O1B2F9. DOBBEL 1995
- henniej42
- Mar 30
- 8 min read
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-03-29
O1B2F9. DOBBEL 1995
INLEIDING
Die lewe loop nie altyd langs die veilige, uitgetrapte paaie van logiese besluite nie. Soms word mens se oordeelsvermoë verblind deur die glans van sukses, die oënskynlike integriteit van 'n bekende vriend, of die aanloklikheid van 'n "gulde geleentheid." In hierdie hoofstuk kyk ek terug op twee spesifieke oomblikke in ons lewe waar ons vertroue misbruik is. Dit is nie maklik om oor eie foute te skryf nie, maar vir die nageslag is dit belangrik om te verstaan dat selfs die mees omsigtige mense slagoffers van gesofistikeerde misleiding kan wees. Hierdie is die verhaal van hoe charisma en ryk verbeeldings ons duur te staan gekom het.
Die Sarel du Toit-piramide
Rinie het so ‘n effense dobbel-streep in haar. Miskien kom dit van haar Pa. Sy het vertel dat hy altyd ‘n paar Rand op ‘n perd in die Durban July gesit het, wat elke jaar op die eerste Saterdag van Julie gehou word. Sommer vir die pret. Dan het hy ook vir elke kind 50 sent gegee om dit ook op ‘n perd te sit.
Toe Rinie haar Crafty Kids franchise gehad het, is sy feitlik uitsluitlik met kontant betaal. Periodiek is sy met die klomp note Standard Bank toe om dit in haar spaar-rekening te betaal.
Ons het van vroeër af vir Sarel du Toit geken. Hy was ‘n ekstrovert met ‘n oop hand en ‘n baie goeie versekerings-makelaar. Hy het o.a. ‘n groepspolis aan die Wellingtonse munisipale wernemers beding met ‘n versekerings-maatskappy. Sy kantoormure was oortrek met toekennings van al die groot Suid-Afrikaanse versekerings-reuse soos Sanlam, Ou Mutual, en Liberty, vir sy uitstekende polis prestasies. Sy integriteit het bo verdenking gelyk, so ek het alle rede gehad om sy opregtheid te glo en in sy kennis van sy vak. Hy het ook ruim bydraes gemaak aan die Moederkerk, Silwerkruin ouetehuis, Wellington Diens-sentrum, en die Murray Kinderhuis, om maar net ‘n paar te noem.
Die dag toe hy in sy BMW in ons voortuin stilhou en Rinie oortuig om haar Crafty Kids-geld eerder by hom te belê vir "beter rente as die bank," het die pad na 'n groot verlies begin. Hy het uit sy kar gespring en Rinie vrolik gegroet. Nadat hy ‘n rukkie met haar gesels het, vra hy haar wat maak sy met al die geld wat sy met Crafty-Kids verdien, wat ongeveer R3,000 per maand was. Toe hy hoor sy bank dit in haar spaarrekening, sê hy sy moet dit vir hom gee - hy kan vir haar baie meer rente gee as die bank. Rinie was eers huiwerig, maar het toe tog ‘n deel van die geld vir Sarel gegee.
Die eerste maand kry sy geen rente nie, en sê vir hom daarvan. Die volgende maand is daar toe ‘n beduidende bedrag inbetaal in haar spaarrekening, waaroor sy toe natuurlik baie verlig is. Daarna is sy maandeliks na Sarel in sy kantoor en het feitlik al haar kontant netso vir hom gegee. Sy het later gesê hy het haar elke keer so ‘n drukkie gegee, en dan gesê “Waar gaan ons vanaand uiteet?”
Toe sy hom vra hoe hy dit regkry om so ‘n goeie rente te betaal, sê hy dit is omdat hy met warrants werk. Hy wys toe vir haar ‘n elektroniese apparaatjie met ‘n skerm waarop aandelepryse in real life op- en afgaan. Die apparaat is gestel om ‘n alarm te laat afgaan wanneer die betrokke aandeel, wat hy dophou, meer as ‘n sekere persentasie op- of afgaan. Dan skat hy dat daardie aandeel nog verder sal styg of daal, en sit sy skatting in die aandelebeurs in. As hy reg geskat het, maak hy ‘n wins; as hy verkeerd was, ‘n verlies. Hy het vertel dat hy onlangs ‘n bod ingesit het vir R200,000 dat Dimension Data, ‘n top IT maatskappy, gaan styg. Toe daal DiData, en hy verloor die R200,000. Hy bly toe op DiData, en sit ‘n bod in vir R300,000 dat dit verder gaan daal. Toe val DiData se aandeelprys en hy maak R300,000. Sjoe, dis groot geld, en só vinnig!
