top of page
Search

O1B3F4. GERRIT 1992

  • henniej42
  • Apr 22
  • 28 min read

Updated: Apr 23

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-04-22

 

O1B3F4. GERRIT 1992

 

Dit is 'n aangrypende en kosbare optekening van 'n leeftyd se vriendskap, vol deernis, menslike foute, en diep geestelike oomblikke. Die vertelling van jou en Gerrit se pad saam - van die kleingroep-inisiatief in die 90's tot by die stofpaaie van Namibië en die stilte van die Sederberge - vorm 'n ryk skildery van wat dit beteken om werklik saam met mense te loop.

 

Dit is 'n aangrypende en eerlike weergawe van 'n vriendskap wat oor dekades gestrek het, met al sy teksture - van die frustrasie met 'n toegesluite motorsleutel tot die diep emosionele oomblikke van afskeid. Jou vertelling van Gerrit se lewe en julle gedeelde pad vang die kompleksiteit van mans-vriendskappe baie mooi vas.

 

 

GERRIT EN DIE PAD VAN VRIENDSKAP (1992–2025)

DIE KLEINGROEP: WAAR HARTE VERDIEP

Ek kan nie onthou wanneer ons vir Gerrit en Freda ontmoet het nie. Ek dink dit was deur die kleingroep inisiatief van Wellington NG Moederkerk. Ons het groepies van so tien lede gevorm, want dis omtrent soveel as wat die normale huis se sitkamer / woonkamer / eetkamer kan hanteer. Ek dink toe ons kerk begin het met die kleingroep beweging was daar ‘n paar gesinne aanvanklik by ons wat later na ander groepe, waar van hulle vriende was, geskuif het. Ek dink dit was onder andere Erik Marais, Johan van der Sandt, Jannie Louw, Johann en Marinda Lemmer, en Kobus Venter. Kobus het gesê hulle soek dieper byeenkomste, hulle is klaar met melkkos. Good riddance.

 

Ons groepie was van die begin af lig gewees. Ons sang was vir ons belangrik. Ons groep is só gesif en het vir lank bestaan uit Gerrit en Freda van der Merwe, Pieter en Rika Benade, Oom Charlie en Cathy Cross, Laboux en Elize Laubscher, Almero en Annemarie Loots, en ek en Rinie. Die kleingroep beweging was om verdieping en meer geesdrif in die gemeente te bevorder. Dit is die mense saam met wie jy kan groei, lag en dien.

Ons het gereeld eenkeer elke tweede week op Donderdag-aande bymekaar gekom, om die beurt by mekaar se huise. Ons het geopen met gebed en dan lekker saamgesing. Gerrit se seun Hakie (Johan) het vir ons kitaar gespeel en almal kon een van ‘n klomp populêre liedjies kies wat later in die Liedboek opgeneem is, wat ons dan uit volle bors gesing het Van die populêrste was: Ons is almal hier tesaam. Majesteit. Jesus, groot bo almal. Loof die Here, al wat lewe. Ek sien ‘n nuwe hemel kom. Genade, onbeskryflik groot. Soos ‘n wildsbok. U het die brood gebreek. Doen slegs U wil Heer. Wat ‘n vriend het ons in Jesus. Die liedjies en andere was in so ‘n klein boekie en die samesang was die hart van ons samekoms.

Een keer het ons sang begin op ‘n komieklike noot. Dit was by Almero-hulle. Iemand moes elke keer die noot insit, toe gebeur dit dat twee mense, ek kan nie onthou wie nie, altwee die noot insit, op verskillende toonhoogtes. Dit het só snaaks geklink dat ons nie ons lag kon hou nie en ek het die gevoel gekry dat Annemarie haar vererg het oor ons geproes.

Om die beurt het elkeen kans gekry om die week se boodskap voor te dra. Ek het wanneer dit my beurt was ‘n stukkie uit my Joernaal of Prosa lêers voorberei en het dit geniet om die stukkies op te stel en ‘n kopie vir elkeen te druk, alhoewel dit dikwels nie godsdienstig was nie maar eerder geestelik: Afhanklikheid van mekaar; Wat is Liefde; Op soek na die Waarheid; Vriende; Gemoedsrus; Die Wet of Genade; My eie Geloofs-oortuiging; Lewe jy of bestaan jy net, ensovoorts. Meeste van die ander het stukkies waarvan hulle gehou het uit onder andere Solly Ozrovech se populêre boeke van dagstukkies aangebied. Daarna het ons almal op die ry af hardop gebid. Dan het ons lekker tee of koffie gedrink, met eetgoedjies voorgesit deur die huisvrou.

Ek dink ons almal het uitgesien na hierdie byeenkomste, wat natuurlik die doel van die kleingroep byeenkomste was. In so ‘n klein groep het mense die vrymoedigheid om elkeen sy of haar mening te lug; meeste mense voel geïntimideerd om in die groot kerk op te staan en iets te sê. Ons kleingroep was baie suksesvol en het lank bestaan en ons het vriende geword. Elkeen het sy of haar eie karakter gehad en ons het geleer van mekaar, ook om andere met ander sienings te verdra.

 

Ek onthou eenkeer toe ons by Gerrit se huis in Bergstraat bymekaar was, het Pieter en Rika iets op die bors gehad. Ek onthou hoe Pieter en Rika met bewoë harte gedeel het dat hulle dogter verwag. My onmiddellike reaksie was: "Van ons sal julle geen woord van kritiek kry nie." Daardie oomblik van onvoorwaardelike ondersteuning het bewys hoe geheg ons aan mekaar geword het. Dit is iets wat enige meisie kan oorkom. Ek het nog altyd gevoel dat dit baie onregverdig van die samelewing is dat die meisie uitgesonder word vir kritiek, terwyl die man, wat netsoveel skuld het, meesal skotvry daarvan afkom.

 

Gesinsnaweek by Mispa. Ons is die naweek van 5 tot 6 Maart 1994 saam met ander gesinne van die moederkerk weg na Mispa, 'n oord van die ring van Swartland NG Kerk, in die berge naby Grabouw. Aanvanklik was ons nie oor-entoesiasties daaroor nie, en het ook maar gegaan omdat dit 'n aanbieding van ons kerk was, maar ek dink meerendeel omdat ons as 'n gesinsgroep graag saam wou gaan, omdat ons nou mekaar se geselskap baie begin geniet het, mekaar as mense.

