top of page
Search

O1B3F1. VERKIESING 1994

  • henniej42
  • Apr 1
  • 16 min read

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-03-31

 

O1B3F1. VERKIESING 1994

 

 

'N REIS DEUR TYD EN HERINNERINGE

 

INLEIDING

Die lewe word nie gemeet aan die aantal jare wat ons leef nie, maar aan die oomblikke wat ons asem wegslaan, ons laat lag, of ons dwing om diep binne onsself na antwoorde te soek. Hierdie kroniek is 'n versameling van sulke fragmente uit ons lewe in Wellington en die wyer Suid-Afrikaanse landskap. Dit spruit uit 'n tyd van enorme politieke verskuiwing, persoonlike oortuigings en die eenvoudige plesier van gesinswees. Deur hierdie staaltjies - van die binnekamers van die politiek tot die bloutjie wat ons by 'n skeeps-casino geloop het - skets ek 'n prentjie van 'n wêreld wat was, sodat die wat na my kom, kan verstaan waar ons vandaan kom.

 

 

DIE BESOEK VAN DR. PIET KOORNHOF

In 1994, voor die verkiesing van 27 April, het ons gewonder of ons een van ons politieke leiers kon nooi om ons te kom toespreek. Ons het gedink aan FW de Klerk, maar hy sou te besig wees. (Gister het ons gaan kuier by Gerrit op sy 87ste verjaarsdag, en toe ek vir hom vertel hiervan, sê hy ons moes vir FW gevra het - hy sou gekom het.) Toe dink ek aan Dr. Piet Koornhof, SA se voormalige ambassadeur by die VVO. Hy het baie ondervinding en kennis van wat in die binnekring van die NP aangaan. Ek het dit bespreek met Gerrit, en ons was altwee positief.

Toe ons die gedagte voorlê aan die groep was Pieter Benade baie ontsteld, want Dr. Koornhof het toe ‘n verhouding gehad met Marcelle Adams, ‘n kleurlingmeisie wat vir hom gewerk het. Sy het ‘n babatjie gehad, en mense het gewonder of dit syne is. Pieter het gesê die NP ministers was soos helde vir hom, en Dr. Koornhof was vir hom ‘n verraaier. Ons groep het besluit om Dr. Koornhof uit te nooi om ons te kom toespreek. Hy het dadelik ingewillig en gevra of hy vir Marcelle kon saambring, waarop ek gesê het ja, sy kan die kleinding ook saambring. Hulle het toe nie haar baba saamgebring nie.

Sy kon maar, want ons het 'n fantastiese aand gehad. Maar, soos baie van die ander dinge wat ek van hom ondervind het die afgelope paar weke, is hy, en dan ook sy, mense wat bedagsaamheid teenoor ander mense uitlewe. Dis vir my ongelooflik. Dat Dr. Koornhof soveel hoflikheid, agting en inskiklikheid teenoor ander mense betoon. Ek weet dit, want hy het dit teenoor my betoon, en hy ken my van geen Adam se kant nie.

Verseker is dit nie al sterk punt in sy karakter nie, want geen persoon kom waar hy gekom het sonder baie ander talente ook nie. Ons ondervind hom 'n buitengewoon positiewe mens, helder van verstand, met baie deursettingsvermoë. En hy slaag sommer baie van die Twelve Tests Of Character, uit die boekie van die Amerikaanse filosoof Harry Emerson Fosdick, wat ek van my Pa geërf het. Hy verdien dit. En ek wil dit neerskryf, omdat dit ons gevoelsvlakke raak, iets wat ons met vandag se gejaagde lewe so aanhoudend misken.

Ek het ‘n ruiker van droëvrugte en neute by Versailles Self-Catering gaan koop vir Marcelle. Ek het vir Kobus Victor daarvan vertel en hy was gretig om ook na Dr. Koornhof te kom luister. Pieter en Rika het nie gekom nie. Die aand toe hulle kom het ek hulle gaan inwag by die NG Moederkerk en voor hulle uitgery na ons huis toe. Toe het ek hulle voorgestel aan ons groepslede en Dr. Koornhof gevra om ons toe te spreek oor wat vir ons in die politiek voorlê.

