O2B1F1. BEROERTE 2023-04-26
- henniej42
- Jun 23
- 13 min read
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-2 2026-06-19
O2B1F1. BEROERTE 2023-04-26
(Gemini) Hennie, hierdie is 'n ongelooflik kragtige, deeglike en diep roerende hoofstuk vir julle boek, Oomblikke in ons Lewe. Jy skryf met soveel deernis, helderheid en eerlikheid oor 'n baie rowwe en emosionele tydperk in julle lewens. Die oorgang van die skielike beroerte en die angs in die hospitaal, na die groot trek uit Wellington uit, tot by die nuwe begin en die mooi oomblikke van bederf by Longridge en die Strand, is aangrypend vasgevang.
Ek het jou teks sorgvuldig deurgekyk. Die kronologie is baie duidelik, en die manier hoe jy die mediese besonderhede met julle persoonlike emosies en die fyn detail van julle daaglikse lewe vleg, is uitstekend.
Hier is 'n paar fyn redaksionele aanpassings om die vloei net hier en daar te verbeter, herhalings mooi saam te smelt, en klein spelfoute reg te stel, sonder om enige van jou eie stem, feite of die ryk detail te verloor.
RINIE SE BEROERTE EN EERSTE HARTPROSEDURE 2023-01-14
(Hennie) Rinie het die nag van 10 Januarie 2023 naar geword, maar ek het vas geslaap en niks daarvan geweet nie. Later het dr. Johan Augustyn, haar kardiotorakale hartchirurg, gesê daar was vars tekens dat sy toe reeds 'n ligte hartaanval gehad het. Sy het die volgende dag gesê sy wil dokter toe gaan, wat vir my snaaks was, want sy is glad nie lief vir dokters nie.
Dr. Hennie Conradie het haar ondersoek en gesê haar hart-ensieme is baie hoog. Hy het 'n EKG geneem en verduidelik dat sommige van die puntjies wat op moes wys, af wys, en dat dit nie reg is nie. Hy het gereël dat sy na die Paarl Mediclinic gaan vir 'n sonar, en die dokter daar het haar dadelik na 'n kardioloog verwys. Terug by dr. Conradie het hy sonder versuim vir Rinie 'n bed bespreek by die Kuilsrivier Netcare Harteenheid vir dieselfde dag. Ons het vinnig 'n paar persoonlike goedjies by die huis gaan haal en is laatmiddag deur na die stad. Omdat daar nie plek in die algemene saal was nie, is sy in die intensiewe sorgeenheid (ICU) opgeneem waar 'n bed beskikbaar was - 'n bestiering, soos ons later sou sien.
Dr. Augustyn het haar blykbaar daardie Dinsdagaand al ondersoek omdat hy nie tevrede met haar hart was nie. Hy het 'n mikrokamera via haar linkerarm opgestoot na haar boonste regterhartkamer waar hy 'n ablasie gedoen het. Haar are was mooi oop, so dáár was geen probleem nie. Die ablasie is gedoen om die binnekant van die hartkamer te "scar" (littekenweefsel te vorm) om die onegalige hartritme wat sy gehad het, teen te werk. Ons kon op haar ICU-monitor sien hoe haar hartritme aanhoudend wild heen en weer spring tussen 90 en 150.
Omdat die ablasie nie volkome suksesvol was nie, het hy 'n pasaangeër bo-aan haar linkerskouer, naaste aan haar hart, ingeplant en die draadjies aan haar hartsenuwes gekoppel. Die battery hou blykbaar meer as 10 jaar. Toe die pasaangeër aangeskakel is om beheer oor te neem, het haar hartritme pragtig op 79/80 gestabiliseer. Daarna is hy weer deur die are na die boonste regterhartkamer, hierdie keer om die senuwees af te knip wat die oorsaak van die onreëlmatige hartritme was.
Die volgende paar dae is sy onder observasie gehou om haar medikasie uit te sorteer. Ek het elke dag deurgery om haar te besoek, en Marinus het ook 'n paar keer van Somerset-Wes af deurgekom. Teen die Donderdag of Vrydag het dr. Augustyn gesê sy kan die Maandag huis toe gaan; alles het goed gelyk. Vrydag het hulle 'n MRI-skandering geneem en alles was normaal.
DIE SATERDAGMIDDAG IN DIE ICU
Saterdagmiddag (14 Januarie 2023) was ek op pad na Rinie toe Marinus my bel. Hy was besig om met haar te praat waar sy in 'n stoel langs haar bed in die ICU gesit het. Skielik het hy gehoor haar spraak raak deurmekaar (slepend) en het agtergekom dat sy self nie daarvan bewus is nie. Hy het aanhou praat om haar besig te hou en vir Frieda-Marie gevra om die ICU-suster te roep omdat daar 'n groot fout was. Dr. Augustyn is dadelik ontbied en was binne 7 minute daar.
Rinie het omtrent 14:00 'n beroerte gehad, veroorsaak deur stolsels (klontjies) in die brein. Dr. Augustyn het dadelik 'n sterk, gekonsentreerde bloedverdunner ingespuit om die stolsels te probeer oplos. Teen daardie tyd was ek en Marinus albei by haar. Dr. Augustyn het verduidelik dat as die bloedverdunner die stolsels vinnig oplos, die pasiënt feitlik dadelik volkome herstel.
Dit was egter nie met Rinie die geval nie. Die brein is geweldig afhanklik van suurstofryke bloed, en as 'n stolsel dit afsny, sterf daardie deel van die brein baie gou. Dan het die pasient 'n beroerte. Dit is wat met Rinie gebeur het. Sy is as gevolg daarvan aan haar linkerkant verlam - beide haar arm en been.
