O1B5F1. BRIEWE AAN CHRISTIAAN(WORKING HOLIDAY) 1999
- henniej42
- Jun 10
- 25 min read
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-06-09
O1B5F1. BRIEWE AAN CHRISTIAAN(WORKING HOLIDAY) 1999
(Gemini) Hierdie is 'n besonderse, diepgaande versameling briewe. Die ryk deernis, die intense filosofiese nadenke en die opregte vaderliefde wat hierin weerspieël word, maak dit 'n ongelooflike kosbare hoofstuk vir jou outobiografie, Oomblikke in ons Lewe. Dit sluit ook pragtig aan by jou belangstelling in Harold Kushner se lewensbeskouing en weerspieël ’n universele soeke na betekenis.
7 Mei 1999
By ons is dit laatherfs, en dit is vir my die lekkerste tyd van die hele jaar. Soggens as ek af stap werk toe en ek gaan af met Montpellierlaan, dan gryp die prentjie van die berge rondom die kom boorde ’n mens in die hart, veral nou dat die herfskleure begin deurslaan. Dis die natuur meer as enigiets anders wat my oortuig dat daar ’n God is wat lief is om mooi dinge te skep. Hoe gelukkig is ons nie met sintuie om dit elke dag te kan waardeer nie.
Christiaan, een van die mooiste dinge wat ek eenkeer per toeval raakgesien het toe ek papiere in jou kamer opgetel het, was wat jy in een van jou notas geskryf het: "I need God." Ek hoop jy sal jou sin vir die mooi in die lewe behou - daar is só baie as ’n mens na aan die natuur lewe. As ’n mens net wil, sien jy ongelooflike mooi dinge oral in die natuur om jou raak. Kyk met onbevange oë en ’n oop gemoed, en ook in mense sal jy die mooi raaksien; ’n mens moet net leer om nie te krities te wees nie. Dis een van my groot wense vir jou dat jy met oop oë deur hierdie twee jaar sal gaan om die mooi, en nie die lelike dinge nie, raak te sien.
18 Mei 1999
Ons het gister jou brief deur die pos ontvang - Baie Dankie! Dis soos jy daarin sê: ’n mens waardeer nie dit wat jy het terwyl jy dit het nie - dis eers wanneer jy dit nie meer het nie dat jy agterkom wat dit vir jou beteken. Ons mis jou ook baie, en dit roer hier binne wanneer ons lees dat jy ons ook mis, al lyk dit nie uiterlik so wanneer ons mekaar aan die buitekant sien nie.
Dit is nou maar een van daardie dinge van ons mense, en ek dink veral van mans: ons word so grootgemaak, deur ons ouers en/of ons omgewing, dat ’n man nie mag wys wat hy voel nie, en dit is só verkeerd. Beide kante in ’n verhouding wil graag wys hoe hulle voel, en jy wil graag sien dat die een vir wie jy voel ook so oor jou voel. Maar nou dink ons dis net sissies wat so maak, en dan onderdruk jy maar jou gevoelens. In die proses trek ons weg van mekaar juis op die oomblik wanneer ons mekaar die nodigste het - wanneer jy wíl weet julle gee vir mekaar om.
Dis maar een van die redes hoekom ek so daarin glo dat mense meer openhartig teenoor mekaar moet wees. Ek glo dat hierdie fynere gewaarwordings juis dit is wat ons werklik mens maak, nie die brutale gedeelte wat eintlik maar oorspronklik van ons dierlike sy kom nie “dog-eat-dog”. Hopelik ontwikkel ons oor die langer termyn in die regte rigting - nie na moord en doodslag nie, maar na begrip en waardering van die verskille tussen mens en mens, want God het ons só geskape.
15 Junie 1999
Ek glo God plaas elkeen van ons, met die gene van ons ouers en voorouers, in die omgewing waarin Hy wil hê ons moet ontwikkel. Dit is asof Hy die bolletjie klei gevorm het, dit lewe gee deur Sy asem daarin te blaas en elkeen in sy bepaalde biosfeer te plaas, en dan met groot deernis en belangstelling sê: “Kom ons kyk wat maak die mannetjie van homself.”
Ek dink God het mense gemaak om mekaar deur interaksie en kommunikasie te verryk. Dit maak nie saak hoe slim, ryk of beroemd jy is nie - as jy nie gemaklik kan skakel met ander mense nie, sal jy ’n eensame mens bly.
