top of page
Search

O1B5F2. HEINE KUIER+DAWN+JOANIE 1993

  • henniej42
  • Jun 13
  • 21 min read

Updated: 6 days ago

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-06-13

O1B5F2. HEINE KUIER+DAWN+JOANIE 1993

 

(Gemini) Wat 'n ryk, diepgaande en kosbare versameling oomblikke en herinneringe om hier bymekaar te bring. Hierdie hoofstuk van "Oomblikke in ons Lewe" weef pragtig die uiterlike gebeure van die lewe saam met jou diepste innerlike reise, introspeksie en filosofiese oortuigings.

 

Van die aangrypende herontmoeting met Heine en die emosionele intensiteit rondom sy ongeluk, tot jou vlymskerp teologiese debatte met Joanie en die uiteindelike bevryding van jou aftrede - hierdie stukke vorm saam 'n kragtige portret van 'n leeftyd se rypwording. Hierdie is 'n roerende toevoeging tot jou lewensverhaal, vol lewenswysheid wat jou kinders en kleinkinders eendag geweldig baie sal koester.

 

(Hennie) HEINE KOM KUIER          (1993-12-29)

Seker vir die eerste keer in 'n paar jaar is Heine nou weer in die Kaap met vakansie. Toe ek hom die eerste keer by Heléne-hulle sien, het hy, alhoewel hy dieselfde Heine-houding en -glimlag het, tog heelwat anders gelyk: meer bonkig, gerond en effens meer vooroor as wat ek hom onthou. So amper soos iemand wat geleer het om in die skrum van die lewe te sak en nie meer so loslittig regop te loop nie.

 

Terwyl ek en Chris gesels het, het ek van tyd tot tyd na hom gekyk en in myself agtergekom dis 'n ander soort kyk - 'n soekende peinsing om die gesindheid binne-in him te probeer lees, of dalk net 'n verlange om weer na my kind te kyk, wat veel dieper in jou gaan. 'n Kyk na hoe hy gegroei het, nie net meer solied nie, maar hoe die vorm van sy kop verander het; te soek na die trek in sy oë, die vorm van sy wangbene, winkbroue, die grootmens-sproete en stoppelbaard.

 

Hy het nie die barskyk van 'n jongmens wat probeer indruk maak nie. Dis asof hy soms in oog-tot-oog-kontak sy blik laat val, maar my maat, soos ek gisteraand vir Rinie sê, die ou wat met hom moeilikheid soek, gaan op sy moer kry, plain and simple. Hy is nog die sagte mens wat hy nog altyd was, wat geamuseerd met die kleintjies speel, wat nie belangstel om mense te beïndruk nie - 'n gemoedelike mens, nog onseker van sy eie vermoë, maar hy gaan hom nie laat rondstoot nie.

 

Dis dieselfde eienskap wat hy reeds in standerd ses gehad het, toe hy vir die eerste keer na die Hoër Tegniese Skool Bellville is. Die middag na skool, met sy eie tas agterop sy fiets op pad huis toe, plak 'n matriekseun sy tas op sy fiets en sê hy moet dit vir hom huis toe neem. Heine het doodluiters die ou se tas afgehaal, op die grond laat val, en vir die verwaande vent gesê hy kan self sy tas dra.

 

Heine het die volgende dag ons kinders en hulle maats kom haal en hulle vir die dag Strand toe geneem. Hulle is gek na hulle groot broer, omdat hy aan hulle aandag gee, saam met hulle speel en natuurlik geld op hulle uitgee.

 

Soos 'n mens ouer word, het jy al minder lus vir die eise wat kinders aan jou stel. Dit verg 'n spesiale poging om mee te doen, al weet jy dis nodig dat jy aan hulle persoonlik aandag gee, en hulle nie net afkoop en met geld wegstuur om jou met rus te laat nie. Elkeen van ons het nou maar die geaardheid waarmee hy of sy gebore is en wat in ons grootword-jare gevorm is. Sommige is geseënd met joviale, gemoedelike geaardhede wat graag nog meedoen met hulle kinders.

 

Ek dink daar is egter baie van ons wat nie so is nie. Dis nie dat jy nie vir jou kinders lief is nie - inteendeel, as mens kyk watter persentasie van jou tyd en geld direk of indirek aan jou kinders spandeer word, dan draai jou lewe eintlik maar om jou kinders. Seker soos die Voorsienigheid ons gemaak het, om daardeur te verseker dat die lewe bly voortbestaan.

