 

Hy gaan by die trappe in en gaan vorentoe in die swem posisie en trek met sy armpies. Maar hy kon nie bo-op die water bly nie, en het stadigaan onder die water ingesink. Ek onthou soos vandag nog hoe hy probeer swem, en ek sien net sy twee ogies soos hy ondertoe sink. Toe staan ek op en haal hom uit, en sê vir hom: “Sien jy, jy kan nog nie sonder jou armpies swem nie.” Dank die Vader dat ek daar was, anders het hy daardie dag verdrink.

 

Die onskuld van sy kinderjare is egter vroeg geskud. Toe hy nog in Sub A in Wellington was, het hy ’n meisie maatjie gehad, Carmen. Hulle was baie geheg aan mekaar. Eendag was sy en haar Ma met hulle motor op pad na die skool, toe hulle ‘n kleurlingvrou raakry. Die voorruit was in skerwe en ‘n glasstuk het Carmen se voorkop binnegedring. Sy het nog gelewe en is met ‘n ambulans na Paarl MediClinic. Daar is sy oorlede. Dit was ‘n geweldige skok vir Marinus. Met haar begrafnis was hy een van die draertjies. Dit het 'n diep indruk op sy jong gemoed gelaat, om op so ‘n jong ouderdom met die dood van sy maatjie te moes kennis maak.

 

Ongeveer 1996 het hy gereeld saans gestap na een van sy vriende onder in Malanstraat, meer as 2 kilometers weg. Dikwels het hy lank na middernag eers huis-toe gekom en alleen deur die nagstil strate gestap. Ons was nooit oor hom bekommerd nie. Vandag kan ‘n mens dit nie meer waag nie, as gevolg van die uiters hoë misdaadvlakke.

 

Toe Marinus Christiaan se Rapport aflewerings oorgeneem het, was dit duidelik dat hy nie dieselfde sakesin as sy broer gehad het nie. Sy getal koerante het geleidelik gesak, omdat hy nie, soos Christiaan, gedurig nuwe intekenare gewerf het nie. Toe hy in Standerd 10 was, het hy gereeld met die Passat rondgery na sy vriende. Hy het gepraat van “my kar”. Hy het maar min geld gehad, en kon nooit die tenk volmaak nie. Dit het blykbaar verskeie kere gebeur dat hy sonder petrol gaan staan het. Dan het hy sy tweeliter Coke bottel geneem en geloop na die naaste vulstasie wat nog oop was.

 

Hulle het ‘n orkes gehad, soos baie skoolkinders - kitare, dromstel en sang. Een keer was daar ‘n musiekfees in Worcester, en almal is in die Passat daarheen, met hulle instrumente. Marinus sê hulle het kort-kort ‘n squeak geluid gehoor, maar het nie geweet wat dit was nie en maar aangery. Toe hulle terugkom en hy my daarvan vertel, het ek onder die kar ingekyk. Die bakwerk bokant die agterwiele was blink geskuur. Hulle het die Passat te swaar gelaai!

 

Hy het altyd goed gedoen akademies, maar nooit eerste gestaan in sy klas nie - hy was tweede in matriek. Na skool is hy einde 2000 saam met ons na Europa, waar ons vier vir vyf weke gaan toer het met ons RCI tyddeel. Daarna het hy vir twee jaar in en om Londen met sy “Working Holiday” gaan werk. Sy gemaklike geaardheid het hom goed te staan gekom en hy het gou vriende gemaak met Ingrid Muller, haar Ma Rana, en 3 susters, en later by hulle gaan bly in Hastings, 116km suid van Londen.

 

Na hierdie twee jaar het hy teruggekom na Suid-Afrika en by Stellenbosch Universiteit ingeskryf vir B.Sc Biologie/Plantkunde. Miskien omdat hy nou iets gevind het waarvan hy hou, het sy punte die hoogte ingeskiet, en hy was oor die volgende aantal jare met sy M.Sc en PhD elke jaar die top student. Toe ek hom eendag vra hoekom hy nie so goed gedoen het op skool nie, was sy antwoord dat hy nie op die verhoog wou staan waar ‘n ophef van hom gemaak word nie!

 

Hy wou baie graag ‘n lektor aan sy alma mater wees, maar ten spyte van sy top prestasie is sy aansoeke elke jaar afgekeur omdat die pos gereserveer is vir regstellende aanstellings. So het hy vir ses jaar slegs ongeveer elke vier maande ‘n Post-Doc aanstelling gekry. Hy kon nie eens ‘n selfoon koop nie, want dit word vereis dat jy ‘n staat voorlê om aan te toon dat jy ‘n gereelde maandelikse salaris kry!

