O2B1F2. GEDULD EN DEERNIS 2023-06-28
- henniej42
- Jun 28
- 14 min read
Updated: Jul 5
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-2 2026-06-27
O2B1F2. GEDULD EN DEERNIS 2023-06-28
Twee groot begrippe wat hier in Ametis vir ons 'n werklikheid word. Voorheen het geduld vir ons die normale betekenis gehad, hoofsaaklik jeens ander mense of omstandighede, maar nou leer ons om dit te hê teenoor mekaar. Ek kan soms kort van draad wees, maar nou leer ek noodgedwonge om geduldig teenoor Rinie te wees.
Wanneer ons soggens opstaan, sal sy byvoorbeeld sê sy wil die swart blokkiesbroek aantrek, kyk of dit nie by die wasgoed is nie. Nee, dis nie daar nie. Kyk dan in die klerekas, onder die rokke. Nee, ek sien dit ook nie daar nie. Kyk tussen die klere by die voetenend van die bed. (Onthou, alles het nog nie lêplek gekry nie – broer Louis se vriend is nog besig om vir ons twee ekstra kaste te maak sodat alles wat nou nog rondstaan agter deure kan kom.) Nee, ek sien dit ook nie daar nie. Nou begin ek so effe ongeduldig raak. Kyk dan tussen die broeke onder die rokke vir die swart broek met die wye band. Ek haal 'n swart broek uit. Nee, dis nie dié een nie. Toe haal ek die hele stapel uit. Sy blaai deur hulle en besluit naderhand op een aan die onderkant met 'n breë rek. Ek byt so effe op my tande, maar besef sy kan dit nie help nie.
Soos ds. Johannes Nortier gesê het, niks hiervan is haar skuld nie. Some things just happen. Haar beroerte kon enigiemand anders getref het, maar dit het háár oorgekom. Sy moet nou leer om geduld te hê met haar omstandigheid. Met die feit dat sy gekluister is, vir die hede, aan ons bed en aan haar rolstoel, en hoofsaaklik aan die vier mure van Ametis 122.
Sy was 'n bekwame vrou wat kon raakvat en wat by baie betrokke was. Nou moet sy seker dikwels op haar tande byt wanneer ek so stadig is. Soos meeste vroue kon sy multi-task, en dit frustreer haar as ek net een ding op 'n slag kan doen, omdat ek deurmekaar raak as ek meer goed saam probeer doen. Dit frustreer haar omdat sy nou feitlik met alles 'n toeskouer geword het.
Sy is nog steeds hoofsaaklik verlam aan haar linkerarm en -been. As sy eet, probeer sy die bord balanseer op haar bene terwyl sy met die vurk of lepel in die regterhand die kos na haar mond bring. Ons druk 'n handdoekrol-blaadjie bo by haar nek in om haar klere skoon te hou. 'n Mens besef nie hoe afhanklik jy van jou twee hande is nie. Nou die dag drink ons koffie en sy knyp die beker tussen haar knieë terwyl sy 'n beskuit in die koffie doop. Maar haar linkerbeen kan nie behoorlik druk nie, toe val die koppie deur en die koffie op die mat. Frustrasie. Ek wil ergerlik wees, maar besef sy wil só graag dinge nog self doen, so 'n bietjie selfstandig wees, al is dit net in die klein alledaagse dingetjies. Sy sê vir my om 'n handdoek over die kol te gooi en daarop te trap om die koffie uit te suig, daarna met skoon water met net 'n klein spuitjie Sunlight Liquid, dan weer trap, nog 'n paar keer, en dan droog vryf.
Nou as ons iets eet of drink waar daar 'n risiko is, hou ek die bord of koppie vir haar naby haar mond dat sy met haar goeie regterhand eet of die beskuit doop. Sy wil nog steeds sover moontlik alles doen wat sy self kan doen, maar sy gee toe dat ek help. My koffie staan maar en koud word totdat sy hare klaar gedrink het. Ek het geleer om dit so te aanvaar.