 

Hy het baie onderhoudend gepraat - ‘n mens kon sien hy het geweet hoe om sy woord te doen en hy het geweet waarvan hy praat. Ek het aandagtig na hom geluister. Hy het vertel waar hy vandaan kom, dat hy ‘n Rhodes beurs gehad het om aan Oxford Universiteit in England te gaan studeer, en sy politieke loopbaan by die NP. Toe het hy sy mening gegee oor waarheen hy dink ons op pad was. Toe hy klaar was het ek hom bedank, ook dat hy vir Marcelle saamgebring het en ek het die ruiker vir haar gegee en hulle is na tee en verversings terug Kaapstad toe. Vir my was dit ‘n hoogtepunt, want ek was nog altyd liberaal en sy verhouding met Marcelle het my nie gepla nie. Ek voel blankes en kleurlinge moet nader aan mekaar beweeg. Apartheid is in die verlede.

 

 

PRE-PAID KRAG

In die 1990’s het die Pre-Paid elektriese meters uitgekom. Weens die probleme met mense wat nie hulle munisipale rekeninge gereeld betaal nie, het Hennie Barnard in samewerking met die Elektriese Departement van Mike Creedy en Jan Venter regulasies laat goedkeur dat alle nuwe huise toegerus moes word met Pre-Paid meters. Die tariewe is ook aangepas sodat die meters gratis geïnstalleer kon word in ouer huise - dié meters is oor ‘n jaar se verbruik afbetaal. Pre-Paid kragtariewe is ook effens goedkoper gemaak as dié van die konvensionele meters, om mense aan te moedig om oor te skakel na Pre-Paid meters.

Die groot voordeel vir die munisipaliteit is dat elektrisiteit só vooraf gekoop is, dus was daar geen invorderingskoste op agterstallige elektrisiteits-rekeninge, of meters wat afgesit moes word nie. Wellington het binne ‘n kort tyd baie min konvensionele meters gehad. As enige van hulle wel agterstallig geword het, is hulle konvensionele meters vervang met Pre-Paid meters. Daar was ook geen probleme met die lees van meters op erwe waar daar honde was nie.

‘n Strokie is gedruk met ‘n kode, wat die gebruiker dan insleutel in sy meter binne sy huis. Daar moes ‘n paar plekke in die dorp wees waar Pre-Paid krag gekoop kon word. Hierdie kooppunte was versprei deur die dorp. Een was by die Shell vulstasie in Kerkstraat, wat 24-uur oop is, sodat enigeen te eniger tyd krag kan koop. ‘n Tweede punt was by Midway Supermark in Pentzstraat, naby die munisipale kantore in sentraal Wellington, en ‘n derde punt in die kleurlingdorp Weltevrede, buite ‘n supermark.

Van ons Tesourie personeel wat gewillig was, moes op ‘n gereelde basis die masjiene gaan leegmaak en weer laai met kwitansie rolletjies en ink vir die drukkers, en wanneer daar ‘n probleem was, soos dat die papier verstop het, moes ons dit gaan oplos. Op hierdie manier het ons redelik bekend geraak onder die mense wat elektrisiteit kom koop het. Ons het ook buite gewone ure elektrisiteit verkoop by die munisipale kantoor se kassierpunt.

Hennie Barnard het gou agtergekom dat daar mense was wat nie hul munisipale rekeninge betaal het nie, maar wel Pre-Paid krag gekoop het. Hy het toe ‘n reël ingebring dat Pre-Paid krag nie verkoop mag word aan mense wie se munisipale rekening uitstaande was nie.

Ek het maar ‘n sagte hart, en dit het dikwels gebeur wanneer ek by die kassierpunt diens gedoen het, dat mense met ‘n sob story gekom het, byvoorbeeld dat sy kind siek is met brongitis en afhanklik is van sy nebulizer. Dan het ek vir hom krag verkoop. Die ander personeel het gehou by Hennie Barnard se reël en dit het wrywing tussen ons veroorsaak. By een vergadering op ‘n Maandag oggend het dit ter sprake gekom en ek het my siening gegee. Toe Hennie aandring dat ek hou by sy reël, het ek gesê “Ek wil nie die oorsaak wees dat ‘n kind doodgaan nie - sal jy?”, waarop hy gesê het hy sal.

 

‘n Paar dae later was ek weer by die toonbank besig om iemand te help, toe sê Machiel ek mag nie vir die ou krag verkoop nie. My moer het oombliklik ge-strip, toe roep ek vir Kola en sê hy moet oorvat, en ek is huis-toe. Dit was die einde van my betrokkenheid by Pre-Paid verkope. Ek het die ekstra geld gemis, maar ek het geweier om teen my oortuiging in te gaan.

