top of page
Search

O1B3F2. DRAKENSTEIN+AFTREE 2001

  • henniej42
  • Apr 10
  • 18 min read

Updated: Apr 15

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-04-03

 

O1B3F2. DRAKENSTEIN+AFTREE 2001

 

Hierdie is 'n kosbare en gedetailleerde rekord van 'n belangrike oorgangstyd in my lewe en in die groter konteks van die Suid-Afrikaanse munisipale geskiedenis. My skryfstyl balanseer die feitelike geskiedenis van die Drakenstein-samesmelting met persoonlike waarnemings oor menswaardigheid en integriteit.

 

Dit is soos ek die volgende gebeurtenisse onthou:

 

INLEIDING: DIE EINDE VAN 'N ERA

Die jaar 2001 het nie net 'n nuwe millennium ingelui nie, maar ook 'n ingrypende verskuiwing in die landskap van plaaslike bestuur in Suid-Afrika. Vir my was dit 'n tyd van groot aanpassing - ’n tyd waarin die gevestigde ordes en die rustige, gedissiplineerde werksetiek van Wellington moes plek maak vir die groter, meer onstuimige realiteit van Drakenstein Munisipaliteit.

 

As iemand wat my lewe lank geglo het aan deeglikheid, syfers wat klop, en 'n "stap-afstand" nabyheid aan my omgewing, was hierdie samesmelting meer as net 'n administratiewe skuif; dit was 'n toets van karakter. In die bladsye wat volg, kyk ek terug op daardie laaste hoofstuk van my loopbaan - van die grys kantore in die Paarl tot by die stil wingerdpaadjies van die Perdeskoen waar ek uiteindelik my vrede gevind het.

 

 

DIE DRAKENSTEIN-JARE EN NEDERIGHEID

 

Die beskrywing van die samesmelting tussen Wellington en Paarl skets 'n duidelike kontras tussen die twee administrasies. Die detail oor die 6-syfer Store rekening-stelsel van Wellington teenoor die ondoeltreffende stelsel van die Paarl is 'n uitstekende praktiese voorbeeld van waarom goeie bestuur saak maak. Dit illustreer ook die frustrasie wat gepaard gaan met die verlies aan kontrole en die opkoms van "kader-beheer" soos later beskryf.

 

Voor 1990 was daar meer as 1000 munisipaliteite, wat in 1993 verminder is na 830. Na die 2011 munisipale verkiesings is die 830 munisipaliteite landwyd saamgevoeg in slegs 278 munisipaliteite. Paarl (112,045 in 2011), Wellington (55,543), Hermon, Mbekweni (30,875), Gouda (3,441), Simondium en Saron (7,843) is saamgevoeg om Drakenstein Munisipaliteit te vorm, met die hoofkwartier in Paarl, wat by verre die grootste is. Die bedoeling was dat baie van die dienste nou vanaf Paarl bestuur sou word.

Wellington was ‘n goed-bestuurde munisipaliteit, wat finansieel sterk was, met Hennie Barnard as Tesourier en Freddie van Rensburg as sy adjunk, wat die boekwerk reg gehou het. Geld is nie deur enige departement gemors nie en almal moes alle uitgawes regverdig voordat dit goedgekeur is deur die tesourie en dan deur die Munisipale Raad. Ook die Stadsklerk departement was kundig hanteer deur Jacques Carstens.

Die Paarl se finansiële sake in teenstelling was nie goed bestuur nie en hulle het swak beheer gehad oor uitgawes, sodat Paarl se finansiële sake in die rooi was. Met die samevoeging moes beide munisipaliteite se stadsklerke en tesouriers aansoek doen vir die poste, en Jacques Carstens en Hennie Barnard is toe deur die Munisipale Raad aangestel, wat ‘n pluimpie vir Wellington was. Onder hulle beheer is Drakenstein se sake baie beter bestuur, alhoewel daar teenstand was van die Paarl se personeel, wat gewoond was aan hul hoofde se lakse bestuur.

