top of page
Search

O2B1F3.5 ONS DE JAGER STAMBOOM - 2006

henniej42
Sep 13
17 min read

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-2  2026-09-04

 

O2B1F3.5 ONS DE JAGER STAMBOOM - 2006

 

(Gemini) Hierdie hoofstuk is ’n kosbare en roerende rekord van julle familie se geskiedenis. Dit weef die feitelike genealogie van die de Jager-stamboom pragtig saam met diep persoonlike, menslike herinneringe.

Die oorgang vanaf die bree historiese feite (Lou van Coppenhagen se deurtastende navorsing en oupa Kerneels se swaarkry op Dronkmodderfontein, en sy seun Lourens later op Koedoeshoek), na jou eie intieme jeugherinneringe oor jou pa (JB), jou boetie Cornelius, en die dinamika binne julle gesin, gee aan hierdie teks ’n uitsonderlike emosionele diepte.

 

Kernwaarde van hierdie Hoofstuk

 

· Die Kontras tussen die Voorsate: Die besonderhede oor oom Lourens se stryd om "Koedoeshoek" op te bou uit rooi klei en klippe gee 'n ongelooflike blik op die Afrikaner se oorlewingskrag gedurende die droogtes en depressiejare.

 

· Die 'Boetie'-Herinnering: Die insident met die Consol-fles perskes op 3-jarige ouderdom is 'n pragtige, lewendige menslike oomblik wat die leser onmiddellik intrek.

 

· Eerlikheid oor jou Pa: Die manier waarop jy jou pa se intellek, sportprestasies en goeie eienskappe toon, maar ook nie skroom om sy eensaamheid, spanning en die afstand in verhoudings te erken nie, maak die vertelling eg en waardevol.

 

· Die Kodak Brownie & Foto-herinnering: Die paragraaf oor die swart-en-wit foto's versus die moderne selfoonkameras bring ’n wonderlike kontras tussen toe en nou. Dit herinner die leser daaraan hoe kosbaar daardie enkele kinderfoto's van Boetie werklik is.

 

Hier is die volledige teks met al die leestekens, spasiëring, en tipografiese foute netjies reggestel en gestroomlyn, terwyl jou eie stem, woordkeuse en oorspronklike feite 100% behou is.

 

Hierdie hoofstuk vorm ’n hoeksteen in OOMBLIKKE IN ONS LEWE. Dit eer jou voorsate met respek en meelewing.

 

 

(Hennie) Êrens na my aftrede in 2006 het Lou van Coppenhagen my geskakel. Hy was besig met ’n reuse self-opgelegde taak: om die stamboom van alle de Jagers in Suid-Afrika op te stel.

Daar was maar min van Coppenhagens hier, en omdat sy vrou se nooiensvan de Jager was, het hy besluit om hulle stamboom op te stel. Die Register bevat 8 814 de Jager-name en beslaan byna ’n 1 000 bladsye van fyngedrukte skrif, met ’n nommeringstelsel om die verband tussen opvolgende geslagte aan te dui. Hierdie stelsel werk baie eenvoudig deur alternatiewe letters (hierin h–k) vir generasies en nommers (1–8) vir die kinders se geboortevolgorde te gebruik. In die stelsel is die stamvader “a” en sy kinders word chronologies “b1”, “b2”, “b3”, ens. genommer. Sy kleinkinders is die “c”-geslag en sy agterkleinkinders die “d”-geslag, ens. Hy gebruik ook ’n verskeidenheid simbole vir beknoptheid: * = gebore; x = eerste huwelik; xx = tweede huwelik; ÷ = geskei; dubbele brander = gedoop; † = oorlede, en heelwat ander tekens.

 

Hy moes baie persoonlike oproepe maak en het ook baie moes reis: begraafplase besoek, asook die Nasionale Argiewe, Suid-Afrikaanse Geslagsregisters, bestaande de Jager Registers, Voortrekker Stamouers en kerkregisters nagaan, en besoeke bring aan die Departement van Binnelandse Sake, wat amptelik betrokke is by en verantwoordelik is vir die Nasionale Bevolkingsregister, asook alle ander moontlike bronne. Alles op eie koste, vir die liefde van die saak. Hy het van elke kontak sy soektog uitgebrei na daardie persoon se familie, en so van elkeen weer ander netwerke gekry. Verskeie de Jager-familielede en kennisse was so vriendelik om bydraes te maak; sommige het baie tyd spandeer aan hulle takke en groot vriende is gemaak. Lou het vir my persoonlik gesê dat die de Jagers met wie hy kontak gehad het deur die bank vriendelike mense was, wat uit hulle pad gegaan het om hom te help in sy soektog na nóg de Jagers wat hulle geken het.