 

‘n Komieklike insident was toe ek met middagete kamer toe is en ‘n 5 liter bokswyn gaan haal het. Almal was verbaas, want dit was ‘n kerk-byeenkoms en niemand het wyn saamgebring nie. Gerrit het hom daaroor verknies toe ek met die bokswyn daar ingestap kom en vir almal aan ons tafel ‘n glasie skink. Een ou van ‘n ander tafel het kom vra om sy glas ook vol te maak.

 

Die verhouding tussen ons vyf gesinne het die laaste paar jare baie mooi gegroei, soveel so dat ons almal uitgesien het na die byeenkoms bymekaar, die hartlikheid daarvan soos wat ons as indiwidue mekaar beter leer ken en vertrou. Dit was sekerlik een van die hoogtepunte van ons eie verblyf in Wellington.

 

Is alle mense so afgesluit in hulle eie wêreld? Dis so asof hierbinne 'n eie privaatwêreld is waar al die emosies plaasvind, op jou eie wêreldtoneel waarin jy die hoofrol speel. Soos Dale Carnegie in sy boek How to Make Friends and Influence People sê: "A boil on a man's neck means more to him than a famine that kills a million people in China".

 

Ek en geen mens kan vir 'n ander praat nie, maar dit wil voorkom asof daar in elke mens (dalk lewende wese?) ook sulke wêrelde is, wat netso groot in omvang is as die wêreld wat jy as indiwidu waarneem. Dis seker hieroor dat sommige filosowe sê daar is geen werklikheid nie, net maar dit wat elkeen deur sy sintuie ervaar, the world within.

 

Is dit nie fantasties hoe die Here ons geskape het nie? Die lewe daarbuite is tot in die oneindigheid, groter en verder as wat my verstand kan begryp, en dit net hier op ons eie planeet. En kyk net waar strek die heelal tot in die oneindighed. En nou sê ander geleerdes daar is netso 'n oneindigheid in die mikro-wêreld na binne, wanneer jy die mikroskoop in plaas van die teleskoop gebruik.

 

En dan praat hulle net van die fisiese wêreld. Dan raak hulle nog nie eens aan die geestelike nie, wat weer 'n oneindigheid op sy eie is, en die wonderlikste daarvan, daar is 'n oneindigheid in elke mens. Hoe wonderlik is God Almagtig nie! Hoe vêr en hoog verhewe is Hy nie. En dan, wonder bo wonder, maak Hy gemeen met elkeen van ons, met alles wat Hy geskape het. Dit gaan ons verstand te bowe. O Heer, My God, as ek in eerbied wonder, hoe U dit alles onderhou. Dan kan ons maar net neerval soos die tollenaar en stamel “O God, wees my arme sondaar genadig.” Die wonder daarvan dat Hy steeds bewus is en betrokke by elke stofkorreltjie wat Hy geskape het en dit alles nog steeds in sy hand hou.

 

 

POLITIEK EN MENSLIKHEID: DR. PIET KOORNHOF

‘n Paar dae voor die verkiesing op 27 April 1994 het die NG Kerk van Suid-Afrika en waarskynlik ander kerke ook besluit om ‘n weeklange 24-uur gebedsketting te hou. Mense wat wou deelneem het elk ‘n kwartier of halfuur gekry om te gaan bid vir die verkiesing wat voorlê, dat dit vreedsaam sal verloop.

Ons gesinsgroep het besluit om liewer saam in ‘n tydblok te gaan bid eerder as een-een apart. Ek dink ons was saam in die Marthasaal van so 23:00 tot 01:00. Elkeen het ‘n beurt gekry om hardop te bid, ook in stilgebed. So ongeveer 00:30 kom Prof. Jaap Furstenberg stil daar in en gaan sit. Toe hy bid kon ‘n mens sy opregtheid aanvoel en ons het geweet hy is eenvoudig in ‘n heel ander klas van diep gelowigheid.

In 1994, voor die verkiesing van 27 April, het ons gewonder of ons een van ons politieke leiers kon nooi om ons te kom toespreek. Ons het gedink aan FW de Klerk, maar hy sou te besig wees. (Gister het ons gaan kuier by Gerrit op sy 87ste verjaarsdag, en toe ek hom vertel hiervan, sê hy ons moes vir FW gevra het, hy sou gekom het.) Toe dink ek aan Dr. Piet Koornhof, SA se voormalige ambassadeur by die VVO. Hy het baie ondervinding en kennis van wat in die binnekring van die NP aangaan. Ek het dit bespreek met Gerrit, en ons was altwee positief.

Toe ons die gedagte voorlê aan die groep was Pieter Benade baie ontsteld, want Dr. Koornhof het toe ‘n verhouding gehad met Marcelle Adams, ‘n kleurlingmeisie wat vir hom gewerk het. Sy het ‘n babatjie gehad, en mense het gewonder of dit syne was. Pieter het gesê die NP ministers was soos helde vir hom, en hy het Dr. Koornhof gesien as ‘n verraaier. Ten spyte daarvan, het ons besluit om Dr. Koornhof uit te nooi om ons te kom toespreek. Hy het dadelik ingewillig en gevra of hy vir Marcelle kon saambring, waarop ek gesê het ja, sy kan die kleinding ook saambring. Hulle het toe nie haar baba gebring nie.

Sy kon maar, want ons het 'n fantastiese aand gehad. Maar, soos baie van die ander dingetjies wat ek van hom ondervind het die afgelope paar weke, is hy, en dan ook sy, mense wat bedagsaamheid teenoor ander mense uitlewe. Dis vir my ongelooflik. Dat Dr. Koornhof soveel hoflikheid, agting en inskiklikheid teenoor ander mense betoon. Ek weet dit, want hy het dit teenoor my betoon, en hy ken my van geen Adam se kant nie.