 

Ek is jammer dat ek nie so 'n gemaklike geaardheid het nie; ek sou bittergraag sommer so ongeërg soos 'n kind met my kinders wou speel, maar 'n mens se geaardheid is nie iets wat jy sommer met 'n verfkwas kan verander nie. 'n Valse, gemaakte front kan en wil ek nie voorhou nie; op sy beste sal dit net uitloop op uiteindelike verwerping en selfveragting. 'n Mens moét nog met jouself kan saamleef.

 

Die ernstige streep het ek blykbaar van kleins af. Ek kan nou nog onthou dat my Sub A-juffrou in Rawsonville, juffrou Rademeyer, in my eerste rapport geskryf het “Hennie is te ernstig.” Dit het my destyds al gehinder; ek was so lief vir haar. Sy het so 'n wyemond-glimlag van 'n warmhartige mens gehad. Ek het nou nog die klasfoto van ons klomp haasbek-glimlaggies om haar, soos 'n klomp bytjies rondom 'n blom.

 

Hoe oorbrug 'n mens hierdie gaping na jou kinders, of ewe belangrik, die gaping na ander mense? Dis so asof ek van altyd af buite die hoofstroom van die lewe gestaan het; gestaan en kyk hoe mense by my verbyloop en/of worstel. Kyk maar op 'n normaal-besige dag na mense se gesigsuitdrukkings soos hulle verby jou stroom, veral in 'n stad; die angs is somtyds amper tasbaar. Destyds, toe ek in Kaapstad by Mobil gewerk het, moes ek saam met honderde ander vanaf die stasie verby sir Walter Scott se beeldjie loop op pad werk toe. Op die bank daarby het 'n middeljarige boemelaar dikwels die spektakel amuseerd sit en aanskou: the rat race, uitgevoer deur 'n cast of thousands.

 

Terug in Heléne se dae het ek eendag vir Mamma gesê ek doen nog nie wat ek in die lewe moet doen nie. Ek het 'n filosofiese streep in my wat aangespreek moet word. Is ek net nog weer besig om dinge te ontduik? Ek dink nie so nie... Diep binne is daar iets wat gehoor wil word, en tot nog toe weet ek nie hoe nie. Dis moontlik iets wat met duisende ander mense gebeur - dat hulle voel daar is 'n ander dimensie wat wag om uiting aan gegee te word, die werklike lewe wat nog wil lewe, en jy weet nie hoe nie. Wat noem jy hierdie: selfondersoek?

 

Heine (1994-03-18)

Ek sit hier met 'n DP-artikel oor Zach de Beer, waarin hy sê: "Die wese van ons filosofie is die oorweldigende waarde van die individu." Dis die kernbeginsel, en dis seker daaroor dat Brian Newton jare gelede in Stellenbosch van my gesê het "here is a true liberal". Ek voel baie sterk daaroor dat elke mens die reg het om self te besluit wat jy met jou lewe wil maak. Ons moet ons kinders beslis leiding gee, sodat hulle weet watter gevolge op watter optrede volg, maar ons moenie hulle in dwangbuise plaas nie. Hierin, soos met alle besluite, lê groot verskille tussen die konserwatiewe en liberale uitkyk, naamlik met watter mate van dwang dit gepaard moet gaan: hoe meer ons dwing, hoe meer probeer ons ons lewenssiening op 'n ander afdruk, en hoe meer maak ons of hulle inisiatief dood of veroorsaak rebelsheid. Dis nou maar wat ek glo, al weet ek ek was al baie verkeerd - dit bly vir my die amper heilige en basiese reg van elke mens.

 

Marinus se Musiek (1996-07-06)

Marinus het 'n paar maande gelede begin met "ons wil 'n orkes begin", en jy weet mos hoe kan 'n kind neul. Ek besef hoe wonderlik dit vir enige mens moet wees as hy musiek kan maak, want dan kan enige groep waarin hy is saamsing of saamluister.

 

Maar die ander sy, waarvoor ons gedurig moet keer, is dat dit maklik is om 'n ding te wil doen, maar iets heel anders om dit werklik suksesvol tot uitvoer te bring. Hy moet nou klasse neem, en ons hoop hy druk deur sodat hy op die punt kom waar hy mooi musiek kan maak en, die belangrikste, dit kan geniet.