Rinie het aangehou om haar ±R3,000 maandeliks vir Sarel te gee, waarop sy toe honderde rande se rente betaal is. Sy het ook van haar ander geld wat belê is vir hom gegee. Christiaan het ook sy geld vir Sarel gegee, o.a. ook die paar duisend rand wat hy verdien het deur die groot huis van Emsie net skuis oorkant ons te verf. Hy het ook Sarel se groot huurhuis op die punt van Blouvlei-weg geverf. Dié geld het hy alles vir Sarel gegee. Ek het een keer Rinie se geld na sy huis geneem, toe speel hy vir my van sy musiek deur sy baie duur klank stelsel, baie hard en mooi.
Toe eendag na werk by Paarl Munisipaliteit, terwyl almal met die trappe afgaan, sê Sam de Kock vir my “Sarel is oorlede”. My hart het so ‘n ruk gegee, maar toe onthou ek Sarel het vir Rinie ‘n geskrewe sertifikaat gegee dat, as hy sou dood gaan, sy ‘n gewaarborgde eis teen sy boedel sou hê. Blykbaar het hy selfmoord gepleeg deur ‘n oordosis slaappille te drink.
Kort voor sy dood het Christiaan R30,000 vir hom gegee, en vir een of ander rede het ek ook ‘n R30,000 tjek vir hom gegee, die enigste keer wat ek vir hom geld gegee het. Christiaan het ook vir Marinus aangepor om ook sy geld daar te belê, maar gelukkig is hy meer versigtig van aard en het niks belê nie.
Die gebeure het toe vinnig opmekaar gevolg. Sarel het gebank by Standard Bank, maar die bank het geweier om sy boedel te beredder. Ek kan onthou dat daar ‘n geregtelike ondersoek was, waar almal wat geld by Sarel belê het, teenwoordig moes wees. Ons het die banke vol gesit by die landdroshof. Sarel se predikant wat oorkant hom gebly het, is ook oorreed om baie geld te belê. Die dominee het aanhoudend gesê “Sarel was my vriend. Hy sou dit nie aan my gedoen het nie.”
Willie le Roux was ook een van Sarel se vriende, wat baie geld by hom belê het. Ek kan nog onthou dat Willie, wat reeds baie geld by Sarel belê het, sy hele pensioen van R1,500,000 by hom wou belê. Toe sê Sarel vir hom “Wil jy nie liewer dit op ‘n ander plek belê nie?”. Waarop Willie toe vir hom sê ”Waar sal ek soveel rente kry as by jou?” Willie belê toe sy hele pensioen.
Dit het na die hofsaak uitgekom dat dit ‘n “ponzi” piramide skema was, waar Sarel gedurig nuwe kliente moes kry en van hulle inbetalings gebruik het om die sogenaamde “rente” van vroeëre kliente te betaal. Hy het blykbaar weelderig gelewe, ‘n duur boot gehad, en ook aansienlik gedobbel.
Ons dink wat aanleiding tot sy selfmoord gegee het, was dat hy nie kon bybly met sy “rente” betalings nie. Hy het gedurig oral in die Boland nuwe kliente gesoek, en ‘n paar boere van die Swartland het hom glo gedreig om hulle geld “nou dadelik” terug te betaal. So het sy paadjie doodgeloop.
Bankrotskaps-advokate is aangestel, en almal wat die sogenaamde “rente” ontvang het, moes die volle bedrag terugbetaal. Hulle het volledige bankstate getrek van almal en daarop alle inbetalings vanaf Sarel gemerk. Ons drie se gesamentelike bedrag belê was sowat R160,000: Rinie R60,000, Christiaan R30,000 en ek R30,000 - die ander R40,000 was die sogenaamde “rente”.
Toe ons hulle vra wat ons sal terugkry, het hulle gesê sowat 80%. Ek dink op die ou end het ons slegs R26,000 teruggekry. Sarel se piramide skema het R26 miljoen ingesluk. Die oorgrote deel daarvan was eenvoudig net weg. Die Bankrotskaps-advokate het slegs ‘n gedeelte hiervan kon terugkry van die beleggers.
