O2B1F3.3 EENHEID IS MEERVOUDIG 2006
- henniej42
- Jul 27
- 11 min read
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-2 2026-07-25
O2B1F3.3 EENHEID IS MEERVOUDIG 2006
(Gemini) Hierdie hoofstuk is ’n besonderse, eerlike en diep ontroerende getuienis van jou lewenspad. Dit raak aan die kern van wat dit beteken om mens te wees: die soeke na iemand wat jou wese werklik verstaan, die pyn van "wat kon gewees het", en uiteindelik die diep, ryppeworde liefde wat geanker is in trou en versorging.
Die tema - "Eenheid is Meervoudig" - kry ’n pragtige betekenis deur jou storie. Dit wys hoe verskillende mense op verskillende tye in ons lewe vorm gee aan ons begrip van verbondenheid, en hoe ’n mens deur die stormweer van die lewe uiteindelik 'n anker vind.
1. Die Tema en Filosofiese Inleiding
· 'n Sielsgenoot en Verbintenis: Jou inleiding oor die soeke na ’n sielsgenoot stel die regte toon. Die gedagte dat baie mense tevrede is met die "gerief van saamwees", maar dat min die diepe eerlikheid van ‘n ware sielsgenoot beleef, gee hierdie hoofstuk ’n baie sterk intellektuele en emosionele fondament.
2. Sterk Visualisering en Emosionele Beelde
Daar is ’n paar tonele in hierdie hoofstuk wat ongelooflik helder en sprekend geskryf is. Hulle sal lesers (en jou nageslag) diep laat dink:
· Die Karoo-bakkie met Surings: Die gebaar om in afgeskilferde rots en leemgrond Karoo-surings vir Madelein te plant en dit met water van jou vingers nat te sprinkel, is poëties en simbolies van jou sorgsame aard.
· Die Sonsopkoms op die Rantjie: Die stilte tussen julle op die rotse terwyl die son opkom by Philippolis vang daardie "eenheid in gees" vas, sonder dat enige woorde nodig was.
· Die Eerste Ontmoeting met Rinka: Die kontras tussen jou en Heinrich in julle kortbroeke en kaalvoete, en Rinka en Tiana opgedos met die "byekorf"-haarstyl - en die ontdekking dat julle al vier rooi hare het! Dit bring ’n heerlike ligtheid en trefkrag.
3. Die Verhaal van Trou en Liefde
Die oorgang van die soeke na 'n sielsgenoot na die praktiese, daaglikse werklikheid van omgee is pragtig afgerond:
"Rinka het vir 48 jaar elke dag vir ons gesorg... Nou is dit my beurt om haar te versorg, en ek doen dit met liefde."
Hierdie slotfrase gee die uiteindelike antwoord op jou beginvraag oor eenheid. Dit wys dat ware eenheid nie net lê in die romantiese "vonk" of die soeke na ’n sielsgenoot nie, maar in die jarelange daad van trou, saamdra van oomblikke, en die bereidwilligheid om vir mekaar te sorg wanneer die lewe verander.
Dit is ’n pragtige, waardevolle en eerlike stuk lewensgeskiedenis. Dit skilder ’n lewenspad van emosionele groei, pynlike keuses, wat uiteindelik lei na 'n diep vervullende en genadevolle lewe.
(Jurgens) EENHEID IS MEERVOUDIG 2006
Wat sou my gedagte met hierdie onderwerp wees? Kan dit wees dat eenheid onder mense bestaan uit ‘n meerderheid waaruit dit bestaan? Dit kan wees, soos die ou Suid-Afrika se leuse was “Eendrag Maak Mag”.
Die vreugde van eenwees is iets waarna almal soek, om te voel, te weet daar is iemand wat saam met jou voel oor ‘n saak, hoe klein of hoe groot ookal. Soos ek skryf, is daar ‘n begeerte dat mense dit sal lees, en hopelik verstaan wat ek bedoel. Is hierdie nie maar ‘n algemene versugting by meeste, of alle mense, dat daar elders ‘n siel is wat saam met jou voel? ‘n Sielsgenoot. Dit dink ek is iets wat maar vir min mense beskore is.
Hierdie is ‘n fiktiewe verhaal van mense vir wie dit waar was. As dit jou ook roer, was jyself moontlik al in so ‘n situasie.