 

Ek bewonder nog altyd mense wat die vermoë het om iets kunstig tot stand te bring - musiek skryf, dirigeer of maak, sangers, skilders, beeldhouers, digters, skrywers en filosowe. Dit voel vir my daar is drie groepe mense:

· Die natuurlike kunstenaars: Hulle het die vermoë om van niks iets pragtigs te maak; om in iets alledaags die skoonheid raak te sien, dit uit te haal, en dit só in die lig te hou dat gewone mense dit ook kan raaksien.

 

· Die waardeerders (Gewone mense): Alhoewel hy nie self kan skep nie, het hy tog die vermoë om iets moois raak te sien as hy dit teenkom. Mense wat kan onderskei tussen mooi en lelik, goed en sleg. Ek dink ek val in hierdie groep, maar ek dink ook baie mense hier kan met toegewydheid en inspanning opreik na die eerste groep.

 

· Die onverskilliges: Ek dink daar is 'n derde groep wat nie kan onderskei tussen mooi en lelik nie. Dis hulle wat, wanneer hulle tussen iets moois en 'n skreeulelike ding daarnaas moet kies, die lelike sal kies "want hy hou van rooi".

 

Is ek te kras? Dis natuurlik weer iets anders, want smaak verskil, en ons is baie geneig om net dit waarvan ons hou - omdat ons daaraan gewoond is - voor te stoot en alles anders af te kraak. Binne-in elkeen van ons is daar 'n hele wêreld opgesluit. Om met mekaar klaar te kom, moet ons leer om te leef en te laat leef, want die ander ou wat ek nie kan vat nie, het dalk weer geen tyd vir my nie (en waarskynlik dink ek so, dis juis hoekom ek hom nie kan vat nie!).

 

’n Brief aan Dawn en Carl Figge (1994-07-26)

Hierdie is eintlik 'n sameflansing van verskillende briewe, of dele daarvan, wat vir my die kern bevat van dit waaroor dit werklik gaan: die omgee tussen mense. In Engels is daar 'n pragtige, ekspressiewe woord om dit te beskryf: COMPASSION. Die naaste hieraan vir my in Afrikaans is DEERNIS.

 

Dit is alles weens die menslike kontak met almal van julle, en veral die manier hoe julle in julle hartseer teenoor Heine opgetree het. Aan my Ma is ek baie verskuldig vir die omgee en die betrokkenheid by dit wat haar eie is. So het ek haar oor jare sien lewe - haar deernis gesien met enige ander mens se swaarkry en seerkry. Beide my ouers het bygedra om hierdie bewussyn by my in te skerp.

 

Hier is gedagtes wat op almal van toepassing is, wat ek graag met julle wil deel. Op die keper gaan dit oor Heine, vir wie ons almal baie lief is. Dus kan ons maar die gedagtes ook saam belewe.

 

Heine, ons almal was sedert die ongeluk bekommerd oor jou herstel, omdat veral jou geheue nog nie reg was nie. Intussen het ons by verskeie mense wat deur dieselfde soort ondervinding was, gehoor dat dit soms 'n geruime tyd neem voordat jy weer fisies heetmal normaal is. Ek wens jy kon alles wat sedert die ongeluk met jou gebeur het, onthou. Jy kan regtig pragtige mense onder jou vriende tel. Hopelik vertel hierdie brief vir jou iets daarvan.

 

Die paar dae daar by julle het vir my geweldig baie beteken. In die geheel was dit 'n emosionele ervaring wat vir my baie verdieping gebring het. Ek kan nie 'n waarde plaas op die kontak wat ek gehad het met julle nie.

 

Johan en Martie, ons is jammer ons het nie die geleentheid gehad om julle persoonlik te kon ontmoet nie. Deur die telefoonkontak wat ek met julle gehad het - laatnag toe Johan my vanaf die hospitaal gerusgestel het - kan ek verstaan hoekom Heine so lief vir julle is, en julle vir hom. Dankie dat julle jul vakansie vir ons kind uitgestel het totdat julle gerus kon wees ddat Heine buite gevaar is. Martie se ma is 'n pragtige mens, en Heine is veral vir haar baie lief. Ek is bly ons kon haar by Vaughn se begrafnis ontmoet.