 

 

 

DE JAGER STAMBOOM (Lou van Coppenhagen)

 

· Register Stamvader a1 – Pieter Christiaan de Jager (p. 9–702 - dominant), gebore Nederland 1665/69, arriveer al in 1686 in die skip Bantam aan die Kaap, in diens van die VOC. Later Burger van Paarl. Oorlede 1715 (47/50).

 

· Register Stamvader a2 – Jan de Jager (p. 703), gebore 1725.

 

· Register Stamvader a3 – Christiaan de Jager (p. 705), gebore Hanover, Duitsland 1758. Winkelier. Oorlede 1821 (63).

 

· Register Stamvader a4 – Johannes de Jager (p. 707–709), gebore Haarlem, Nederland 25.09.1824. Arriveer Suid-Afrika 1890. Oorlede Johannesburg, 20.01.1891 (66).

 

· Register Stamvader a5 – Jacobus de Jager (p. 711), gebore Nederland 1714, aankoms in Suid-Afrika 1742.

 

Ons familie kry ek vanaf bl. 521 tot 529, ons direkte voorsate:

 

g8 - My Oupa, Cornelius Janse de Jager, noemnaam Kerneels, gebore in Hopetown distrik 17.06.1866. Verhuis 1893 na Strydenburg, boer in Niekerkshoop distrik. Hulle gaan boer later op Dronkmodderfontein naby Vosburg in die Noord-Kaap. Oorlede in Paarl 1937 (71). Getroud 27.02.1893 (hy 26, sy 18) met Anna Susanna Badenhorst, gebore Hopetown distrik op 18.04.1874, oorlede op Dronkmodderfontein 29.08.1926 (52). Hulle het 8 kinders gehad:

 

1. Lourens, gebore 01.01.1894

2. Nicolaas, gebore 29.06.1895

3. Cornelis Janse, gebore 15.05.1897

4. Petrus Johannes, gebore 02.05.1899

5. Susara Johanna, gebore 01.08.1902

6. Pieter Charl de Bruyn, gebore 31.05.1904

7. Jurgens Bernardus, gebore 08.04.1907 – my Pa

8. Susanna de Bruyn, gebore 19.11.1912

 

’n Rare klein familiefoto van Oupa Cornelius en hul 8 kinders, met Tannie Susanna op Ouma se skoot toe sy seker nog minder as twee jaar was (dus geneem omtrent 1914), het behoue gebly en dis vir my ’n kleinood. Pappa moes toe 7 jaar oud gewees het.

 

Destyds was groot gesinne normaal onder Afrikaners. Ouma de Jager was ’n nooi Badenhorst en blykbaar ’n kwaai vrou, soos mens kan sien op die groepfoto van hulle familie. Mamma het uit haar eie ondervinding gesê mens moet nooit met ’n Badenhorst trou nie. Oupa de Jager was ’n baie saggeaarde mens.

 

Hy was ’n vermoënde boer. Gedurende die Groot Droogte van 1915–1920 het hy ’n tweede plaas aangekoop in die Niekerkshoop-distrik vir sy vee, omdat sprinkane Dronkmodderfontein swart gevreet het. Maar weens die langdurige droogte het ook Oupa de Jager uitgeboer, soos baie Afrikaners. Hy word gelikwideer en verloor al sy bates, en woon later in ’n armoedige klein huisie op Niekerkshoop. Later het hy weens blaaskanker baie pyn verduur. Sy seun Petrus neem hom per trein na die Paarl waar Oupa se broer, dr. Andries Lourens de Jager, praktiseer as mediese dokter. Hy het hom behandel, maar hy is twee jaar later in 1937 daar oorlede op die ouderdom van 71.