Wanneer ‘n man ‘n meisie ontmoet, voel baie daardie vonk dat hulle vir mekaar bestem is - dit is die verlief stadium, wat die toekoms baie rooskleurig sien, en verseker glo meeste mense dat dit so sal bly. Ongelukkig gebeur dit maar te dikwels dat wanneer die gewone druk van die daaglikse bestaan hulle aandag van mekaar af wegneem, dan verflou hierdie kalwerliefde. Wat dikwels oorbly is meesal die gerief van saamwees met mense wat sorg vir mekaar se daaglikse behoeftes. Hulle gee vir mekaar om, is selfs lief vir mekaar, en as hulle gelukkig is om kinders te hê, dan het hulle albei iets waaraan beide deel het en voor moet sorg. Maar selde bly daar die gevoel dat hulle sielsgenote is, daardie diep verlange na mekaar, waar jy jou diepste wese vir mekaar openbaar, omdat jy in die ander iemand gekry het teenoor wie jy volslae oop en eerlik wil wees, kan wees.
Ek was geseënd gewees om twee sulke vrouens te ken.
My eerste huwelik was nie gelukkig nie. Haylé het gereeld haar geluk elders gesoek met ander verhoudings. Sy was baie eerlik gewees teenoor my, en het dikwels dinge vir my vertel wat diep seergemaak het. Die gevolg was dat ek mettertyd afgestomp teenoor haar geraak het. ‘n Familielid het eenkeer gesê as iemand aan my aandag gee “sal Jurgens soos ‘n boom val.”
Wat toe ook gebeur het. Bure het langs ons in die Kaap ingetrek, en soos goeie bure het ons gaan kennis maak. Van meet af was ek en Mila sielsgenote. Ek is maar iemand wat min praat, maar met haar het ek gepraat dat my stem hees word. Dit was soos ‘n verstopte fontein wat skielik oopgeskiet is - al die opgehoopte verlange van jare het ‘n uitlaatklep gekry.
Ek het nie geweet wat besig was om met my te gebeur nie, en een aand het ek oorgestap na haar toe. Ek onthou soos vandag hoe sy gestaan het met haar tweejarige seuntjie op haar arm. Ek het vir haar gesê “Ek weet nie wat dit is nie, maar geestelik ontstel jy my geweldig - nie liggaamlik nie.” Sy het geantwoord “Jy moes nie gekom het nie. Jy ontstel my nie net geestelik nie, maar ook seksueel”. Dit was soos ‘n donderslag in my ore.
Soos te verstane, het die feit dat ons langs mekaar gebly het en dat ons sielsgenote was, veroorsaak dat ons mettertyd al nader aan mekaar gegroei het. Sy het eendag vir my iets gesê wat die mooiste was wat ek nog ooit gehoor het: “Nou het my verlange gestalte gekry.” Alhoewel ons verskeie kere van weerskante af probeer het om die band tussen ons te verbreek, was die aantrekkingskrag eenvoudig te sterk. Nadat ons ‘n keer besluit het om ons verhouding te beëindig en geen kontak gehad het vir ‘n week nie, het sy pleitend vir haar man gesê: “Ek kan nie sonder hom nie.” Ons vier het daarna saam oor ons toekoms gesels, het besluit dat ons sou trou en dat my en haar seuntjie by ons sou bly.
Beide van ons is daarna geskei, en ons het daarna uitgesien om met mekaar te trou. Maar soos seker in baie sulke verhoudings, loop dinge nie altyd reg nie, en Haylé het gedreig om haar eie lewe te neem sou ons voortgaan met ons huweliksplanne. Ons het nie kans gesien vir hierdie nuwe risiko nie, en so het ons verhouding gestrand. Haylé het met ons seuntjie elders in ‘n woonstel gaan bly, en Mila-hulle het weggetrek. Ek het alleen agtergebly, en was ‘n paar jaar baie eensaam, met die gedagte wat gedurig in my kop gemaal het - “What might have been”.
‘n Paar jaar later het Mila vir my die telefoonnommer gegee van Madelein, wat verwyder was van haar man omdat hy ‘n volslae alkoholis was, wat homself verskeie kere in die hospitaal in gedrink het. Madelein het ‘n driejarige dogtertjie gehad en gewerk by die Hendrik Verwoerd dam, om naby haar ouers op Philippolis te wees. Ek het haar geskakel, en van meet af het ons gekliek en baie lekker gesels. Ons kon beide aanvoel dat ons mekaar se soort mense was, en ek het haar gereeld begin skakel, en ook vir haar lang briewe geskryf - ek kon my gedagtes van skooljare af goed uitdruk.