 

Chris (Heléne se broerskind) en Miriam is twee dierbare jongmense. Heeltemal ongevraag het hulle ons die eerste dag met hulle motor kom oplaai om vir ons die maklikste pad na die Johannesburg-Algemeen te wys. Hulle het my na twee winkelkomplekse geneem sodat ek vir Heine nagklere en stokies kon koop vir gebruik in die hospitaal.

 

Die hele Figge-gesin is vir my pragtig in hulle selflose omgee vir Heine, al het hulle alle rede om in hulle hartseer na binne te keer.

 

Dawn, my hart het regtig na jou uitgegaan. Jy het jou oudste kind verloor, vir wie julle almal baie lief was - he was die spil waarom julle hele gesin gedraai het. Tog was jy elke dag daar om te kom seker maak dat dit met Heine goed gaan. Jy het Heine aanvaar soos jou eie kind, "Heino, the Rhino". It is such endearments that make you very special.

 

Carl, your anguish was almost tangible. Thank you for letting us, total strangers, into your house and into your hearts. Thank you for your quiet way of showing us GENESIS and Heine's flat, and especially for talking to us the way you did about Vaughn and Heine, at a time when it was obviously very painful to you. There must be something special about Heine for people like yourselves to take him into your heart, to be there for him when he needed you most.

 

Tyrone, Natasha, en Laura (Vaughn se meisie), saam met Nancy en Cathy (die twee verpleegsters), en Douglas (Nancy se broer), is almal duidelik baie lief vir Heine. Dit wys in hulle teenwoordigheid en opbeurende skerts met hom, en uit die reaksie wat dit van hom ontlok het - daardie kenmerkende glimlag van hom en sy terugreaksie toe hy begin beter word het. Tussen sulke vriende het ons die gerusstelling dat ons nie vir Heine beter kan toewens nie.

 

Die swart suster by Intensiewesorg, wat hom opgebring het na saal 584, asook die ou "nannie" wat die naweek daar diens gedoen het, was baie dierbaar teenoor ons. Ek wou die saalsuster 'n drukkie gee toe sy vir my sê, toe ons die Sondagmiddag loop: "Don't worry, he has a friend here tonight." Dis sy wat die kalmerende inspuiting vir Nancy gegee het om vir Heine toe te dien voordat ons geloop het - dit nadat Laura-hulle vir hom moes vertel dat Vaughn in die ongeluk dood is.

 

Daar was ook baie ander met wie ons in kontak gekom het gedurende dié tyd; ook die groot groep vriende wat by Vaughn se begrafnis was, asook die drie swart werknemers van GENESIS. Dis asof mense se harte in hierdie besondere omstandighede vir mekaar oopgaan om te onderskraag en by mekaar hulp te kry.

 

'n Mens se gevoelens is deur die gebeure oopgeruk van die doodse geslotenheid waaragter ons die meeste van die tyd skuil, te bang om seer te kry. Wanneer jy werklik seerkry, is dit asof jy in jou soeke na deernis en begrip uit jou wegkruipplek kom, omdat dit jou nie teen hartseer kan beskerm nie. Wat mis 'n mens in die lewe as jy nie jou hart teenoor vriende kan oopmaak nie? Dis slegs deur oop te maak, dat jy vriende maak wat vir jou werklik iets beteken in hierdie lewe.

 

Ten spyte van die rou emosies wat ons moes beleef, sou ek die mense-kontak wat daarmee gepaard gegaan het vir niks in die wêreld wou mis nie. Die Figges veral was wonderlik in hulle hartseer, ook hulle vriende, asook Chris en Miriam se betrokkenheid - op 'n paar treë afstand, besorg, maar só dat hulle ruimte gee en nie dalk inbreuk maak op hulle wat direk geraak is nie.

 

Dis sulke deernis wat 'n mens weer geloof in jou medemens gee - dat daar tog baie van die mooi wat God in elke mens geskape het, behoue gebly het. In der waarheid is ek daarvan oortuig dat daar diep binne-in elkeen van ons 'n kern van Godgegewe liefde bly lewe, al is dit versmoor deur ons selfsugtige leefwyse. God self sê in Genesis 1:31: "Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed."

 

That Saturday, when we first met Dawn in the hospital, she said to me: "I love Heine like my own son. I always wanted a fourth child. Now God has given me Heine. If Heine dies, I do not want to live." Dawn, I wish with all my heart that you would find in Heine the alleviation to your grief, and he in you the warmth of belonging. I can see that he needs the closeness, to be part of a real family. You are giving him that. Thank you.