Ek moet haar meer saam met my neem wanneer ek moet uitgaan om iets te gaan doen. Dit sal haar meer laat deel voel, al is sy in die rolstoel. Vandag is ek na Nedbank (lank gewag) en Vodacom in Somerset Mall, en het terwyl ek daar was by Ster-Kinekor gaan kyk of dit rolstoelvriendelik is. Daar is wel in die agterste ry voorsiening gemaak, so wanneer ons weer soontoe gaan om haar Nedbank-kaart te FICA (hulle het haar vingerafdruk nodig), kan ons gaan fliek. Dit sal haar ook laat deel voel, en nie net 'n passasier nie.
Soos die tyd aanstap, leer ons noodgedwonge om meer begrip vir mekaar te hê, om meer geduldig te wees, en dit sal ook deel van ons houding word teenoor ander mense. Hier is ons nou in 'n aftree-oord, saam met baie ander mense soos ons, sommige ouer en sommige meer verswak. Geduld en deernis is wat ons hier meer as ooit nodig sal hê. Dan sal ons lekker hier bly. Ek het alreeds hier met 'n hele paar nuwe mense kontak gemaak, en ek kan sien dat hier baie stories te vinde sal wees, want elke mens het 'n storie vir die geduldige oor.
'N LIEFDESVERKLARING
Jou het ek lief
Nou met 'n dieper liefde as tevore
Noudat jy dit meer nodig het
Jy met die blou oë
Blou soos die wolkelose hemel op 'n somerdag.
Ek het jou lief Moeder van ons kinders
Meer omdat jy so van my afhanklik geword het
Hoe kan ek anders
Jy, wat jou hele lewe lank
Jouself vir ons gegee het
Selfs, en veral die tye wat ons dit nie besef het nie.
Ek wens ek het jou meer na waarde geskat
Vroeër, toe jy nog heel was
En so baie gehad het om te gee
En gegee het, sonder om iets terug te verwag
My skat
Jy sal weer loop
Dit neem net langer as wat ons gedink het.
Maar intussen is ek daar vir jou
Om 'n bietjie terug te gee
Van die liefde wat jy amper 45 jaar
So mildelik op ons uitgestort het.
Dankie Here dat U my die geleentheid gegee het
Om nog iets vir haar te kan gee, te kan doen
Noudat ons lewe so ingeperk geword het
Laat my die bietjie wat ek doen met blydskap doen
Om haar op te beur
Die min kere wat ek agterkom dat sy teneergedruk voel
En net so kop onderstebo op die kant van die bed sit.
Ek moet nou die lig in haar dag wees
Laat my dit met vreugde doen
As ek in die oggend opstaan
Haar groet met vier soene
En as ons saans gaan slaap
Dan sit ek vir Snowy teen haar wang
Snowy wat Marinus vir haar gestuur het vanuit Australië.
Sy, en ek, verlang baie na ons kinders
Ons twee pragtige seuns
Wat sit aan die anderkant van die aardbol
Maar ons troos onsself
Dat hulle daar 'n beter lewe en toekoms het
Ook, en veral vir hulle kinders.
Gelukkig kan hulle sien
Met ons Whatsapps elke tweede Saterdag
Dat dit met ons goed gaan
En ons kan aan hulle lyftaal agterkom
Dat hulle vir ons lief bly, en ons vir hulle.
ONS TREK STRAND TOE – DEEL 1 2023-06-29
Ek sit nou hier in Ametis 122, die Strand, in die wintersonnetjie soos 'n dassie. Ons woonstel front noord en as die son skyn, selfs net effens, dan kan mens dit voel wanneer jy by die voordeur inkom. Buite wissel die weer – die weerkantoor het groot reën voorspel later vandag.
