top of page
Search

O1B3F3 STIKLAND+SERENO

  • henniej42
  • Apr 21
  • 21 min read

Updated: Apr 24

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-04-13

 

O1B3F3 STIKLAND+SERENO

 

Hierdie is 'n besonder kragtige en rou hoofstuk in jou lewensverhaal. Dit tref my hoe eerlik jy die kontras skets tussen die kliniese, amper tronkagtige atmosfeer van Stikland in 2006, en jou meer menslike ervaring by die hotel-agtige Sereno in 2019.

 

Jou beskrywing van die "highs" en die behoefte om mense op te beur (die "underdogs") gee 'n duidelike blik op jou karakter, selfs te midde van 'n krisis. Hierdie dialoog help om te verduidelik hoekom jy so 'n passie het vir mense wat swaarkry - moontlik omdat jy self deur sulke donker dieptes moes loop.

 

Die insluiting van Christiaan se e-posse voeg 'n fassinerende, dog komplekse laag by; dit wys die diep kloof tussen hoe 'n kind 'n ouer se trauma interpreteer versus hoe die ouer dit self ervaar en onthou. Let op hoe Christiaan terme soos "attachment styles" en "sympathetic nervous system" gebruik, terwyl jy fokus op die emosionele realiteit en die praktiese gebeure.

 

 

 

 

INLEIDING: DIE SKADUWEES EN DIE LIG

Om 'n lewensverhaal te skryf, beteken om nie net die sonskynvlaktes te onthou nie, maar om ook die diep klowe van die gemoed te durf betree. In hierdie gedeelte van my reis word die vertelling rouer. Dit is 'n verhaal van twee uiterstes: die kliniese isolasie van Stikland in 2006, waar die wêreld vir my in 'n sterrelose swart ruimte verander het - hierdie beskrywing is baie aangrypend - en dan die meer menslike herstel by Sereno in 2019.

 

Hierdie is egter meer as net 'n verslag van senuwee-ineenstortings; dit is 'n verkenning van my eie karakter. Selfs wanneer my eie werklikheid verbrokkel het, was daar 'n onbewuste dryfveer om ander - die "underdogs" van die saal - by te staan. Ek noem dit telkens - die matras vir die man op die vloer, die opbeur van die vrou in die klas, en die Bybel vir Johanna. Dit is 'n pragtige goue draad wat my menswaardigheid beklemtoon, selfs wanneer ek self hulp nodig het, wanneer ek op my laagste is. Vanaf 4 jaar, die verste wat ek terug kan onthou, die gee van die halfmas flessie ingelegte perskes aan my siek boetie, en later die gedurige vraag aan my Ma “Wat dan van die Rooihuide, Ma, wat nie die geleentheid gehad het om Jesus te leer ken nie? Word hulle ook na die hel verban?” Miskien is dit in ons swakste oomblikke dat ons ware aard die duidelikste deurskemer.

 

Om hierdie tydperk volledig te verstaan, het ek gekies om nie net my eie herinneringe te gebruik nie, maar ook die stem van my seun, Christiaan. Sy moderne, sielkundige perspektief vorm 'n fassinerende kontras met my eie belewenis, en saam skets dit 'n prentjie van 'n familie wat probeer sin maak van trauma, blootstelling en uiteindelik, genesing.

 

 

 

 

DIE PAD NA BINNE: STIKLAND EN SERENO

 

DIE KRISIS VAN 2006

Dit was nou al ‘n jaar sedert ek afgetree het op 28 Februarie 2005. Daar het een of ander watermeter probleem ontstaan by ons huis en ek het vir Ollie (Ollewagen) gevra om te kom kyk. Hy was een van daardie steunpilare van ‘n organisasie wat sy werk kén en deeglik doen. Hy het ook geweier om Paarl-toe te trek en het sy werk vanaf Wellington gedoen. Nadat hy klaar was het ek hom genooi om ‘n koppie koffie te kom drink en ons het in die sitkamer aan die gesels geraak oor die samesmelting van Wellington met Paarl en die invloed wat dit op die personeel gehad het. Rinie het later vir my gesê ek het soms baie heftig gepraat en sy kon hoor ek was duidelik ontsteld.

Dit was waarskynlik die nadraai van my vroeë aftrede. Ek was 62 jaar en 2 maande oud toe ek afgetree het, terwyl my normale ouderdom by aftrede 65 jaar moes wees. Dit het natuurlik my pensioen ook nadelig affekteer. En die direkte oorsaak daarvan was die verslegtende verhouding met Isaac Kelley (nie sy regte naam nie). Ek kon sy rugstekery nie verdra nie, en soos my Pa gesê het, dit het nie in my klere gaan sit nie.