 

I am glad that you find the tape of Harold Kushner comforting. I include two booklets which I hope would help to make your pain of loss more bearable, your thoughts and memories of Vaughn more shining and uplifting.

 

Hier terug by die huis het ek vir Rinie gesê ek is besig om geheel en al in 'n gevoelsmens te verander - deur mense soos julle, asook omstandighede wat my lewenspad die laaste tyd kruis. Nogmaals baie dankie vir alles wat julle vir ons gedoen het.

 

 

Briewe aan Mamma en Joanie (1993-02-08)

Liefste Mamma,

‘n Mens se lewe ondergaan gedurig veranderinge waarvoor daar aanpassings gemaak moet word en jy nuwe uitkyke moet ontwikkel. Dis maklik om te sê vergewe en vergeet, maar 'vergeet' vereis 'n eienskap wat ek nie besit nie. Ek dink nie dis dat ek haatdraend is nie - om die waarheid te sê, dink ek dat ek baie maklik vergewe, maar ek kan nie my geheue van dinge wat my raak net eenvoudig uitvee nie. Dis omdat mense verwagtings het, dat daar teleurstellings kom. As mens aanmekaar aan 'n roof krap, dan sal jy naderhand 'n oop sweer met 'n permanente litteken oorhou.

 

Almal van ons het beide goeie en swak eienskappe. Binne die talente wat ons van Bo ontvang het, asook die omstandighede waarin ons geplaas is, kerf elkeen vir hom of haar 'n lewe uit, tot eie voor- of nadeel. Die gevolge daarvan moet jyself dra - beide vreugde en hartseer. As jy wroeging het oor wat verkeerd geloop het, is dit genoeg straf, sodat dit nie nog vir ander nodig is om hulle vinger op die seerplek te draai nie. Al wat dit gewoonlik veroorsaak, is oor-en-weer verwyte, verwydering en seerkry. 'n Mens kan net natuurlik wees as jy jouself is. Ons almal haat geveinsdheid.

 

Hallo Joanie,

Ek waardeer dit dat jy reguit met my is, want dit is hoe ek verkies om in my verhouding teenoor mense te wees - daar is gans te veel valsheid in die lewe, omdat dit vir mense belangriker is hoe hulle voorkom as om te sê wat hulle werklik dink.

 

Seker een van die kernbeginsels in my lewe oor die lewe (en dit het ek ook destyds gesê) is dat dit in vandag se ingewikkelde lewe onmoontlik is om in alles 'n deskundige te wees. Van die grootste probleme waarmee 'n mens gedurig te make het, is om te onderskei tussen die 'expert' en die 'bullshitter'; en as jy 'n werklike deskundige raakgeloop het, moet jy boonop seker maak dat hy ten volle eerlik met jou is en jou belange eerste stel, en nie syne nie. Soos jy sê, dinge is selde wat hulle behoort te wees of kan wees, omdat ons almal mense is. Is dit nie die kern van seker die meeste godsdienste nie - om te strewe na iets beters as waartoe jyself in staat is? Soos Robert Browning eeue gelede gesê het:

"Aye, but a man's reach should exceed his grasp, else what's a heaven for?" (Hierdie beroemde reël vang die skoonheid van menslike ambisie perfek vas. Dit kom uit sy 1855-gedig, "Andrea del Sarto", waar die spreker redeneer dat dit beter is om na onmoontlike perfeksie te streef en te faal, as om te skik vir ‘n makliker, foutlose lewe.)

 

Hoe dikwels staan ek soggens op my knieë en vra die Here om my hart die hele dag bewus te maak van Sy teenwoordigheid, dat ek net dit sal doen wat Sy goedkeuring sal wegdra - en ek bedoel werklik wat ek vra - en sodra ek met die res van my wêreld te doen kry, verdwyn my voornemes soos mis voor die son. Maak dit my nou ook 'n vals mens? Dikwels is ons vasgevang in 'n gedragspatroon en 'n samelewing waaraan ons nie kan ontkom nie.

