top of page
Search

O1B4D8. JOERNAAL-EET JOU BROOD MET VREUGDE 2004

  • henniej42
  • Jun 2
  • 17 min read

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-05-30

 

O1B4D8. JOERNAAL-EET JOU BROOD MET VREUGDE 2004

 

 

Dit is ’n besonder diepgaande en aangrypende hoofstuk wat u hier neergepen het. Die integrasie van Harold S. Kushner se ryk filosofie met die eeue-oue wysheid van Prediker spreek van ’n lewe wat met groot deernis, nadenke en integriteit geleef is. Die titel "Oomblikke in ons Lewe" sluit volmaak aan by die kernboodskap van die teks: dat die ewigheid nie gevind word in die verre toekoms of in een groot, glorieryke daad nie, maar juis opgesluit lê in die vlietende, kosbare oomblikke van die alledaagse.

 

 

OOMBLIKKE IN ONS LEWE - 1  2026-05-30

O1B4D8. JOERNAAL: EET DUS JOU BROOD MET VREUGDE 2004

(’n Onderafdeling van "When All You Ever Wanted Isn't Enough"

deur Harold S. Kushner, 1986)

 

Ons het Prediker vergesel op al vyf sy soektogte na rus vir sy gemoed, en in elke geval het die spoor doodgeloop: selfsugtigheid en selfbelang, die versaking van alle liggaamlike bevrediging, die soektog na wysheid, die vermyding van alle gevoel om pyn te ontduik, en laastens die soeke na piëteit en geestelike oorgawe. Nòg weelde, nòg geleerdheid, nòg piëteit kon hom die bevrediging bied om te weet dat sy lewe blywende betekenis sal hê - nie in hierdie lewe nie en ook nòg in die hiernamaals nie. Uiteindelik het hy wel die antwoord gevind wat hom so lank ontwyk het, en hy deel dit met ons in hierdie woorde:

 

"Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Dra altyd wit klere en versorg jou hare met olie. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar geen werk of kennis of wysheid nie." (Prediker 9:7-10)

 

Prediker het alle bewyse ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat niks durend is en niks 'n verskil maak nie. Alles is ydelheid. Die getuienis lei tot die gevolgtrekking dat die lewe geen sin het nie. Maar iets binne-in my wil daardie gevolgtrekking nie aanvaar nie. My verstand vertel my dat die getuienis oorweldigend is dat die lewe sinneloos is: onregverdigheid en siekte, lyding en onverwagte dood, booswigte wat met moord wegkom terwyl goeie mense in armoede en vernedering na hul graf gaan.

 

Tog oorheers iets hierbinne my verstand, verwerp hierdie bewyse en dring daarop aan dat 'n mens se lewe betekenis moét hê. En daardie gevoel is hoekom ek 'n mens is, en nie net nog 'n dier nie.

 

As logika vir ons sê dat die lewe slegs 'n sinnelose ongeluk is, wil Prediker vir ons aan die einde van sy lewe sê om nie op te hou om te lewe nie. Luister eerder na daardie stemmetjie hier binne wat jou in die eerste plek aangespoor het om daardie vraag te vra. As bewyse jou vertel dat niks op die lange duur 'n verskil maak nie, omdat ons almal uiteindelik sal sterf en vergaan, moet dan nie jou lewe op die langtermyn beplan nie. In stede van jou te bekommer omdat niks behoue bly nie, aanvaar dit eerder as 'n lewenswaarheid, en leer om betekenis te vind in die verbygaande - in vreugdes wat nie blywend is nie.

 

Leer om die oomblik te waardeer selfs al is dit nie blywend nie; verál omdat dit nie blywend is nie en slegs 'n oomblik sal hou. Oomblikke in ons lewens en die herinneringe daaraan kan vir ewig wees, al was dit net 'n vlietende moment. Dit is die enigste ewigheid wat ons in hierdie lewe kan belewe.