Iets was verkeerd. Ek kan onthou dat ek lang gesprekke gehad het met almal wat na aan my was. Louis het my uitgenooi na een van sy motor-resies dae. Ek het vir Christiaan saamgeneem, want hy stel van altyd af baie belang in motors - hy het gesê hy wil nog vir hom ‘n BMW M3 koop. Ek kan onthou dat ek baie lank met Louis gepraat het, ‘n eenrigting soort gesprek - ek kan nie onthou waaroor ek alles gepraat het nie, maar waarskynlik was dit oor iets wat my baie ontstel het. Louis het so half snaaks na my gekyk.

Daardie aand is ons huis-toe en ek het die hele pad met Christiaan gepraat. Êrens langs die pad net verby die Paardeberg afdraai het ek langs die pad in die stikdonker afgetrek en baie lank met hom gesels - hy het niks gesê nie, maar naderhand moedeloos met sy kop op die paneelbord gelê. Hy sê later hy het so gefrustreerd geword, want ek het in sirkels gepraat, maar kon nie ophou nie. Ek het hierdie groot nood gehad om met mense na aan my te praat, en hulle iets te vertel.

‘n Dag of so later het ek vir Marinus gevra om saam met my te gaan stap op met die Perdeskoenpad. Ons het langs die varkhokke opgeloop tot so hoog as wat die pad gegaan het en daar gaan sit. Ek het die hele tyd baie met hom gepraat.

Rinie se beurt het gekom toe ek en sy van êrens af teruggekom het huis-toe. Ek het ook die hele tyd met haar gepraat. Toe ek die Mazda in die garage ingetrek het, het ek nog ‘n lang tyd in die motor met haar sit en praat.

Duidelik wou ek iets van my bors af kry. Ek dink ek het gevoel iets is besig om met my te gebeur, en ek wou hulle voorberei daarop. Daardie nag het ek glad nie geslaap nie. Ek het in die middel van die nag met Mondi gaan stap in die Perdeskoen.

Die volgende nag was ek baie onrustig. Ek was weer tot laatnag wakker. Toe ek uiteindelik aan die slaap raak het ek die gewaarwording gehad dat ek in ‘n swart ruimte sweef waarin daar niks was nie, nie eens sterre nie. Ek het my arms geswaai om te voel of daar nie iets is nie. Toe slaan ek die poot van Rinie se spieëltafel af en dit val om op my waar ek op die mat lê langs die bed.

Rinie en die seuns was op daardie stadium omtrent 04:00 in die voorste deel van die huis om my tyd te gee om te slaap. Hulle het die geraas gehoor en kom kyk. Ek het op my maag op die bruin staal trommeltjie van my Pa gelê. Ek het my duur Michel Herbelin horlosie beskadig met vuurhoutjies. Poena, my kat vir wie ek baie lief was, het ek vol wit tandepasta gesmeer en haar onder ons lae bed ingedruk. Rinie sê na hierdie episode het Poena vir ‘n paar dae heeltemal weggeraak.

Rinie het Dr. Hennie Conradie gebel en hy het dadelik gekom. Hy het vir ‘n ambulans gereël wat my geneem het na Paarl Medi-Clinic op die 14de Februarie 2006, die dag voor Rinie se 58ste verjaarsdag. Ek was ‘n hele paar dae daar gewees, en is ondersoek deur verskeie psigiaters, waaronder Dr’s Karien Botha en Gert van Niekerk. Ek het ‘n obsessie met my Pa gehad en sy geraamde foto moes pal by my bly. Ek het baie geskryf en het ‘n vervolgingswaansin gehad dat iemand op my spioeneer vanuit ‘n gaatjie in die plafon.

Eendag het ‘n helikopter buite geland met ‘n pasiënt en ek wou dit sien. My uitsig was versper, toe breek ek die handdoekreëling af en slaan twee vensters uit om beter te kan sien. Ek onthou nog hoe skree die verpleegsters vir my van agter die toe deur “Mnr. de Jager!, Mnr. de Jager!”

Ek is later per ambulans oorgeplaas na Durbanville Medi-Clinic, waar ek onder medikasie was wat my aan die slaap gehou het. Andre Abrahams, hoof van Inkomste in Paarl, het my vertel van ‘n goeie verkoopsagent wat van sy huise aan hom verkoop het en ek het haar geskakel. Sy het huise vir my kom wys, waarop ek toe geteken het vir een in ‘n nuwe ontwikkeling. Rinie was baie ontsteld en het vir die vrou gesê hoe kan ek in my toestand so ‘n groot besluit neem. Die transaksie is toe gekanseleer.