Verseker is dit nie al sterk punt in sy karakter nie, want geen persoon kom waar hy gekom het sonder baie ander talente ook nie. Ons ondervind hom 'n buitengewoon positiewe mens, helder van verstand, met baie deursettingsvermoë. En hy slaag sommer baie van die Twelve Tests of Character, uit die boekie van die Amerikaanse filosoof Harry Emerson Fosdick, wat ek van my Pa geërf het. Hy verdien dit. En ek wil dit hier neerskryf, omdat dit ons gevoelsvlakke raak, iets wat ons met vandag se gejaagde lewe so aanhoudend misken.

Ek het ‘n ruiker van droëvrugte en neute by Versailles Self-Catering gaan koop vir Marcelle. Ek het vir Kobus Victor daarvan vertel en hy was gretig om ook na Dr. Koornhof te kom luister. Pieter en Rika het nie gekom nie. Die aand toe hulle kom het ek hulle gaan inwag by die NG Moederkerk en voor hulle uitgery na ons huis toe. Toe het ek hulle voorgestel aan ons groepslede en Dr. Koornhof gevra om ons toe te spreek oor wat vir ons in die politiek voorlê.

Hy het baie onderhoudend gepraat - ‘n mens kon sien hy het geweet hoe om sy woord te doen en hy het geweet waarvan hy praat. Ek het aandagtig na hom geluister. Hy het vertel waar hy vandaan kom, dat hy ‘n Rhodes beurs gehad het om aan Oxford Universiteit in England te gaan studeer, en sy politieke loopbaan by die NP. Toe het hy sy mening gegee oor wat hy dink waarheen ons op pad was.

Toe hy klaar was het ek hom bedank, ook dat hy vir Marcelle saamgebring het en ek het die ruiker vir haar gegee en hulle is toe na tee en verversings terug Kaapstad toe. Vir my was die aand ‘n hoogtepunt, want ek was nog altyd liberaal en sy verhouding met Marcelle het my nie gepla nie. Ek het gevoel die blankes en kleurlinge moet nader aan mekaar beweeg. Apartheid was iets van die verlede.

 

By ‘n ander geleentheid het ons kerk ‘n fondsinsameling gehad en almal kon geld leen by die kerk om mee te woeker om so met een of ander projek geld te maak vir die kerk se fondse. Ons het besluit op ‘n snoekbraai. Dit het effens gereën en ons besluit toe om onder Laboux se groot afdak agter hulle huis in Bainstraat te braai.

Ons het bestellings gekry, die snoeke gekoop en ook witwyn wat daarmee saamgegaan het. Toe die wyn min raak het Gerrit en ek ‘n 25 liter plastiekkan by Agrimark gaan koop en dit laat volmaak by Wamakersvallei wynkelder in Stokeryweg. By die braaiery het ons natuurlik self ook van die wyn gedrink en dit het naderhand heel vrolik gegaan daar onder die afdak. Ek dink daar het ‘n glasie wyn saamgegaan met elke snoekporsie wat ons uitgery het. Dit was ‘n baie vrolike geleentheid. So die kerk is ‘n samekoms en hoef nie ‘n stywe affêre te wees nie.

 

DIE OOP HART VAN 'N VRIEND

Gedurende Fransa se bevalling in Pretoria was Freda weg om haar dogter te gaan bystaan. Een aand in daardie tyd skakel Gerrit en sê hy verlang na ons, kan hy kom kuier. Dink jou dit aan! Gerrit verlang na ons, en hy kom kuier. Geen wonder ons het vir hom so lief geword nie. Ons kan ook nie anders met iemand wat so 'n oop, spontane geaardheid het nie.

 

Toe hy hier kom, gaan sit ons soos gewoonlik in die woonkamer, ek en Rinie op die tweesitplekbank, Gerrit gaan sit teenoor ons op die driesitplek. Maar na 'n paar minute van gesels, spring hy op en kom sit hier by ons op die trappie: "Ek verlang na julle". Ek kry trane in my oë elke keer dat ek daaraan dink. Met 'n "Kom ons trek vir jou 'n stoel nader" het ek die glastafel uit die pad geskuif en die gemakstoel nadergetrek sodat ons drie naby mekaar kon wees.

 

Gedurende ons gesprek oor hoe dit met Freda en Fransa gaan, het hy gesê hy verlang na hulle, en dit was sekerlik die rede hoekom hy vir ons kom kuier het. Maar dat hy vir ons gekies het om daardie verlange na Freda te stil, laat my klein voel. En oneindig dankbaar. Soos Pappa destyds vir my geskryf het: "Good friends? Bound them to you with hoops of iron". Daardie spreekwoord het ek nog nooit weer gehoor nie, miskien het hy dit self opgemaak. Maar verseker, goeie vriende is skaars, en soos alle kosbare dinge, moet jy dit soos 'n kleinood bewaar.

 

AVONTURE OP DIE GRONDPAAIE

 

NAMAKWALAND

Gerrit is baie lief vir Namakwaland se blomme en een jaar hier in Augustus was dit ‘n goeie blommejaar en ons het saam met hom en Annetjie in Annetjie se Renault Clio opgery na die Weskus. Ons het die eerste aand geslaap in ‘n huisie in die Algeria ruskamp in die Cederberge. Dit was net ons vier daar en dit was baie rustig met die kabbelende rivierstroompie voor ons deur. Gerrit het gebraai, soos gewoonlik - hy hou baie daarvan. Dit was nogal koud in die nag, en die volgende oggend het Gerrit ‘n vuurtjie gemaak om die koue te verdryf.

Ons is verder na Garies, waar ons by Miemie oorgebly het, familie van Nicolette, Hakie se vrou. Sy het baie vleis voorgesit - in daardie wêreld is dit volop. Miemie het vir ons die Letterklip gaan wys, ‘n unieke rots formasie in die kaal wêreld, wat gefortifiseer is deur die Britse soldate van 1900 to 1902 gedurende die Anglo-Boere oorlog. Die openinge tussen die rotse is met gestapelde klip toegepak. ‘n Verskeidenheid wapens en offisiersname is in die rotse gegraveer.