 

Wanneer ons ophou soek na die Groot Antwoord - die Onsterflike Daad wat ons lewe blywende betekenis sal gee - en eerder daarop konsentreer om ons elke dag te vul met oomblikke wat ons lewens betekenis sal gee, dan sal ons die enigste antwoord vind op die vraag wat die betekenis van die lewe is.

 

Die lewe gaan nie oor die skryf van boeke van blywende waarde, die verkryging van groot rykdom of verreikende magte nie. Dit is om lief te hê en liefgehê te word. Dit is om te geniet wat jy eet terwyl jy ontspanne in die son sit, eerder as om jou kos af te wurg en jou terug te haas na die kantoor. Dit gaan daaroor om die skoonheid van 'n vlietende oomblik te belewe, oomblikke wat nie blywend kan wees nie. Soos 'n pragtige sonsondergang, blare wat in die herfs verkleur, of die rare, kosbare oomblikke van opregte kommunikasie tussen vriende. Laat ons sulke oomblikke vertroetel, want as ons dit laat verbygaan omdat ons te besig is, is dit vir ewig verby; dit sal nie wag totdat ons daarvoor tyd het nie.

 

Prediker het die grootste deel van sy lewe vergeefs gesoek na die Groot Oplossing, die Finale Antwoord op die Groot Vraag, net om uiteindelik na baie jare agter te kom dat om die Groot Antwoord te vind waaroor die lewe gaan, so goed is as om een Groot Maaltyd te eet sodat jy nooit weer honger hoef te wees nie.

 

Daar is geen Antwoord nie, maar daar is antwoorde:  liefde en die vreugde om te werk, die eenvoudige plesier om jou kos te geniet, skoon klere aan te trek, en die klein dingetjies wat ons geneig is om te vertrap in ons koorsagtige soeke na die Groot Oplossing vir die Wonder van die Lewe. Dit is die klein dingetjies wat ons eers sal sien wanneer ons ophou soek. Wanneer ons op daardie stadium van ons lewens kom waar ons minder in staat is om te presteer, maar meer in staat is om te geniet, dan sal ons die wysheid verwerf wat Prediker uiteindelik gevind het na so baie teleurstellings.

 

Die vraagstuk waaroor die lewe gaan, word nooit eens en vir altyd opgelos nie. Ons can dit slegs dag vir dag hanteer soos ons elke dag daarna streef om ons tyd te vul met betekenisvolle oomblikke. Dit is uiteindelik Prediker se insig en raad aan ons. Ten spyte van sy aanvoeling van die sinneloosheid van die lewe - al is dit hoe deurmekaar en frustrerend - is die lewe te heilig en te spesiaal, en is daar te veel goue moontlikhede om doelloos te wees, selfs al sou hy nooit die doel van die lewe ontdek nie. Uiteindelik het hy dit gevind, nie in 'n paar groot dade nie, maar in duisende klein dingetjies.

 

As ons vandag iets kon doen wat 'n permanente en finale oplossing vir die probleem van die lewe sou wees, waarvoor sou ons dan ‘n môre nodig hê? Die lewe is nie 'n probleem om vir eens en altyd op te los nie. Dit is 'n gedurige uitdaging om geleef te word, dag na dag. Ons soektog is nie om die Antwoord te vind nie, maar om maniere te vind om elke unieke dag 'n menslike belewenis te maak. Netsoos 'n halfuur se oefening elke dag meer doen om ons fiks te hou as ses ure van inspanning een keer per maand, so beteken 'n paar betekenisvolle ervarings elke dag meer vir ons sielerus as 'n enkele, oorweldigende geestelike ervaring.

 

'n Vyf-en-tagtigjarige vrou is in 'n onderhoud gevra wat sy geleer het gedurende haar lang lewe. Sy het met hunkering geantwoord: "As ek my lewe kon oorhê, sou ek dit waag om meer foute te maak. Ek sou meer ontspanne wees, meer grappies geniet en minder dinge ernstig opneem. Ek sou meer roomys eet en minder aartappels. Ek sou miskien meer werklike probleme hê, maar veel minder denkbeeldiges."