 

My Pa se broers was almal baie ouer as hy en het geboer in die Noord-Kaap (Prieska- en Upington-area):

 

h1 – Lourens de Jager, gebore 01.01.1894, gedoop in Strydenburg NGK. Boer in Hay-distrik, later eienaar van die plaas "Koedoeshoek", Noord-Kaap. Oorlede Upington, 28.03.1965 (71). Getroud op Marydale, 28.06.1920 (hy 26, sy 21) met Helena Margaretha, gebore 22.04.1899. 7 kleinkinders. Oorlede op Upington.

 

Uit die pen van hulle seun, Kerneels (2007-06-16):

Lourens koop "Nota Bene" vir £962 van sy moeder se broer, Nicolaas Johannes Janse Badenhorst. Hierdie grond lê in die dorre noord-weste van die Gordonia-distrik, 120 km wes van Upington en 15 km oos van die Namibië-grens by Nakop.

 

Op ongeveer 31-jarige ouderdom, op 11.12.1925, arriveer hy op ’n donkiewa met sy eggenote, twee baie klein kindertjies en sy vee op die plaas. ’n Paar koedoes kom op die grond voor en hy doop die plaas "Koedoeshoek". Terwyl sy twee kinders onder die wakap vertoef en sy eggenote in ’n tydelike skerm kook en kos voorberei, ry hy met die wa en donkies hoekige klippe aan uit ’n kloof wat die toepaslike naam "Klipbreekkloof" ontvang.

 

By ’n gebrek aan geld vir sement, dien die rooi klei van die plaas as messelmiddel vir die klippe om ’n huis aan die voet van ’n hoë kranskop te bou. Met pik en graaf het hy self ’n put gegrawe en moes met dinamiet blaas om deur die klipbank die nodige diepte te bereik. Hulle moes gereeld met die vee trek om gedurende die droë maande weiding te soek. Van hulle kinders, Retha en Susara, is tydens hierdie trekke gebore. Mettertyd verdeel hy die plaas in 15 veekampe van verskillende groottes. Daar was kampe vir die ramme, uierooie, lammerooie, ooie met swak lammers en veetroppe, melkkoeie, perde en ruskampe. Bokke is nie in kampe geplaas nie; hulle ken nie reëls en regulasies nie, net soos baie van vandag se kinders.

 

Sowat 10 jaar later, tydens die depressiejare, ontvang hy na aftrekking van kommissie en vervoerkoste slegs 4/6 (0.45c) per skaap van die Johannesburg-slagpale. Weens hierdie lae pryse begin hy in 1934 met karakoelskape boer.

 

Aanvanklik moes hy sy kinders per donkie- en perdekar die 115 km vervoer na die naaste skoolkoshuis te Keimoes. Ten spyte van swaarkry, droogtes en baie probleme met die boerdery en andere, het Lourens gesorg dat sy kinders skool en daarna kollege- en universitêre opleiding ontvang. Tydens ’n soveelste groot droogte, ’n jaar voor sy dood in 1965, skryf hy aan sy dogter Retha: "Dinge lyk maar haglik, en daar’s geen teken van reënt nie... hierdie plaas is nou vir my ’n tronk, sit elke dag hier opgesluit. Ek het al ’n plan probeer uitwerk om stilletjies weg te loop... elke dier moet elke dag voer kry..."

 

Kerneels skryf: Ek het op "Koedoeshoek" grootgeword. Agter my ouers se huis is ’n hoë kranskop. Teen die kop het ons as kinders dikwels uitgeklouter. In die skaduwee hoog onder die krans kon ons die spoorwegtreine sien kom en gaan vanaf en na Upington en S.W.A. Daar het ons probleme bespreek en opgelos.

 

In sy matriekjaar gee sy ouers teensinnig toestemming vir die aflê van die rooi eed en as 18-jarige sluit hy op 04.04.1942 aan by die SA Lugmag. Na die Afrika-oorlog in 1943 weier sy ouers goedkeuring vir die blou eed vir diens oorsee, met sy vader se woorde: "Ek sien nie kans om my enigste seun beskikbaar te stel as kanonvoer vir die Duitse Luftwaffe nie." Hy doen diensplig in "air schools" en ontvang sy ontslag na die oorlog in 1945.