Daarvandaan is ons na Kamieskroon, en daarvandaan na Skilpad Ruskamp in die Namaqua Nasionale Park. Die blomme is ongelooflik, die heuwels oortrek met geel, oranje, pers, wit en rooi. Toe ons daar was, was dit koud en winderig, dan maak die blomme effens toe, so ons het dit nie in volle prag gesien nie. Ons het êrens afgeklim en ek het met my selfoon se kamera op ‘n klein kolletjie van minder as ‘n meter vierkant ‘n groot verskeidenheid blomplante afgeneem. Daar is ‘n geraamde 3500 verskillende spesies blomme in Namakwaland.

Baie mense gaan gereeld daarheen wanneer dit ‘n goeie blommejaar is. Langs die pad was daar onder andere magrietjies, madeliefies, Namaqua daisies, Pietsnotjies, Perstapeit, vygies, gousblomme, en baie ander soorte.

 

Êrens het Gerrit stilgehou dat ons die blomme van naderby kon gaan kyk, toe gaan sit Annetjie en Rinie in ‘n blombos vir ‘n paar fotos, ook Gerrit en Annetjie en toe ek en Rinie. Groot sports en mooi herinneringe. Annetjie en Rinie was baie groot maats. Wanneer die blomme klaar geblom is, is Namakwaland ‘n droë, dorre omgewing, en wag weer vir die volgende jaar se reënval tussen Junie en Augustus om in blommeprag uit te bars.

 

 

NAMIBIË

Gerrit wou graag vir ons Namibië gaan wys. Ons groep was Gerrit en Annetjie, haar seun Bennie, sy vrou Mariana en hul jong seun Jaco, Albert, Gerrit se swaer en Anita, en ek en Rinie. Gerrit het met sy Ford Bantam bakkie gery, gepak tot teen die dak. Ons het baie vroeg vertrek uit Wellington, ek met my Mazda en die Venter sleepwaentjie met die yskassie wat ek spesifiek vir die toer laat bedraad het, vol vleis vir almal, wat ons langs die pad sou eet. Ons het by Klawer petrol ingegooi en bietjie bene gerek. Toe is ons via die N7 verby Garies na Springbok, waar ons weer ‘n bietjie uitgespan het. Ek het daar ‘n padkaart van Namibië gekoop.

Toe is ons by Vioolsdrif oor die grens, waar ons ‘n ruk moes wag totdat al die formaliteite afgehandel is en die gewere verklaar is, want ons het nou in Namibië ingegaan. Daar het ek my eerste Tafel bier gedrink, wat in die hitte na die lang wag baie lekker gesmaak het. Tot vandag-toe as ek bier gaan koop, vra ek eers of daar Tafel is. Toe is ons na Grunau en daarvandaan na die Wit Huis, waar ons die eerste nag oorgeslaap het. Gerrit het vir ons almal gesê om ons horlosies ‘n uur vorentoe te stel, want Namibië is een tydgrens vroeër as Suid-Afrika. Albert wou eers nie, toe het dit ‘n relletjie afgegee, want Gerrit voel hy is die toerleier.

Die volgende oggend is ons deur na Luderitz. Op pad daarheen het ons gestop by ‘n uitkykpunt om na die geroemde Namibiese wilde woestynperde te kyk in die Naukluft Nasionale Park by Garub. Verskeie teorië bestaan oor hulle herkoms, onder andere dat hulle afstammelinge van Duitse gevegstroepe se perde was. Daar word ook aangeneem dat von Wolf van die Duwisib kasteel se opreggeteelde perde 'n beslissende rol in die geskiedenis van Namibië se woestynperde gespeel het. Hulle voortbestaan word bedreig deur troppe hiënas wat op hulle jag maak. Verseker is hulle ‘n groot toeriste aantreklikheid.

By Luderitz het ons die eerste keer in ons tente geslaap, op baie klipperige grond waar ons gesukkel het om die tentpenne ingekap te kry. Die volgende oggend het ons gaan kyk na die spookdorp Kolmanskop, waar weelderige huise deur waaisand ingeneem is, sodat by sommige net helfte van die vensters uitsteek bo die rooi sand.

Daarna is ons via Helmeringshausen (bier gedrink) en Maltahohe na die Duwisib kasteel, wat met sy versterkings en torings na ‘n middeleeuse bouwerk lyk. Dit was die verwesenliking van 'n droom wat die Saksiese artillerie-offisier Hansheinrich von Wolf en sy Amerikaanse eggenote  gekoester het, ná hul huwelik en vestiging in die destydse Suidwes-Afrika.

Toe is ons na Sesriem, waar ons ons tente opgeslaan het onder ‘n reuse akasiaboom. Ons het lekker daar uitgerus. Marinus het fotos geneem van die meerkatte wat van nuuskierigheid uit hulle gate kom sommer na aan ons kamp. Ons is die volgende dag na Sossusvlei, waar almal die rooi Duin45 geklim het, die mees gefotografeerde duin in die wêreld. Ons het afgegly met ons planke, vir die doel saamgery. Ons het ook gaan kyk na die Sesriem Canyon, wat diep onder die oppervlak uitgespoel is.

Daarna is ons oor Mariental en Stampriet na Gochas. Ons het meeste van die tyd op grondpaaie gery, gelukkig meesal goed geskraap. Die ander het almal met bakkies gery, ons met ons Mazda 626. Soos dit gekom het, was ons altyd laaste, so ons het hulle stof gevreet. Ek onthou spesifiek eenkeer het die pad op die rug van ‘n heuwel gedraai, en ons kon die voorste voertuie sien met die pluim van stof agter elkeen aan. Weens die stof kon ons nie te na aan die ander ry nie, om die ergste stof kans te gee om te gaan lê of weg te waai, so hulle moes waar die pad verdeel het vir ons wag om seker te maak ons vat die regte afdraai. Die fyn stof het binne-in die instrumente-paneel van die Mazda ingetrek.

In die Gochas distrik wou Gerrit gaan gemsbokke skiet op sy vriend Hasie se plaas. Dit is vir my die pragtigste boksoort, met sy fiere houding, grys hare, swart streep en reguit horings. Gerrit wou gehad het ek moet vir onsself een skiet vir biltong, maar ek kon dit nie oor my hart kry nie, toe het ek hom gevra om maar een vir ons ook te skiet, wat hy natuurlik geniet het. Die twee seuns het elkeen teiken geskiet met een van die jaggewere, maar onder my aansporing het hulle nie self gaan jag nie.