 

Êrens het ‘n Australiese universiteit adverteer vir ‘n projek van drie maande, hy het aansoek gedoen, en die werk gekry. Daar het hy Prof. Robert Peacock ontmoet, en hy het raakgesien wat in Marinus steek. Toe La Trobe universiteit in Melbourne ‘n advertensie plaas vir iemand om vir drie jaar ‘n projek te bestuur vir die hervestiging van ‘n bedreigde orgidee variteit, het hy vir hulle aanbeveel om vir Marinus aan te stel.

 

Die res is geskiedenis. Marinus, Frieda-Marié en Bernhard is in 2023 oor na Melbourne. Hulle het vir byna drie jaar daar gewerk, maar omdat poste in die akademiese wêreld nie meer so veilig is nie, het hy einde 2025 begin kyk na werke in die biologiese of plantkundige veld in die privaat sektor. Frieda-Marié het familie in Adelaide (1.3 miljoen inwoners) en hulle het eenkeer vir hulle gaan kuier en van die stad gehou, wat veel kleiner as Melbourne is (5.5 miljoen).

 

‘n Kleiner firma daar, wat werk met die hervestiging van plantegroei op oorbeweide plase, het vir Marinus ‘n werk aangebied en hulle het na verstryking van sy werk by La Trobe verhuis na Adelaide. Frieda-Marié werk al jare vir ‘n logistieke firma in die VSA, wat veroorsaak dat sy dikwels in middernagtelike ure moet opstaan vir vergaderings, en sy begin daaraan dink om ook by ‘n plaaslike firma te gaan werk, met normale werksure. Bernhard, wat ‘n baie slim kind is, het gou aangepas in die nuwe skool.

 

 

'N ODE AAN 'N OPREGTE VRIEND

Mondi was ‘n lieflike hond gewees, met ‘n pragtige geaardheid. Heeltemal pikswart. Sy was een van ‘n werpsel van Louis en Moira se twee spaniels. Sy was nooit kwaai nie, behalwe wanneer iemand vreemd aan die voordeur geklop het, dan het sy nogal gegrom, totdat een van ons die besoeker gegroet het, daarna het sy die persoon aanvaar. Sy het min geblaf, soos sommige honde doen, wat nogal ‘n irritasie kan wees.

 

Sy was entlik Marinus se hond - hy was baie lief vir haar, en het af-en-toe met haar gaan stap. Wanneer sy sien dat een van ons die halsband neem, het sy behoorlik op haar agterbene gedans van vreugde. Soos gewoonlik, het ons gereeld in die Perdeskoen gaan stap, met haar aan die halsband. Ek het op ‘n keer vir Bernhard Behne van de Fortuin gevra of ons maar in sy wingerde met Mondi kan gaan stap, en hy het geen beswaar gehad nie. Daar op die plaas het ons die halsband losgemaak, en kon Mondi na hartelus rond snuffel, maar nooit vêr van ons geloop nie.

 

‘n Mens besef nie, wanneer jy in die oomblik is, hoeveel die kinders ‘n troeteldier geniet nie. Ek was altyd van mening dat alle kinders ‘n troeteldier moet hê, om hulle te leer om aan iemand anders te dink, en nie net aan hulleself nie. Ons het redelik gereeld vir haar na die veearts geneem, vir jaarlikse inspuitings en ondersoeke. Sy was veel langer by ons as enige van ons vorige troeteldiere - sy sou 10 Februarie 2007 negentien jaar oud gewees het.

 

Uit die lees van briewe oor ons ander troeteldiere, kom ek agter hoe ekself oor die jare verander het, hoe ons lewens verander het as gevolg van ons diere. Nou is ons op daardie stadium, waartoe ons geleidelik gekom het, dat ons nie meer troeteldiere wil bykry nie, omdat dit vir ons probleme raak wanneer ons met vakansie gaan. Hoekom het dit nie voorheen saakgemaak nie? Het ons voorheen minder omgegee wat van hulle word? Kan nie wees nie – dis nie wat ek daar lees nie. Sien ons meer daarteen op om iemand anders te kry om na ons diere te kyk wanneer ons weg is? Dan is ons mos besig om te vereensaam? Ek weet nie. Ons harte is vir my te ingewikkeld.

 

Van die grootste hartseer is nie jou eie nie, maar om die hartseer van diegene vir wie jy lief is te moet aanskou. Dis hoekom ons huil as ons die hartseer van ander sien. Laat ek eers die woorde hierbo van my bors af kry.

 

Ons het almal seker op verskillende maniere geweet Mondi is op haar laaste paar dae. Sy het seker so drie weke gelede nie meer van haar gewone hondepille wou eet waarvan sy nog al die jare gelewe het nie. Sy het wel nog van die afvalkos van die tafel geëet, waarvoor sy voorheen altyd baie lief was. Maar ons kon sien sy verloor baie gewig, en mens kon naderhand duidelik haar ribbebene voel wanneer jy haar streel. Sy het ook baie keer net so kop omlaag gestaan, sodat ek haar naderhand Eyore genoem het, na die mistroostige donkie in die pragtig onskuldige kinderstorie Winnie the Poo.