By Wellington het ons ‘n eenvoudige 6-syfer Store rekeningnommer gehad, wat baie maklik gewerk het. Daar was nooit enige verwarring of onsekerheid waar ‘n item was nie, want die nommer het presies aangedui waar die store-item gevind kon word. In teenstelling hiermee het Paarl ‘n onnodig-lang rekeningnommer gehad wat nie aangedui het waar die item was nie - die stoormanne moes memoriseer waar items was, en hulle store was ook meer versprei.

Later het ons ook agtergekom dat daar baie diefstal plaasgevind het in die Paarl Store. Soos ook dat personeel vir byvoorbeeld hul eie voertuie parte uitgeboek het, of dat vir ‘n spesifieke munisipale voertuig herhaalde kere in ‘n kort tydperk parte soos bande of remme uitgeboek is - alles omdat daar nie behoorlike kontrole was nie, iets wat nooit gebeur het in Wellington nie.

Êrens in 2001 is gevra dat ek oorgaan na Paarl se grysgebou, soos hulle die Munisipale kantore op Bergrivier Boulevard genoem het. Ek het net eendag self my lessenaar op ‘n munisipale bakkie gelaai met ‘n klompie van my ander kantoor items en gery na Paarl. Baie van die Wellingtonners het bly vasklou aan Wellington, soos ook Freddie, maar ek het gevoel dat die verskuiwing een-of-ander tyd sou moes plaasvind. Hennie Barnard, sy sekretaresse Elna Smit, en Jacques Carstens was in elkgeval reeds oor na Paarl.

Soos wat ‘n mens nou by die huis munisipale werkers teengekom het, meesal blou boordjie mense, was een-en-almal dit eens dat hulle baie gelukkiger in Wellington is. Paarliete het al van toeka se jare die geneëntheid om uit die hoogte neer te kyk op Wellingtonners. My Ma het dit al vir my gesê toe ek nog jonk was, komende van die eerste 10 jaar van hul huwelik. Toe het sy en Pa in Auretstraat in Paarl gebly en Pa was Wiskunde onderwyser by Boishaai. Dan kyk die Paarliete wat aan die bokant van Hoofstraat bly ook nog neer op dié wat aan die onderkant bly!

Dis seker maar ‘n ou menslike eienskap, as niets iets geword het, maar nietemin is dit ‘n lelike eienskap. Die mense wat ek die meeste bewonder is diegene wat ten spyte daarvan dat hulle veel in die lewe bereik het, nog steeds met hulle voete plat op die aarde staan.

 

 

LESSE IN KARAKTER: DIE "DOKTORS" VAN STELLENBOSCH

Die staaltjies oor die mense in Stellenbosch dien as 'n kragtige morele kompas. Die kontras tussen die man wat oor sy "Doktor"-titel gebelg was en die jong man wat bloos oor sy prestasie, onderstreep my lewensfilosofie: "Die ware maatstaf van ’n mens is nie wat jy in die lewe bereik het nie, maar hoe jy jou posisie in die lewe hanteer."

 

Stellenbosch is ‘n pragtige plek, en daar is baie mense wat baie in die lewe bereik het. In die 8 jaar wat ek daar gewerk het, het ek naderhand geleer om mense in twee groepe te verdeel: Die wat baie bereik het en hulle verbeel hulle is hoog verhewe - hulle het ek verag. Dan is daar mense wat netso baie bereik het, maar hulle bly nederig - vir hulle het ek die hoogste bewondering gehad.

Twee sulke mense kan ek onthou. In beide gevalle was ek per toeval voor by die kassiere in verband met program veranderinge. Stellenbosch het nie maar sommer bo-aan hulle rekeninge vooraf gedruk “Mnr/Mev/Mej/Dr/Prof/ Adv/Sy Edele” nie. Hulle het ‘n titelkode gehad, wat van 1 tot 7 kon wees, sodat die regte titel deur die rekenaar gedruk kon word vooraan jou naam. Eenkeer kom daar ‘n mannetjie ingestorm, rooi in die gesig, en hy waai sy munisipale rekening voor die kassier: “Kyk hier! Hier staan ek is ‘n Mnr.! Ek is ‘n Doktor!”. Ek kon spuug op die vent. Waarskynlik was hy ‘n doktor in ‘n bepaalde aartappelsiekte, maar van hoe om hom te gedra het hy niks geweet nie.