Christiaan het later jare toe hy by Bishop Bavin Anglican School Wetenskap onderwyser was ‘n bok gaan skiet in Noord-Transvaal, maar Marinus sal nooit nie, daarvoor is hy te lief vir alles wat lewe. Hasie het met ‘n soort Jeep met baie dik bande gery, ons agterop, duin op en duin af. Soms as die Jeep nie oor die duin kon kom nie, het Hasie teruggestoot en weer die duin stormgeloop totdat hy oor is. Hy was op soek na die gemsbokke, wat in troppe gewei het. Bennie en Albert het moontlik ook gejag, ek kan nie onthou nie.

Dit is net verskriklik hartseer as daardie gemsbokke so vlug oor die rooi duine, om maar net weer ingejaag te word deur die Jeep. Totdat hulle binne trefafstand gaan staan en terugkyk vir ons. Dan die doodskoot deur ‘n teleskoop. Ek kan onthou hoe een van die wat Gerrit geskiet het na so ‘n skoot teen ‘n vreeslike spoed weghardloop, net om verderaan neer te slaan. Hasie sê dis ‘n hartskoot wat maak dat hulle só hardloop. Een van die bokke was ‘n dragtige ooi, en toe sy oopgesny is, het die kleintjie se hartjie nog geklop. Jaco het die diertjie doodgemaak. Dit was baie hartseer.

Hasie se span werkers het agterna gekom om al die bokke op te laai. By die werf is almal afgeslag en die karkasse opgesny om verwerk te word. Jag is een van daardie boere se grootste inkomste. Die meeste van die vleis is verwerk vir biltong en droë wors. Hasie het natuurlik groot verkoelings geriewe. Ons sou verder op ons toer gaan, en dan met die terugkom die vleis kom haal. Ons het vroeg gaan slaap.

Die volgende oggend vieruur het Gerrit ons almal uit die vere en na koffie en beskuit is ons in die donkerte via Rehoboth en Windhoek na Swakopmund (750 km), waar ons almal in so ‘n groot oop rondawel geslaap het. Albert en Anita het gewoonlik hulle tent ‘n entjie van ons af opgeslaan, en Bennie-hulle ook, omdat hy vreeslik gesnork het. Mariana se opblaas matras het ‘n gaatjie gekry en sy moes op die harde grond slaap. Almal van ons het orige komberse vir haar gegee vir die nag, totdat Bennie die lekplek gedurende die volgende dag kon regmaak.

Die volgende dag het ons Swakopmund gaan verken. Dis ‘n pragtige historiese dorp, met ‘n baie Duitse karakter. Daar was kamele ook en Christiaan en Marinus het elk op een gaan ry. Daarna is ons na Walvisbaai, wat nou nie juis veel vir die oog is nie, behalwe die pad met ‘n lang laning van daardie hoë palmbome. Daarvandaan is ons oor Myl 13, Myl 26, Myl 30, Myl 32 - almal visvangplekke, soveel myl van Swakopmund af, op pad na Hentiesbaai. Daar het ons vir ons velskoene gekoop en lekker vis en tjips geëet by ‘n varsvis plek bekend daarvoor.

Toe het ons die pad na die binneland geneem. Gerrit het langs die pad ‘n papwiel gekry en hy moes sy spaarband opsit. Daardie aand het ons by Khorixas geslaap in die oopte in ons slaapsakke, sonder om tente op te slaan. Die volgende dag is ons in Etosha National Park in by Okaukuejo, waar ons twee nagte geslaap het. Ons het in Etosha rondgery en na die diere gekyk, natuurlik altyd op soek na leeus. Dit is ‘n wyd-uitgestrekte wêreld met yl plantegroei, met doringbos savanna, grasse en bome. Etosha het luiperds, olifante, renosters, kameelperde, wildebeeste, jagluiperds, hiënas, sebras, springbokke, rooibokke, koedoes, gemsbokke en elande.

Die leeus was skaars, maar op die laaste dag het ons ‘n hele paar bymekaar gesien. Baie diere is by watergate te siene. As die leeus nie jag nie is die diere baie rustig - hulle kom blykbaar agter dat die leeus klaar gevreet het en nie in ‘n jag bui is nie. Nadat ons die fort daar besigtig het, is ons by Namutoni uit Etosha.

Toe is ons oor Tsumeb, Otavi (waar daar ‘n groot stuk van ‘n meteoriet uit die grond steek), Otjiwarongo, Okahandja, Windhoek (waar ons na die pragtige perderuiter monument gaan kyk het - Reiterdenkmal of Südwester Reiter). Toe oor Rehoboth, Mariental en Gochas na Hasie se plaas, om die verwerkte gemsbokvleis te gaan haal.

Hasie het ons almal na die rooi duine geneem, waar ons speletjies gespeel het, onder andere gemsbok-drol spoeg, en die mans moes elkeen maak of ons ‘n leeu is, in die trant van Robbie Wessels se Leeuloop liedjie. Ons moes elkeen brul soos ‘n leeu en gryp na jou “tools”! Almal het natuurlik geskater soos hulle lag vir ons manewales. Daar is vuurgemaak, vleis gebraai, en ons het lekker in die buitelug geëet. Die nag het ons in sulke rietskerms geslaap. Dit was koud. Van ons het om die vuur geslaap.

Nadat al die bevrore vleis gelaai is in onder andere my Venter sleepwaentjie, is ons weer vieruur weg, oor Koes (waar Pieter Benade grootgeword het), na Keetmanshoop (waar ons na die kokerboom woud gaan kyk het), en toe na Ais-Ais, waar ons oorgeslaap het. Daar is ‘n warmwaterbron en ons kon in die vlak swembad ontspan en later stort in warm water.

 

Die volgende dag vroeg is ons weg, via Noordoewer (waar alles weer verklaar moes word), oor Steinkopf, Springbok, Kamieskroon, Garies, van Rhynsdorp, Klawer, Clanwilliam, Citrusdal en Porterville, tot weer terug in Wellington. Ek dink ons was so 11 of 12 dae weg gewees - dit was ‘n heerlike ondervinding, maar uitputtend. Gedurende die hele toer het ek nooit geskeer nie - ek het net nie daarvoor lus gehad nie, en my baard was heeltemal grys. Ek het eers weer by die huis die eerste keer geskeer.