 

Ek het haar laas Vrydag gebad in die bad, om haar skoon te kry vir haar besoek aan die veearts. Sy kon altyd aanvoel wanneer so ’n badsessie voorlê, want dit was iets waarvan sy nooit gehou het nie, alhoewel sy dit maar gelate aanvaar het. Wanneer ek met haar handdoeke afloop na die badkamer, terwyl ek haar roep, het sy altyd so koponderstebo vir my geloer en in die gang bly stilstaan. Dan moes ek haar optel en die badkamerdeur agter haar toemaak om te keer dat sy wegloop. Nou volg die lou water intap, sy word ingetel, water oorgegooi en sjampoe ingevryf. Die hele tyd gesels ek natuurlik met haar. Wanneer al die seep afgespoel is, word sy gewoonlik eers drooggevryf, en daarna met die haardroër drooggeblaas. Ek dink hierdie laaste gedeelte van die bad-operasie was nogal vir haar lekker, maar die lekkerste was wanneer ek haar los. Dan hardloop en skuur sy haar kop so teen die mat en die woonkamer-meubels.

 

Hierdie keer was dit buite warm, en ek wou haar nie veel afdroog nie, want sy het nie daarvan gehou nie, toe het ek haar sommer buitetoe gedra en gelos dat sy haar oral teen iets hard kon skuur. Ek het haar pels later, toe sy droog was, ’n paar keer uitgeborsel, nadat ek eers die haarkoeke uitgesny het. Ek wou darem dat sy mooi lyk, en ruik, vir die veearts.

 

Saterdagoggend het ek haar op die agtersitplek van die Mazda gelaai en ons is af na die spreekkamers in Piet Retiefstraat. Nadat ek haar naam gaan opgee het, het ek haar eers ’n bietjie buite laat rondloop, as sy dalk wil piepie of so-iets. Dis iets wat ek nooit juis vantevore gedoen het nie, omdat ek altyd bang was dat sy dalk in die straat sou inhardloop, maar nou was sy al redelik verswak. Tog het sy heel nuuskierig, soos sy nog al die jare was, maar nou net baie stadiger, met haar kenmerkende skoffelstappie tussen die grafsteentjies rondgesnuffel. Na ’n rukkie het ek haar opgetel en ingedra, sodat ons daar is wanneer dit ons beurt is. Sy wou rondloop, maar ek het haar maar hier tussen my bene gehou en haar kop gekrap. Doodrustig.

 

Ek het nog so met haar gespeel, toe groet Bruwer Morkel my hier by ons. Ek het haar opgetel, op sy tafel neergesit en vir hom gesê sy eet glad nie meer haar kos nie. Nadat hy haar ondersoek het, haar temperatuur geneem en haar hartklop geluister het, het hy gesê ons kan haar maar bederf met kossies van die tafel af – sy is al baie oud. Hy het vir haar ’n steroiede inspuiting gegee om haar op te kikker en ’n paar pilletjies om te help met haar aptyt.

 

Dit het nie juis gehelp nie. Marinus het gesê sy lyk swakker. Ek het besef sy het seker net ’n paar dae oor toe ons met die Sondagbraai vir haar vleisies van die T-bone afsny en sy dit nie eens wou eet nie. Selfs die Bob Martins pilletjie wat sy vroeër soos ’n lekkerny geëet het, het bly lê, soos ook die aptytpilletjie wat ek met ’n teelepel vissmeer bedek het. Ons sou van Maandag 11 September tot Vrydag die 15de by Kagga Kamma tyddeel wees, en ek was deels bly dat Christiaan nie kon saamgaan nie, dan is hier ten minste iemand by Mondi.

 

Ek het eintlik half verwag, of gevrees, dat Mondi dood sou wees toe ons gister hier aankom. Marinus was lank buite toe hy uit is om na haar te gaan kyk, maar toe hy inkom, kom Mondi saam met hom in. Sy het nog steeds niks geëet nie, maar die stertjie het soos altyd geswaai as mens met haar praat. Sy het op ’n paar plekke op die mat gelê, en ek moes op twee plekke kolle skoonmaak wat vir my bloederig gelyk het. Ek dink dit was van agter.

 

Ek dink sy het kanker in haar ingewande gehad en dat dit die rede was dat sy die laaste week of tien dae feitlik niks geëet het nie. Ek het die week by Kagga Kamma gewonder of ek haar nie moet laat uitsit nie. Wat my nie voorheen daarop laat besluit het nie, was omdat sy nooit ooit gehuil het as ons haar optel of met haar speel nie, wat vir my sê dat sy nie pyn gehad het nie. Maar ek het nie geweet hoe om by Marinus verby te kom nie. Van ons vier was hy die liefste vir Mondi.