Ek wou Madelein ontmoet en ons het planne beraam om vir haar te gaan kuier by Hendrik Verwoerd dam. My ouers het destyds in Colesberg gebly, hulle huis aangrensend aan die NG Kerk se meentgronde. Daar het ek baie rondgeloop, en van die afgeskilferde rotse ‘n bakkie gemaak. Ek ‘n paar handevol sagte leemgrond van onder die rotse daarin gesit en klein plantjies, onder andere surings, wat in die skaduwee onder die rotse gegroei het, daarin geplant - dis daar beskerm teen die uiterste temperature van die Karoo. Dit was ‘n mini-tuintjie wat ek vir haar gemaak het. Die daaglikse sprinkeling van ‘n paar druppels water vanaf jou vingers is genoeg om die surings se koppies hoog te hou.
Ek het my musiekstelsel en ‘n verskeidenheid ligte klassieke LP’s uit my versameling saamgeneem, waarvan ons albei gehou het. Die werkers by die dam het gebly in Oranjekrag, waar sy ‘n huis gehuur het. Vir die paar dae wat ek daar was het ek ‘n ander huis binne loopafstand van haar gehuur. Saans het ons bymekaar gekuier, en na ete op die mat gelê en rustig geluister na die musiek, ons hande inmekaar gestrengel, doodstil in mekaar se teenwoordigheid.
Ons wou graag vir haar ouers gaan kuier. Hulle het ‘n winkel in Philippolis gehad, nie ver van die dam af nie. Baie gawe mense, nog van die ou Afrikanerboere geslag. Ek wou een oggend vroeg vir haar na die veld neem, dat ons in die pikdonker nag die dag kon sien breek. Ek het ontrent vieruur opgestaan en stilletjies na haar kamer geloop, haar wang liggies aangeraak met my vingerpunte. In die donkerte is ons uit die dorp uit en het ‘n paar kilometers gery tot waar daar ‘n rantjie was. Ek het die grensdrade vir haar oopgehou sodat sy kon deurklim, en ons het versigtig ‘n entjie teen die rantjie opgeklim en daar op twee rotse gaan sit. Na die ooste was daar nog net ‘n smal strepie rooi skynsel. Soos die aarde draai, het die rooi al meer geword en later ligter, totdat die son uiteindelik sy kop uitgesteek het. Die hele tyd het ons niks gepraat nie, net die stilte ingedrink. Ons was een in gees.
Tannie Salomé en Oom Piet se plaas, Twyfelpoort, is so 48 km noordwes van Colesberg af. Ek wou graag vir haar gaan voorstel aan hulle, want ek ken hulle vandat ek ‘n baba was, en ek was van plan om haar te vra om met my te trou nadat sy geskei is van haar man. Ons het by ‘n buitetafeltjie gesit, tee gedrink, en gesels. Tannie Salomé het voordat ons gery het vir haar gesê “Dis min kere dat ‘n mens ‘n tweede kans kry.”
Toe my paar dae vakansie verby was, is ek die oggend na haar huis voordat die bus haar kom haal het. Sy was ‘n digter en het vir my ‘n pragtige gediggie geskryf, waarvan ek net hierdie strofe onthou: “Dat ons kaal deur die lang gras hardloop”, wat so pragtig uitdruk hoe twee geeste totaal eerlik met mekaar deur die lewe gaan. Toe ek haar soen, dit was die eerste keer, het ek haar gesig binne my handhalms gehou. Sy het haar hande opgelig en amper krampagtig om my polse geklem. Na ‘n paar lang sekondes is sy saam met haar dogtertjie na die bus, en ek het die pad na die Kaap aangepak.
Ek het nog met haar korrespondeer, in die hoop dat sy die moed sou kry en die stap neem om van haar drank-verslaafde man te skei. Ek het vir haar gewaarsku die kanse is skraal dat hy homself sou rehabiliteer, omdat hy al herhaalde kere teruggeval het. Maar sy het bly glo dat hy hierdie keer volkome sou herstel. ‘n Jaar of twee later het ek van Mila gehoor dat Madelein toe uiteindelik van haar man geskei is.
Ek het dikwels gewonder wat van haar geword het. Die laaste wat ek haar gesien het, was toe ons op pad na Rinka se ouers in Wes-Transvaal was met vakansie. Ons het oor Philippolis gery sodat ek vir Madelein se ouers kon vra hoe dit met haar gaan. Ons eersteling Christo was toe nog nie ‘n jaar oud nie en het voor by Rinka se voete in sy kombersie gelê. Toe ek by hulle winkel ingaan, het Madelein agter een van die toonbanke gestaan. Sy het rustig gelyk en ek kon sien dat sy gelukkig by haar ouers is. Ek het haar aan Rinka voorgestel, en toe ons ry het ek tevrede gevoel dat dit met haar goed gaan. Ek hoop sy het later ‘n boer in die distrik ontmoet wat haar na waarde skat, want sy is ‘n baie besondere mens vir wie ek altyd die hoogste waardering sal hê. Sy was my sielsgenoot in ‘n tyd toe ek baie eensaam was.