‘n Ander keer was ek weer daar, toe kom ‘n jong man daar om ‘n adresverandering te kom opgee. Hy was saam met my in Bellerive en het getrek na ‘n huis in Onder-Papegaaiberg. Toe vul ek sommer die vorm vir hom in. Toe ek by die titelkode kom, sê ek vir hom “Maar jy is mos nou ‘n Doktor?” Wragtig, daar bloos hy bloedrooi.

Soos ook die vrou van ‘n professor, wat besig was met haar M-graad oor hoekom Stellenbosch se huispryse so buitensporig hoog is. Sy het data van die munisipaliteit se Belasting lêer nodig gehad, waarmee ek gewerk het, en ek het haar daarmee gehelp - ons het ook eenkeer ingery na die Universiteit van Kaapstad (Ikeys). Sy het in hoë kringe beweeg en het heel gemaklik met my, ‘n gewone klerk, gepraat oor haar lewe, sonder om my ooit te laat voel sy kyk op my neer. Vir sulke mense het ek die hoogste respek.

 

Hennie Barnard het, soos sy gewoonte in Wellington was, ook in Drakenstein Maandag-oggende in sy kantoor ‘n vergadering gehou met sy senior personeel. Ek was daar omdat ek die Tesourie se Munisipale pakket bestuur het, hoofsaaklik die sagteware. Ek moes die pakket onderhou en parameters opstel, opleiding gee en hulp verleen wanneer die personeel probleme ondervind het. In Wellington was ek Hoof van die rekenaar afdeling, hoofsaaklik van die Tesourie, maar Paarl is veel groter en het ‘n groter rekenaarafdeling. Frans Theron was Hoof daarvan en alle rekenaartoerusting het onder hom resorteer, so alle drukwerk soos munisipale rekeninge is daar gedruk. Sagteware soos Word, Excel en Powerpoint en ook pakkette van ander departemente is deur hulle ondersteun, asook installasie van hardeware soos PC’s en bekabeling.

In die tyd dat ek daar was het Drakenstein adverteer vir nuwe munisipale rekenaar sagteware. Ons het 3 kwotasies ontvang. Ek het ‘n Excel sigblad opgestel met ‘n lang lys eienskappe waarin ons belanggestel het, aldrie se antwoorde langsmekaar gelys, en punte toegeken. Dit was ‘n lywige dokument van 40 bladsye, met 3 totale onderaan. Dit het my lank besig gehou, maar dit was so reg in my kraal - ek hou van sulke detail werk. Dit is aan die Munisipale Raad voorgelê en hulle het dié een wat ek aanbeveel het goedgekeur. Een van die raadslede het gesê hy het nog nooit so-iets gesien nie.

 

 

DIE STRYD TEEN KORRUPSIE

Die gedeelte oor Isaac Kelley en die salarisstelsel lees amper soos 'n politieke riller. My optrede om die "geheime kode" te gebruik en die risiko's van bedrog tydens die Maandag-vergadering bloot te lê, getuig van my eie professionele integriteit.

 

 

In die grysgebou het ek ‘n kantoor gekry langsaan Isaac Kelley (nie sy regte naam nie), ‘n intelligente, goedgeboude jong man, wat op sy lessenaar ‘n struggle aanhaling gehad het van Ahmed Kathrada, een van die leiers van die ANC gedurende die jare wat die organisasie verban was. Baie uitdagend, sodat geen mens kon twyfel waar sy simpatie lê nie. Hy was op daardie stadium die Uitgawe-hoof van Paarl, terwyl ek die Uitgawe-hoof van Wellington was. Paarl is sowat 5 keer groter as Wellington, so ek het nie daarna gestreef om Uitgawe-hoof van Drakenstein te word nie.