 

Sy het geleer begryp hoe maklik die vreugde van die lewe bederf word deur ons bekommernis oor wat môre kan gebeur. Sy het geleer hoe vrees vreugde dood kan smoor deur ons gespanne te laat van sorge en onsekerheid, en ook hoe lighartigheid vrees kan verjaag en ons gees bevry.

 

"Eet dus jou brood met vreugde en drink jou wyn met 'n bly gemoed." In 'n wêreld waar nie elkeen besondere dade sal verrig of groot sukses sal behaal nie, het God elkeen van ons die vermoë gegee om grootsheid in die alledaagse te vind. Daar is iets roerend daarin om iemand gelukkig te kan maak met 'n briefie, 'n telefoon-oproep of 'n glimlag.

 

"Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen." Gooi jouself met oorgawe in alles wat jy doen, nie net omdat dit vir jou beloning sal bring nie, maar omdat dit jou die gevoel sal gee dat jy 'n bekwame mens is. Geeneen van ons kan dit bekostig om lamlendig in ons werk te wees nie; dit sal ons daartoe bring dat ons onsself skaam vir ons eie gebrek aan wilskrag, kundigheid en vermoëns.

 

Ek werk omdat ek 'n familie het om te onderhou en rekeninge moet betaal. Maar ek werk ook omdat dit my in kontak bring met mense en my help om aan myself te dink as 'n bekwame mens wat omgee. Selfs wanneer ek moet optree by 'n begrafnis, voel ek nie bloot teenwoordig nie, maar dat my gemoeidheid 'n helende invloed het.

 

Ons is gelukkig as ons 'n werk doen wat ons bevrediging gee. Sommige weet vroeg in hulle lewens wat hulle eendag wil doen; andere mag halfpad deur hulle lewe nog soekend wees. Maar die sleutel tot ons geluk is om bevrediging te vind in dit wat ons doen, in die sin dat ons ons talente en vermoëns gebruik en nie vermors nie, en dat ons waardeer word vir dit wat ons het om te gee.

 

Dit is verskriklik frustrerend om te weet dat jy iets goed kan doen, maar jy word nooit die geleentheid daartoe gegun nie - of om te glo dat jy iets kan doen en nooit die geleentheid kry om jou vermoë op die proef te stel nie. Ons werk net soveel vir sinvolheid as vir geld. Ons werk sodat ons lewe nie betekenisloos sal wees nie.

 

"Doen met toewyding" beteken nie net die dinge waarvoor ons betaal word nie. Ons doen baie dinge op 'n vrywillige basis, omdat ons daardie gevoel van betrokkenheid en waardering verlang wat ons miskien nie in ons agt-tot-vyf-werk ondervind nie. Ons talente en vermoëns word waardeer en kan 'n verskil maak wanneer gewone arbeiders en klerke die bevrediging smaak om 'n onder-nege-rugbyspan af te rig, in 'n kerkkoor te sing, of vrywillig te werk by 'n krisissentrum, waar jy die gevoel kry dat mense op jou staatmaak en na jou opkyk. Baie organisasies bied geleenthede vir vrywilligers om programme te help beplan, voorsitters of komiteelede te wees, in die publiek op te tree of 'n toespraak te lewer. Daardeur hou hulle die organisasie wat vir hulle betekenis het in stand, terwyl hulle die bevrediging kry dat hulle hul talente gebruik.

 

Somtyds moet ons minder word sodat ons meer kan word. Ons word volkome mens, nie op die basis van wat ons bymekaar maak nie, maar deur ontslae te raak van alles wat nie werklik eie aan ons is nie – alles wat vals en kunsmatig is.

 

Om waaragtig mens te word, moet ons somtyds ons Droom prysgee. Die Droom is die visie wat ons gehad het toe ons jonk was - soms geplant deur ons ouers of onderwysers, soms geskep binne ons eie denke - dat ons eendag werklik spesiaal sal wees.

 

Wanneer dinge nie uitdraai soos ons dit idealiseer nie, voel ons soos mislukkings. Ons sal nooit gelukkig wees totdat ons ophou om ons werklike prestasies te meet teen ons Droom nie. Ons sal nooit gemaklik wees met wie ons werklik is, totdat ons besef dat wie ons werklik is, spesiaal genoeg is.

