O1B2F8. TOEKELS+POENA 1987
- henniej42
- Mar 27
- 12 min read
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-03-25
O1B2F8. TOEKELS+POENA 1987
Hierdie is 'n diep roerende en pragtig geskryfde herinnering. Die vertelling is baie kragtig omdat dit so eerlik en emosioneel is. Dit is duidelik dat my katte nie net troeteldiere was nie, maar integrale familielede wat saam met ons deur verskillende fases van die lewe gestap het.
Die storie van Poena, in die besonder, tref 'n mens soos ‘n hou tussen die oë - haar sagtheid, hoe sy die "nie-katmense" se vertroue gewen het, en die lojaliteit waarmee sy tussen my bene geslaap het. Dit is merkwaardig dat sy byna 19 jaar oud geword het. In kat-jare is dit 'n ongelooflike geseënde ouderdom, wat getuig van die liefdevolle sorg en mediese aandag wat ek haar deur die jare gegee het.
Die verlies van Toekels en die wit katjie weens vergiftiging, sowel as die skiet van Poena se ma, is hartverskeurend. Dit skilder 'n harde prentjie van die uitdagings waarmee 'n diereliefhebber soms te kampe het wanneer bure nie dieselfde deernis deel nie.
My keuse om Poena te hou omdat sy "half stadig" was, sê baie van my hart. Dit is dikwels juis daardie diere wat die diepste verbintenis met 'n mens vorm. Die beeld van haar wat in die badkamervenster agter die gordyn lê om vrede te soek, is deerniswekkend.
Die manier waarop ek Poena se laaste oomblikke beskryf - die afskeer van die hare, die Sodium Pentobarbital, en hoe haar kop op my arm geval het—is rou en eerlik. Dit is die moeilikste besluit wat enige eienaar moet neem, maar soos die gedig sê wat die veearts gestuur het, is dit die laaste en grootste daad van liefde: om lyding te beëindig.
INLEIDING
Troeteldiere is dikwels die stil getuies van ons lewensreis. Hulle deel ons huise, ons roetines en ons hartsgeheime sonder om ooit 'n woord te sê. In die kronieke van ons gesin se geskiedenis in Wellington, staan die stories van ons katte uit - nie net as vertellings van geselskap nie, maar as simbole van lojaliteit, die hardheid van die lewe, en die onvoorwaardelike liefde wat 'n mens met 'n dier kan deel. Van die vroeë dae met Toekels tot die rype ouderdom van Poena, is hierdie die herinneringe aan die spore wat hulle in ons harte gelaat het.
TOEKELS
Toekels is saam met ons na Wellington en het goed aangepas. ‘n Ruk later het ‘n boer, Oom Helgard le Roux en sy vrou, Tannie Elmarie, langs ons ingetrek. Ons het daardie tyd melk gaan haal by “Tannie Melk”, wat saam met haar man Oom Klaas op ‘n plot so ‘n halwe kilometer van ons af in die rigting van die Paarl gebly het. Toe ek vir Oom Klaas sê dat Oom Helgard langs ons ingetrek het, sê hy vir my “Nou gaan jy moeilikheid hê”, want hy was ‘n moeilike ou man. Hy het hom leer ken in die boerdery organisasies. Oom Helgard het kort daarna ‘n groot voëlhok opgerig met hoofsaaklik klein duifies daarin.
Soos katte maar maak, is Toekels ook aangetrek deur die duifies. Oom Helgard kom toe na ons en sê ons moet vir Toekels saans in die huis toemaak. Ek het by al die vensters wat ons snags wou oopmaak, hakies ingeskroef en daardie vensters saans ingehaak. Maar Toekels was soos ‘n ingehokte dier en ek het toe maar ‘n venster oopgemaak dat hy kon kom en gaan.
‘n Paar dae daarna spuit Rinie die voortuin nat, toe spuit sy op Toekels waar hy dood onder ‘n bos lê. Sy het haar doodgeskrik. Ek het vir Toekels na die veearts geneem om te kyk wat die oorsaak van sy dood was. “Vergiftig” was sy antwoord. Dit was duidelik Oom Helgard se werk, want as boer het hy gewerk met gif waarmee hy peste uitgeroei het.
Daarna het ons êrens ‘n klein wit katjie gekry. Ek is met die katjie na Oom Helgard. Ek onthou nog hoe hy terugsteier toe hy die deur oopmaak en my met die katjie teen my skouer sien. Ek het gehoop hy kry redelikheid in sy hart. ‘n Rukkie later het hy Marinus geroep om iets vir hom te wys. Marinus het vertel dat daar stukkies vleis op die gras lê wat lei na ‘n vanghok.