Alle uitgawes was per tjek gedoen, so daar is daagliks baie tjeks gedruk. Ek het die eerste handtekening gegee en Isaac Kelley die tweede. Die tjeks moes daagliks afgestuur word. Dit het gereeld gebeur dat Isaac nie in sy kantoor was wanneer hy die stapel tjeks moes teken nie, en ek moes hom gereeld skakel, dan het hy altyd gesê “Ek is in ‘n vergadering”. Dan kom hy na ‘n rukkie daar aan om die tjeks te teken. Ek is nie agterdogtig van geaardheid nie en het maar geglo dat hy wel in vergaderings was.

Jacques Carstens was as gevolg van sy posisie nie op ‘n sekere toelae geregtig nie. Weens ‘n klerk se administratiewe fout is daardie toelae toe wel een maand aan hom uitbetaal en Jacques het dit nie agtergekom nie. Isaac, omdat hy toegang tot die Salarisstelsel gehad het, het dit gesien en het dit voorgestel asof Jacques dit doelbewus vir hom toegeëien het. Jacques het die bedrag terugbetaal aan Drakenstein. Isaac het gesê Jacques het bedrog gepleeg, want hy het nie die belasting-gedeelte terugbetaal nie. Jacques het dit nie gekry nie - dis ingesluit in die tjek aan SARS. En Isaac het dit geweet.

Isaac het Jacques laat vervolg, en Jacques moes ‘n advokaat aanstel om hom in die hof te verdedig. Jacques het toe sy salarislêer nodig gehad om vir sy advokaat te gee om sy vedediging op te stel. Isaac het geweier om dit vir hom te gee. Hy het die salarislêers op sy laptop gehad wat hy by hom gehad het - hy kon dit maklik vir Jacques gegee het. Uiteindelik het hy die inligting vir Jacques gegee die dag voor die hofsaak. Isaac het verseker die hulp gehad van regskundiges in die regering. Nadat hy na beide kante se vertoë geluister het, het die regter vir Jacques vrygespreek, maar hom ‘n waarskuwing gegee. En Jacques is ‘n man wat die reguit pad loop.

Alrico Viola het voorheen vir my teen Isaac Kelley gewaarsku, maar ek het my nie juis daaraan gesteur nie. Maar na sy veldtog teen Jacques Carstens het ek hom sover moontlik vermy en vanaf my kantoor langs syne getrek na ‘n klein binne-kantoortjie sonder ‘n venster.

As gevolg van my posisie het ek toegang tot die munisipale Salaris sagteware pakket gehad en ek het die parameters onderhou, nuwe werkers gelaai en die wat weg is afgehaal. Die konsultant van die pakket het vir my gesê geen hoof van die Salaris afdeling mag ooit toegang tot dié parameters hê nie, want dan is dit vir hom baie maklik om bedrog te pleeg, soos om “spookwerkers” aan te stel. Drakenstein se hoof van die Salaris afdeling en Isaac was groot vriende - ek is seker dis waar baie van sy sogenaamde “vergaderings” was.

Ek was met vakansie, en toe ek terugkom kon ek nie in die Salaris pakket ingaan soos gewoonlik nie. Gelukkig het die konsultant van die pakket in die begin vir my ‘n geheime kode gegee waarmee ek in die stelsel kon inkom indien ek per abuis myself sou uitsluit. Ek het die kode gebruik, en toe sien ek dat die hoof van die Salaris afdeling nou totale toegang het, iets waarteen die konsultant my gewaarsku het.