Hy ontvang na matriek sy B.A. in 1949, en B.Ed in 1965. Hy word onderwyser te Pofadder, trou met Chris en bou ’n huis aldaar waar hy onderwyser en koshuisouer is (1954); Hoërskool Albertinia, onderwyser en koshuisouer (1956); Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakemas (1962); Hoof Ysterplaat, Kaapstad (1964); Hoof Hanover Hoërskool (1968); Hoof Hoërskool Garies, Namakwaland (1970); Hoof Otto Du Plessis Hoërskool, Port Elizabeth. Hy word bevorder tot Inspekteur van Onderwys (Julie 1977) S.W.A. en woon aldaar in Keetmanshoop. In April 1981 word hy Inspekteur Wes-Kaap en woon op Hermanus. Hy tree af in Junie 1984 en tree op as eksamenopsiener, sensusopnemer en korrespondent vir Die Burger en Rapport.

 

Hy erf in 1973 van sy moeder die plaas "Koedoeshoek". Hy is ook ’n ywerige en entoesiastiese mede-opsteller van hierdie gedeelte van die de Jager Register. Hy is dood aan ’n hartaanval.

 

Sy vrou Chris werk na matriek by die Staatsdiens in Pretoria. Na haar huwelik behartig sy aflos-onderwysposte in Keetmanshoop. Met die vertrek van die laaste kind uit die huis studeer sy deur UNISA en behaal aldaar op 58-jarige ouderdom ’n B.A. in Bybelkunde en Afrikaans-Nederlands.

 

h2 – Nicolaas de Jager, noemnaam Niklaas, gebore 29.06.1895, gedoop in Strydenburg NGK. Boer op Vollgraaffsicht, Gordonia-distrik, ’n nedersetting ± 90 km van Upington langs die Oranjerivier. Oorlede en begrawe aldaar. Getroud met Elizabeth Slabbert, noemnaam Lysa, gebore 1900. 4 kleinkinders. Oorlede en begrawe op Vollgraaffsicht.

 

h3 – Cornelius Janse de Jager, noemnaam Kerneels, gebore in Prieska 15.05.1897, gedoop in Strydenburg NGK. Boer op die plaas "Swartkop", Gordonia-distrik & die plaas "Albanie", Upington-distrik. Oorlede te Upington, 24.06.1967 (70). Getroud op Prieska, 1932 (hy 35, sy 18) met Francisca Johanna Wilhelmina Kuun, gebore Niekerkshoop 30.07.1914. 4 kleinkinders. Oorlede en begrawe op Upington 16.07.1990 (75).

 

h4 – Petrus Johannes de Jager, gebore op die plaas "Dronkmodderfontein", tussen Prieska en Vosburg op 02.05.1899. Eienaar van die plaas "Retreat", Prieska-distrik. Oorlede aan trombose op Prieska, 09.09.1979 (80) en daar begrawe. Getroud met Susanna Magdalena Koen, noemnaam Sannie, gebore 17.04.1905. 6 kleinkinders. Oorlede 15.05.2007 (102).

 

h5 – Susara Johanna de Jager, gebore in die Hay-distrik op 01.08.1902. Woon na haar eggenoot se dood by haar dogter in Port Elizabeth. Daar oorlede 1998 (96). Getroud met Willem Francois Maritz, gebore in Sutherland-distrik op 22.05.1896. 3 kleinkinders. Hulle boer op die plaas "Welgemeend", Hay-distrik. Hy is oorlede aan dubbele longontsteking in Kimberley Hospitaal in 1938 (42).

 

h6 – Pieter Charl De Bruyn de Jager, gebore 31.05.1904. Boer in die Campbell-distrik. Oorlede op Odendaalsrus, 16.03.1977 (72). Getroud op Kuruman, 07.04.1930 met Johanna Dorethea Sutherland, noemnaam Joey, gebore Kuruman-distrik op 22.02.1905. 4 kleinkinders.

 

h7 – Jurgens Bernardus de Jager, gebore op Vosburg 08.04.1907. Sy oom, dr. A.L. de Jager, het gesê my Pa is te skrander om te gaan boer. Hy het hom na Boishaai (Paarl Jongenskool) gestuur, van Standerd 6 tot matriek, waar hy die Dux-leerling was. Toe het hy ook vir my Pa se opleiding aan Victoria Kollege (later Stellenbosch Universiteit) betaal, waar hy in drie jaar twee grade tegelyk suksesvol studeer het: B.Sc. en B.Ed. Pappa het al die geld wat sy oom hom geleen het, terugbetaal.