14 Julie 1999
Soos Dawid in Psalm 139 sê:
"Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.
Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar; gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag - duisternis is so goed soos lig.
U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was; al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem - hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.
As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars! Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree. Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie ’n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? Ek haat hulle met ’n uiterste haat, want hulle is ook my vyande.
Deurgrond my, o God, deurgrond my hart; ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!"
29 Augustus 1999
Daar is sovéél wat die lewe interessant maak: om die waarheid voortdurend te soek wat jou bly ontwyk, en om al meer eerlik met jouself te probeer wees. Elke mens konsentreer op dit wat vir hom op daardie tydstip in sy lewe belangrik is. Jou self is maar iets waaraan jy jou hele lewe lank gaan skaaf, om dit beter te verstaan en veral om meer op jou gemak met jouself te wees.
Jou aanslag bly ook nie dieselfde nie. Wanneer ’n mens jonk is, is daar dinge wat vir jou alleroorheersend is. Soos jy ouer word, verskuif jou fokus van die oppervlak na dieper dinge; van ver weg na al nader, soos jy nader aan jou werklike probleem kom - jouself.
Onthou jy nog daardie stuk van “When All You Ever Wanted Isn’t Enough” wat ek vir jou gestuur het? ’n Mensch is nie ’n heilige of ’n volmaakte mens nie, maar iemand by wie alle valsheid, selfsug en wraaksug weggebrand is sodat net die ware self oorbly. ’n Mensch is volkome mens en is een met sy God.
Jy kan as jy wil. Jy het die vermoë, maar ’n mens kom nie vanself daar uit nie. Jy sal moet bepaal wat jy werklik uit die lewe verlang, beplan daarvoor, en werk daarvan maak. Die heel belangrikste is dat jy gelukkig met jouself moet wees. Dit kan dalk vir jou beteken dat jy jou lewe daaraan wy om mense wat niks het nie se lewe draagliker te maak, soos Hester Veldsman. Sy werk onder die armstes van die armes - swartes in die plakkerskampe wat niks het nie. Sy organiseer crèches vir hulle kinders en kry tydskrifte en skêre om hulle vaardighede te leer. Sy kry swart plastiek by firmas en help hulle om in die winter die reën uit hulle hokke te hou. As sy half-drie in die nag in die reën ’n oproep kry, dan klim sy vrou-alleen in haar bakkie (’n naamlose weldoener het dit splinternuut vir haar geskenk) en gaan help ’n vrou wie se siek kind sukkel om asem te haal. As sy bedags daar kom, dan hardloop die klein kindertjies na haar toe en skree: “Mamma, Mamma!”
Sy het destyds vir my gesê haar opdrag kom uit Jesaja 58:
"¹ Roep uit volle bors, moet niks verswyg nie! Laat jou stem hoor, wys my volk op hulle oortredinge! ² Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle ’n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou... ³ Hulle vra: 'Waarom vas ons, maar U sien dit nie...?' Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk. ⁴ Julle vasdae loop uit op twis en rusie...
⁶ Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? ⁷ Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes and die dakloses ’n blyplek gee nie... ⁸ Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel... ⁹ Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord... As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie… ¹⁰ as jy jou wy aan dié wat honger het... sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is... ¹¹ Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak."
God werk en bly hier binne-in jou hart en siel, en dis waar jy jou vrede moet soek, nie daar buite nie. As jy eers met jouself vrede gemaak het, sal dit van binne jou uitstraal, lig maak en vrede bring vir diegene wat in vrees en bewing in die duisternis lewe.
9 September 1999
Dankie vir jou brief, kind - jy bring trane in my oë. My keel trek toe as ek jou woorde lees. As ek vir jou enige troos kan bied, dan is dit dat jy op pad is, en dit is op sigself ’n reuse-sprong. Ek dink die meeste mense gaan deur die lewe sonder om ooit agter te kom dat daar ’n geestelike pad is; moontlik beleef hulle net flitse van lig en donker sonder begrip.