 

Ek het drukstukke van al die betrokke skerms gemaak en afskrifte vir al die lede by Hennie Barnard se Maandag vergadering gemaak. By die vergadering het ek die drukstukke uitgedeel en vir almal vertel wat gebeur het en wat die konsultant uitdruklik gesê het. Isaac het hom vererg en gesê “Kan ons nou nie eens meer mekaar vertrou nie” - hy sal dan self die beheer van die Salaris pakket oorneem. Maak nou vir wolf skaapwagter…

 

Die hoof van die ingenieurs-departement het eendag daarna vir my gesê die vakbond SAMWU wou van my ook ontslae raak, waarskynlik omdat ek my verset het teen Isaac se lakse bestuur. Aan die einde van Februarie 2005 is al die departements-hoofde deur die Raad ‘n “golden handshake” gegee, behalwe die hoof van die Biblioteek. Ek het besluit om ook my bedanking in te handig, so ek is saam met die hoofde daar weg.

Cavin aangestel as Tesourier in Hennie Barnard se plek. Iemand na aan die saak het my vertel dat Isaac, wat die Uitgawe Hoof was, het met die medewerking van sy vriend, die Hoof van Salarisse, ‘n eis ingesit vir omtrent R100,000 vir oortyd, waarop hy nie geregtig was nie. Ek weet nie of die Raad die uitbetaling goedgekeur het nie.

Kort daarna het Stellenbosch Munisipaliteit adverteer vir ‘n munisipale bestuurder, en Isaac is aangestel. Na net ‘n paar maande daar is hy weg van Stellenbosch onder ‘n wolk van agterdog. Verseker kon hy nie al die raadslede kous oor die kop trek nie.

Toe skiet hy vir Oudtshoorn as munisipale bestuurder en weer kry hy die werk. ‘n Paar maande later is hy daar ook weg, weer onder agterdogtige omstandighede. Toe duik hy op in Cederberg distriks-munisipaliteit, weer as munisipale bestuurder, waar hy na ‘n paar maande sy rieme styfgeloop het weens bedrog. Hy het o.a. onregmatig ‘n erf aan homself toegeken. Die saak het in die koerante gedraai.

‘n Raadslid het gevra hoe is dit moontlik dat hulle nie sy bedenklike geskiedenis nagegaan het nie. Dis wat gebeur as mense nie volgens meriete aangestel word nie, maar volgens wie jy ken. Verseker het hy elke keer poste gekry waarvoor hy nie gekwalifiseerd was nie, omdat hy vriende hoog op in die regering het. Blykbaar is hy later na die Oos-Kaap, waar ‘n artikel met sy foto in ‘n plaaslike koerant geplaas is weens soortgelyke bedrywighede. ‘n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie...

‘n Komieklike nadraai van die “golden handshake” by Drakenstein was dat Jan Coetzee, die hoof van die Elektrisiteits-departement, ook só afgedank is. Toe die Raad hulle kandidaat in die pos wou aanstel, vind hulle uit daarvoor moet jy ‘n sogenaamde “electrical engineering ticket” hê, wat redelik skaars is, omdat jy goed gekwalifiseerd moet wees. Jan was op daardie stadium op ‘n skaal van R375,000 per jaar. Toe die Raad hom noodgedwonge vra om aan te bly, sê hy hy sal bly as hulle sy salaris verdubbel na R750,000 per jaar. Drakenstein het sy dienste gehad vir R375,000 - toe kos dit hulle R750,000 per jaar, plus die “golden handshake”!

Die Raad het nadat hulle van kundige mense ontslae geraak het, ‘n nuwe skaal bo die departementshoofde ingebring, genaamd Munisipale Direkteure. Hierdie direkteure was kaders, met ander woorde meesal mense met sterk konneksies wat uit die struggle jare kom, wat min of niks van munisipale sake geweet het nie. Behalwe dat hulle ’n fortuin betaal is vir basies geen uitset nie, moes die munisipaliteit nou ook boonop konsultante van buite aanstel teen baie hoë uurlikse tariewe, mense wat wel geweet het hoe om die werk te doen.