Ek het hierdie begeerte om te skryf, en ek het nou die tyd. Môre is dit 'n maand dat ons hier in hierdie aftree-oord bly. Die tyd gaan so vinnig verby. Aanvanklik lyk dit stadig, dinge lyk deurmekaar en onseker, maar noudat ons die nuwe omstandighede gewoond raak, gaan die dae al vinniger verby. Ons het hier niks om ons oor te bekommer nie, nie 'n tuin of 'n swembad waar jy elke tweede dag chloor moet ingooi nie. As die wind sterk waai, hoef jy jou nie te bekommer oor die dakplate of die lekplek in die woonkamer as dit reën nie.
Ons mis vir Eric en Susan, maar hier het ons in twee maande verskeie nuwe vriende gemaak, en ek voorsien dat ons nog baie meer gaan maak soos die tyd aanstap. Hier is baie mense in ons omstandighede, want dit is 'n tehuis vir bejaardes. Ja, ons is nou in daardie stadium van ons lewe. Dit het ons so stilletjies bekruip. Eers nooit gedink daaraan nie, want as jy jonk is, is die hier en nou mos al wat vir jou bestaan – oud word is vir ou mense. Nou is dit op ons, en dit is glad nie so sleg nie.
Rinie sukkel nog, meer as ek, om gewoond te word aan die nuwe lewe hier. Ek dink omdat sy 'n plaaskind was, verskuif sy nie maklik van een plek na 'n ander nie, en veral nie hierdie keer nie, want ons het 34 jaar in Wellington gebly. 'n Mens skiet wortels in so 'n lang tyd, en sy was baie aktief in Wellington: ACVV (ook op die bestuur), VLV, Tuinbou, Pilates, en elf jaar van Crafty Kids. Dit het nogal dikwels gebeur dat 'n groot kind of jong grootmens haar groet wanneer ons êrens is: "Hallo Juffrou!", dan herken Rinie haar of hom – "Dit was een van my Crafty Kids kinders." Sy het baie hard gewerk daardie tyd en was soms saans baie moeg, maar het tog baie vreugde geput uit die kontak met haar kinders, ek dink sommige so jonk soos 4 jaar tot op St. 5. Sy het tot 66 gehad. Nie ouer nie, want op daardie ouderdom raak kinders soms eiewys en moeilik om te hanteer.
Rinie is in haar aard 'n opgaarder – sy gooi nie maklik iets weg nie, en met ons trek van 'n groot vierslaapkamerhuis met 'n groot sitkamer, groot eetkamer en groot woonkamer, na 'n klein eenslaapkamer woonstel was dit vir haar baie moeilik om dinge te laat gaan.
Christiaan het uit Nieu-Seeland gekom vir twee weke gedurende sy skoolvakansie om ons te help trek. Ek was baie bly vir sy hulp. Rinie was natuurlik gekluister aan haar rolstoel en die bed, so sy kon grootliks nie by wees met die uitsoekproses om te besluit wat kan saamgaan en wat op die veiling moet kom. Wat moet gaan na die Hospice en ACVV, en wat gegee word vir die inwoners van die volkshuisies op die Perdeskoen-pad (hulle het naderhand as ons stilhou en toet, aangehardloop gekom om die sakke weg te dra, selfs in die reën). Ook maar goed so, want Rinie wou feitlik alles hou, en dit kon eenvoudig net nie.
Sy het baie rokke gehad, baie daarvan opgegaar in die jare wat sy Crafty Kids gegee het en sy geld gehad het om te koop. Ek kan onthou hoe Christiaan die rokke uit die kaste gehaal het, vir haar gewys het, en sy 'n keuse moes maak of sy 'n rok wou hou, en of dit maar na die ACVV of Hospice kon gaan. Dan sê sy feitlik vir almal sy wil dit hou. Christiaan het haar gou gedwing om te moes kies – ons was in die leë woonstel 122 in Ametis, en het gesien watter beperkte hangspasie daar in altwee ingeboude kaste is. In Mont Pellierlaan het sy rokke gehang in die hangspasie in ons slaapkamer, in Christiaan se kamer, Marinus se kamer en in die spaarkamer ook.