 

Wanneer ons daarin geslaag het om 'n lewensegte mens te word, ons brood met vreugde eet en die lewe geniet met die mense vir wie ons lief is, dan het ons nie nodig om ryk en beroemd te wees nie. Om waarlik mens te wees is 'n veel indrukwekkender prestasie. Wanneer jy nie meer voel dat jy besonders moet wees nie, dan is jy vry om jouself te bevind en te lewe volgens jou eie begeertes en talente. Dan raak jy vir die eerste keer in jou lewe die mens wat God bedoel het dat jy moet wees.

 

Die Talmud sê: "Een uur in hierdie wêreld is beter as die ewigheid in die wêreld wat kom." Vir my beteken dit dat wanneer ons geleer het hoe om waaragtig te lewe, ons nie nodig het om belonings te soek in 'n ander lewe nie.

 

Ons hoef nie te vra wat die doel daarvan is om regverdig te lewe nie, want om as ‘n ware mens te lewe, is sy eie beloning. Wanneer ons dink dat die betekenis van die lewe daarin lê om belonings en plesier na te jaag, dan misverstaan ons heeltemal wat dit beteken om werklik lewend te wees. Wanneer ons koorsagtig en met steeds stygende frustrasie deur ons dae en jare soek na die beloning wat ons lewe die moeite werd sal maak, dan is ons soos die veiligheidswag by die hek wat deur die gemors in 'n kruiwa soek vir iets waardevol, totaal onbewus dat dit die kruiwa self is wat gesteel word.

 

Wanneer jy geleer het hoe om te lewe, dan is die lewe self die beloning.

 

HOEKOM EK NIE BANG IS OM TE STERF NIE

Ek is nie gereed om te sterf nie en ek hoop om nog baie jare te lewe, maar ek is nie bang om dood te gaan nie, want ek is tevrede met wat ek met my lewe gedoen het. Ek het die gevoel dat ek nie my tyd verkwis het nie, dat ek met integriteit gelewe het en my bes gedoen het, en dat ander mense se lewens betekenis gekry het uit die feit dat ek gelewe het. Dis slegs wanneer jy nie bang vir die dood is nie, dat jy kan sê jy lewe waarlik. Ek glo mense is eerder bang om sinneloos te sterwe as dat hulle vir die dood self bang is. Ons is bang om aan die einde van ons lewens te kom en dan uit te vind ons het nooit werklik gelewe nie - dat ons nooit uitgevind het waarom ons hoegenaamd gebore is nie. Ons grootste vrees is dat ons ons lewens verspil het en aan die einde niks het om daarvoor te wys nie.

 

Die hemel is om die dinge te leer en te geniet wat ons mens maak. En in kontras is die ergste hel wat 'n mens kan belewe nie vuur en swael nie, maar die besef dat jy 'n ware mens - 'n mensch - kon gewees het, maar nou is dit te laat. Jy kon die bevrediging gesmaak het om vir iemand te sorg, om vrygewig en eerbaar en lojaal te wees, om jou hart en jou verstand te ontwikkel, en jou instinkte te beheer eerder as dat hulle jou beheer. Jy kon, maar jy het dit nooit gedoen nie.

 

"Wie mag op die berg van die Here gaan?" (Ps. 24:3-4). Dit mag beteken om tot volle menslikheid te groei in hierdie lewe, om jou jare goed te gebruik, te lewe met "rein hande en 'n suiwer hart", sodat selfs terwyl jy nog lewe, jy die gevoel sal kry dat jy "in Sy heiligdom staan." Wanneer jy dit bereik het, dan sal die dood vir jou geen verskrikking inhou nie.

 

Soos die skrywer van Psalm 23 baie jare gelede verstaan het, verlos God ons nie van die dood nie. Ons almal sal eendag sterwe. Maar Hy verlos ons van die dal van doodskaduwee, en verhoed dat ons lewens verlam word deur vrees vir die dood al die jare wat ons nog het om te lewe.