Ek onthou dat ek, nadat ek afgetree het, daagliks gaan stap het in die Perdeskoen. Toe ek eendag in Mont Pellierlaan kom, staan daar twee werkers doodstil met hul grawe sowat 35 meter bo my op die hoek van Mont Pellierlaan en Armonlaan. 15 Meter onderkant my staan vier werkers doodstil op die hoek van Alfonsstraat en Mont Pellierlaan. Ek loop toe af met Mont Pellierlaan en sowat ‘n 100 meter verder onder ‘n boom staan nog twee werkers doodstil. Ek het my nie aan enigeen gesteur nie en afgeloop tot in Blouvlei en in die Perdeskoen in tot by Bernhard Behne se plaas de Fortuin en toe omgedraai huis toe. Ek was seker so tussen 15 en 20 minute weg gewees. Toe ek oploop in Mont Pelllierlaan, staan al 8 werkers nog op presies dieselfde plekke. Net een van die vier in Alfonsstraat het lusteloos met sy graaf na ‘n stukkie onkruid op die teer geskoffel. Toe besef ek al agt was munisipale werkers, besig met hulle dag se “werk”.

Die privaatsektor spandeer omtrent 14% van hulle totale koste aan salarisse. In vergelyking hiermee het die Suid-Afrikaanse Staatsdiens in 2015/16 41% van hulle totale uitgawe aan werknemer-verwante koste spandeer, volgens die Departement van Statistiek. Dit wys net hoe het die regering die Staat se salarisse opgejaag. Voorheen het die privaat sektor hoër salarisse betaal as die Staatsdiens. Nou is dit omgekeerd.

 

 

"HELLINGTON" EN "SMELLINGTON"

Wellington lê in ‘n effense holte, wat hom afsny van meeste van die Kaapse Suidooster, en dit is die rede hoekom dit so warm word. Soos iemand hier in die begin vir my gesê het “Wellington, Hellington”, waar dit soms in die somer tot 45°C kan word. En “Smellington”, omdat dit vir jare gestink het soos ‘n rioolplaas, toe Mossop Leather Tannery se leerlooiery net buite Wellington was. Wanneer die Noordwestewind gewaai het, het die stank die hele dorp getreiter, sodat ek eendag twee toeriste op fietse hoor sê het ”This town has a serious sewerage problem”. Ek het hulle laggend reggehelp. Gelukkig het die leerlooiery jare later weggetrek na Parow en die stank saam met hulle, tot die hele dorp se verligting.

 

 

OEFENING EN DISSIPLINE 

In my dae by Wellington Munisipaliteit het ek die 1.6 km na werk soggens per voet of met my fiets afgelê. Soos maar my gewoonte oor jare was, het ek altyd blyplek gesoek binne loopafstand van die werk - Bellerive in Stellenbosch (omtrent 1 km), en later Sonopstraat 32 in Brackenfell (1 km), en Mont Pellierlaan 17 in Wellington (1.6 km). Gewoonlik het ek my tyd so fyn gesny dat ek my bene moes dra om betyds by die werk te kom, so ek het goeie oefening ingekry soggens. Ek het nooit dik bene gehad en ook nie ‘n pap maag nie.

Ek het altyd die gewoonte gehad om vir mense wat verby my kom te knik met die kop. Dis seker maar iets waarmee ek grootgeword het in klein dorpies, meesal in die Karoo. In die oggende was dit lekker koel, maar in die somer se hitte was dit nie so lekker terug huis-toe nie, en ek het altyd sovêr moontlik onder die bome se skaduwee geloop.

 

Daar was tye in Wellington wat ek met my fiets gery het, die meeste van die pad afdraend. Dan het ek so hard as ek kon getrap en oor stopstrate en die robot by ons NG Moederkerk geskiet. Ek het soms resies gejaag met Tannie Malan, wanneer sy saam met my aan die bopunt van Genl. Hertzog Boulevard aangekom het. Ek het voor haar by die werk in Pentzstraat aangekom. Die kere wat ek met die fiets gery het, het ek in die middae die fiets gestoot waar die bulte te steil was - verby die NG Moederkerk, en op met Steinstraat en verder tot by ons huis.