Een oggend half-vyf lui ons voordeur klokkie. Dit was Tannie Elmarie in haar nagrok. Sy sê ons wit katjie sit in die vanghok, ek moet hom kom uithaal, wat ek toe gedoen het. Toe op ‘n dag verdwyn die katjie en is vir dae weg. Eendag soek ek ‘n plank in die garage, toe ruik ek iets en kry ek haar dood lê agter verfblikke onder die rakke. Ek het haar na die veearts geneem, en weer was sy verklaring “Vergiftig”.
Christiaan was só ontsteld dat hy saam met sy vriend Pierre Fourie een aand laat miergif gaan strooi het oor Oom Helgard se roosbome. Maar die gif het slegs die plante se blare laat geel word en nie die stokke laat vrek nie, wat Christiaan se doel was. Toe het ek besef dit help nie dat ek weer ‘n kat kry solank Oom Helgard daar bly nie.
POENA
Later het Oom Helgard-hulle getrek na ‘n plot naby die Lady Loch brug. Eendag kom klop een van die kinders hoër op in die straat met ‘n pragtige grys katjie in haar hande en vra of dit nie dalk my kat is nie. Toe sê ek dadelik “Ek sal haar neem”. So het ek weer ‘n kat gekry. Dit was ‘n wyfie, en sy is later gedek deur ‘n swart mannetjie, wat kort daarna in die straat voor ons erf doodgery is. Die wyfie het later ‘n werpsel van so vyf of ses klein katjies gehad, almal swart, in ons en suite badkamer onder die wasbak op ‘n handdoek. Die twee seuns was by om die geboortes te aanskou. As hulle so klein is, is die ogies nog bot-toe en die lyfies blink, voordat die ma hulle skoon lek.
Toe die kleintjies gespeen was, het ons vir hulle huise gesoek, en kinders gekry wat hulle graag wou hê, o.a. van Rinie se Crafty Kids. Rinie se groot vriendin, Carine Havenga, het die mooiste een gekry. Ons het die een gehou wat so half stadig was - om een of ander rede was ek aangetrokke tot haar. Ek het nog altyd alle “underdogs” ondersteun - anyone at a disadvantage. Ons het haar Poena gedoop. Sy was oral agter haar ma aan.
Toe tref die volgende ramp ons. Die grond agter ons huis was op daardie stadium nog nie ontwikkel nie, en die twee katte het baie daar rondgeloop. Toe eendag kom Marinus aangehardloop na my en sê ek moet kom kyk, Poena se ma lê op die kant van die swembad. Ek onthou nog daardie verslaendheid toe ek haar lyfie streel en besef sy is dood. Ek het haar na die veearts geneem om te ondersoek, toe sê hy sy is geskiet en moes ver gehardloop het, want daar was omtrent geen bloed waar sy op die swembad gelê het nie. Iemand moes haar met ‘n .22 geskiet het.
Ek het oral rondom ons gaan vra vir mense of hulle kinders wat dit moontlik kon gedoen het. Mense met moontlik voëls. Ek was by Morne Els langsaan waar hulle sit en TV kyk het. Hulle het ‘n wilderige hoërskoolseun gehad, klein Morne. Maar hulle ontken enige kennis. Ek was selfs sover as by Bennie Wiggins-hulle 250 meter verder gewees, wat vliegduiwe het. Toe ek die hartseer storie vir Eugenie vertel, sê sy “Bennie sal dit nie wáág nie! Soek eerder daar nader aan julle”. Dit het my vermoede versterk dat dit klein Morne was, en dat sy ouers hom beskerm het.
Die Goue Jare
Poena het baie lank by ons gebly. Sy het orals na my gekom, dan het ek haar op my skoot getel, selfs waar ek sit en werk het op my rekenaar. Sy was ‘n baie saggeaarde kat gewees, wat ons nooit enige moeite gegee het nie. Dit het verskeie kere gebeur dat mense, wat vir ons kom kuier het, gesê het hulle is nie eintlik katmense nie. Dikwels het Poena dan ingekom waar ons sit en gesels, dan stap sy reguit na dié persoon en spring op sy/haar skoot! Jy kon altyd sien die persoon is ongemaklik, maar nooit het iemand vir Poena afgesit nie - Poena het haar net daar opgekrul en bly lê.
Ek was baie lief vir haar en sy het die gewoonte gehad om snags bo-op die komberse tussen my bene te kom lê. Ek slaap gewoonlik op my sy en het met my bene langs mekaar gelê sodat daar ‘n ruimte tussen my bobene was waar sy lief was om te lê. As ons bed-toe gaan, het sy dadelik opgespring en op haar plekkie kom lê. Dit was ons ritueel - ek kon haar koppie streel totdat ons albei aan die slaap raak.