Nie dat ek hoegenaamd voorgee dat ek meer weet as ander of myself beter verbeel nie. Miskien is dit net genade dat ek van baie vroeg in my lewe soekend was. In my eerste Sub A-rapport het juffrou Rademeyer geskryf: “Hennie is te ernstig.” (ek was baie lief vir haar) Aanvaar dit, broer - ons weet nie altyd hoekom ons voel en doen wat ons doen nie. Soos molle tonnel ons ondergronds, maar laat één feit ons onderskei: ons soek die lig. God is daardie lig - soos jy geskryf het: “I need God.” Daaraan het ek jou herken as my kind. Ek soek Hom, maar Hy is nie, vir my, te vinde binne die mensgemaakte grense wat vir ons voorgehou word nie. Ek dink daardeur probeer ons Hom in die blik van ons mensgedagtes druk, en dit is vermetel.
Ek mag nie, wil nie en kan nie vir jou voorskryf hoe jy jouself moet uitleef nie. Dit is een van die heel basiese dryfvere in my lewe dat dit elke mens se Goddelike reg is om self oor sy lewe te besluit. Ek respekteer jou reg om vir jouself te besluit te veel om druk op jou te plaas daaroor. Al wat ek kan doen, is om my hart vir jou oop te stel wanneer ek dink jy het ’n behoefte daaraan, maar ek glo onwrikbaar dat elke mens self moet kies.
God sien deur ALLES en Hy gaan dit nie aanvaarbaar vind as dit wat jy sê nie werklik uit jou hart kom nie - dis nie goed genoeg om te sê my pa of die dominee het gesê ek moet my hart aan die Here gee nie. En vrees is nie ’n rede om God te kies nie. Ek glo nie God is eng nie - dis mense wat Hom eng dink. Hy soek in ons om ’n mensch te wees - jy soos jy is, met alles wat vals is weggebrand. Jy hét dit wat Hy in jou soek, Christiaan! Moet jou nie daaroor bekommer as niemand jou ken vir wat jy is nie. God is die een wat jou ken, en Hy is altyd, maar altyd, by jou, selfs al is jy in die diepste vertwyfeling. En glo my, Hy het jou lief soos jy is, nie soos Hy jou graag wil hê nie.
Jy kan met die meeste mense klaarkom, moet net nie te veeleisend wees nie. As iemand iets het wat jou nie aanstaan nie, is dit sy saak. Soek die goeie in mense - solank as wat die positiewe in hom meer is as die negatiewe, dan is sy kontak vir jou die moeite werd.
Wat is die doel van dit alles? Ek weet nie, ek raai ook maar soos die meeste mense wat daarna soek. Ek dink God, wat ver bo ons begrip en verstand is, het alles wat Hy gemaak het met die grootste deernis perfek gemaak - ook vir ons, ook vir jóú, Christiaan. Ek dink Hy plaas elkeen van ons met ons sakkie vol klere en karaktereienskappe waar ons is. And dan hoor ek Hom by Homself sê: “Kom Ons kyk wat maak die mannetjie van homself.” Ek glo God het die grootste deernis met alles wat Hy geskape het, of dit nou ’n suringblommetjie, ’n erdwurm of Bill Clinton is. Jy is van God. Hy wil graag dat jy die potensiaal wat Hy jou gegee het tot volle wasdom bring om hierdie gebroke wêreld waarvan jy deel is, ’n beter plek te maak. En wanneer ons rol eendag uitgespeel is, dan gaan ons weer terug na Hom.
Onthou jy nog daardie stukkie uit “A River Runs Through It”:
"Now nearly all those I loved and did not understand in my youth are dead, even Jessie. But I still reach out to them... Of course, now I am too old to be much of a fisherman, and now I usually fish the big waters alone, although some friends think I shouldn't. But when I am alone in the half-light of the canyon, all existence seems to fade, to bring to my soul the memories, and the sounds of the big Blackfoot river, the four-count rhythm, and the hope that a fish will rise. Eventually, all things merge into One, and the river runs through it..."
Sien jy die verband, Christiaan? God wil hê dat ons ons lewe geniet - jy ook - sodat elkeen se lewe in sy omstandighede vir hom sin maak. Wees soos ’n onskuldige kind wat langs die branders af loop en skulpies soek. Daar is miljoene, maar jy soek net dié wat vir jou mooi is, wat jy graag wil hê - die res los jy.
In Matteus 4:18-20 staan daar:
"¹⁸ Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om ’n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. ¹⁹ Hy sê toe vir hulle: 'Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.' ²⁰ Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg."