 

 

DIE PERDESKOEN: 'N PAD VAN STILTE EN SKOONHEID

My wandelinge in die Perdeskoen-area na my aftrede vorm 'n rustige nabetragting. Die spesifieke roetes wat ek beskryf - Bloublommetjieskloof en Olyfenbosch - dokumenteer die natuurskoon van die Hawequa-berge.

 

Nadat ek einde Februarie 2005 afgetree het, het ek daagliks in die Perdeskoen gaan stap om my oefening in te kry. Daar was verskeie roetes. Een was om in die wingerde van die plase te stap, beginnende by Bernhard Behne se plaas De Fontein en dan verby die groot boom, waar sy ouers Walther en Elize se as begrawe is, en verder op met die paadjies tussen die wingerde, langs ander plase totdat ek moeg was en teruggekom het met die Olyfenbosch pad terug in die Perdeskoen pad huis toe. By die huis het ek gaan swem in die maande wat dit nie te koud was nie.

‘n Ander roete was met die Perdeskoen op, regs draai in Olyfenbosch pad en op totdat die pad verdeel. Dan kon ek regs hou in Olyfenbosch pad op, of links draai op na Bloublommetjieskloof se biodinamiese plaas, waar hulle produkte verkoop wat hulle self maak. Waterkloof plaas. Untether on Olive B&B, Kleine Bosch B&B. Dit is redelik hoog op teen die Hawequa berge, met die aangeplante dennewoude bokant dit en daarbo die du Toitskloofpas. Waar ek regs gedraai het in die Olyfenbosch pad is daar talle klein plasies waar mense in afsondering hulle eie lewe lei.

Adriaan Joubert van Olyfenbosch het ‘n pragtige natuurtuin met massas clivias onder natuurlike bome aangelê met besproeing vir alles. Adriaan het ‘n paar jaar gelede ontydig aan sy einde gekom toe hy van ‘n leer afgeval en sy nek gebreek het. Verby Beulah se Christian Retreat, vir mense vir die lewe te veel geraak het. Daar is baie plekkies langs die Kleinbosch Mountain Road. Mooi Bly Cottages. De Kleine Bos B&B. Uiteindelik sluit dit aan by Bo Daljosaphatpad, wat aansluit by Piet Retiefstraat, op pad na Paarl. Ek dink as ‘n mens werklik al die paadjies wil verken, sal jy baie kilometers moet ry. Vandag is baie daarvan egter toe agter sekuriteitshekke, hoofsaaklik om diewe uit te hou.

As ‘n mens verby die Olyfenbosch pad afdraai ry is daar op die draai nou verskeie rooidakhuise teen die heuwel, waar daar vir jare net ‘n groot rooidak skuurhuis gestaan het waar hulle mobiele bottelering doen. Daardie stuk grond val blykbaar buite die munisipale gebied en die huise is waarskynlik vry van munisipale dienste en uitgawes. Langsaan is ‘n plasie met ‘n ou Kaap-Hollandse huisie onder die skaduwee van groot akkerbome, waar ‘n ou oom en sy vrou baie jare gebly het, voordat hy dood is en sy na ‘n ouetehuis moes gaan.

Voor die huis, oorkant die Perdeskoen pad het hy ‘n klein lappie hanepoot druiwe gehad, waarvan hy rosyntjies gemaak het. My seun Christiaan en sy boesemvriend Pierre het eendag daar ingevaar en hulle rugsakke vol gepluk. Die boer wat vir die ou oom geboer het, het hulle betrap en ek kry toe ‘n oproep van hom ek moet hom kom sien. Toe ek daar kom, staan die twee seuns ewe bedremmeld daar met die getuienis van die diefstal in hulle rugsakke. Die boer, wat elke Saterdag groente en vrugte verkoop voor die NG Kerksaal, sê toe die ou omie vertroetel die lappie druiwe. Ons het die seuns die leviete voorgelees, hulle het die druiwe teruggegee en ek het hulle teruggeneem huis-toe. By die huis sê Christiaan wragtie dat daar nog druiwe onder-in sy sak is! Geen berou.