 

 

GEBED EN SAMEKOMS

‘n Paar dae voor die verkiesing op 27 April 1994 het die NG Kerk van Suid-Afrika en waarskynlik ander kerke ook besluit om ‘n weeklange 24-uur biddag te hou. Mense wat wou deelneem het toe elk ‘n kwartier of halfuur gekry om te gaan bid vir die verkiesing wat voorlê, dat dit vreedssam sal verloop. Ons gesinsgroep het besluit om eerder saam in ‘n tydblok te gaan bid eerder as een-een apart. Ek dink ons was saam in die Marthasaal van so 23:00 tot 02:00. Elkeen het ‘n beurt gekry om hardop te bid, ook in stilgebed. So ongeveer 01:00 kom Prof. Jaap Furstenberg stil daar in en gaan sit. Toe hy bid kon ‘n mens sy opregtheid aanvoel en ons het geweet hy is eenvoudig in ‘n heel ander klas van diep gelowigheid.

By ‘n ander geleentheid het ons kerk ‘n fondsinsameling gehad en almal kon geld leen by die kerk om mee te woeker om so met een of ander projek geld te maak vir die kerk se fondse. Ons het besluit op ‘n snoekbraai. Dit het effens gereën en ons besluit toe om onder Laboux se groot afdak agter hulle huis in Bainstraat te braai. Ons het bestellings gekry, die snoeke gekoop en ook witwyn wat daarmee saamgegaan het.

Toe die wyn min raak, het Gerrit en ek ‘n 25 liter plastiekkan by Agrimark gaan koop en dit laat volmaak by Wamakersvallei wynkelder in Stokeryweg. By die braaiery het ons natuurlik self ook van die wyn gedrink en dit het heel vrolik gegaan daar onder die afdak. Ek dink daar het ‘n glasie wyn saamgegaan met elke snoekporsie wat ons uitgery het. Dit was ‘n baie vrolike geleentheid. So die kerk is ‘n samekoms en hoef nie ‘n stywe affêre te wees nie.

 

 

 

DIE LAPA EN DIE SWEMBAD-FIASKO

Aanvanklik het ons naweke gebraai onder ‘n groot wit-en-blou sambreel voor Marinus se venster op die gras, maar die hitte het sommer dwarsdeur daardie sambreel gebrand. Toe het ons gedink aan ‘n lapa, soos wat ons gesien het by ons Transvaalse familie, veral Vos s’n, wat aan die een kant laag afgekom het. Ek het ’n skets geteken en toe ‘n modelletjie gebou van karton en dowels. Ons het vir Lucas Quality Thatchers gekry om vir ons die lapa te bou, die hoekpale 6 meter by 4 meter met groot oorhange. Ek wou die sy aan Mike se kant tot omtrent ‘n meter van die grond af gehad het, maar die bouer sê die gewig van die dekriet op daardie lengte sal te veel wees - dan sou die dakpale tot in die grond moes wees. Hy het daardie kant sowat 5 voet van die grond af gemaak, sodat ‘n mens moes buk om daar deur te gaan na die kombuis.

Die oorspronklike plan was dat die deurgang net na die woonkamer sou wees, maar in praktyk het ons baie die deurgang na die kombuis gebruik om kos en skottelgoed aan te dra. Die lapa is gebou voor die swembad, en het R14,300 gekos. Ons het baie keer gesê die lapa is die beste verbetering wat ons nóg aangebring het aan ons erf, want dit was heerlik koel in Wellington se somer hitte.

 

As kuiermense kom, het almal sommer dadelik deurgeloop na die lapa toe. Veral Rinie verlang baie na die lapa. Daar was ‘n jakarandaboom aan Dot se kant en sy skaduwee en die feit dat daardie kant meesal in skaduwee gehul was, het later veroorsaak dat die dekriet aan daardie kant vrot geword het aan die buitekant, en ons moes na so 23 tot 25 jaar die lapa laat oordek. Dit is gedoen deur Highveld Cape Thatchers. Die konstruksie is netso behou, behalwe dat hulle op die lang sye nog twee vertikale pale bygevoeg het, omdat die lang horisontale pale gebuig het onder die gewig van die dekriet en die stof daarin opgegaar. Hulle koste was R34,400, met brandbehandeling, net vir die dekriet.