Ek is later terug huis-toe. Ek het by tye baie gespanne geraak. Gert Naude, my buurman in Brackenfell, het aanbeveel dat ek na sy spesialis psigiater, Dr. Hugo la Grange, gaan en ek het ‘n paar besoeke by hom afgelê by sy praktyk net agter Durbanville Medi-Clinic.

‘n Paar dae later was ek en Rinie na Paarl Mall vir inkopies. Ek was voor haar klaar en het by die Mazda vir haar gaan wag. Ek kan onthou ek was baie ontsteld vir geen rede nie. Toe sy na ‘n rukkie nie uitkom nie, het ek op die kant van ‘n rolletjie maskeerband geskryf “Ek hardloop Wellington toe” en dit op die bestuurder sitplek neergesit. Die huis was 17 km vêr. Ek het begin hardloop via Ceciliastraat en toe af in Bergrivier Boulevard.

Êrens langs die pad het Rinie langs my stilgehou. Sy was woedend, maar ek dink nie sy het verstaan in watter gemoedstryd ek was nie. Toe ek in die kar klim het ek dadelik vir haar gesê ek wil na Stikland Psigiatriese Hospitaal in Bellville gaan. Ons is weer na Dr. la Grange, met my slaapklere. Hy het Stikland gebel, maar daar was nie vir my plek in die afdeling waarin hy my wou plaas nie - daar was slegs plek in afdeling S4, wat vir ergversteurde gevalle is. Ek het gesê ek gee nie om nie, ek voel ek moet nou in ‘n inrigting kom. Hy het vir my plek bespreek en Rinie het my na Stikland geneem.

S4 is agter slot en grendel, soos ‘n tronk, en die mans en vrouens is geskei deur ‘n swaar sifdraad. Na aandete het ek gaan slaap in ‘n groot saal. Dit was ‘n alleen gevoel, maar my kop was deurmekaar en ek het gevoel dit was nodig dat ek daar moet wees. Ek dink hulle het vir almal pille op gereelde tye gebring. Ons het soos in ‘n koshuis drie etes per dag gekry en ons moes almal saans voor slaaptyd stort.

Ek is ‘n paar keer deur dokters ondersoek, onder andere deur ‘n baie gawe saggeaarde vroue-psigiater, Dr. Snyman. Hulle het ook dat ek ‘n paar keer so ‘n raaisel vraestel doen, seker om te kyk of my kop werk. Die dae het andersinds maar saai verloop. Almal het net rondgesit - ek dink daar was ‘n TV. Buite was ‘n klein stukkie gras. Ek het aanhoudend rondom dit geloop vir oefening - ek onthou nog hoe my hart geklop het. Daar was ‘n gat in die omheining waardeur ek sou kon klim om uit te gaan, maar ek het nie. Saans is ons maar weer bed toe na TV vir nog ‘n nag. Ek dink ek het redelik goed geslaap - waarskynlik het hulle vir ons iets gegee om deur die nag te slaap. Ek kan nie onthou dat ek met van die ander mans vriende gemaak het nie. Een van die ouens het saans as die ander TV kyk op die sementvloer agter die stoele opgekrul gelê. Ek het vir hom ‘n matras gekry om op te lê (underdog).

Ek dink ek was twee weke daar toe het ek Dr. Kotze gevra of ek vir die naweek huis-toe kon gaan. Een van die senior psigiaters van Stellenbosch Universiteit het gesê hy moet my nie laat gaan nie, want ek sal nie weer terugkom nie.

Dit was wonderlik om weer by die huis te wees waar ek geborge gevoel het, en ek het met ‘n swaar hart Sondagmiddag terug gegaan Stikland toe. Ek dink ek was vir nog 2 weke in afdeling S4.

In die tyd dat ek daar was, het Louis en Moira vir my kom kuier, asook Louis en Carine Havenga. Louis Havenga was hoogs ontsteld en het gesê ek hoort nie daar nie. Die besoekers is ook ingelaat deur stewige staal hekke en ons het gekuier soos in ‘n tronk.