 

Die filosoof Horace Kallen het op sy 73ste verjaarsdag geskrywe: "Daar is mense wat hulle lewens vorm deur vrees vir die dood, en mense wat hulle lewens skep met lewensvreugde. Eersgenoemde lewe sterwend; laasgenoemde sterf lewend. Alhoewel ek weet dat die noodlot my lewe môre kan beëindig, is die dood vir my 'n toevalligheid wat nie saak maak nie. Wanneer dit kom, is ek van plan om lewend te sterwe."

 

Ek het geen vrees vir die dood nie, want ek voel ek het werklik gelewe. Ek het liefgehad en het ander se liefde ontvang. Ek is uitgedaag in my persoonlike en professionele lewe en kon dit goed hanteer. Ek het my stempel afgedruk op mense en het nou tot die punt gekom waar dit nie meer vir my nodig is om dit te doen nie. Nou kan ek uitsien na die laaste deel van my lewe, ongeag hoe lank of hoe kort dit ook al mag wees, in die wete dat ek uiteindelik uitgepluis het wie ek is en hoe ek die lewe moet hanteer. Die dal van doodskaduwee hou vir my geen verskrikking in nie, omdat God my gelei het tot hiertoe. Ons uitdaging is nie om bo die vlak van die alledaagse uit te styg deur bomenslike inspanning nie, maar om elke dag iets waarlik menslik te vind om te doen met jou lewe.

 

DRIE NOODSAAKLIKHEDE

In ons ondersoek van Prediker en ons eie lewens het ons drie noodsaaklikes geïdentifiseer:

1. Behoort aan mense

Dis noodsaaklik dat ons intiem behoort aan 'n paar mense wat 'n permanente deel van ons lewens is. Al wat standhoudend is, is opregte verhoudinge wat ons met ander mense het. Een of ander tyd sal alles wat ons met soveel moeite opgebou het tot niet gaan. En wanneer dit gebeur, sal net diegene wat iemand anders se hand het om aan vas te hou, in staat wees om dit wat verlore is af te lag.

2. Aanvaar pyn as deel van jou lewe

Om 'n volle, lewensegte mens te wees, moet ons bereid wees om die harnas en die masker te verwyder waarmee ons probeer verhoed dat die wêreld ons seermaak. As ons nie bereid is om te voel en uit te reik nie - en dus ook nie bereid is om seer te kry nie - sal ons nooit vreugde kan beleef nie, wat een van die groot belonings van die lewe is. As ons bly aandring op gelukkige eindes, sal ons geestelik kinders bly.

Baie sielkundige probleme spruit daaruit dat mense nie seerkry wil hanteer nie. Die mees tragiese van almal is die selfmoord van 'n geliefde persoon wat talentvol is en baie het om voor te lewe, maar dit alles vergeet wanneer hy in die toekoms meer seerkry sien as wat hy kans sien om te hanteer.

 

Tog is pyn onlosmaaklik deel van die lewe, en ons moet dit leer aanvaar. Jong mense moet die feit aanvaar dat gebroke harte, net soos gebreekte bene, baie pynlik is, maar uiteindelik tog weer gesond word, en dat daar lewe is daarna. Ons kan baie meer verduur as wat ons dink; al wat ons nodig het, is om te leer om nie bang te wees vir pyn nie. Byt op jou tande en laat dit seer wees. Moet dit nie ontken nie, maar moet ook nie daardeur oorweldig word nie. Dit sal nie vir ewig aanhou nie. Eendag sal die pyn net 'n herinnering wees en dan sal jy nog steeds daar wees.

3. Weet dat jou lewe 'n verskil gemaak het

Die finale bestanddeel wat dit vir ons moontlik maak om te kan sê: "Ek het gelewe en my lewe het saak gemaak", is die wete dat jy 'n verskil gemaak het. By jou werk mag jou bydrae moontlik klein wees, maar in jou huis, in jou binnekring, is jou invloed aansienlik en permanent.