Ons aanvaar dit beteken ons moet sendelinge word and almal vra: “Het jy al jou hart aan die Here gegee?” Is dit werklik wat Hy van ons verlang? Is dit nie hoekom ons so dikwels voel ons is nikswerd omdat ons nie eens naastenby daarby uitkom nie? Watter visser vang al die visse in die see? Baie dae is hy gelukkig om bloot ’n byt aan sy lyn te voel. Stal jou ware uit. Moenie jou lig onder die maatemmer wegsteek nie - dit beteken weereens nie dat jy op jou mishoop moet staan en skree vir een en elkeen wat dit naby jou durf waag nie. Vir my voel dit daar is baie mense daarbuite wat soekend is na diepte in hulle oppervlakkige lewens, maar waarskynlik is daar ook baie wat glad nie belangstel nie, of wat so verstrik is in klatergoud dat hulle dink hulle het die antwoord.
Hier is ’n stukkie wat ek ’n paar jaar gelede oor hierdie onderwerp uitgetrek het vir ons gesinsgroep met die Bybelprogram. Soos met ander dinge, sal jy raakpunte daarin vind na dinge van belang. Die lewe máák sin, my kind. Dis net dat die sin daarvan nie so ooglopend is soos ’n bass drum se beat nie. Dis omtrent soos daardie prentjies wat jy ’n paar jaar gelede in die Huisgenoot gekry het: jy kyk en kyk en soek wat hulle sê daar is, maar jy sien dit nie, en dan ewe skielik spring die versteekte prent uit die deurmekaar spul uit.
Die Sin van die Lewe (1995-02-22)
Prediker 9:1 Dit alles het ek ter harte geneem en ek het bevind: God regeer oor dié wat reg doen en wysheid het, en oor wat hulle doen. Niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie. 2 Een en dieselfde lot tref almal: die regverdige en die goddelose, die goeie, die reine en die onreine, die een wat offer en die een wat nie offer nie. Soos dit met die goeie gaan, so gaan dit met die sondaar, soos dit gaan met die een wat 'n eed aflê, so gaan dit met hom wat weier om 'n eed af te lê.
God het alles geskape, and dit is alles baie goed (Gen 1:31), and ons aanvaar dat Hy ook almagtig is om alles te beheer wat gebeur. Maar is wat ons aanvaar korrek? Omdat ons dit wil glo, moet ons dan ook aanvaar dat alles wat gebeur uit Sy hand kom - ook alle onreg, tragedies and rampe ('n act of God'). Hierop moet noodwendig volg dat ons die redes soek agter dinge soos vliegtuie wat val, of hele gemeenskappe wat uitgewis word deur natuurrampe. Is dit reg om God daarvan te beskuldig? Hoe kan Hy 250 mense laat doodgaan en 200 gesinne in rou dompel omdat daar ’n paar mense op daardie vliegtuig is wat Hy wil straf?
Ek vind rabbi Harold S. Kushner se logika baie meer aanneemlik, soos hy dit uiteensit in sy boek WHEN BAD THINGS HAPPEN TO GOOD PEOPLE. Daarin het hy redes gesoek vir die lewe en sterwe van sy seun Aäron aan progeria (die oumenssiekte waaraan Fransie Geringer ook dood is toe hy maar 14 jaar oud was).
Prediker 9:3: “Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood.”
Een en dieselfde lot tref ons almal. Dit klink amper soos die noodlot, waarvolgens dit net jou ongeluk is om op ’n bepaalde tyd op die verkeerde plek te wees. Kushner glo, aan die hand van ’n diepgaande studie van die boek Job, dat daar 3 afleidings gemaak kan word:
· a. God is almagtig en veroorsaak alle dinge wat in die wêreld gebeur: niks gebeur sonder dat Hy dit wil nie.
· b. God is regverdig en sorg dat alle mense kry wat hulle verdien, sodat die goeie beloon word en die slegte gestraf word.
· c. Job is ’n goeie mens; God sê dit tog self (Job 1:8 Sy gelyke kry jy nie op die aarde nie: hy is vroom, opreg, hy dien my en vermy die kwaad).