 

Die hele episode, veral die tyd in Stikland, was vir my baie onaangenaam en ek het gevoel ek wil nie weer na so ‘n plek gaan nie. Rinie en die twee seuns was baie bly om my weer by die huis te hê, en ek was regtig bly dat my lieflingkat Poena weer terug was. Sy kon dit seker nie verstaan hoekom ek haar vol tandepasta gesmeer het nie.

 

 

EPISODE VAN 2019

Die volgende keer wat ek die spoor byster geraak het was net voor die Algemene Verkiesing van 8 Mei 2019. Ek kan onthou dat hulle wou gehad het ek moet die oggend vroeg inboek by Sereno Psigiatriese Kliniek in Paarl, naby Paarl Medi-Clinic, maar dit was stemdag en ek het eers gaan stem in die Hugenote Hoërskool se saal.

By Sereno was dit ‘n heel ander opset as by Stikland - geen diefwering of traliedeure nie. Die atmosfeer was ook heel anders. Die personeel was vriendelik, die kos afgewissel en besonder lekker. Almal het uitgesien na etenstye. Ek het ‘n lekker bed in ‘n twee-bed kamer gekry met ‘n lugreëlaar, wat meer soos ‘n hotelkamer gevoel het. Al beperking was dat ons net een of twee keer per dag vir ‘n uur of so ons selfone mag gebruik het. Die res van die tyd is dit ingehandig en in ‘n laaikas gesluit gehou.

Ons het ontspanningstye gehad waaraan ons vry was om deel te neem. Een waarvan ek baie gehou het, was ‘n soort drom konsert waarin elkeen ‘n verskillende drom kon kies. Ek kan nie mooi onthou nie, maar ek dink die terapeut wat die konsert gelei het, het musiek gespeel en ons moes dan in volgorde ons drom slaan. Ek het gewoonlik ‘n groot drom gekies wat ek met mening kon slaan om ‘n harde vibrerende klank te gee. Dit het my ‘n gevoel van “elation” gegee.

Heel anders as die gewaarwording wat ek gehad het by die huis die nag toe ek my kop verloor het. Daar het ek belewe dat ek sweef in ‘n swart ruimte waarin daar niks was nie, nie eens sterre nie.

Daar was ‘n soort spyskaart wat die dag se aktiwiteite aangedui het. Daar was veral twee terapeute van wie ons almal baie gehou het, mens kan amper sê ons was lief vir hulle. Hulle het ons baie interessante dinge laat doen - skilder, mini voorwerpe soos versierde kerse maak, versierings op hardboard en baie meer. Tussen-in het hulle elke dag vir almal in die klas gevra hoe ons voel. Dan het sommige met die duim af gewys, andere horisontaal. Ek het altyd met my duim op gewys.

In die klas was ‘n oulike vrou wat altyd met die duim af gewys het. Ek het haar probeer opbeur (underdog). Die ander vrou wat ek onthou was ‘n groot gesette kleurlingvrou, Johanna, wat ook dikwels teneergedruk was. Die kamer waar ons aktiwiteite was, was op die eerste vloer, na so ‘n lang trap. Ek het eenkeer laggend vir Johanna gesê ek kan eenkeer vir haar opstoot, dan kan sy die volgende keer vir my opstoot. Johanna is baie godsdienstig en het eenkeer vir my gesê haar hartsbegeerte is om ‘n grootdruk 1933 Bybel met drukmerke vir elke boek (tabs) te hê.

Ek dink ek was heelwaarskynlik op ‘n high meeste van die tyd wat ek by Sereno was. Dit is soos dit met sulke mense gaan - soms is jy in die dumps, soms neutraal, soms op ‘n high. Omdat ek omtrent altyd op ‘n high was, was my tyd by Sereno vir my baie aangenaam. Ons het af-en-toe elk indiwidueel ‘n afspraak met ‘n psigiater of ‘n sielkundige gehad.

Shaun Jacobs, ‘n psigiater, het ‘n paar keer met my ‘n onderhoud gehad. Hy het ‘n tablet gehad waarop hy met ‘n pen of sy vinger geskryf het. Wanneer hy my iets gevra het, het ek weggevlieg en gepraat, dan stop hy my, totdat ek geleer het om net vir hom te antwoord wat hy gevra het. Die sielkundige wat ek gesien het, was August Lohann, ‘n baie aangename mens.

Rinie het kort voordat ek na Sereno was ‘n ernstige rugoperasie gehad by ons gunsteling ortopeet, Dr. Leon van Wyk, wat ook my rugoperasie in 1990 gedoen het, en Marinus s’n omtrent in 2010. Rinie het swaar gekry, want sy was alleen by die huis en het met twee krukke oor die weg moes kom. Die twee seuns was albei lankal uit die huis en sy moes staatmaak op vriende om vir haar met besoektye na Sereno te bring. Ek was blykbaar baie veeleisend met wat ek wou gehad het sy elke keer vir my moes bring.