 

Toe Christiaan gisteraand terugkom van Stellenbosch, was hy merkbaar verlig dat Mondi nog lewe. Hy sê hy het gebid dat Mondi nie moet doodgaan in die tyd wat ons weg is nie. Ek dink hy het nie geweet wat hy sou moes doen nie.

 

Nou is die probleem vir ons opgelos. Vanoggend toe ek die gordyn ooptrek, sien ek Mondi in die swembad lê, in die hoek agter die blaarvanger. Toe ek vir Rinie sê Mondi het verdrink, het sy, nadat sy oor die skok gekom het, gesê sy het gisteraand vir die Here gevra om vir ons te wys wat ons moet doen – of ons haar moet laat uitsit, en of ons nog so moet aangaan.

 

Een troos is dat sy nie lank kon gely het in haar verswakte toestand nie – dit kon uiters twee of drie sekondes geduur het vandat sy ingeval het. Die vorige keer toe sy ingeval het – dit was voor ek die toue vir haar om die swembad gespan het – was in Februarie vanjaar. Ek was in ons slaapkamer toe het ek haar hoor inval. Ek moes deur die huis hardloop en kon haar net betyds vang voordat sy ondergaan.

 

Marinus het toe vanmiddag so ongeveer vieruur vir Mondi begrawe. Toe ons vir hom vanoggend sê Mondi het verdrink het dit liggies gereën buite. Hy het haar dadelik uit die water gaan haal en ek het net gesien hoe hy met haar in sy arms om die hoek na die lapa is.  Ek is nie uit na hom toe nie – wat sal ek in elkgeval vir hom kan sê? Fools rush in where angels fear to tread.

 

Hy is ’n rukkie later huis uit en het lank gaan stap, ten spyte van die reën wat by tye redelik hard geval het, so ’n somber, stil en windlose reën wat regaf val.

 

Nadat ons vroeër besluit het waar Mondi begrawe moet word, is Marinus verskeie kere gedurende die dag agtertoe om by Mondi te gaan sit, waar hy haar op die tafel neergelê het. Hy het kort-kort aan haar voetjies gevat of oor haar koppie gestreel. So ongeveer drie-uur het hy die boonste laag halfverteerde kompos in die agterste hoek begin wegskil en ’n graffie daar met die koevoet dieper gemaak. Ek het bietjie raad gegee, maar was eintlik maar daar om by hom te wees. Toe hy bevestigend knik, het ek vir Christiaan gevra om vir Rinie te gaan roep. Dit het toe weer begin reën. Marinus het weer by Mondi gaan sit en ek kon sien sy gemoed was baie vol, maar toe ek hom vra of ons moet wag totdat die reën ophou, het hy net sy kop geskud. Ek het gesê hy moet Mondi se ogies toedruk, maar ek kon nie sy antwoord hoor nie.

 

Hulle het met die groot blou sambreel uitgekom en ons was stille toeskouers toe Marinus vir Mondi in sy arms na die graffie dra en haar saggies neerlê. Marinus is huis-in en ons het elkeen ’n blomtakkie bo-op Mondi neergelê. Toe Marinus terugkom, het hy ’n briefie op haar neergesit, saam met sy blomtakkie. Toe het hy versigtig met die graaf van die oranje kleigrond oor haar gesprei. Al wat ons in die stilte kon hoor was sy sagte snikke. En hy is nie een wat sy gevoelens wys nie. My kind, my arme kind...

 

 

 

Baie jare later, toe Marinus weer hierdie ode aan Mondi lees, het hy die volgende vir my geskryf:

 

22 April, 2025 2:40

 

Hallo Pa

 

Baie dankie vir die nuwe uitgawe. Ek geniet dit altyd om te lees oor Pa en ons lewens van ver terug. Ek het sommer nou weer van voor af gehuil toe ek daardie stuk lees oor Mondi. Ek het 'n kopie gemaak van daardie briefie wat ek in haar graffie gesit het, en dit gehou deur die jare. Het dit nou gaan opgrawe:

 

 

 

  My vriend van vele jare

Lê teen die swembad wal soos ou verrotte blare

Nie meer lewend en vol van gees

Wanneer dit by harte kom was jy 'n reus

As ons maar jou glimlag kon sien

Sou ons jou ooit daarsonder herken?

As ons maar jou woorde kon hoor

Watter lesse lê in jou hart versmoor?

Maar net jou oë het getuig

Van die liefde en lewe wat in als is wat bewe

Die ewige optimis

Hoe ons jou sal mis

Hoe sal ons ooit jou waarde meet?

Jy wat ons nooit sal kan vergeet.

 

Liefde 

Marinus

 

 
 
 

Comments


bottom of page