 

Myns insiens is die lewe veel meer as om net jou oog op die hemel gerig te hou. Ek is seker die Here het ons hier met 'n doel geplaas, vermoedelik 'n doel wat veel verder strek as om onsself en soveel andere moontlik in die hemel te kry. Daardie soeke na die werklike doel van die lewe IS die doel van die lewe: om die ryke verskeidenheid van die lewe te ondersoek, om dit wat mooi en goed en verrykend en veredelend is jou eie te maak, en te soek na wat dit beteken om mens te wees in al sy fasette.

 

Koos Prinsloo haal in 'n Rapport-artikel vir Albert Camus aan: "Living an experience, a particular fate, is accepting it fully... It is not a matter of explaining and solving, but of experiencing and describing." Die Here God het aarde toe gekom, nie om van ons klein godjies te maak nie, maar om vir ons te wys watter soort mens ons kan wees as ons Sy voorbeeld reg lees en navolg. Pa mag volgens jou nie in jou hemel wees nie, maar hy is beslis in die hemel van die God waarin ek glo. Soos jy glo, moet jy Jesus as jou persoonlike Saligmaker aangeneem het. Soos ek al met julle en baie andere soos julle geredeneer het, maak dit nie voorsiening vir die oorgrote meerderheid mense wat al ooit gelewe het nie, en ek is jammer, ek kan dit nie net eenvoudig afmaak omdat julle nie 'n aanvaarbare verklaring daarvoor het nie. Oor eeue heen was daar in beskawings (waarvan ons vandag maar net 'n paar opgetekendede woorde het) mense wat vir ons verhewe gedagtes aangegee het, wat ons lewe vandag verryk - mense wat in hulle lewe ook lief en leed soos ons vandag ondervind het. Julle siening verwag van my om doodgewoon oor hulle die oordeel uit te spreek, en hulle met die Bybel in die hand die verdoemenis vir ewig in te stuur?

 

Dink jy werklik oor die implikasie van dit waarin jy glo, Joanie? Wat julle glo, is doodgewoon 'n menslike swakheid om altyd te wil glo dat dít wat jy glo die enigste reg is; die Bybel is die enigste Woord van God; die aarde is die enigste plek in die heelal waar God lewe geskep het. Julle glo eintlik God is so groot soos julle gedagtes - soos 'n mier wie se wêreld net so groot is as daar waar hy rondbeweeg.

 

My eerste prioriteit is nie om in die hemel te kom nie, maar dat my denke, bedoeling en my optrede hier waar ek lewe, my God se goedkeuring sal wegdra. Ek glo God is veel groter as wat 'n mens se persepsies kan wees. Hy kyk wyer as ons eng uitsig, en ek laat die besluite wat Hy met my lewe wil maak, gewillig in Sy hande.

 

Al baie jare sê ek in gesprekke hulle behoort deursettingsvermoë 'n skoolvak te maak, omdat ek 'n tekort daarvan het en besef hoe belangrik dit is. As mens dit het, kan jy die meeste ander tekorte in jou mondering te bowe kom. Heine het 'n pragtige geaardheid. Nou onlangs, toe ek hom by Martie geskakel het, het ek vir hom gesê dis een aspek van hom waaroor ek my nog nooit bekommer het nie. Hy gooi nie sy gewig rond nie, maar hy laat ook nie op hom trap nie, en daarvoor het ek baie respek.

 

Dis onder andere wat God vir my beteken: dat ek enigiets teenoor Hom kan bieg, my siel in Sy allerteenwoordigheid kan ontbloot in selfondersoek, want ek weet Hy ken my elke gedagte nog voordat dit diep in my binneste ontstaan. By Hom is daar geen gevaar van misverstande nie, want Hy KEN my volledig. Hy weet, wanneer ek verkeerd is, hoekom ek so is; veral as die uiterlike gevolge krom en skeef is, weet Hy wat die bedoeling in my hart is - juis daarom kan ek my alles aan Hom toevertrou. Hy is nie eenogig of bevooroordeeld nie, iets wat ons mense so dikwels is omdat ons nie diep genoeg kan sien nie.

 

My geaardheid is wat dit is. In baie opsigte is ek 'n stug mens, met nie veel humor nie. Maar my siening oor die lewe is nie iets ligteliks vir my nie. Dis oor baie jare van herkou en introspeksie gevorm, en soos by almal vorm dit wat van dag tot dag met my plaasvind, gedurigdeur daaraan. Pa het dit opreg bedoel met almal van ons, en hy was regverdig - dit weet ek. Teenoor Rinie en my eie kinders wil ek dit ook wees. 'n Mens doen niks sonder bedoeling nie. Ek het 'n hekel aan mense wat andere kritiseer. Ons moet maar almal teruggaan na wat die Here gesê het: Moenie andere veroordeel nie, sodat julle nie self veroordeel word nie.