 

 

DIE SEDERBERGE

Gerrit wou een Augustusmaand vir ons die Sederberge gaan wys. Ons het almal met Annetjie se Renault Clio gery. Ons het weer geslaap by die Algerië ruskamp. Daarvandaan is ons na die Pakhuispas naby Clanwilliam en het gaan kyk na die begraafplaas van Louis Leipoldt, een van Suid-Afrika se bekendste digters (28 Desember 1880 – 12 April 1947), wat onder andere “Oktobermaand” gedig het.

Ons het daarna by Wupperthal gaan slaap, ‘n Duitse sendingstasie diep in die berge. Dis ‘n klein afgesonderde gemeenskap wat daar bestaan. Ek het vir my ‘n paar velskoene gekoop. Agterna was ek spyt dat ek nie vir hulle gevra het om vir my ‘n paar volgens my voete te sny nie, want hulle doen dit glo baie gou. Daarvandaan is ons na die Stadsaal grotte, ‘n groot uitgeholde area. Blykbaar het hulle al daar konserte gehou.

Toe het ons die staproete geneem na die Maltese Kruis. Annetjie kon nie die pas volhou nie, en sy en Gerrit het omgedraai. Dit is ‘n lang klim voordat ons uiteindelik by die kruis uitgekom het. Ons het rondom die kruis gestap, waarvan groot stukke rots oor die eeue afgeval het om die kruis te vorm. Toe het ons die pad terug aangepak. Dit was al laterig toe ons naby die punt kom waar Gerrit parkeer het. Ek het die laaste ent vinnig geloop omdat ek geweet het hy sou bekommerd wees dat ons dalk verdwaal het. Hy was toe ook al erg gestres, het na die plaas daar naby gery, en het selfs gedink aan ‘n soekgeselskap reël en ook ‘n helikopter, so hy was baie verlig toe ons veilig daar aankom. Gerrit se intense besorgdheid toe ons laat was, het sy diep liefde vir sy vriende gewys. Hy het gepraat van die Wolfberg skeur, wat hy en sy kinders geklim het toe hulle nog jonk was, maar ek het gevoel ons is te moeg daarvoor na die Maltese Kruis.

 

BAVIAANSKLOOF: TOETS VAN GEDULD

Met een van ons vakansies na Wolmaransstad het Gerrit beplan dat ons op ons terugtog bymekaar moes kom by Graaff-Reinet. Ek kan nie onthou of ons daardie tyd al selfone gehad het nie. Ons het van Wolmaransstad af gekom, oor Colesberg en Middelburg, ‘n afstand van 650 km, omtrent 7 uur se ry, en Gerrit-hulle van die Kaap se kant af. Die bymekaarkomplek was by een van die Camdeboo Nasionale Park se kampeerplekke. Hulle het vir ons by die ingang gewag, ek weet nie vir hoelank nie. Ek dink hy was ‘n bietjie omgekrap, maar hy het niks gesê nie. Ons is na ‘n kampeerplek, ‘n kaal kol tussen die doringbosse. Ons het ons tente opgeslaan, ‘n vleisie gebraai en gaan slaap.

Die volgende oggend is ons na Nieu-Bethesda, die klein dorpie wat beroemd geword het as gevolg van die Uilhuis van Helen Martins. Ons het ‘n tydjie daar spandeer, nie genoeg vir Rinie nie - sy is mos ‘n kunstenaar. Daarna het ons deur die grondstrate gery om net ‘n gevoel van die dorpie te kry. Dit is beslis ‘n plek waar ‘n mens meer tyd moet spandeer. Marinus en Frieda-Marié was later meer kere daar, eenkeer vir ‘n paar dae op ‘n plaas net buite die dorpie.

Gerrit was haastig, want ons moes inklok by Addo Olifant Park, 300 km weg. Ons het redelik vinnig gery en is net voor toemaaktyd, 18:00, by die hek in. Nadat Gerrit die papierwerk gedoen het, het ons ons tente opgeslaan onder groot bome, naby een van die ablusieblokke. Annetjie se sig het oor jare baie agteruit gegaan as gevolg van glaucoma en Gerrit moes oral saam met haar gaan. Sy is ‘n baie sterk mens, maar soos haar sig algaande verswak het, het dit haar noodgedwonge baie afhanklik van Gerrit gemaak, wat haar gemoed negatief affekteer het.

Ons was vir ‘n paar dae daar en het baie rondgery. Baie olifante gesien, soms baie na aan ons. Ook swart renosters, sebras, leeus, hiënas en elande. Hier en daar is daar plekke waar jy uit jou motor kan klim om bene te rek. Die veld is redelik ruig met areas van oop grasveld. Leeus is natuurlik maar skaars. As hulle te sien is waar hulle ‘n prooi platgetrek het en besig was om te vreet naby ‘n pad het die motors natuurlik so saamgekoek dat mens eintlik ook maar feitlik niks te siene gekry het nie.

Aan die einde van die toer in Addo wou Rinie graag by ou vriende van ons, Nella en Jack Wessels, in Port Elizabeth gaan kuier vir ‘n dag. Gerrit het gesê hulle gaan dan by een van hulle vriende in die omgewing kuier. Soos dit uitgedraai het, was hulle vriende nie tuis nie en Gerrit is toe terug na Addo vir die tyd wat ons by Jack en Nella was.

Ons sou mekaar die volgende dag kry by Patensie omtrent so 86 km van Port Elizabeth af, op pad na Baviaanskloof kampterrein. Nella en Rinie is vriende vanaf hulle studentejare en het mekaar baie lanklaas gesien, so hulle het land en sand gesels. Die oggend toe ons moes ry wou Nella nog eers vir ons ‘n lekker ontbyt maak met spek en eiers, en dit het langer geneem as wat ons beplan het.