Die "Vrotmelk-koning" en die Garies-projek
‘n Tweede bedrogspul waarin ons beland het, was met die berugte “vrotmelk” koning, Andre Nienaber. Asof ons nie genoeg verloor het deur Sarel nie, het ons reageer op ‘n advertensie op TV, waar Andre beloftes gemaak het van ‘n ontwikkeling in die Noord-Kaap, op ‘n plaas naby Garies.
Die eerste vergadering was in ‘n besigheids-sentrum in Wellingtonstraat, Durbanville . Daar was seker tussen 100 en 200 mense. Voor het Andre se dogter, ‘n prokureur, gesit. Sy was die voorsitter, en daar was ook ‘n le Roux, wat rekenmeester was. Andre het tussen die mense gesit. Die voorgestelde projek is toe d.m.v. ‘n Powerpoint vertoning aangebied, wat beeldmateriaal gewys het van die plaas, waar swaar metale gevind is.
Andre-hulle het groot planne gehad om die swaar metale met ‘n oopgroef myn te ontgin. Aanvanklik sou die resultaat met groot vragmotors na die naaste spoorweg-stasie geneem word, totdat ‘n spoorlyn aangelê is na die plaas. Hulle wou dit uitvoer via Saldanha-hawe na die buiteland, waar daar ‘n groot vraag op daardie stadium was. Daar is ook bespreek hoe ons daaraan kon deelneem. Daar is besluit op ‘n naam vir die firma - ek kan dit nie onthou nie, kry dit ook nie onder “Andre Nienaber” nie, so dit was blykbaar nie gereken as ‘n bedrogspul nie. Later het hulle ‘n swart vennoot bygekry, soos vereis deur die wet, maar met al die vergaderings waar hy teenwoordig was, het hy nooit iets gesê nie - net daar gesit.
Ons het deelname vorms geneem, en nadat ons dit by die huis bespreek het, “Hy lyk so ‘n goeie man”, het albei van ons ‘n bedraggie geld inbetaal - ek dink nie dit was ooit meer as ‘n paar duisend rand nie. Ek dink die vergaderings was so elke ses maande, wanneer hulle ‘n vorderings-verslag gegee het. Die maatskappy het self onderling die verhandeling van hul aandele hanteer. Omdat die prys per aandeel gesak het na R1, het ek dit gesien as ‘n geleentheid, en R2,000 se aandele by ‘n ou tannie van die Weskus gekoop.
Nadat daar min vordering was weens o.a. verslegtende wêreld markte, waartydens staal se pryse baie gedaal het, is besluit om die hele besigheid te verkoop aan Exxaro, ‘n top steenkool-produserende Suid-Afrikaanse maatskappy. Andre het belowe dat almal wat geld belê het, hulle geld sou terugkry. Rinie het al haar geld teruggekry, maar ek het so R1,500 verloor. Dit was voor die Covid-19 pandemie van 2020.
In 2018 het Andre ‘n plan van stapel gestuur onder die naam “Eureka”, om op die plase Klipkuil en Dikdoorn in die Kamiesberg munisipaliteit erwe te verkoop in ‘n sekuriteitsdorpie, slegs vir Afrikaners. Omdat dit nie voldoen het aan die bouregulasies nie, en ook ‘n ongelisensieerde aandelemark was, is dit later in 2023 gelikwideer. Dit is tipies Andre Nienaber - hy het ‘n baie ryk verbeelding om gapings in wetgewing te sien en dit uit te buit.
SLOTSOM
Dit is ‘n slegte getuigskrif vir ons oordeels-vermoë, om besigheid aan te gaan met ‘n bewese bedrieër. In die 1980’s het hy Kubus bedryf, die sogenaamde “vrotmelk skema”, waarin mense oor die hele land R140 miljoen belê het. Die Staat het dit gestop as ‘n onwettige lotery.
Om besigheid te doen met figure wat later as bedrieërs ontmasker word, laat 'n mens met baie "as ek maar net geweet het"-gedagtes. Tog leer hierdie ervarings 'n mens dat integriteit nie gemeet word aan die toekennings teen 'n kantoormuur of die grootte van 'n skenking aan die kerk nie. Dit herinner ons ook dat "vinnige geld" selde sonder 'n donker kant kom. Mag hierdie skrywe vir my kinders en kleinkinders 'n waarskuwing wees: wees waaksaam, vra vrae, en onthou dat as iets te goed klink om waar te wees, dit gewoonlik is.

Comments