Dit is onmoontlik om al drie hierdie stellings tegelyk reg te bewys aan die hand van die boek Job. Die afleiding wat Kushner maak, is dat God regverdig is en aan almal wat dit verdien reg wil laat geskied, maar dat Hy nie almagtig is in die sin soos ons dit tradisioneel verstaan nie. Hy kry nog oneindig meer as ons seer wanneer die lot een van Sy kinders tref, maar Hy gaan nie ’n natuurwet buig om ’n bokkie in ’n slagyster, ’n babavoëltjie wat uit sy nes val, of ’n kind voor ’n motor se lewe te red nie. Sonder konsekwente natuurwette sou die lewe onmoontlik wees.
4 Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is. 5 Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet; 6 dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie.
Prediker 9:7-10: “Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen... Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet... Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen...” dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God vir jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld. 10 Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie.
Wat sê die Here vir ons hier? Vir my is dit baie duidelik dat Hy die mens gemaak het om sy skepping te geniet. Hy wil hê ons moet lewe, eet, drink en geniet wat Hy ons gegee het, en veral om jou lewensmaat lief te hê. Dit is die edelste emosie wat jy kan hê: om iemand buite jouself waarlik lief te hê.
Die Here weet ons moet ons brood in die sweet van ons aangesig verdien, en dat die lewe dikwels leeg kan voorkom, en dat hartseer op ons pad lê. Daarom het Hy vir ons die vermoë gegee om die prag van sy skepping te kan waardeer: sien, ruik, proe, voel en hoor die ongelooflike mooi wat elke dag om ons is. Dit ís daar - dit hang net af van ons eie gesindheid of ons dit gaan mis of beleef. Beauty lies in the eye of the beholder.
Wat is vir ons die belangrikste: om geld te maak, of om toegewyd aan jou gesin te wees? Die meeste mense sal sonder om te aarsel sê sy gesin is vir hom die belangrikste, en dit bedoel ‑ op die ou end is alles wat ons doen tog vir jou gesin. Maar as jy kyk waaraan gaan die meeste van jou aandag en tyd en energie, dan lewe jy nie volgens dit waarin jy glo nie. Alhoewel ons ons moeg maak deur werk vir ons gesin, soek hulle ons aandag eerste, en nie die dinge wat ons met ons aandag verdien het of vir hulle gekoop het nie.
Prediker 9:11: “Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigste wat die reisies wen nie, nie die sterkste wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. 12 Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie. Soos visse wat gevang word in 'n net, soos voëls wat gevang word in 'n wip, so word die mens gevang as die teëspoed kom, as dit hom skielik oorval. 13 Ook hierdie stukkie wysheid het ek in hierdie wêreld gesien, en vir my was dit belangrik: 14 Daar was 'n klein stadjie met min mense. 'n Magtige koning het teen die stad opgetrek, dit beleer en hom daar ingegrawe. 15 In die stad was 'n arm man met baie wysheid, en hy het die stad deur sy wysheid gered. Maar niemand het die arm man onthou nie. 16 Toe het ek gesê: wysheid is wel beter as krag, maar die wysheid van die arme word geminag, en niemand luister na wat hy sê nie. 17 Die rustige woorde van dié wat wysheid het, word beter gehoor as die geskree van een wat heers oor dwase. 18 Wysheid is beter as wapens, maar een misstap kan baie wat goed is bederf.
Christiaan, alhoewel ons dikwels vir die bure se part ineengekrimp het as jy jou so loslaat op daardie dromstel van jou, kon ek sien jy slaan nie sommer net nie - jy stoei met jouself. Ons moet iets vir jou kry waarop jy jou siel kan uitstort sonder om ander mense op hulle tande te laat kners. Net soos jou woorde: Die vriende ding - ek wil nie vriende hê nie. God, god ek weet nie. Wat is die doel van alles, Pa? Ek wens ek kan jou soos kleintyd optel en vasdruk. Jy stoei met GROOT begrippe, Christiaan, en ek het groot deernis met jou soeke. Skep moed, broer. Do not despair - night is at its darkest just before the day breaks. Die lig is daar, maar jy kyk nog nie na die regte kant toe nie. Maar dis deel van groot word. En troos jou daaraan dis nie net jy nie. Dis 'n soektog wat nooit ophou nie. Soos 'n ou spreekwoord van Robert Browning (1812-1889) lui: “Aye, but a man's reach should exceed his grasp, else what's a heaven for?” Soos ek gesê het, ons soek ons lewe lank hoe om dit reg te doen, en niks bly ooit dieselfde nie. As ons reg kan kyk en die moed en wil het, kan elke oomblik 'n nuwe belewenis wees, elke dag 'n nuwe begin. En weet verseker, God kyk intens en met groot deernis na jou elke gedagte, want Hy weet: Someone is in the making.