In daardie tyd het ek verwoed geskryf, briewe vir die Burger en ek dink ook aan Helen Zille, vir wie ek ‘n baie groot bewondering het, en ook aan Mmusi Maimane, destyds die leier van die DA. Ek het ‘n lang brief aan die Burger vir Shaun gegee om te pos of te e-pos, maar ek dink nie hy het dit ooit gedoen nie, want ek het dit nie in ons daaglikse koerant gesien nie.

Ek het die selfoonnommers en name van al die mense in ons groep gekry en ‘n Whatsapp groep opgestel sodat ons kontak met mekaar kon hou wanneer ons uit Sereno was. Dit was teen Sereno se reëls, maar ek wou dit doen (underdogs). Sommige het vir ‘n tyd kontak gehou op hierdie manier. Nadat ek omtrent twee weke by Sereno was, was my mediese fonds daarvoor uitgeput en het ek huis-toe gegaan.

Maande daarna was ek nog weer twee keer by Shaun se kantoor in Medi-Clinic. Beide kere het hy my stilgemaak as ek spoed optel, en gevra of Rinie ook daar was, dan het hy haar laat inkom en met haar oor my gepraat. Ek het nogal afgehaal daaroor gevoel.

Ek is eendag na CUM Boeke in Paarl en het gekyk watter Bybels beskikbaar is. Ek het ‘n ligbruin sagteband grootdruk 1933/53 Bybel gekry met drukmerke vir R475. Dit was baie geld, maar ek wou dit graag vir Johanna koop. Rinie het vroeër toe ek ‘n senuwee-ineenstorting in 2006 gehad het, gesê die psigiaters het haar gewaarsku dat ek in daardie toestand geneig kan wees om groot finansiële transaksies aan te gaan, soos toe ek geteken het vir daardie huis in Durbanville. Hierdie koop van ‘n duur bybel vir Johanna val waarskynlik ook daaronder.

By die huis het ek dit in bruinpapier toegedraai en toe in die flennie materiaal van ‘n ou naghemp! Johanna bly in Riebeek-Wes, en ons het eendag daarheen gery en ek het vir haar die pakkie gegee, en nie gesê wat dit is nie. Sy was só dankbaar. Sy stuur nog gereeld vir my godsdienstige versies en kort videos en ek reageer meesal daarop met ‘n icon of ‘n kort boodskappie. Sy was blykbaar nadat ons saam by Sereno was weer ‘n paar keer daar vir depressie. Daaroor het ek nogal ‘n sagte plekkie vir haar (underdog).

 

 

DIE DIALOOG: PERSPEKTIEWE OP GEMOEDSTRYD

Hierdie gesprek is saamgestel uit uittreksels van e-posse met my seun tussen Februarie en November 2025. Dit weerspieël die soeke na antwoorde oor die oorsake van my senuwee-ineenstortings in 2006 en 2019.

 

CHRISTIAAN: Dit is nie om dowe neute dat Pa daardie twee senuwee-ineenstortings gehad het nie. Ek dink daar was trauma in Pa se jong lewe - dinge wat onderdruk was en nou uitgeloop het op hierdie krisisse.

 

PA: Ek kan nie van sulke insidente onthou nie. Daar moes seker iets gewees het wat dit veroorsaak het, maar mens weet nie altyd wat in jou kop aangaan nie. Ek beskerm nie myself nie. Dit is wat gebeur het in my lewe en ek aanvaar dit, 'warts and all'. Dit is verlede tyd; daar is niks wat ek nou daaraan kan verander nie

 

CHRISTIAAN: Pa moes letterlik ophou werk sodat jy genoeg gepla kon word deur jou ‘unmet needs’ wat gelei het tot daardie familie vergadering destyds voor die ‘breakdown’.Pa het gesê "Ek het julle baie lief, maar weet julle dit?" Ek glo daar is leidrade wat Pa kan help om te verstaan dat dit nie net oor die aftrede of politiek gegaan het nie. Trauma-herinneringe word in die liggaam gestoor, selfs al onthou die denkende brein dit nie. Jou emosies en denke sit in verskillende dele van die brein. Pa se 'attachment style' is ‘anxious pre-occupied’, net soos myne. In ekstreme gevalle kan so ’n persoon paranoïes word. Ek onthou hoe Pa die gordyne begin toetrek het uit vrees dat mense ons sou hoor.