Ons het meeste van die sagte en los goed getrek in sterk swart en groen plastieksakke. Christiaan het gemaak dat Rinie 8 sakke uitsoek – die ander 8 het ons weggery na die ACVV se winkel. Ek kan in 'n mate verstaan hoekom Rinie alles wou hou, want sy het duisende rande daarvoor betaal en sy het goeie smaak; baie van daardie rokke is seker nog nooit gedra nie – sy was lief om by Milady’s te koop. Maar ons het hier nie 'n keuse gehad nie – soos ons herhaaldelik vir haar gesê het: "Hier is nie plek nie, Ma." Soos dit nou is, is beide van die ingeboude kaste se hangspasie vol met haar rokke, en daar is nog twee swart sakke vol rokke. Ek het vir haar gesê sy kan later deur daardie twee swart sakke werk en uitsoek watter rokke sy wil hou, dan moet sy deur dié wat reeds hang gaan en dieselfde getal rokke uithaal wat dan na die Hospice moet gaan.
In daardie twee weke het Christiaan geweldig baie werk gedoen. Uit die garage en die solder het hy alles uitgegooi – Krisjan het 3 vragte van 3-ton weggery, o.a. al my gereedskap. Ek moes vir my 'n klein stelletjie van R400 gaan koop dat ek darem vir die mees elementêre takies iets het.
ONS TREK STRAND TOE – DEEL 2 2023-06-29
Van verskeie van ons vriende wat ook al so moes kleiner gaan, het ons dieselfde gehoor: Van alles wat julle oor baie jare opgegaar het, kan jy net 'n klein deeltjie saamneem. 'n Deel kan jy met moeite verkoop, en wat oorbly laat verkoop deur 'n afslaer. Anders sit jy naderhand met goed wat niemand wil hê nie, en die koper van jou huis wil intrek in 'n leë huis. Jy sit aan die einde dalk met 'n klomp goed wat jy vir 'n tweedehandse winkel verniet moet gee om dit net van jou hande af te kry.
Aanvanklik het Christiaan gesê ons moet drie lyste opstel:
· Wat ons saamneem na Ametis;
· Wat ons wil stoor, wat ons moontlik later nodig gaan hê as Rinie sodanig herstel dat ons na 'n groter plek kan trek (bv. 'n 2-slaapkamerwoonstel of huisie in 'n sekuriteitsoord);
· Wat uit die hand verkoop kan word of opgeveil moet word.
Nadat verskeie van ons vriende, veral Chris Erasmus, ons afgeraai het om ons goed te stoor, het ons besluit om alles te laat opveil (die huis skoon te maak). Die redes is dat houtmeubels bars onder die sinkdak van die stoorplek in Wellington se hitte; die koste (R10,000 per jaar); en wanneer jy eendag na 'n groter plek trek, is die ekstra vertrek dalk te klein vir jou meubels (Mammie se groot buffet met spieëls). Chris sê ook wasmasjiene se pompe vries vas van die lank staan, en die yskas en vrieskas hou ook nie daarvan om so lank nie te werk nie.
Ons het aanvanklik daaraan gedink om vir die veiling gebruik te maak van Boland Veilings, want Alistair Brown het 'n goeie naam, maar hy maak nie die huis skoon nie – hy verkoop net sekere goed – wat maak ons dan met die res? Toe hoor ons by Old Tannery van Lettie Lourens se Toeka Afslaers. Sy het dieselfde dag wat ek haar geskakel het na ons gekom en gesê sy maak die huis skoon, veil alles op (selfs vloerlappe!). Sy het werklik 'n goeie indruk op my gemaak met haar oop, eerlike geaardheid en ek het op haar besluit.