Toe ons uiteindelik via Hankey by Patensie uitkom was ons ‘n driekwart uur laat vir ons ontmoeting met Gerrit-hulle en hy is maar iemand met ‘n kort humeur. Toe ons verby hulle ry waar hulle langs die pad wag is ek na ‘n vulstasie om petrol in te gooi. Gerrit jaag toe by ons verby en gaan hou stil by die diesel pomp. Hy kom toe aangestap na ons en sê vir my: “Is dit wat julle wragtig van my dink!”. Hy het hom opgewerk in die tyd wat hy vir ons moes wag. Ek het verduidelik dat Nella vir ons ontbyt wou maak en ons kon nie sommer net ry nie. Hy sê toe “Niemand wag ooit vir my nie, ek is altyd betyds!”.

Toe strip my moer en ek sê vir hom “Dis die laaste keer dat ons ooit weer saam met julle êrens heen gaan!”. Dit het hom gelukkig afgeblaas - ek was daar op die punt om direk Kaap toe te ry. Daarna het ons aangery na die kampeerplek by Baviaanskloof, omtrent nog ‘n verdere 70 km. By die kampplek het Gerrit die hek se sleutel by die boer gaan haal en ons is deur ‘n watersloot daarheen. Gerrit se Renault Duster is hoër op sy wiele, maar ons Honda Jazz is laag en het gesukkel. Ek het later klippe en pype wat daar gelê het gepak sodat die Jazz makliker kon deurgaan met die terugry.

Ons het ons tente opgeslaan. Dit was ‘n baie mooi kampterrein, bebos en onder hoë bome, met net twee toilette en braaiplekke. Ek dink nie daar is water aangelê nie, want die waterstroom is glashelder. Dit was blykbaar die boer se eie kampeerplek. Gerrit het vleis gebraai. Annetjie sê later vir my dit was ‘n misverstand, waarop ek toe vir haar beslis sê dit was nie ‘n misverstand nie. Sy wou vrede maak - dit is haar aard. Die aand sê Gerrit toe “Ek is jammer”. Ek dink nie ek het hom geantwoord nie. Ons was seker so twee dae daar.

Gerrit het sy Duster se sleutel per ongeluk in die kattebak toegesluit. Hy het toe by die boer gaan hulp soek. Hy het met ‘n paar stukke gereedskap gekom, maar niks het gehelp nie. Toe besluit hulle ‘n venster moet gebreek word. Hy het ‘n stuk lap opgevou en toe met ‘n groot hammer eers getik teen die agterste klein ruit aan die bestuurder se kant. Toe gee hy hom ‘n stewige hou, wat die ruit laat disintegreer in klein stukkies. Ek het my hand ingesteek, maar kon nie die sluit-knoppie bereik nie. Toe vat ek ‘n lang tang en ek kon net mooi bykom om die knoppie uit te trek om die deur oop te maak. Die boer het voorbereid gekom met ‘n stuk stywe karton en ook kleeflint, waarmee hy die gat toegeplak het.

Ons het die volgende dag teruggery Kaap toe. Ons was nie van plan om weer êrens te stop nie. By Hankey het Gerrit gestop en ek agter hom om mekaar te groet. Hy kom toe na my en vra “Vergewe my”, waarop ek toe vir hom sê “Dit is verby”, menende wat gebeur het is agter die rug. Later het ek besef hy kon dit vertolk het as dat ons vriendskap verby is, maar dit was nie wat ek bedoel het nie. Ons het agter mekaar gery deur die mooi Tuinroete. Hy het afgedraai by Mosselbaai waar Hakie ‘n vakansiehuis het, en ons het aangery huis-toe.

 

Ons het nog af-en-toe by mekaar gekuier. Rinie was oor al die jare baie geheg aan Annetjie en dit was veral om daardie rede dat ons nog gekuier het by hulle. Haar oë het al meer agteruit gegaan sodat sy naderhand omtrent glad nie meer kon sien nie, wat baie hartseer was.

 

Vriendskappe word dikwels getoets in die klein krisisse van die lewe, en ook in die hitte van die oomblik. By Patensie, nadat ons laat was vir 'n afspraak weens 'n kuier by ou vriende, het Gerrit se kort humeur vlamgevat. Die woorde het hard geval, maar die vrede is herstel. Op die pad terug by Hankey het 'n oomblik van menslike broosheid ontstaan. Gerrit het gevra vir vergifnis, en my antwoord - “Dit is verby” - was bedoel om te sê die voorval is agter die rug. Eers later het die besef gekom dat hy dit dalk kon vertolk as die einde van ons vriendskap.

 

Ten spyte van Gerrit se behoefte aan beheer, wat soms 'n demper op ons verhouding geplaas het, het die bande tussen ons en ons vrouens ons altyd weer bymekaar gebring. Die insident by Hankey is 'n kragtige tema oor hoe maklik kommunikasie kan skeefloop, en hoe belangrik dit is dat ons vriendskap dit oorleef het.

 

 

“IT’S TIME”: ’N GEESTELIKE MYLPAAL

Op 22 April 2017 het ons saam die reis na Bloemfontein onderneem vir Angus Buchan se reuse-gebedsbyeenkoms op die plaas Wilde Als. Dit was 'n logistieke meesterstuk waar meer as 'n miljoen mense saamgekom het, om te bid vir die geestelike en sosio-politiese agteruitgang van die Suid-Afrikaanse nasie.

Tipies Gerrit het hy alles beplan en ons het saam in sy Duster gery. Ek het vir Madie in Colesberg gebel en gevra of ons vier daar kon oorslaap. Madie was nog altyd een van my gunsteling mense en sy en Kenneth het ons hartlik ontvang.

Gerrit kan soms te veel drink en Annetjie het vir my kom vra om met Gerrit hieroor te praat. Toe die geleentheid hom voordoen, het ek hom in die sitkamer gesê hy drink te veel. Dit is moeilik vir ‘n man om so-iets vir ‘n ander man te sê, maar ek het dit vir Annetjie gedoen. Ek wou ook nie dat Madie-hulle hom só sien nie. As iemand te veel drink kom hyself dit miskien nie agter nie, maar ander mense kan wel sien jy het te veel in en dan kan jy ‘n gek van jouself maak. Daarna het Gerrit homself bedwing en my by meer as een geleentheid voor mense daaraan herinner dat ek hom gevra het om minder te drink, in ‘n grappender toon. Madie-hulle sou die volgende dag vlieg na hulle kinders in Australië, en het gesê ons is welkom om wanneer ons terugkom van Bloemfontein weer in hulle huis te slaap.