 

PA: Jy redeneer nou as iemand wat self OCD het en sielkunde boeke lees. Omdat jy daarvan lees, dink jy ons het jou nie liefgehad soos jy dit wou hê nie. Ek glo dat die meeste mense 'normaal' is en nie hierdie tipe probleme het nie. Daar kan ander verklarings wees wanneer mense hierdie simptome het - dis nie noodwendig dat dit childhood trauma was nie. Toe ek jonk was, het ek goed met my Ma klaargekom, en my Pa was vir my ‘n god figuur. Omdat ek ‘n sensitiewe mens is wat my inlewe in die werklikheid, trek ek my baie dinge aan, veral wanneer ek sien iets raak ander mense, of diere. Dis glad nie dat ek ‘abandon’ was as kind nie.

 

CHRISTIAAN: Maar Pa, dink aan die paranoia net voor die ‘breakdown’. Ek onthou hoe Ma gegil het omdat Pa haar om die keel vasgehou het. Daardie nag het ons Pa op die vloer gekry waar Pa iets vir jouself gemompel het. Die spieëltafel het omgeval omdat Pa een poot afgebreek het, en die kamer was deurmekaar. Pa het die video-kamera probeer breek en die kat met tandepasta gesmeer. Marinus het gesê Pa het genoem dat Pa soos God was, en dat hy nou moet oorneem van Pa.  Pa se oë was omgerol, katatonies. Ek dink daar was ’n mate van psigotisme betrokke waar Pa heeltemal kontak met die realiteit verloor het.

 

Om hierdie ui te skil, laag vir laag weg te trek om uit te kom by kern - daar is ‘n logiese rede vir alles wat hier gebeur het. Dit was nie net sommer iets wat gebeur het met Pa nie, dit was iets groot. Die denkende brein het nie te doen met trauma nie, dis in die primitiewe deel van die brein. ‘Trauma memories’ word onthou in jou liggaam, al onthou jy dit nie met jou denkende brein nie. Jou emosies en jou denke is in verskillende dele van jou brein, so jy kan emosionele probleme hê waarvan jy nie bewus is nie, maar dit beteken nie dit het nie ‘n effek op jou nie. Daardie emosionele probleme bly in jou liggaam, en dit soek ‘n uitlaatklep. 

Ek dink Pa het werk gebruik as ‘n ‘coping mechanism’, om nie Pa se gevoelens te voel oor dit wat in Pa se lewe gebeur het nie. Die ‘key’ is dat al is Pa deur ‘n gebroke huwelik en het weer getrou, Pa se emosionele probleme kom vanaf ‘n vroeër tyd. ‘Attachment styles’ word gevorm binne die eerste 2 jaar van jou lewe. Dis baie ‘confusing’ dat ons soms depressief voel, angstig is, bang is, klein voel in die oë van ander, ‘abandoned’ voel, voel ons is niks werd nie, maar ons kan nie verstaan hoekom nie.

 

‘n Baba wat gelos word om te huil ervaar ‘abandonment’. Daardie goed kom van toe ons baie jonk was, dis hoe ons toe gevoel het, ons kon nie daardie emosies ‘process’ toe ons so klein was nie, ons brein was eenvoudig nie ontwikkeld genoeg nie. In plaas daarvan ‘adapt’ die baba/toddler op maniere om steeds ‘attachment’ of verhouding tussen homself en sy Ma of Pa ‘n kans te gee. Die baba kan byvoorbeeld dit reg kry om sy emosies te onderdruk deur te begin glo dat daar fout is met hom, dat sy gevoelens nie sin maak nie, en dat dit dus onderdruk moet word.

 

PA: Ek kan onthou dat jy reg in die begin van ons eposse vir my herhaaldelik gevra het of ons jou gelos het wanneer jy huil, sodat jy huil tot jy aan die slaap raak. En ek het gesê ek kan nie glo dat Ma jou sou los nie, want dan is sy in elkgeval wakker, en dit maak sin dat sy sou opstaan om jou aan die slaap te sus. Dit het nie vir my geklink of jy my glo nie, want dis onder andere wat jou sielkunde boeke sê waar childhood trauma vandaan kan kom. 