 

Maar kom laat ons nou op een punt ooreenkom: Aanvaar dat my bedoelings opreg is, al kom dit dikwels krom en skeef uit. Kom ons kommunikeer met mekaar oor die mooi en goeie in ons karakters, sodat ons kontak wedersyds iets is om na uit te sien. As ons telkens die slegte in mekaar vermoed, kan ons net sowel sonder mekaar klaarkom, want die lewe het genoeg daarvan sonder dat ons dit nog moet soek in diegene vir wie ons omgee. Ek respekteer die intensiteit waarmee jy jou godsdiens belewe - aanvaar liewer dat ek anders as jy ingestel is. Jy is my nie voor nie. Ek is op 'n heeltemal ander lyn as jy. Net soos jy, is ek nie bekommerd waarheen ek gaan nie; jy kan dus net sowel ophou om jou daaroor te bekommer. Jy was nog 'n baba toe ek my hart aan die Here gegee het. Ek verwar julle waarskynlik met my denke, die woorde waarmee ek uitdrukking gee aan my gedagtes.

 

 

 

First Things First - Harry Emerson Fosdick (1993-10-28)

Wat is Werklik Belangrik

Dikwels hou die alledaagse en noodsaaklike roetine ons aandag so besig dat ons nie meer die goeie kan raaksien en waardeer nie. Alhoewel ons nie almal skeppend kan dink soos skrywers, digters, skilders, sangers of musikante nie, kan die meeste van ons hulle werke waardeer en liefhê en daardeur verryk word, mits ons daarvoor tyd maak; so nie, raak ons daarvoor deur onbruik afgestomp.

 

Op morele en geestelike gronde word ons aandag ook verdring. Die probleme is nie soseer met jongmense as met die ouer geslag nie: kinders het kritiek nie so nodig soos voorbeelde nie. Dit wat die mooiste en edelste in ons lewens is - ons vriende, familie, en die meeste van alles, ons verhouding met ons Here - kry meestal net die oorskiet van ons tyd en aandag. Meer as enigiets anders is dit die oorsaak van ons louheid teenoor ons Skepper; nie skeptisisme nie, maar dat ons ons laat vasvang deur ons daaglikse sleurwerk. Die hoogste is binne-in elkeen van ons, dit weet ons van die flikkering wat soms in ons bewussyn deurbreek, maar ons verloor dit deur die alledaagse wat dit eenvoudig uit ons aandag verdring.

 

"Eendag sal ek daaraan aandag gee," maar intussen hardloop ons na ons doel en sien nie die grond raak waaroor ons hardloop nie. Ons lewe net vir die toekoms, en in die proses mis ons die hele lewe, want die enigste plek waar ons werklik lewe, is die hier-en-nou van elke oomblik. Daardie "eendag" kom nooit nie - sal nooit kom nie.

Ons beheptheid met roetine neem nie in ag hoe vinnig tyd verbygaan nie, en so gaan die dae en geleenthede verby waarin ons ons gemeenskap met die Here, dit wat verhewe is, misken, omdat ons te besig is met onsself en ons roetine.

 

 

 

EK GLO - Gerhard Beukes

Ek glo dat die uiteindelike somtotaal van die lewe, by die finale afrekening wanneer ons balansstaat eendag afgesluit word, die hoofklem in die kredietkolom sal val op persoonlike verhoudings. Gesien en beoordeel teen die wye perspektief van ewigheidswaardes, glo ek dus dat naas my verhouding tot my Skepper, niks vir my as mens belangriker is as my persoonlike verhouding tot my medemens nie.

 

Ek glo dat haat, wantroue en naywer voortdurend direkte oorsake was en nog steeds is van die mens se behoefte om mekaar uit te roei en te vernietig; ook dat selfgeldingsdrang nog nooit die oplossing vir enige nasionale of internasionale vraagstuk gebring het nie - net so min as wat 'n oorwinning deur geweld ooit die enigste vrede wat die moeite werd is (dié in die harte van mense) kan bewerkstellig.