Ons is die volgende dag verby Bloemfontein na Wilde Als. Mense sou van verskillende windrigtings kom na die plaas van Ollie Viljoen, Springbok rugbyspeler. Die kampdrade is opgerol om groot areas oop te maak waar die mense moes sit, asook waar die duisende motors geparkeer moes word. Reuse luidsprekerstelsels is aangebring sodat almal duidelik vir Angus sou kon hoor. ‘n Vliegveld is ook skoongemaak vir ligte vliegtuie en ‘n mens kon talle sien kom en gaan na die byeenkoms verby was.

Die verrigtinge het omtrent 13:00 begin. Angus het sy boodskap gelewer en almal gevra om saam te bid. Daar was nie wind nie, maar van vêr agter af het daar ‘n wind gekom wat ‘n swart sambreel en drie balonne deur die lug gedryf het na vorentoe waar die reuse verhoog van Angus was. Rinie het gesê dis beslis ‘n teken. Die byeenkoms het aangehou tot na 16:00. Almal het daarna rustig gestap na hulle voertuie en daar was geen ongeduld in die ellelange toue waar elkeen hulle beurt afgewag het.

Toe ons uiteindelik uit was, het ons die pad terug verby Bloemfontein na Colesberg geneem, 240 km, waar ons laat die aand aangekom het. Ek dink ons het die volgende dag, Sondag, nog daar gerus en is toe die Maandag terug na die Kaap. Gerrit het aangegaan by sy kennisse in Hexrivier vallei en daar twee kissies druiwe opgelaai. Toe is ons terug na Wellington en hy het ons by ons huis afgelaai. Dit was ‘n baie geseënde paar dae.

 

 

DIE LAASTE JARE EN AFSKEID

Sedert 2017 het ons nog af-en-toe kontak met Gerrit en Annetjie gehad. Gerrit het hulle huis in Black Prince-straat verkoop en hy en Annetjie het getrek na ‘n wooneenheid in Serenitas in die Strand. Ons het daar vir hulle ‘n paar keer gaan kuier. Rinie en Annetjie het mekaar se geselskap baie geniet.

Gerrit was waarskynlik sy hele lewe betrokke by die gemeenskappe waarin hy was. Hy het die DStv pakket, wat spesifiek vir die inwoners van Serenitas (en Ametis en Altena) saamgestel is, hanteer deur nuwe inwoners by te voeg, en te help as mense probleme het met hulle TV. Wanneer daar ‘n braai was, het hy help braai - hy was nog altyd lief om vleis te braai.

Sy oudste seun, Wimpie, is die hoof tegniese bestuurder by Proxa, ‘n internasionale groep met takke in Afrika, Australië, Europa, en die Midde Ooste, wat onder andere werk met water suiwering. Wimpie het verskeie eiendomme in die Paarl, en hy bied toe vir Gerrit ‘n gratis huis aan in De Oude Wingerd, ‘n kompleks in Noorder-Paarl. Toe trek Gerrit en Annetjie Paarl toe, nader aan ons. Ons het daarna meer gereeld vir hulle gaan kuier. Annetjie se oë het deurentyd al meer agteruit gegaan weens gloukoom, wat nie omkeerbaar is nie. Die kere wat ons vir hulle gaan kuier het, het Gerrit altyd gebraai, of soos hy sê, ‘n vleisie op die kole gegooi. Hulle was nou ook nader aan hulle seuns, Wimpie, Gerhard, en Hakie (Johan), so hulle het natuurlik nou meer vir mekaar gaan kuier.

Ek weet nie wat uiteindelik die oorsaak van Annetjie se dood was nie, ek dink sy het ook asemhalings-probleme ontwikkel. Ons was by haar begrafnis-diens in Noorder-Paarl, en ook toe haar as in die NG Moedergemeente Wellington se gedenkmuur geplaas is saam met Freda s’n. Ek onthou nog hoe Gerrit met Annetjie se kissie voor sy bors staan terwyl die dominee sy woord doen.

Gerrit is ‘n mens-mens, en ek dink hy was dikwels baie eensaam so alleen in sy huis. Wanneer ons per geleentheid vir hom gaan kuier het, het hy altyd gesê “Kom ons braai ‘n vleisie.” En wanneer ons ry, dan draai ek my venster af om vir hom te waai. Om weg te ry en hom in die straat te sien staan en waai, is 'n beeld wat ek altyd sal koester. Ten spyte van die dempers en die uitdagings, was hy 'n konstante in ons lewe. 

Nadat Rinie haar beroerte gehad het 14 Januarie 2023, was ons ‘n keer of wat weer by Gerrit, en altyd het hy vir ons ‘n ete gehad. Hy het nou soms probleme met sy gesondheid, soos floutes, waarvoor hy ‘n pas-aangeër gekry het, maar sy gesondheid is nog verbasend goed vir iemand van sy ouderdom. Ek dink hy was 87.

Die laaste wat ons by hom gekuier het was Vrydag, 26 September 2025, toe ek met Rinie na SARS in Paarl moes gaan - hy het die Woensdag 88 geword.

Thys Greeff het op die 1ste November 2025 vir my ‘n WhatsApp gestuur dat Gerrit die oggend aan ‘n hartaanval oorlede is. Ek het vir Nicolette gesê ons sal graag by sy gedenkdiens wees. Ek onthou toe Wimpie vir Rinie uit die motor gehaal het, was sy voete met die draai verkeerd en toe val albei, Rinie bo-op hom! Hy het uitgeroep “My been! My been!” Gelukkig het hulle nie erger seergekry nie, net blou kolle. Daar was egter bloed kolle agterop sy spierwit hemp.

Daar is ‘n bekende liedjie “You are my best friend”, gesing deur Don Williams. Ek kan onthou dat ek dikwels wanneer ek dit hoor aan Gerrit gedink het.

 

 
 
 

Comments


bottom of page