19 Oktober 1999
Jy skryf in daardie persoonlike brief van jou: “Ek dink what my deurmekaar maak is menseverhoudings en die krag van wat mens sê.” Dit laat my dink aan wat Jakobus sê van die tong. Jy kan gerus die hele boek Jakobus deurlees. Dis een van my gunsteling-boeke in die Bybel. Hy praat so prakties en plat-op-die-aarde, en dit lees lekker.
Om terug te kom na jou brief oor die krag van wat ’n mens sê: “Al hierdie goed veg teen responsibility. As ek só voel, dan voel ek niks en gee nie om nie. Ek dink ek bring myself af en dan skuil ek met aggressiwiteit agter ’n masker wat sê: Net Rooies sal so iets doen, Pa weet.”
Ek sal graag wil weet presies wat jy bedoel, maar intussen kan ek maar net raai (is dit nie maar wat ons in elkgeval almal doen nie?). Dit klink of jy 'n stryd het met dat mens gedurig moet fyn trap (die krag van wat mens sê en responsibility) anders begaan jy so maklik, en onbedoeld 'n misstap. En dis juis die aanhou probeer, en die aanhou teruggly en daarmee saam die besef dat jy nie aan die hoë verwagtinge wat daar aan jou gestel word, kan voldoen nie, dat jy jouself afbring (moedeloos raak omdat jy nie aan die verwagtinge kan voldoen nie). Christiaan, as dit is wat jy bedoel, strook dit in 'n groot mate met die patroon van my eie geestelike groei as jong mens. Die gedurige introspeksie en meet van jouself teen wat jy verstaan van jou as mens verlang word. Ek het van my jong dae 'n probleem met, soos ek verstaan het, die tradisionele Christelike kerksiening, dat ons in onsself tot niks goed in staat is, dat ons elke gedagte sonde is, dat net deur Christus Jesus as ons Saligmaker te aanvaar, ons in die hemel kan kom.
Ek dink ek verstaan wat waarskynlik agter hierdie uitgangspunt lê. Jy kry so 'n verskeidenheid van menslike eienskappe, van die skugter, onseker mense wat altyd met 'n vraag loop of hy dit reg doen, tot aan die ander uiterste die selfvoldane bliksem wat glo hy is die koning van kafferland al besit hy net 'n stertriem. Vir eersgenoemde is die uitspraak dat ons tot niks goed in staat is nie, 'n verskriklike werklikheid, waaroor hy hom gedurig bekommer; die selfvoldane vent steur homself waarskynlik skaars daaraan. Hoekom het God dit so in sy Woord laat skrywe? Ek kan nie dink dat dit teen die onsekere siel gemik is nie - eerder om die grootbek aarde toe te bring. Maar die effek is waarskynlik net mooi verkeerd om. Dis soos kinders in 'n klas of in 'n gesin. Vir die sensitiewe een is 'n skewe blik oorgenoeg rede om hom in sy dop te laat kruip, terwyl die dikvellige kind gefoeter moet word voordat die moontlikheid van seerkry hom laat luister. Ek het al dominees hoor sê die mense vir wie die bekeer-julle preek eintlik bedoel is, nie in die kerk kom nie.
Wat God in sy groot genade vir ons sê, is dat ons nie ons self hoef te regverdig met goeie werke nie. Hy het deernis met ons. As ons ware berou het, is ons sondes reeds vergewe. Maar weer dink ek dis die verkeerde karakters wat daarop aanspraak wil maak, die een wat gedurig die kat in die donker knyp en sy vrou verneuk. Die bleek siel bekommer hom 'n hond uit 'n bos omdat hy sy oë voel trek na 'n mooi vrou se goed gevormde borste.
Broer, ek weet nie. Dinge het net die neiging om verkeerd uit te draai. Daar is ietsie van Rules are made by wise men for fools to obey hierin. Die gereg is veronderstel om geregtigheid te bevorder, maar as jy daarna kyk, is dit die skelms wat die reg gebruik tot hulle eie voordeel, nie om geregtigheid te bevorder nie. Nou is ek darem lekker skepties en sarkasties, né.