 

Ek dink sy eerste Wiskunde-pos as onderwyser was op Colesberg, waar hy my Ma ontmoet het (hulle het met 10 jaar verskil). Hy het vir haar Wiskunde gegee. Later jare het mense gesê dis nie goed vir ’n huwelik as ’n onderwyser met een van sy leerlinge trou nie, want amper onvermydelik skep dit ’n onderwyser/kind-verhouding wat moeilik afgeleer word. Pa was blykbaar ’n vangs onder die meisies, want hy was aantreklik en ’n aktiewe sportman met ’n baie sterk persoonlikheid.

 

Na Colesberg word hy Wiskunde-onderwyser by Paarl Jongenskool; in 1943 hoof van Sekondêre Skool Darling; 1949 hoof van Goudini Hoërskool op Rawsonville; 1954 skole-inspekteur vir die Kaaplandse Departement van Onderwys. Oorlede aan emfiseem op Colesberg op 20.04.1983 (76). Getroud op Stellenbosch in 1938 met Esther Aletta du Plessis, gebore in Colesberg op 11.02.1917. 4 kleinkinders. Oorlede in Pretoria op 07.06.2002 (85).

 

Tydlyn van Jurgens Bernardus de Jager (algemeen bekend as JB):

 

Gebore 08.04.1907

Sub A Vosburg 1914

Matriek Boishaai 1922–1926 (Dux-leerling)

B.Sc. + B.Ed. US 1929

Colesberg 1930–1932

Boishaai 1933–1943 (Wiskunde-onderwyser)

Boland Tennis-enkelskampioen 1934

Getroud 1938 (hy 31 jaar oud, Mamma 21 jaar oud)

Boetie (Cornelius) gebore 07.10.1939 (oorlede nierkwaal 1946 - 7 jaar oud)

Boland Tennis Mans-dubbelskampioen 1941

Hennie gebore 11.12.1942

Louis gebore 12.01.1948

Joanie gebore 19.10.1952

Pappa oorlede 20.04.1983 (76 jaar oud)

 

· i1 – Cornelius Janse de Jager, noemnaam Boetie, gebore Paarl, 07.10.1939. Oorlede aan nierkwaal op Darling en daar begrawe 23.12.1946 (7).

 

· i2 – Hendrik Jacob de Jager, noemnaam Hennie, gebore Paarl, 11.12.1942. Rekenaarprogrammeerder Stellenbosch, Brackenfell en Wellington. Afgetree in 2005, woon sedert 1989 in Wellington. Getroud op Caledon 02.01.1965 (hy 22, sy 19) met Helena Jacomina du Toit, noemnaam Heléne, gebore op Caledon, 06.04.1945. Geskei 1974. Tweede huwelik op "Uitkyk", Wolmaranstad-distrik op 08.04.1978 (hy 35, sy 30) met Catharina Maria Coertze, noemnaam Rinie, gebore 15.02.1948, dogter van Stephanus Francois Coertze, gebore Wolmaranstad 02.07.1909, oorlede aan maagkanker Wolmaranstad 28.01.1986 (76) & Hendrika Christina Roos, gebore Rustenburg, 25.06.1915. Rinie se 1ste huwelik met Mauritius Arnoldus Myburgh; dogter Hendrika Christina Myburgh, noemnaam Tania, gebore 24.08.1972, oorlede aan hartaanval 01.02.2017 (44).

 

Uit eerste huwelik van Hendrik Jacob de Jager met Helena du Toit:

 

· j1 – Jurgen Heine de Jager, gebore Pretoria, 26.05.1967, woon in 2017 in Johannesburg. Getroud op Stellenbosch 23.12.2009 met Verna du Plooy, gebore Kaapstad 06.07.1959. Huwelik kinderloos.

 

Uit tweede huwelik van Hendrik Jacob de Jager met Catharina Coertze:

 

· j2 – Christiaan Francois de Jager, gebore Bellville, 20.01.1980. Getroud op 16.12.2009 met Alida Rheeders, gebore Bloemfontein, 07.03.1988.

· k1 – Daniël Hendrik de Jager, gebore 11.03.2015 Johannesburg.

 

· k2 – Lisa de Jager, gebore 04.10.2018 Abu Dhabi, UAE.

 

· j3 – Marinus Louis de Jager, gebore Bellville, 08.01.1982, getroud met Frieda-Marie Theron, gebore in Windhoek.

· k1 – Bernhard Francois de Jager, gebore Kuilsrivier, 21.12.2016.