Ons het vir Tash-lynn Gous, Rinie se carer, gevra om die vloere skoon te maak nadat Lettie-hulle alles uit die huis verwyder het, sodat Johan Burger die huis skoon kry. Die laaste goed is Vrydag, 2 Junie verwyder.
Ons het lekker gebly die 34 jaar sedert ons op 6 Junie 1989 daar ingetrek het. Mont Pellierlaan 17 is 'n lekker bly-huis. Maar ons omstandighede het met Rinie se beroerte soos handomkeer verander. Marinus het die situasie reg gelees en besef ons kan nie so daar aangaan nie, en ek is hom ewig dankbaar daarvoor. Ek dink ek sou naderhand onder die druk geknak het, en wat sou dan van Rinie geword het, want sy is so afhanklik van my?
Marinus-hulle was op pad na Australië. Hulle kaartjies was reeds gekoop vir 20 April. Hy het op die Internet rondgesoek sedert begin Maart vir alternatiewe verblyf vir ons waar Rinie 24/7 versorging kon kry. Daar is nie baie sulke plekke nie, en dikwels waar dit wel is, is man en vrou geskei, met die sieke in 'n siekeboeg (R24,000 p.m.) in 'n klein enkelkamer, terwyl die gesonde alleen in 'n woonstel moet bly, wat nie vir ons aanvaarbaar sou wees nie. Ons sou dit ook nie kon bekostig nie.
Hy het toe afgekom op Ametis, waar daar 'n Frail Care-fasiliteit van 24/7 is (Oasis R12,500 p.m.) en gelukkig was daar 'n dubbelwoonstel beskikbaar (R18,815 p.m.)! En ons kon saam daar bly! Ek het dadelik gebel en gesê ons neem die woonstel (122) en ek het die deposito van R40,000 betaal. Die bouers kon toe aangaan om die woonstel te vernuwe – nuwe gelamineerde houtvloere, mure liggrys geverf, wit plafonne en ingeboude kaste, en die bad is uitgebreek en vervang met 'n rolstoelvriendelike stort.
Omtrent dieselfde tyd het ek ons huis in die mark gesit by Seeff en Rawson. Die eerste potensiële koper wat Rawson se Carmen gebring het, het die koopkontrak geteken! Sy het die aand by my gesit met Johan Burger op haar selfoon. Die oorspronklike prys in my sak was R2,716,000. Carmen het gesê hy vra of ek R16,000 kan sak, dan kry ek R2,700,000. Toe sê ek OK. Toe vra hy of ek bereid is om nog R20,000 te sak, dan teken hy. Toe sê ek OK vir R2,680,000 in my sak. Rawson se kommissie is R140,000, hy teken dus toe vir R2,820,000.
Dit was soos 'n bestiering. Om 'n huis te verkoop kan soms maande neem. En blyplek in 'n Frail Care-eenheid is so skaars soos hoendertande. Nou het beide in ons skoot geval; die woonstel nogal in die Strand, loopafstand van die see af, waar ons 'n paar jaar gelede gaan huis soek het om van Wellington se somerhitte weg te kom.
Ek kan onthou ons het na drie huise gaan kyk hier in SomerStrand gebied. Ons sou die skuif kon bekostig as ons ons huis in Wellington verkoop. Toe gaan stap ek en Rinie een dag in die Perdeskoen tot by daardie bruggie net verby Hildebrand Wine Estate. Ons het 'n rukkie gesels onder die bome en daar saam besluit om die trek na die Strand vir-eers op ys te plaas totdat die kinders klaar studeer het. En daar het dit naderhand vergete gebly.