Hoe elke mens glo is nie eenvoudig nie, en almal glo beslis nie op dieselfde manier nie. Ek het al baie gesê elke mens se wêreld is in sy kop - dis hoe hý dit sien , hoe hý dit ervaar. Dis 'n oorvereenvoudiging om te dink almal sien dinge eenders, en myns insiens is dit deur hierdie houding dat die leiersfigure in die verlede hulle eie siening as reg beskou het en dan ook summier op al hulle volgelinge wou afdwing. Daar was nie ruimte vir ander sienings nie. As jy nie glo soos jou leier/koning/priester nie, is jou siening as afwykend en 'n gevaar vir die groep beskou en is jy gedreig om binne die raamwerk te kom, anders is jy uitgeskop. Selfs vermoor, en dan het die moordenaars vroom verklaar: Die doel heilig die middele.
Verdraagsaamheid is 'n begrip wat baie sterk Jesus se leer staan, maar as mens vandag sien hoeveel duisende Christen kerke/gelowe daar is (meer as 4000 in Afrika alleen!), dan weet ek nie of mense hoegenaamd die kern verstaan van wat Jesus vir ons wou kom leer nie. Elkeen van ons ontwikkel gedurende sy lewe 'n eie siening, en wanneer jy iets lees of hoor waarby jy sterk aanklank vind, bevat jou eie lewenssiening reeds elemente daarvan.
Jy sê “Ek dink ek bring myself af en dan skuil ek met aggressiwiteit agter 'n masker wat sê: Net Rooies sal so iets doen, Pa weet”: Miskien is die rebelsheid waarvan jy hier praat, veroorsaak deur hierdie gespletenheid in mense - hulle sê hulle glo in iets, maar in effek getuig hulle lewe van die teenoorgestelde. Gelukkig is daar deesdae baie algemeen 'n beweging weg van hierdie in-'n-blik-drukkery na groter openheid. Mense se indiwidualiteit en reg op 'n eie siening word vandag wyd aanvaar. Jy moet net jou uitdagendheid temper dat jy nie almal as teen jou aanvaar nie, want dit is nie die geval nie. Meeste mense - the silent majority - spreek nie openlik hulle siening of opinie uit nie, maar moenie hulle stilte ervaar as kritiek teen jou manier van doen nie. Ek moet ook in my daardie neiging onderdruk om, as my siening nie verstaan word nie, te wil sê te moer met julle. Dít is verkeerd. Dis een van die mooiste dinge wat ek eenkeer president de Klerk hoor sê het: “Dis vir my 'n vernedering as ek kwaad word, want dit beteken dat ek nie die situasie kan hanteer nie.”
Jy skryf ook: “Wonderlik: the gift of life. Ons is bevoorreg, ek stem saam met dit.” Ek is nie seker waarna jy hier verwys nie. Die lewe is 'n gawe van God en dit onderskei ons van inanimate matter. Dis altyd vir my so verskriklik dat, solank daar lewe is, is daar hoop, want 'n sieke kan gesond word, iemand wat in 'n ongeluk gebreek is, kan volkome herstel en aangaan met sy lewe en iets beteken vir diegene rondom hom. Maar as die lewensasem eenkeer uitgeblaas is, dan is dit vir ewig verby. Soos Prediker sê in 9:4-7 - Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is. 5 Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet; 6 Dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie. 7 Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.
Christiaan, ek dink ek kan verstaan wat dit vir jou beteken as jy sulke swart depressie ondervind. Daardie gene het jy seker van my gekry. Ek veg daarteen wanneer ek dit ondervind, en nie dikwels suksesvol nie, want as ek só voel, sien ek nie lig nie, wil ek nie weet van die lig nie. En dis verkeerd. As mens net in daardie seer-en-wegkrimp fase kan dink aan die baie mooi en liefdevolle oomblikke in jou lewe, dan sal jy besef dinge is nie werklik so swart soos jy op daardie oomblik voel nie. Miskien is dit onder andere hoekom ek my toespits op die natuur, God se skepping, veral vandat ek ouer is. Miskien omdat ek dan doelbewus wegkyk van mense, want dis dikwels mense wat die seer veroorsaak, en dan is dit moeiliker om God se hand in hulle raak te sien. Probeer net onthou die donkerte wat jy tydens sulke omstandighede sien is binne-in jou - daar buite is dit lig. Dalk is dit hoekom baie gelowe een of ander vorm van meditering het, om jou te help om van jou self weg te kyk, jou gedagtes tot stilstand te dwing sodat jy in die stilte, op neutrale grond is waar jou eie gevoelens nie die oorhand het nie, God se rustigheid kan ervaar.