 

· i3 – Jurgens Louis de Jager, noemnaam Louis, gebore Darling, 12.01.1948. Eienaar van Car Electric Centre te Kaapstad, motorrenjaer, bestuur later ’n nagskuiling in Elsiesrivier, Kaapstad. Getroud in Kaapstad, 01.12.1972 met Moira Floris Stephan, gebore Claremont, Kaapstad 12.09.1933. Sekretaresse, dogter van Frank Stephan & Mary Rudolph. Huwelik is kinderloos.

 

· i4 – Johanna Christina de Jager, noemnaam Joanie, gebore Rawsonville 19.10.1952. Getroud op Bloemfontein 11.11.1975 met dr. Cornelius Johannes Bongers, gebore Johannesburg, 22.12.1949. Narkotiseur te Pretoria. Seun van Eldert Bongers (gebore Nederland, 13.08.1918, arriveer in S.A. 11.11.1937; getroud in Johannesburg op 16.10.1948 met Florence Beala de Flamingh, gebore 05.02.1920).

· j1 – Estea Bongers, gebore Klerksdorp, 16.10.1977. Tandarts, getroud in Clarens op 30.11.2002 met Johan Volschenk, gebore 13.02.1975.

 

· j2 – Ilse Bongers, gebore Klerksdorp, 26.02.1979. ICU-suster.

 

· j3 – Karin Bongers, gebore Pretoria, 24.06.1982. Aktuaris.

 

 

h8 – Susanna de Bruyn de Jager, gebore Prieska-distrik 19.11.1912, oorlede Georginia, Roodepoort, Augustus 1976 (63). Getroud met Salomon van Rooyen, gebore 12.12.1904. 1 kleinkind. Oorlede Ontdekkers Hospitaal, Roodepoort, 1957 (53).

 

i1 – Cornelius Janse de Jager (Boetie), en ekself, i2 – Hendrik Jacob de Jager (Hennie), is beide gebore in Paarl. Pappa was Wiskunde-onderwyser by Boishaai. In 1943, toe ek ses maande oud was, het Pappa die hoofskap aanvaar by Darling Sekondêre Skool. Hy was toe 36 jaar. Hy het sy hele lewe lank daarin geglo ’n mens moet jou potensiaal gebruik om altyd na beter te strewe. Boetie het aan ’n ongeneeslike nierkwaal gely. Mamma het my later vertel dat hy altyd met ’n botteltjie in sy sak moes loop omdat hy nie beheer oor sy blaas gehad het nie.

 

Al wat ek van hom het, is ’n paar klein foto's (5x8 cm en 8x13 cm – die grotes wat destyds normaalweg gedruk is) met hoekies in ’n klein swartbladsy-album gemonteer. Geneem met ’n Kodak Brownie-kamera. Ek lei af om foto's groter te druk, was duur. Dan is daar een ateljeefoto van 15x20 cm van ons gesin: Pappa, Mamma, Boetie en ekself, wat toe seker 3 of 4 jaar oud was (1945–46). Alles swart-en-wit. Sedert omtrent 1970 was die gewone Jumbo-afdrukke 5x10 cm, alles in kleur. Ons het talle albums versamel van foto's, sommiges selfs heelwat groter, tot byna A4.

 

Met die koms van selfone en die fasiliteit om duisende foto's gratis te stoor vir onmiddellike besigtiging met die trek van jou vinger, het gewone kameras vir almal behalwe entoesiaste ’n stadige dood gesterf. Want met die ongelooflike skerpte van deesdae se bekostigbare selfone wat in ’n broeksak pas, is dit nie meer nodig om swaar en groot kameras rond te sleep nie – wat boonop ook ’n risiko vir diefstal is wanneer jy op reis gaan.

 

Boetie was as gevolg van sy siekte dikwels bedlêend. Eendag was Pappa en Mamma nie by die huis nie. Toe sê Boetie hy is lus vir ingelegde perskes. Destyds het meeste vrouens vrugte ingelê in Consol-glasflesse. Ek is na die spens en moes seker op ’n stoel staan om een van daardie klein halfmas-flesse van die rak te haal. Ek kan nie enige verdere detail onthou nie, maar die fles het nie gebreek nie, en Boetie moes dit oopgeskroef gekry het. Van die eet kan ek nie onthou nie. Ek moes 3 jaar oud gewees het. Dit is seker die bravade van die daad wat veroorsaak het dat dit die permanente eerste plekkie in my geheue verwerf het. Dit is die vroegste herinnering wat ek het, en ek dink die rede hoekom dit in my geheue vasgesteek het, was omdat ek dit vir iemand anders gedoen het.