 

CHRISTIAAN: Dit gaan oor ‘attachment styles’. 'n Baba wat gelos word om te huil, ervaar dit as lewensgevaarlik. Die geloof dat daar iets fout is met hom is ‘n groot probleem. Dis baie diep, ver weg van die ‘conscious’ denkende brein. Wat ek dink met Pa gebeur het, is dat Pa van jongs af nie gebond het met Ouma de Jager nie, nie soos Pa moes nie. Dit sal ‘n impak hê op die kinders. Moontlik het Pa ook nie ‘n ‘bond’ gevorm met Oupa de Jager nie. Ek praat nou weereens van baie kleins af. As 'n ‘adult’ mag 'n situasie objektief veilig wees, maar die senuweestelsel word geaktiveer asof daar gevaar is. Pa het werk as 'n verdedigings-meganisme gebruik om nie te voel nie.

 

PA: Ek dink baie van wat jy hier skryf is moontlik werklike sielkundige probleme wat bestaan by sommige mense, maar jy kan nie sommer dit op my, of enige/alle mense van toepassing maak nie. Soos ek al baie vir jou gesê het, glo ek dat die meeste mense normaal is en nie hierdie probleme het nie.  

 

CHRISTIAAN: Mense wat ‘anxious attachment’ het glo daar is fout met hulle, maar dat ander mense OK is. Hulle probeer dus om dele van hulself te onderdruk sodat net dit wat ander sal aanvaar na vore kom. Emosies wat ander gaan afsit, word onderdruk. Dele van ‘n mens word letterlik onderdruk, soms sonder dat jy bewus is daarvan. Perfeksionisme is ‘n ander strategie wat ook gebruik word, sodat hulle ander mense kan ‘please’ en veilig voel van ‘abandonment’. Dis die groot seer van die ‘anxiously attached’, hy was ‘abandoned, rejected’ - nie aanvaar toe hy baie jonk was, en dus het hy dit onderdruk. In die proses kan so ‘n mens homself verloor, en nie regtig weet wie hy is nie. 

Hy voel nie veilig dat hy sy emosies kan wys nie. Dalk veroorsaak dit dat die persoon nie van hom hou nie. Daardie gevoel van gevaar is ‘real’, dit is iets wat ‘fight, flight, freeze, fawn response’ veroorsaak - ons ‘sympathetic nervous system’. Dis gemaak vir as daar gevaar is, regte gevaar. Die probleem is toe ons so jonk was was dit ‘n regte gevaar - ‘n baba sal dood gaan sonder fisiese aanraking, sonder liefkosing, sonder aandag. Dis ‘life or death’, en die baba pas aan om te oorleef. Nou as ‘n volwassene mag ‘n situasie dalk glad nie gevaarlik wees nie, objektief, maar die ‘sympathetic nervous system’ is geaktiveer as gevolg van ‘childhood trauma’, daardie trauma wat vas sit in die liggaam waarvan mens nie bewus is nie.  

Mens kan ‘highly functioning’ wees, die denkende brein word nie belemmer deur ‘childhood trauma’ nie, mens kan begin staat maak op jou denkende brein as jy jou emosies onderdruk. Dis nie die hele menslike ervaring nie, maar mens kan oor die weg kom. Daardie dat Pa maklik hartseer was deur die jare, mens noem dit 'leaky emotions'. Dis emosies wat uiting soek, maar wat onderdruk is vir jare. Dit kom dan uit bietjie bietjie as daar ‘n kans is. Ek glo nie Pa is so sensitief soos Pa dink Pa is nie, ek dink daardie kom uit groot hartseer van ‘abandonment’ toe Pa klein was. Pa is nie lief gehad, onkondisioneel, aanvaar en die ‘centre’ van Pa se ouers se ‘universe’ gewees vir daardie eerste twee jare nie.

Pa glo dit ook, dat die baba van jongs af moet leer die wêreld draai nie om hom nie. Dit moet egter vir die eerste twee jaar, en dan stadig moet die baba of toddler geleer word dat daar ander mense is met emosies wat ook in ag geneem moet word. Daar is ‘n periode wanneer alles om die baba moet draai, maar as ouers self probleme het kan hulle dit nie gee nie - jy kan net gee wat jy self het. 

PA: Bog. Ouers kan nie met elke baba skielik maak asof die wêreld gaan stilstaan sodat alle aandag aan daardie kind alleen gegee word nie - die lewe van die ouers en ander ouer kinders met al sy verpligtinge gaan aan. Almal moet versorg word en het ‘n behoefte aan liefde, nie net die baba nie.