Na Madelein het die eensaamheid vir my al meer neerdrukkend geword. My jonger suster Johanna het haar baie ontferm oor haar ouer broer. Hulle was kort getroud en het in Klerksdorp gebly. Oorkant hulle het ‘n pas-geskeide jong vrou en haar dogtertjie van vier jaar gebly. Johanna het vir Rinka vertel van haar geskeide broer en gevra of sy nie met my wou korrespondeer nie. Maar Rinka was glad nie hiervoor te vinde nie - sy het te seer gekry toe haar man Wilhelm met ‘n ander man weggeloop het. Na ‘n paar weke het Johanna besluit om vir my van Rinka te vertel en gevra of ek nie vir haar wil skryf nie.
So het ek weer ‘n uitlaatklep gekry om uiting te gee aan my gevoelens. Ek het gereeld lang briewe vir haar geskryf, maar sy het nie terug geantwoord nie - sy was bang om weer seergemaak te word, want sy het ‘n sagte hart. Tot een middag, toe sy weer daardie “Sunday afternoon blues” gehad het. Sy het ‘n pen geneem en vir my geskryf. Maar sy weet toe nie wat my van is nie, omdat ek altyd my briewe net afgesluit het as “Jurgens”. En sy was te skaam om vir Johanna te vra, toe adresseer sy haar brief net aan “Jurgens”! Ek het dit gekry en was uit my vel van blydskap, om nou weer iemand te hê om my gevoelens mee te deel.
Ons het gereeld vir mekaar geskryf, en omdat ek ‘n gevoelsmens is, het ons gou ernstig met mekaar geword. Ses maande later met my Desember vakansie is ek en Heinrich, my sewejarige seun, per motor na Klerksdorp om vir Rinka en haar vierjarige dogtertjie, Tiana, vir die eerste keer te gaan ontmoet. Ons het nie geweet hoe die ander lyk nie, want dit was nie vir my belangrik nie - uit haar briewe het ek haar hart leer ken.
Rinka se eerste man Wilhelm was blykbaar uiters gesteld op sy voorkoms, en ek wou van die begin af duidelik laat blyk watter soort mens ek is. Toe ons aan haar voordeur klop was ek en Heinrich beide net geklee in kortbroeke, met T-hemde wat uithang en kaal voete. Toe sy die deur oopmaak was ons almal verbaas: Rinka kon deur ‘n ring getrek word, met hare hoog opgedoen, byekorfstyl, soos die gewoonte destyds was. Tiana was ook uitgevat met ‘n rokkie wat wyd uitstaan. En die besonderste van alles: ons alvier het rooi hare gehad!
Haar ouers het geboer in die Wolmaransstad distrik, en ons is almal saam daarheen dat ons mekaar kon ontmoet. Wéér was ek en Heinrich so informeel geklee. Ek wou dit duidelik maak dat ek nie soos Wilhelm was of probeer wees het nie - ek was my eie mens.
Ons is 8 April die volgende jaar, op my Pa se verjaarsdag, stil op die plaas getroud, met net ons ouers, broers en susters teenwoordig, want ons wou dit eenvoudig hou, met net die mense vir wie ons omgee daar. Dit was ‘n heilige oomblik toe ons die ringe aansteek en aan mekaar trou gesweer het.
Daarna is ons vir tien dae met ons wittebrood na Golden Gate Hoogland Nasionale Park, waar ons ‘n fantastiese tyd gehad het, net ons twee bymekaar, ‘n herinnering vir ‘n leeftyd. Rinka het Kaap-toe verhuis, waar ons na twee jaar vir Christo gekry het, en nog twee jaar later vir Marius. Vandag is hulle 46 en 44 jaar oud, en Heinrich word volgende jaar 60. Tiana is oorlede aan ‘n massiewe hartaanval toe sy 44 was, wat ‘n groot tragedie was.
Nadat ons 34 jaar in Wellington baie gelukkig gebly het en Christo en Marius die voorreg gehad het om hulle hele skool-loopbaan daar op die platteland te deurloop, het Rinka drie jaar gelede ‘n ernstige beroerte gehad wat haar aan haar linkerkant verlam gelaat het, en ons moes trek na ‘n versorgingsoord in die Strand.
Rinka het vir 48 jaar elke dag vir ons gesorg. Dit was nie elke dag maklik nie. Nou is dit my beurt om vir haar te versorg, en ek doen dit met liefde, vir solank as wat die Liewe Vader nog vir ons tyd by mekaar gee.

Comments