 

 

Die swembad is in 1995 gebou en het ook ‘n geskiedenis. Ek het op een of ander manier van Koos gehoor, dat hy swembaddens bou. Hy het vir my ‘n hele lêer kom wys van swembaddens wat hy oral in Suid-Afrika gebou het, baie van hulle met sy trademark, ‘n dolfyn embleem. Hy sê toe ek kan by Sunfield Home, die tuiste van o.a. Down Syndrome mense op die Bainskloofpad, gaan kyk wat hy daar gebou het. Ek het daar gaan kyk, en die bestuurder het vir my gesê hy is heeltemal tevrede met Koos se werk.

Ek het vir Koos gevra om vir ons ‘n klein swembad te bou, 6 meter x 3 meter x 1 1/2 meter diep dwarsdeur. Koos het seker so 2 of 3 werkers gehad wat die uitgraafwerk gedoen het. Die grond was ‘n harde geel klei en dit het lank geneem. Op daardie stadium was daar nog niks agter ons gebou nie, net oop plaasgrond, en hulle het die klei net verder weggery met kruiwaens, want daar was ‘n hoop waar die kinders later gespeel het.

Toe kom Koos met ’n slinkse plan, Hy sê dis nie nodig om ‘n sement muur om die swembad te bou nie. Hy het verskeie kere hardboard gebruik, want, sê hy, die hardboard word bedek met glasvesel en hars wat die water inhou. Ek was skepties hieroor, maar hy het my verseker dat hy dit al verskeie kere só gebruik het met geen probleme. Toe gee ek maar in. Groot fout. 

Op daardie stadium was die bouproses al baie uitgerek sodat ek moedeloos was. Hy kom eers omtrent half-elf by ons aan van Kuilsrivier af en ry alweer half-vyf. Ek sê toe vir hom dat hy by ons kan slaap sodat hy net die bad klaar kan maak, maar hy was nie hiervoor te vinde nie, want sy vrou het hom glo nodig.

Hy het op daardie stadium ‘n ou Cortina stasiewa gekoop waarmee hy sy werkers, houtsparre, dromme met hars en rolle glasvesel aangery het. Toe raak sy petrol op langs die R44 pad. Ek het hom gaan insleep tot by ‘n petrolpomp in Wellington en nog vir hom petrol ook ingegooi, want hy het nie geld gehad nie. Daar wou die Cortina toe nie vat nie. Toe sleep ek hom met sy vrag na ons huis, teen daardie steil bult op van Mont Pellierlaan. Ek was bekommerd dat ek die Passat se koppelaar dalk seergemaak het.

Hy gebruik toe 2 x 3 houtsparre om die kante van die swembad, waaraan hy toe die hardboard vaskap. Ek het gewerk gedurende meeste van die tyd toe hy gebou het, en sien toe net die eindproduk, wat nie sleg gelyk het nie - ek wou nie sy trademark dolfyn embleem hê nie. Hy het die trappies gebou soos ek dit wou hê. Toe word die swembad vol water getap uit die tuinslang - ek het eers baie later gehoor dat ‘n mens die Munisipaliteit kan vra om met ‘n tenkwa jou swembad vinnig vol te tap. Alles lyk toe reg en Koos is weg met sy geld.

‘n Ruk daarna reën dit redelik baie. Ek stap eendag rondom die swembad en skielik langs die lapa kant trap ek my been tot by die lies in langs die swembad se hardboard! Daar was nog nie plaveilsel op daardie stadium om die swembad en onder die lapa nie. Die hardboard  het so ‘n bult gemaak waar my been ingetrap het. Koos was nêrens te vinde nie en ek het in elkgeval geen vertroue meer in hom gehad nie.

Ek het in koerante gekyk vir firmas wat swembaddens bou en herstel, en toe iemand van die Kaap gekry - ek dink hulle was Maleiers. Ek het hulle gevra om die bad oor te bou met sementstene en dit dan met glavesel te bedek. Toe hulle Koos se hardboard verwyder, roep die ou my en sê dat daar nie eens glasvesel op die hardboard was nie - daar was net hars! Die skurk!

Die nuwe span het gou die sementwerk klaar gedoen en die hele bad met glasvesel en hars bedek. Daarna het dit baie jare vir ons goeie diens gelewer. Die kinders het dit baie geniet, veral in die begin. In Wellington se somerhitte was dit lekker om daarin af te koel. Ek het soos gewoonlik meesal onder die water geswem met my oë oop, eintlik net een harde skop teen die een kant, dan trek ek deur tot teen die anderkant.