 

Ons het almal behoefte daaraan om iemand leiding te gee en te help vorm. Ons onderrig almal, amptelik of informeel. Dis nie net die onderwyser of professor met hulle studente nie, maar ook die ervare boekhouer of die fabriekswerker wat wenke gee aan die nuweling, wat sy of haar lewe help vorm in een of ander noodsaaklike aspek. Elke unieke vriend wat ons maak, elke nuwe waarheid wat ons leer of ondervinding wat ons belewe, maak ons ryker as wat ons ooit tevore was. En hoe ouer ons word, hoe interessanter word ons as mense, omdat beide mooi en hartseer ervarings oor die jare ons verryk en verdiep het.

 

Prediker was bevrees dat die dood sy lewe sal beroof van betekenis, sodat daar geen bewys sal wees dat hy ooit gelewe het nie. Hy het 'n boek geskryf wat vandag nog steeds, duisende jare later, 'n uitdaging bied van sy begrip van lewens-waarhede. Watter groter belofte van onsterflikheid kan enigiemand verlang?

 

NOG NET EEN VRAAG ONBEANTWOORD

“Van al my pasiënte gedurende die tweede helfte van my lewe, was daar nie een wie se probleem op die ou end nie die soeke na 'n geestelike uitkyk op die lewe was nie. Ek kan met veiligheid sê dat elke een siek geword het omdat hy dit verloor het wat elkeen van die lewende gelowe over al die eeue hul volgelinge geleer het, en geeneen van hulle is werklik genees voordat hulle hierdie uitkyk herwin het nie.”

 - C.G. Jung (Modern Man In Search Of A Soul)

 

'n Mens soos Prediker moét sy visier hoog stel. Om sy lewe betekenis te gee, moét 'n man soos hy voel dat hy in die wieg gelê is vir groot dinge. Ons voel beter wanneer hoë morele eise aan ons gestel word. Hy het instinktief aangevoel dat 'n menslike lewe meer beteken as om bloot biologies te bestaan. Wanneer jy gelukkig is in jou werk of saam met jou familie, wanneer jy iemand liefhet en daardie persoon se liefde ontvang, as jy vrygewig en bedagsaam is, dan gebeur daar iets meer met jou as bloot om te lewe. Om waarlik mens te wees is veel meer oortuigend as logika of filosofie.

 

Wat doen God om ons lewe te verhef bo dié van blote bestaan? Hy plaas in ons die bewussyn van, en vereis hoë morele gedrag van ons. Ons lewe word belangrik omdat ons nie hier is bloot om te eet, slaap en voort te plant nie, maar om God se wil te gehoorsaam. Mense het 'n behoefte daaraan om goed te wees, om moreel verantwoordelik te wees, en God wys dat Hy ons ernstig opneem deur dit van ons te verwag. Ons voel ongemaklik en vals wanneer ons nie ons morele standaard nastreef nie. Ons menslike natuur verwag van ons om hulpvaardig, bedagsaam en vrygewig te wees - net soos wat dit vir ons liggame noodsaaklik is om te eet, te slaap en oefening te doen. Wanneer mense selfsugtig en sinies is en ander wantrou, is hulle nie net immoreel nie, maar vertrap hulle ook God se skeppingsdoel. Hulle gedrag is verder ook ongesond en afbrekend teenoor ander mense.

 

Net soos God ons liggame gemaak het sodat sekere kossoorte en aktiwiteite beter vir ons is as ander, net so het God die menslike gees geskape dat sekere optredes vir ons beter is as ander. Jaloesie, selfsug en wantroue vergiftig ons siel; opregtheid, vrygewigheid en lewensvreugde herstel dit weer. Ons voel letterlik beter as ons uit ons pad gegaan het om iemand te help.