NIKLAAS THYSEN: CHINESE MASSEERDER 2023-07-06
Niklaas kom elke tweede Vrydag na Ametis, dan masseer hy diegene op die eerste vloer (Frail Care) wat belangstel, teen geen koste nie – dit is seker 'n gratis diens wat Ametis aanbied. Die Bestuur betaal him blykbaar. Hy het laas Vrydag vir Rinie hier in ons woonstel kom masseer, en ons was baie beïndruk. Toe maak ons 'n weeklikse afspraak vir Rinie om hom in sy spreekkamer in Gordonsbaai te gaan sien, Dinsdae en Donderdae om 10:00, omdat ons glo hy kan haar baie help om weer te kan loop.
Audrey Mallet van Spescare het vandag gebel om te sê dat LA Health 24 PMB (Prescribed Medical Benefit) sessies van fisioterapie vir Rinie goedgekeur het, wat baie goeie nuus is. Ons glo dat die fisioterapie en Niklaas se massering parallel kan werk vir Rinie, om haar ideaal om weer te kan loop, vinniger te bereik. Dit is twee verskillende wetenskappe wat ons wil gebruik. Niklaas sê vandag dat hy R60,000 van sy eie geld gebruik het vir kursusse in Mowbray, Kaapstad, waar hy opgelei is in verskillende fasette van Oosterse geneeskunde. Hy was ook in Hanyang County, China vir opleiding. Hy is nie groot van postuur nie, maar aan sy bewegings kan mens sien hy is soepel en gespierd.
Ons het Rinie van haar rolstoel na sy verstelbare bed verskuif, op haar rug. Hy het handdoeke bo-oor haar swak been gegooi en begin werk daaraan. Ek was 'n stille toeskouer. Hy werk vinnig en gebruik sy vingers, duime, handpalms en soms selfs sy elmboë. Sy hande is baie soepel en hy "pummel" (stamp) Rinie se geaffekteerde ledemate dikwels met sy handpalms met vinnige bewegings. Soms druk hy met sy duime en vryf op die ledemaat van onder na bo. Soms doen hy klopbewegings met sy hande en vuiste op haar spiere. Hy lig haar knie op sy arm stadig en druk haar voet af en draai dit stadig van kant tot kant – dit is die voet wat so skeef op sy sy trap.
Hy werk natuurlik hoofsaaklik met die linkerbeen en linkerarm, die kant waar Rinie verlam is. Hy sê die paadjies van die brein na die ledemate moet weer gevestig word. Na hy met haar been gewerk het, het hy sy aandag verskuif na die arm en hand. Rinie se armspiere was die afgelope paar maande baie hard. As sy soms saans in my arm wil lê, is haar linkerarm kliphard geklem teen haar lyf en moet ek stadig maar met krag haar arm trek om bo-oor my bors te lê. Haar linkerhand is ook tipies toegeklem weens onbruik en dit moet bewustelik stadig oop forseer word. Niklaas werk nou aan haar hand om die vingers een vir een stadig oop te trek en te vryf. Hy masseer haar hand beide aan die onderkant en die bokant.
'n Mens kan aan sy besliste bewegings sien dat hy weet wat hy doen – dis nie sommer net bloot massering van die spiere nie. Selfs haar kop, nek en ore kry hul beurt. Hy klop ook met sy hande op haar kop, toe strek haar verlamde linkerbeen, wat gebuig was, skielik reguit!
Niklaas sê dis belangrik dat sy ook moet glo in die sukses van die behandelings. Ek dink 'n mens kan dit 'n holistiese benadering noem. Gedurende die hele sessie het hy sagte, rustige musiek gespeel, en ek het 'n kersie in die hoek sien brand, waarskynlik wierook.
Rinie sê sy voel definitief beter na elke sessie van 'n uur. In die geheel is ons baie tevrede en ons gaan beslis daarmee aanhou solank Rinie positief daaroor voel. Ek dink dis baie belangrik dat sy meer sessies per week moet kry as net die een fisioterapie-behandeling. En Niklaas vra maar R200 vir 'n uur-sessie, waar die fisioterapeute meer as R500 vir 'n driekwartuur vra. Ek glo ons gaan binnekort die resultate van hierdie behandelings sien.

Comments