Om te swem het ek twee metaalring skroewe weerskant van die bad in die middel ingedraai. Ek het twee gate in my swembroek gemaak en met twee fietsrekke myself so vasgemaak, dat ek kan swem sonder om vorentoe te beweeg. So het ek goed oefening ingekry, want die badjie was te klein om werklik te kan swem.

 

Een warm somer-aand laat was Christiaan en van sy vriende nog in die swembad toe ons gaan slaap. Ek het vir hulle gevra om stil te wees, sodat hulle nie die bure pla nie. Omtrent drie-uur die nag word ek wakker van ‘n ontploffing in die stilte. Dis toe Christiaan wat in die swembad gebom het! Hy was maar altyd uitbundig.

 

 

"CRUISE TO NOWHERE"

Rinie wou al lankal met een van die groot skepe van MSC Cruises op ‘n vaart gaan. Dit was ‘n bietjie duur en die populêrste ritte gaan vanaf Durban na die Portugese eilande, naby Mosambiek se hoofstad Maputo, en terug, so ons sou boonop moes vlieg na Durban en terug. Toe sien sy daar is ‘n rit vanaf “Cape Town to Nowhere” - dit is ‘n rit van 3 dae vanaf Kaapstad uit die Duncan Dock, ‘n draai in die diep see en weer terug na Kaapstad. Ek dink dit was so R5000 vir ons twee. Ons was in ‘n kajuit met ‘n venster na buite, maar een van die reddingsbote buite het ons uitsig versper - die kaartjies was natuurlik ‘n bietjie goedkoper daaroor, maar ons het nie geweet van die reddingsboot voor ons venster nie.

Ons het in ‘n lang tou moes wag in die hawe sodat al die formaliteite eers afgehandel word. Laat middag is ons op die Sinfonia met ons bagasie na ons kajuit, wat kompak was maar groot genoeg met ‘n eie stort, toilet, wasbak, TV en dubbelbed. Toe moes alle passasiers gaan vir ’n veiligheids lesing op die dek. Alle transaksies op die boot is in US dollars, so ons moes ‘n bepaalde bedrag SA rande inruil vir dollars.

Daar was ‘n baie sterk wind en ons sou gedurende die nag vertrek uit die hawe. Die etes is die sterk punt van sulke bootvaarte - alle kos is gratis en daar is regtig ‘n uitsonderlike groot verskeidenheid, wat dwarsdeur die dag en nag beskikbaar is. Koeldrank, koffie en tee is ook gratis. Al waarvoor jy moet betaal is sterk drank, en dit is baie duur. Met aandete sit ons aan tafel en eet vanaf ‘n spyskaart. Daar was 13 verdiepings op die boot wat 2679 passasiers kan dra. Ons het die eerste aand rondgeloop en alles verken. Daar is baie vermaak gereël vir die passasiers, flieks, lewendige vertonings, ook ‘n casino en 2 swembaddens en 2 jacuzzis.

Toe ons die volgende oggend wakker word en uitkyk om te sien of ons op see is, was ons nog steeds in die hawe, want die suidooster was nog te sterk, wat dit gevaarlik sou maak vir die boot om by die smal hawe-opening uit te gaan. Ons is op na die boonste dek vir ontbyt. Terwyl ons daar in ‘n tou staan en wag sien ek deur die vollengte glasmuur hoe die kaai stadig van regs na links draai! Dit was skrikwekkend en my maag het behoorlik gedraai - toe besef ek dis die boot wat beweeg. Omdat die boot so groot is, skep dit die illusie dat die boot stil lê en die kaai beweeg. Ons was uiteindelik besig om uit te vaar uit die hawe - die wind het voldoende bedaar dat dit veilig was. Ons kon nou sien hoe lyk Kaapstad vanuit die see. Dit is prentjie-mooi. Vêr onder ons was daar klein bootjies vir ‘n rukkie, tot ons hulle agtergelaat het.

Ons was nou op pad na die diep see, en binnekort was daar niks meer land in sig nie, net water rondom ons. Daar was golwe in die diep see, maar die Sinfonia is só groot dat ons dit nie aan die beweging van die boot kon agterkom nie. Die tonnemaat is 65,542, die lengte 274.9 meter, hoogte 54 meter, die spoed 40km per uur. Dit het ‘n bemanning van 721. Tog is daar ‘n baie effense rolbeweging, sodat ‘n mens as jy in die gang af loop, moet jy bewustelik reguit loop as jy verby mense gaan.