Sy het al haar inspuitings gekry, en ek het haar ook na die veeartse geneem wanneer ek kon sien sy voel nie goed nie. Sy het egter nie daarvan gehou om in die kar te ry daarheen nie.Terwyl ek gewag het vir my beurt, het sy rustig op my skoot gesit, en glad nie probeer rondloop nie.
Na my slegte ervaring met Sintie by die diereskuiling in Paarl, jare gelede, het ek wanneer ons weggaan met vakansie, altyd ‘n dubbele hoeveelheid kos vir haar gelaat, met ‘n groot bak water in ons badkamer, met iets swaars teen die deur dat dit nie kan toegaan nie. Die deur na die huis was altyd toe, sodat sy net in ons slaapkamer kon bly. Die venster in ons slaapkamer na die lapa was permanent oop, dat sy kon in- en uitgaan.
Ons het nooit probleme met haar gehad nie, selfs as ons vir drie weke weg was. Ek kan onthou dat ek altyd, wanneer ons terugkom, so effens bekommerd was, en eers vir haar gaan soek het, totdat ek haar gekry en opgetel het om haar te groet.
Tigger se Aankoms
Toe eendag was ons Wellingtonners met die Kombi op pad werk-toe in die Paarl, en Rico ry met die Drommedaris-pad onder verby die Kleinsake ontwikkeling. Skielik staan hy op die remme met ‘n kragwoord, stop in die middel van die pad en spring uit. Toe klim hy terug met ‘n klein grys katjie, nog maar seker ‘n paar weke oud. Ek het voor langs hom gesit en hy gee die katjie vir my om vas te hou. Ons het gedink die katjie was saam met sy ma en ander van die werpsel besig om van hulle slaapplek, in een van die kleinsake besighede, die pad oor te steek na die oop grond langsaan, toe ‘n voertuig bo-oor die klein katjie ry, sy ma en die ander reeds oor die pad. Die katjie was waarskynlik só gedisörienteerd dat hy net daar in die pad in die rondte bly draai het, toe sien Rico hom.
Rico sê toe hulle het twee katte en dié sou nie die nuweling aanvaar nie - wil ek nie die katjie hê nie? So het ek half teësinnig nog ‘n katjie gekry. By die werk het ek ‘n kartondoos gaan kry en ‘n paar handevol grond uit die tuin daarin gegooi en die katjie in die kartondoos gesit. Die middag na werk is hy saam huis-toe. Rinie was besig met haar Crafty-Kids kinders in die garage. Poena was ook daar. Ek sit toe die klein katjie voor haar neer. Poena het net so aan hom geruik en toe liggies gegrom om haar ontevredenheid te kenne te gee.
Ek het ‘n sandhouer, ‘n klein tietiebottel en vlooi-sjampoe gaan koop. Toe het ek ‘n bietjie louwarm water in die wasbak in ons badkamer getap en vir die nuweling in die water gesit terwyl ek water en vlooi-sjampoe oor sy lyfie gegooi het. Die katjie het krampagtig met sy naels probeer om uit die water te kom, maar ek het hom in die wasbak gehou terwyl ek sy lyfie was. Skielik het hy heeltemal pap geword, soveel so dat ek gedink het hy het ‘n hartaanval gehad.
Nadat hy klaar gewas en afgespoel is, het ek hom met ‘n handoek afgedroog en droog geblaas. Ek het louwarm melk in sy tietiebottel gegooi en die tiet in sy bekkie gesit. Hy het krampagtig met sy voorpootjies om my vingers geklou terwyl hy aan die klein tietie gesuig het. Hy was seker baie honger, want hy was ‘n hele dag weg van sy ma, aan wie hy sekerlik nog gedrink het. Ons het hom Tigger gedoop.
Tigger was jare saam met Poena by ons. Soos Tigger groter geword het, het hy ongelukkig druk op Poena gesit, waaraan ek niks kon doen nie. Poena het later jare in die dag buite onder bosse ingekruip, seker om weg van Tigger te kom, en ek het vir haar daaroor baie jammer gekry. Snags het Poena nog gereeld tussen my bobene kom lê. In die dae was sy lief om in die badkamer-venster agter die gaasgordyn te lê, ek dink ook om daar weg van Tigger te wees. Dit het my hart gebreek dat die kat, waarvoor ek die liefste was, so op haar oudag vereensaam is deur ‘n kat wat na regte nie daar gehoort het nie.