 

Boetie is 13 dae na my 4de verjaarsdag, op 23.12.1946 oorlede. Hy was net meer as 7 jaar en 2 maande oud. Dit was vir Pappa ’n geweldige slag en, gevoelsmens wat hy was, het hy baie lank daaroor getreur. Mamma het naderhand eendag vir hom gesê: “’n Mens lewe nie saam met die dooies nie.” Ek kan dink hoe diep dit hom geskok het, en verseker het dit groot skade aan hulle verhouding veroorsaak. Pappa het baie jare later eendag vir my gesê: “As Boetie vandag gelewe het, sou die dokters hom gesond kon maak, maar destyds was sy kwaal ongeneeslik.” Boetie is begrawe in die Darling-begraafplaas, by al die kindergraffies. Pappa het sy steentjie laat maak van liggrys marmer, met die boonste hoekie afgebreek – tekenend van ’n lewetjie wat kortgeknip is. Onderaan was Pappa se woorde: “Tot weersiens Boetie”. Wanneer ons per geleentheid daar verbygery het, het ons altyd stilgehou en na sy graffie gaan kyk. Oor die algemeen hou die munisipaliteit die begraafplaas skoon van onkruid.

 

Pappa was vanaf 1933 tot 1943 Wiskunde-onderwyser by Boishaai. Hy was van geaardheid altyd een om sy beste te gee. Gedurende sy jare daar was G.O. Neser die Wetenskap-onderwyser, wat die Natuur- en Skeikunde-handboeke geskryf het wat sedert die 1930's tot die 1970's die mees gebruikte senior skoolhandboeke vir hoërskole in Suid-Afrika was. Pappa het gesê hulle het gereeld gewedywer wie die beste punte vir hulle studente kon behaal.

 

Pappa het die vermoë gehad om ingewikkelde begrippe eenvoudig te verduidelik. Ek kan onthou dat Louis, wat maar ’n moeilike mens by tye kon wees, eendag toe hy omtrent 16 was vir Pappa ergerlik gesê het hy kan ’n sekere wiskundeprobleem glad nie verstaan nie. Pappa, wat toe al byna 60 was, het vir Louis gesê om sy boeke vir hom te bring. Louis sê binne oomblikke was die som vir hom glashelder; so duidelik kon Pappa na al die jare nog steeds verduidelik. Dit was in sy geaardheid, en dit was hoekom hy so ’n goeie onderwyser was.

 

Pappa was baie lief vir sport. Hy was lid van Boishaai se eerste hokkiespan in 1934 en 1936, toe hulle die Keyter-beker gewen het. Hy het ook rugby en tennis gespeel, en senior skoolspanne afgerig. Hy was Boland Tennis-enkelskampioen in 1934, en Boland Tennis Mans-dubbelskampioen in 1941 – iets om op trots te wees. Tog kan ek nie onthou dat hy ooit met sy prestasies te koop geloop het nie.

 

Voordat televisie in 1976 na Suid-Afrika gekom het, het ek gereeld gesien hoe hy, terwyl hy luister na radio-uitsendings van rugby, ’n rugbyveld teken op ’n A4-bladsy met buitelyne, half, 22's en doellyne. Soos Gerhard Viviers (Spiekeries) die gang van die wedstryd beskrywe het in die 1950's en 1960's, het Pappa sy potlood heen en weer oor die veld beweeg om beter te volg waar die spel plaasvind. Dit was fassinerend om hom dop te hou, heeltemal verdiep in die spel, asof hy self daar is.