Soos Elia in Konings 19:3 - Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. 4 Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: "Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie." 11 Maar die Here sê vir hom: "Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan." Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12 Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte. 13 Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: "Wat maak jy hier, Elia?"
As dit so erg in jou kop woel en dinge lyk swaar en donker, kyk weg van jouself en dwing jou gedagtes tot stilstand. Soek net Sy Naam: Here, Here....
1 April 2001
Die rede hoekom jou beeld en jou self van mekaar verwyder geraak het, weet ek nie, Christiaan (dis altyd vir my lekker om jou naam te sê). Elkeen van ons het sy eie geraamte in die kas. Dis net vir my wonderlik dat jy nie terugdeins van die konfrontasie nie. Daar is so baie boeke in my boekrak oor hierdie tipe onderwerpe. As Ma en ek na 'n inkopiesentrum gaan, word ek altyd getrek na die boekwinkels se rakke oor sielkundige of geestelike onderwerpe. Waarskynlik soek ek al die jare na 'n geloofbare antwoord vir die kernvraag in my lewe: WAT IS DIE DOEL VAN DIE LEWE, VAN MY LEWE? Jy is nie alleen nie, broer. Ons is almal maar op verskillende stadiums van ons soektog. Ek sal net graag in hierdie lewe by 'n antwoord wil uitkom wat ek met oortuiging kan glo.
Jy sê jy het baie haat in jou, en ek is jammer om dit te hoor, want haat vergiftig jou siel, en is dit die moeite werd? Die lewe deel nie ons kaarte regverdig uit nie. Mense word liggaamlik en geestelik vermink omdat hulle op die verkeerde tyd op 'n plek is. Soos Harold Kushner, glo ek dis nie God wat dit beplan het vir ons om daar te wees nie, en Hy is netso hartseer wanneer ons seerkry. Ek sukkel ook om nie oom Hennie Louw te haat omdat hy ons onskuldige katte vergiftig het. Verseker wil ek niks te doen hê met hom nie, en ek sukkel met die gevoel van afkeer in my, nie hoofsaaklik omdat my geloof sê dis verkeerd nie, maar omdat ek weet dis sleg om met haat binne jou rond te loop.
Kyk mooi na die rede hoekom jy met mense bevriend is. Ekself bluf myself baie keer. Omdat my hart vir my sê ek moet 'n rede hê, kies my verstand dikwels 'n rede wat my pas eerder as die regte een wat my miskien ongemaklik laat voel. “Real friends is few and far between. Bound them to you with hoops of iron” het my Pa jare gelede vir my gesê. Ek dink nie 'n mense moet suinig wees met jou vriendskap nie. As iemand om watter rede ook al hulp van jou soek, en jy kan help, help - daar is min genoeg mense wat bereid is om ander te help. Moet net nie dat jou betrokkenheid van jy vra om te doen wat jy weet verkeerd is nie, want dan boet jy jou integriteit in, en dit het niks te make met vriendskap nie. Jy moet altyd bereid wees om dit wat jy doen onder die lig te plaas. Jare gelede in 'n rolprent het die mooi vrou van die plaaseienaar een van die werkers probeer verlei terwyl haar man weg was. Sy het uitlokkend vir Glen Ford, een van my gunsteling akteurs, gesê “My man sal nooit weet nie”, waarop hy geantwoord het: “Dit maak nie vir my saak dat hy nie daarvan sal weet nie: dis verkeerd.” Soos ons lewe, behoort ons 'n sin vir geregtigheid te ontwikkel, en dis daarvolgens wat ons behoort te lewe, nie volgens wat ander mense sê of moontlik sal sê nie. Let your inner voice be your guide.
Wat ons ookal mag dink, of doen, ons is nog altyd God se kinders. Hy wag vir ons. En dit neem net een woord van geloof om Hom in ons lewe te erken. Laat ons elke aand op ons knieë gaan en ons gedagtes voor Hom buig. Hy gee moed vir die swakke, krag vir die moeë, hoop vir die wanhopiges. Hy is oral, bo-oor en rondom ons. Hy is binne-in elkeen van ons; as ons Hom maar net sal soek.


Comments