Net langs die plasie loop die Spruitrivier verby. Daar het ons gesin in die verlede dikwels na ‘n staptog van 3 km onder die brug oor die rivier op spoelklippe gaan sit en ons toebroodjies en koeldranke genuttig. Dit is ‘n klein stroompie helder water in die somer, maar kan ‘n vol rivier van bruin water word in die winter na sterk reën.

Net na die Spruitrivier is daar ‘n tweede afdraai na regs berg-op verby die van der Merwes se plaas - ons het dit sommer die varkplaas genoem, want die varkhokke was links op die hoek. Op met daardie pad is daar ook verskeie plasies en mense wat daar bly in die natuur eerder as in die dorp. Eendag in 2006 net voordat ek ‘n geestelike ineenstorting gehad het, het ek hier opgestap met Marinus tot so hoog as wat die pad gaan, en baie lank daar met hom gepraat.

Die derde pad uit die Perdeskoenpad begin net verby die Hildebrand Wine & Olive Estate (vroeër Klein Rhebokskloof), op die Welgegund pad. Dit eindig by die plaas van die DA parlementslid, Sheila Camerer, wat later as Ambassadeur na Bulgarye benoem is. Daarvandaan het ek, Christiaan en Marinus eendag vêr berg-op gestap, deur bosse en takke, want meesal is daar nie paadjies nie. Die veld is baie ruig, veel meer as wat dit voorkom van die Perdeskoen af, en die takke het ons kaal bene erg gekrap. Ons wou stap tot waar die kranse begin, maar dit was baie verder as wat ons van die pad af gedink het. Toe draai ons naderhand parallel met die kranse na regs, want dit het laat begin word.

Dit was ‘n stywe ent pad totdat ons op ‘n plaas uitgekom het. Die boer het gesê ons oortree en het ons op sy bakkie gelaai om ons tot by sy plaas se grens te neem. Langs die pad ry hy onder laaghangende takke en ek het net betyds gekoes anders het die takke my afgeslaan. Hy het ons afgelaai in die Little Farm pad, wat uitloop in die Olyfenbosch pad. Dit was ‘n uitputtende dag, maar lekker saam met die seuns.

Ek het selde die hele Perdeskoen geloop (8 km), omdat die deel terug vanaf die Blouvlei Primêre Skool nie juis ‘n mooi stuk pad is nie. Ek het meesal omgedraai by die bruggie net na Hildebrand Wine & Olive Estate, dan loop ek die mooiste deel van die Perdeskoen tweekeer en die totale afstand is ook omtrent 8 km. En ek sny die steil bult van Genl. Hertzog Boulevard met die terugkom uit.

 

SLOTSOM: DIE MAATSTAF VAN 'N MAN

Wanneer ek vandag terugkyk na my tyd by Drakenstein en my uiteindelike vertrek in 2005, besef ek dat die "golden handshake" eintlik 'n geskenk van tyd en vryheid was. Die politieke skuiwe en die opkoms van die sogenaamde direkteure het die gesig van munisipale diens vir altyd verander, maar dit kon nie die integriteit van die werk wat ons gedoen het, uitwis nie.

 

My wandelinge in die Perdeskoen het vir my geleer dat die lewe, net soos daardie 8 kilometer roete, sy bulte en sy skoonheid het. Of dit nou die "Smellington"-reuke van die verlede was of die uitputtende klim teen die Hawequas saam met my seuns, elke tree was deel van 'n groter reis.

Ek het geleer dat jy nie jou status aan 'n titel op 'n munisipale rekening moet meet nie, maar aan die spore wat jy agterlaat - of dit nou in 'n deeglike Excel-sigblad is, of op 'n stowwerige plaaspad. Ek sluit hierdie hoofstuk van my werkende lewe af met die wete dat ek my bene gedra het solank ek kon, altyd met my voete plat op die aarde, en altyd met 'n knik van die kop vir diegene wat my pad gekruis het.

 

 
 
 

Comments


bottom of page