 

God is die antwoord op die vraag: “Hoekom moet ek 'n goeie en eerlike mens bly wanneer ek sien dat mense om my met moord wegkom?” God is die antwoord, nie omdat Hy tussenbeide sal tree om die regverdige te beloon en die bose te straf nie, maar omdat Hy die menslike siel so gemaak het dat slegs 'n lewe van eerlike opregtheid ons die gevoel kan gee dat ons geestelik gesond en 'n ware mens is. God is die mag wat ons aanspoor om bo selfsug uit te styg en ons medemens te help, net soos Hy hulle inspireer om ons te help. God vra ons om meer te wees as dit waarmee ons die lewe begin het. God gee ons hoop soos wat geen mens kan nie. Tussen mense geld Murphy se wet: “As iets verkeerd kan gaan, sal dit.” Maar op die goddelike vlak is daar 'n ander, teenoorgestelde wet: “Alles wat behoort, sal uiteindelik reggestel word.God verseker ons soos geen ander wese kan nie, dat wat ons nie in hierdie lewe kan bereik nie, voltooi sal word in die lewe hierna - deels weens ons gedrag hier.

 

Mense is sterflik, maar God is ewig. Ons hoef ons nie daaroor te bekommer wat die doel daarvan is om goed te doen as ek sal sterf en alles wat ek gedoen het vergete sal raak nie. Ons goeie dade is nooit onnodig nie en sal nie vergeet word nie. Net God kan ons oordeel volgens wat ons is, en nie bloot volgens what ons gedoen het nie. Terwyl mense net sien wat sigbaar is, sien God in ons diepste binneste. Hy vergewe nie net ons mislukkings nie, maar Hy sien ook suksesse waar niemand anders dit sien nie - nie eens onsself nie. Net God gee ons krediet vir die ergerlike woord wat ons terughou, die versoekings wat ons weerstaan, en die geduld en die teerheid wat ongesiens verbygaan.

 

God verlos ons van die gevoel en die vrees van mislukking, omdat Hy ons elke gedagte ken nog voor dit by ons opkom. Hy ken ons seerkry en ons berou beter as enigiemand anders. Ook die letsels in ons harte, omdat ons graag meer en beter wou gedoen het, maar mense het ons vertel dat ons nie daartoe in staat is nie.

 

Maak dit 'n verskil hoe ons lewe? Maak dit 'n verskil dat ek 'n goeie, eerlike, getroue en deernisvolle mens is? Dit maak saak of ons getrou aan onsself is - aan ons ingebore menslike natuur wat eerlikheid, opregtheid en welwillendheid van ons verwag. Dit maak saak dat ons leer hoe om ons lewens te deel met ander om hulle lewens en hulle wêreld 'n beter plek te maak, eerder as om alles waarop ons ons hande kan lê vir onsself op te gaar. Dit maak saak dat ons leer om die vreugde van die alledaagse - van voedsel, werk, liefde en vriendskap - te belewe as goddelike ontmoetings wat ons leer dat God nie net werklik is nie, maar dat ons dit ook is. Dit is dié dinge wat die lewe die moeite werd maak.

 

In die Joodse tradisie vier hulle elke herfs 'n tyd bekend as Sukkot, wat ontstaan het uit die verlede toe almal boere was, as 'n dankdag nadat hulle die oes ingesamel het. Sukkot kom wanneer die somer verby is en die aande die eerste koue van die komende winter verkondig. Dit vertel ons dat die wêreld vol is van goeie en pragtige dinge: kos en wyn, blomme, sonsondergange, herfstonele en goeie geselskap om dit mee te deel. Dit is dinge wat ons sonder versuim moet geniet, want hulle is verbygaande. Hulle sal nie vir ons wag om eers ander dinge klaar te maak voordat ons tyd vir hulle het nie.

 

Dit is 'n tyd om "jou brood met vreugde te eet en jou wyn te drink met 'n bly gemoed" - nie weens die feit dat die lewe nie vir ewig duur nie, maar presies om daardie rede. Dit is 'n tyd om gelukkig te wees met diegene wat ons liefhet, en om te besef dat ons by 'n tyd in ons lewens gekom het waar dit vir ons meer beteken om vandag te geniet as om ons te bekommer oor môre. Dit is 'n tyd om te vier dat ons uiteindelik geleer het waaroor die lewe gaan, en hoe om die beste daarvan te maak.

 

 
 
 

Comments


bottom of page