 

Ek glo dat haat teenoor 'n medemens soos roes is: dit vernietig stil en onopsigtelik die beste, die mooiste, die waaragtigste in jouself. Al waarmee jy uiteindelik aan die einde van jou reis opgeskeep sit, is 'n verbitterde lewenshouding en 'n chroniese wantroue teenoor elke daad van jou medemens - 'n klomp psigo-patologiese siekteverskynsels waarvoor dokters geen raat weet nie, en 'n vertroetelde maagsweer. En dit is 'n bankbalans waarop niemand nie, nie eens die professionele foutvinder, trots sal kan wees nie.

 

Om hierdie rede glo ek aan die noodsaak van 'n positiewe lewenshouding sover dit my medemens betref. Ek glo dat ter wille van die suiwerheid van ons onderlinge verhouding to mekaar, ek aan hom geen verkeerde of negatiewe motiewe durf toeskryf alvorens hy deur sy dade getoon het dat sy bedoelinge onsuiwer en oneerlik is nie.

 

Ek glo dus dat ek altyd die beste van my medemens moet verwag - eerder as om die slegte te verwag en dan teleurgesteld te wees omdat hy aan hierdie verwagtings van my voldoen het.

 

 

 

HIER KOM DIT - AFGETREE! (2006-02-04)

Eintlik nie van nou af nie. Ek het twee jaar vroeër afgetree as wat ek beplan het, op 28 Februarie 2005, weens erge politiekery by Drakenstein munisipaliteit. Dus het ek vir feitlik die volle 2005 los geloop - en het ek dit geniet! Om vry te wees van onproduktiewe inmenging met my werktyd. Ek het nog altyd ’n probleem gehad met vaste reëls, omdat dit vir my gaan oor werk en nie net die blote nakoming van ure by die werkplek nie.

 

Dis wonderlik om tyd aan en volgens jou eie prioriteite te skenk. Allesbehalwe voete op die stoepmuur en wag vir teetyd. My gewig het geval van ongeveer 105 kg (230 pond) na my gewig toe ek ’n jongman was, nl. 97.5 kg (215 pond). En ek voel uitstekend, nie meer ’n maag wat my vooruitgaan nie. Ek hoef my ook nie meer te bekommer oor klere nie. Rinie is dikwels gefrustreerd omdat ek so baie hou van my talle liggrys T-hemde.

 

Maar wat die laaste week verstommend is vir my, is dat ek - of seker my onderbewussyn, wat dit lank terug al gereeld ingeprent het - net nie meer 'n behoefte aan slaap het nie. Ek was al die jare baie lief vir my middagslapie by die werk, sommer op my linkersy op die dun kantoormat, met net daardie plat, harde sponskussing onder my kop. Vir goed ’n halfuur (dis nou op Wellington, tot die rampspoedige amalgamasie met Paarl om Drakenstein te vorm).

In die groot grysgebou was ons etensuur vanaf 15 Julie 2001 tussen 12h45 en 14h00. Hier het ek drie sagte, plat stoel/rusbanke gekry en kon ek na my toebroodjies slaap vanaf omtrent 13h10 tot 13h50. Dit was lekker teenoor die Ozite-mat, maar as ek nie elke dag nog volgehou het met die 1.6 km stap vanaf die huis na die Wellington-kantore tweemaal per dag nie, sou ek regtig gestoel het.

 

Die nege maande by die huis het verbygevlieg. My hande het weer hard geword, soos my voetsole, en my maag is nou so plat soos toe ek in my laat-twintigs was (nou lieg ek seker so bietjie, want ek kan nie so ver so goed onthou nie).

 

Ek kan nog nie die laaste paar dae kleinkry nie. Ek het tot ongeveer so op 55 my volle nagslaap gehad, vanaf omtrent 22h00 tot 06h00, d.w.s. 8 ure. En as ek die keer om een of ander rede nie dadelik aan die slaap kon raak nie, het dit my ontstel, want dan weet ek vanaf so 14h30 die volgende dag gaan ek bars.

 

Al wat ek kan aflei, is dat ek nou vry van die daaglikse werkverpligting is. Dus, as ek om-en-by halfeen soggens wakker word, staan ek op vir ’n koppie koffie, gaan luister na 'n ou langspeelplaat (33 o.p.m.) se twee kante, en luister toe-oë vir omtrent 'n half- tot 'n driekwartier.

 

 

 
 
 

Comments


bottom of page