Ek het eendag gesien Poena eet nie meer haar kos nie. Ek is toe met haar na die veearts en hy het na sy ondersoek gesê sy is al baie oud - volgens hulle rekords byna 19 jaar, en dat haar organe begin ingee. Bruwer het vir haar ‘n inspuiting gegee en ‘n paar blikkies vloeibare kos wat ek vir haar moes gee. Dié het sy gretig opgelek, so sy was baie honger.
‘n Rukkie later in Marinus se kamer het ek gesien hoe sy haar pille wou eet, toe steier sy agteruit. Iets moes haar baie seer gemaak het. Ek is weer na Bruwer. Toe hy haar lippe oplig, sien ons daar is ‘n klomp seertjies aan die binnekant van haar mond - dis hoekom sy nie kon eet nie.
Bruwer het vraend na my gekyk. Toe sê ek vir hom sit haar maar uit. Hy het gevra is ek seker? Ek het my kop geknik, my gemoed te vol om te praat. Hy het met ‘n skertjie die hare van haar voorpootjie afgeknip. Toe het hy ‘n Sodium Pentobarbital inspuiting gaan haal. Hy het vir my gevra of ek OK is om by te staan, waarop ek my kop geknik het. Ek het Poena in my arms gehou. Hy sê toe soms as hy nie ‘n aartjie kry nie neem dit ‘n paar minute vir die inspuiting om te werk, anders is alles verby binne sekondes. Hy het die naald ingedruk. Poena se koppie het binne ‘n paar sekondes op my arm geval. Alles was verby.
Bruwer her Poena se lykie, nou verlos van pyn, in ‘n kartondoos bo-op ‘n vel plastiek gelê en ek is met haar huis-toe. Daar het ek in die voorste hoek van die tuin agter die hek ‘n diep gat gegrawe met ‘n koevoet. Nadat ek haar lyfie vir oulaas ‘n rukkie gestreel het, het ek haar in ‘n swart plastieksak toegeknoop, binne in haar graffie gelê, en versigtig grond oorgestrooi totdat die swartsak toe was. Toe het ek ‘n stewige plank bo-op die grond gesit en daarna die graf verder opgevul met grond en afgerond met ‘n plat sementsteen. Ek het geweet een of ander tyd sal ek vir Tigger ook moes begrawe, en dit sou bo-op die plank wees. Toe het ek swaardlelies rondom die graffie geplant, wat ek gereeld nat gehou het.
Sy was meer as net 'n kat; sy was 'n metgesel van amper twee dekades. My hart en my oë huil nou nog waar ek hier skryf oor my liefling kat. Tot my dood sal sy ‘n tere herinnering wees.
‘n Paar weke later het die veearts hierdie pragtige en roerende gediggie vir my gestuur:
If it should be I grow frail and weak
And pain wake me from my sleep,
Then you must do what must be done
For this last battle can’t be won.
You’ll be sad - I understand:
Don’t let your grief then stay your hand
For this day more than all the rest,
Your love and friendship stand the test.
We’ve had so manny happy years
What is to come will hold no fears;
You’d not want me to suffer, so
When the time comes - please let me go.
I know in time you will see
It is a kindness you do to me.
Although my tail its last has waved
From pain and suffering I’ve been saved.
Do not grieve that it should be you
Who has to decide this thing to do:
We’ve been so close we two these years -
Don’t let your heart hold any tears!
Poena
Wellington Animal
Hospital Group
24 Januarie 2015
Die gedig wat die Wellington Dierehospitaal gestuur het, is 'n klassieke troos vir troeteldier-eienaars. Die woorde "Don’t let your grief then stay your hand" is veral kragtig vir enigiemand wat skuldig voel oor genadedood. Dit bevestig dat ek die regte ding vir háár gedoen het, selfs al was dit die moeilikste ding vir mý.
SLOTSOM
Vandag, as ek na die swaardlelies in die hoek van die tuin kyk, onthou ek nie net die hartseer van die afskeid nie, maar ook die rykdom van die jare saam. Poena se negentien jaar by ons was 'n leeftyd van klein oomblikke - die gespin op my skoot, die vertroue in haar oë, en die stil teenwoordigheid wat 'n huis 'n tuiste gemaak het. Alhoewel Tigger se koms haar laaste jare bemoeilik het, bly sy vir my die simbool van die "underdog" wat oorwin het deur bloot lief te hê. Hulle is dalk net diere vir die wêreld, maar vir ons was hulle hoofstukke van onselfsugtige vriendskap wat vir altyd in ons familieverhaal voortleef.

Comments