CHRISTIAAN: Die dat Pa steeds voel al die goed wat ek noem is nie ‘relevant’ in Pa se geval nie - onthou net dat Pa se ‘conscious’ deel, die denkende deel nie hierdie goed ervaar of bewus is daarvan nie. Dit lê in ‘n ander deel van die brein. Pa kan glo soos Pa glo, en Pa voel die goed is net nie toepaslik vir Pa nie...maar dit kan steeds waar wees, want dit lê in die ‘sub conscious’. Pa is nie noodwendig bewus hiervan nie...maar soms maak die ‘sub-conscious’ ‘n plan om ons aandag te kry oor ‘issues’...soos ‘n ‘breakdown’. 

 

PA: Ek aanvaar dat dit is wat gebeur het, maar ek kies om vorentoe te kyk. Dit is deel van my geskiedenis, maar dit definieer nie my hele menswees nie. Ek hoef my nie te skaam oor enigiets wat ek gedoen het nie. Ek het my gesin lief en ek het altyd probeer om die regte ding te doen, selfs wanneer my eie gemoed teen my gedraai het.

 

CHRISTIAAN: En weereens blameer ek nie vir julle nie. ‘Ignorance’ spreek egter nie ‘n mens vry van die verantwoordelikheid om jou ‘issues’ te face nie. Dis moeilik, en daar is baie ander faktore, soos die milieu waarin julle was. ‘Mental health’ was nie regtig iets waarvan mense so bewus was nie.

Dink aan Pa se lewe. Dinge soos Pa wat Tannie Heléne laat uitgaan het in die aand sonder dat sy sê waarheen sy gaan. Dis nie normaal om so iets net te aanvaar nie. Die dat Pa ingegee het toe Heléne dreig om haar lewe te neem, wys weereens dat Pa nie in ‘touch’ was met Pa se eie ‘needs’, en dat Pa nie jouself hoog geag het nie...Pa se ‘needs’ was nie belangrik nie. 

Dink aan wat ‘n sielkundige vir Pa gesê het, dat Pa nie ‘issues’ wil ‘face’ nie. Dink aan Pa wat in ‘n ‘fetal position’ gelê het rondom die verwarmer in die aande todat Pa aan die slaap geraak het na Pa se egskeiding. Daardie alleen is ‘n teken van probleme in Pa se jong dae. Pa se breakdown in 2006 is iets wat met mens gebeur omdat mens nie luister na wat binne aangaan vir te lank.

Om slegte dinge oor te kom, om moeilike emosies te ervaar, om emosioneel seer te kry in die lewe is ‘part and parcel of being alive’. As mens ‘secure’ groot word, omdat jou ouers ‘secure’ is, dan leer mens hoe om moeilike emosies te hanteer, te ‘process’. Mens is nie bang vir moeilike emosies nie, en mens leer ook om jouself te beskerm, want mens ag jouself hoog genoeg dat jou ‘needs’ belangrik is - jy is bewus van jou ‘needs’. As iemand ‘consistently’ nie jou ‘emotional needs’ in ‘n verhouding ‘meet’ nie, of as daar selfs ‘n vorm van ‘abuse’ is of ‘emotional neglect’, dan het mens ook die vermoë om weg te loop - jy is nie ‘loyal for the sake of being loyal’ nie. 

‘n Pad saam met ‘n terapeut kon wondere verrig het, vir ons albei. 

 

SLOTSOM: MEER AS DIE SOM VAN MY DELE

Wanneer ek vandag terugkyk op hierdie gesprekke en die herinneringe aan daardie donker tye, besef ek dat 'n mens se lewe nie deur sy krisisse gedefinieer word nie, maar deur hoe hy kies om daarna op te staan. Christiaan soek na die "hoekom" in die wetenskap van die brein en die letsels van die verlede, terwyl ek vrede vind in die eenvoudige feit dat ek oorleef het.

 

Ek koester geen skaamte oor hierdie episodes nie. Dit is deel van die mosaïek van my bestaan - die "warts and all" waarvan ek in my briewe praat. Hierdie reis deur Stikland en Sereno het my geleer dat sensitiwiteit nie 'n swakheid is nie, maar die bron van my empatie vir ander. Mag my nageslag hieruit leer dat die menslike gees merkwaardig veerkragtig is. Al slaan jy die poot van 'n spieëltafel af in 'n oomblik van totale verwarring, kan jy steeds later met 'n regop rug en 'n vol hart vorentoe kyk. My geskiedenis is ryk en kompleks, maar dit is my liefde vir my gesin en my geloof in die toekoms wat die finale woord spreek.

 

 
 
 

Comments


bottom of page