 

Hy was Inspekteur van Skole in verskeie Kaaplandse streke: Barkly-Wes (9 maande); Umtata (6 maande); Cradock (6 jaar); Hermanus (2 jaar); De Aar (4 jaar); Worcester (3 jaar), waar hy afgetree het op 64-jarige ouderdom as gevolg van swak gesondheid. Omdat hy alle skole in sy kring (deursneë dikwels meer as 250 km) moes besoek, was hy noodgedwonge lang tye weg van die huis. In my hoërskooljare op Cradock kan ek onthou dat hy na Sondagmiddagete eers gaan slaap het, en na teetyd so halfvier gery het na die skool wat hy Maandagoggend moes besoek. Hy het gereeld agtuur saam met die prinsipaal ingestap. Sy inspeksies het geduur tot Vrydag; dan het hy teruggery huis toe waar hy om-en-by vyfuur aangekom het, en eers op die kar-radio geluister het na aandeelpryse. Dan het hy Saterdag nog ’n lywige verslag getik vanaf sy handgeskrewe notas en dit gepos vir die Departement van Onderwys in Waalstraat, Kaapstad.

 

Die afstande in die Karoo is groot: vanaf Cradock na Middelburg 100 km; Tarkastad 80 km; Graaff-Reinet 137 km; Burgersdorp 176 km; Somerset-Oos 106 km; Bedford 85 km; Hofmeyr 64 km; Steynsburg 109 km – almal dorpe waar hy skole moes inspekteer. Dus het hy baie tyd op die pad deurgebring, destyds baie van hulle nog grondpaaie. Hy was ‘n streng mens, maar tog met deernis. Mamma het my vertel dat sommige onderwysers die grond aanbid het waarop hy geloop het (diegene wat pligsgetrou hulle werk gedoen het), maar dat ander vir hom so bang was soos die duiwel vir ’n slypsteen - die wat voete gesleep het. Hulle het hy behoorlik geroskam.

 

Vandag soos ek hier skrywe, kry ek hom baie jammer dat hy as gevolg van sy werk vir sulke lang tye weg van sy huisgesin moes wees. Dit moes noodgedwonge ’n invloed op die intiemheid tussen ons gehad het, soos hy geskryf het in ’n lang brief van 23 Augustus 1977: “Ek moes dikwels vir lang tydperke afwesig van my huis wees… dit alles het geleidelik gelei tot ’n verwydering tussen my en daardie mense wat die naaste aan my hart gelê het.”

 

Hy het baie jare gesukkel met asma, en later emfiseem, waaraan hy op Colesberg dood is waar hulle die laaste jare van sy lewe deurgebring het. Ek dink die hoofoorsaak was dat hy ’n baie gespanne mens was. Ook toe hy jonger was as skoolhoof, het hy tot 60 sigarette per dag gerook, omdat destyds geglo is dat dit ’n kalmerende invloed het (wat vandag beskou word as ’n illusie).

 

Omdat die verhouding tussen hom en Mamma dikwels nie goed was nie – iets wat vandag vir my tragies is – het hulle vanaf Colesberg, waar hy afgetree het, verhuis na Parys, sodat Mamma naby Joanie kon wees (hulle was destyds in Klerksdorp). Hy was daar baie eensaam. In ons gereelde briefwisseling – ek bewaar al sy briewe soos ’n kleinood – het hy in ’n brief geskryf: “Moet tog nie toelaat dat ek hier in Parys begrawe word nie – ek ken niemand hier nie. Ek verlang om op Colesberg begrawe te word, waar ek van my gelukkigste jare in my lang loopbaan in die Onderwys deurgebring het.”

 

Later het hulle terug verhuis na Colesberg en in D’Urban Row 9 gaan bly. Hy het geskryf dat dit daar in die nagte soms werklik stil was. Sy gehoor was al sy lewe baie skerp, wat gelei het tot ’n taai klap wat hy my gegee het toe ek in Standerd 9 een Sondag gedurende sy middagslapie baie uitdagend teenoor hom was.

 

Hy is oorlede 12 dae nadat hy 76 geword het in Colesberg-hospitaal op 20.04.1983, en begrawe in die begraafplaas daar. Sy en Mamma se grafte is uitgemessel, en hul grafstene is plat stene van swart marmer, soos hy versoek het. Mamma het twee jaar na sy dood verhuis na Huis Herfsblaar, ’n aftreeoord in Queenswood, Pretoria, om naby Joanie te wees (hulle het intussen ook verhuis na Waterkloof, Pretoria). Mamma is na 17 jaar daar oorlede op 07.06.2002 (85). Sy is veras en haar as begrawe langs Pappa se graf. Avbob het die datum van haar afsterwe op haar steen aangebring.

 

O, for what might have been…

 

 
 
 

Comments


bottom of page