Ons het verder die boot verken. Alles is baie mooi en smaakvol. Die personeel sorg dat dit so bly. Hulle maak natuurlik alle kajuite netjies. Ons is buitentoe om te kyk na die vermaak wat daar gereël is vir die passasiers. Hulle neem baie fotos van alle passasiers en jy kan dit dan koop, teen ‘n baie duur prys. Daar was nogal ‘n koue wind wat gewaai het, so ons het nie gaan swem nie.

Rinie was geïnteresseerd in die casino en ons het gaan kyk na die dobbel masjiene. Ek kan nou nie meer onthou hoe dit gewerk het nie, maar een van die ander passasiers het vir Rinie verduidelik hoe werk die kodes wat jy moet intik om te speel. Ek dink sy het 280 as kode ingesit, toe werk dit nog nie. Toe sit sy die kode ‘n tweede keer in en daar werk die masjien. Sy speel toe ‘n rukkie. Na ‘n tyd het sy verveeld geraak, toe druk sy die Exit knoppie, en die masjien druk ‘n strokie uit wat sê sy het $295 gewen! By die volgende masjien herhaal sy toe die roetine, speel ‘n rukkie en gaan toe weer uit. Hierdie keer wen sy $262. Dit gaan bo verwagting goed, sy bly wen. So ook by die derde en vierde masjiene - by almal wen sy.

Toe sy moeg word vir die spelery gaan ons na die kassier en vra hom wat moet ons maak met die wen strokies. Hy sê toe hy kan die dollars vir ons uitkeer, wat ons toe verkies. Altesame is die totaal ‘n aardige bedrag, ek dink omtrent $1,350! Glad nie sleg vir ‘n aand se spelery nie, en dis dollars, teen daardie tyd seker so R15 = $1 = R20,250!

Die volgende oggend sien ek ‘n strokie onder die deur, en toe ek dit lees, sien ek dis van die casino, wat sê ons skuld hulle $1,400 en ek moet dit asseblief kom betaal! Ek kon eers nie die kloutjie by die oor kry nie. Rinie wou eers “haar” $1,350 hou, maar toe ons na die casino kassier is om dit uit te pluis, sê hy elke keer dat Rinie die tweede kode van 280 ingetik het, het dit beteken sy wed $280. Sy het dus by elke masjien waar sy gespeel het $280 in die masjien ingesit, x 5 = $1400. Sy het dus eintlik $50 verloor met die 5 keer wat sy gespeel het. Gelukkig het sy nie ‘n groter kode gebruik nie. Sy moes eintlik by elke volgende masjien die papierstrokie vanuit die vorige masjien gelaai het in plaas van ‘n tweede keer 280 in te sleutel.

Die tweede dag was ons in die diep see suid van Kaapstad, en die middag van die derde dag was ons weer terug by die Duncan Dock. Niemand gaan van die Sinfonia af as jy nie eers alle skuld betaal het nie. Dan word jou oorblywende dollars omgesit in rande en aan jou uitbetaal, en dan kan jy van die boot af gaan met die loopplank, terug op moeder aarde. Vir die drie dae was ons Mazda 626 geparkeer onder die Table Bay hotel. Ons het net gesê ons het die parkeerkaartjie verloor, so hulle kon ons nie vir meer as 24 uur laat betaal nie. Die uiteinde was dat ons weggekom het met ‘n kaartjie van R30 - baie goedkoop vir 3 dae se parkering.

 

 

SLOTSOM

As ek vandag terugkyk op hierdie gebeure, besef ek dat die lewe selde verloop volgens die planne wat ons op papier teken. Die swembad bouers mag dalk bedrieglik wees en die casino masjiene verwarrend, maar dit is juis hierdie "foute" wat die kleurvolste stories lewer. Wat oorbly, is nie die skuldgevoelens oor 'n reël wat verbreek is om 'n kind te help nie, of die dollars wat ons nooit gewen het nie. Wat oorbly, is die koelte onder die lapa op 'n warm middag, die samesyn van vriende by 'n snoekbraai, en die wete dat integriteit en menswaardigheid altyd swaarder weeg as politiek of geld. Hierdie herinneringe is die boustene van my lewe—mag dit vir julle ook 'n venster bied op 'n tyd van opregtheid en deursettingsvermoë.

 

 
 
 

Comments


bottom of page