Toe ek en Marinus na 14:00 by haar staan, was haar oë toe, haar gesig het oud gelyk en haar kop was net na die regterkant gedraai. Ek het haar linkervoet gekielie, maar daar was geen reaksie nie. Terwyl ons met her praat, het sy net na die regterkant gekyk. Nadat ons weg is, het dr. Augustyn weer 'n kamera opgestoot na die groot are in haar brein om die stolsels direk by die bron te probeer oplos. Hy moes versigtig wees met die konsentrasie om die risiko van 'n fatale inwendige bloeding te vermy. Hy kon die stolsels in die groot are oplos, maar die kamera kon nie by die kleiner vertakkings uitkom waar daar ook stolsels vasgesit het nie.
Die Sondag het sy gelukkig baie beter en minder vaal gelyk. Ek en Marinus het aan weerskante van die bed gestaan en sy het haar kop en oë na altwee van ons gedraai. Met so 'n beroerte kyk 'n pasiënt blykbaar net na die "lewendige" kant, want die brein sien glad nie die "dooie" kant raak nie. Ek het weer haar linkervoet gekielie, en hierdie keer het sy dadelik haar been opgetrek - 'n reuse verbetering wat weens dr. Augustyn se vinnige optrede met die bloedverdunner moes wees.
Rinie was nog 'n hele paar dae in die ICU, waartydens Dr. Augustyn met haar gewerk het - ons was gereeld tydens besoektye daar. Die ICU-harteenheid by Kuilsrivier Netcare was baie tegemoetkomend met besoektye, wat dit vir ons as familie baie makliker gemaak het.
DIE MEDIESE OORSAAK VAN DIE STOLSELS:
Bo-aan die boonste regter hartkamer het sy is 'n "oortjie", wat 'n ruimte is waarin die bloed nie behoorlik vloei nie, vererger deur die atriale fibrillasie van die boonste regter hartkamer. Fibrillasie is 'n vinnige, onreëlmatige en ongekoördineerde sametrekking van individuele spiervesels. In plaas daarvan om in 'n gladde, verenigde beweging saam te trek, bewe die spier. Alhoewel dit in enige spier kan gebeur, word die term meestal gebruik om 'n ernstige tipe hartritme-stoornis (aritmie) te beskryf. Omdat die bloed nie behoorlik vloei nie, vorm daar stolsels (klontjies) wat in die bloedstroom kan beland en dan lei tot verstoppings in die brein, wat 'n beroerte veroorsaak, sodat daardie deel van die brein doodgaan.
Die oortjie in die boonste regter hartkamer veroorsaak baie stolsels, en dit is wenslik dat dit toegemaak word, om verdere beroertes te voorkom. Dr. Augustyn sê dit verminder die moontlikheid van verdere beroertes met tot 90%.
Verskeie mense het ons aangeraai dat Rinie hierdie 2de hart prosedure ondergaan. Dr. Augustyn sê hierdie prosedure word baie gedoen, met groot sukses. Dit behels dat 'n kamera vanaf haar lies opgestoot word en dan word 'n "proppie" oor die opening van die "oortjie" geplaas. Die prosedure word onder verdowing uitgevoer en Rinie kan binne 2 dae weer huis-toe gaan.
Na haar beroerte was ek nog altyd bekommerd dat dit weer kan gebeur. Sy drink sy daagliks 'n baie sterk bloedverdunner, maar na die 2de prosedure (oor sowat 'n maand) is dit blykbaar nie meer nodig nie.
DIE PAD NA HERSTEL: SPESCARE PAARL EN WELWILLENDHEID
Toe dr. Augustyn klaar was met die akute behandeling, is Rinie per ambulans oorgeplaas na Spescare in die Paarl vir intensiewe fisio- en arbeidsterapie. Vir my was dit 'n groot verligting: 'n rit van slegs 20 minute in plaas van 50 minute na Kuilsrivier, en die parkering was gerieflik naby die voordeur.
Ek het haar elke dag getrou besoek. Sy het in 'n tweebed-saal gelê en het baie besoekers ontvang, veral van haar rolbalvriende. Sy het twee keer per dag - oggend en middag - fisio gekry. Ek het gereeld video's en foto's van haar sessies met my foon geneem en dit op die VRIENDEvanRINIE WhatsApp-groep gedeel om almal op die hoogte te hou.
Op 15 Februarie het sy haar 75ste verjaarsdag in Spescare gevier. Louise en Frieda-Marie het 'n spesiale partytjie vir haar gereël. Louise het 'n pragtige koek gebak en versier, en Frieda-Marie het 'n groot bos blomme en eetgoed gebring. Marinus was natuurlik ook daar. Die personeel het vir haar "Happy Birthday" en "May God bless you and keep you" gesing. Toe almal hande klap, het Rinie haar hande oor haar hart gevou. Sy was werklik diep geroer, en daar was by ons almal 'n traan in die oog.
In totaal was Rinie omtrent twee maande lank tussen Kuilsrivier en die Paarl in die hospitaal. Nadat sy die huis laas op 11 Januarie gesien het, het sy naderhand baie begin verlang.
TERUG BY DIE HUIS EN DIE GROOT BESLUIT
Op 13 Maart 2023 is Rinie uiteindelik huis toe. Dit was vir haar wonderlik om weer in haar eie omgewing te wees. Aanvanklik het ons 'n ou tipe rolstoel by die Helderberg-kerk geleen, maar omdat die arms en voetstutte nie kon afhaal nie, was dit geweldig ongemaklik om haar uit ons lae bed te kry. Ons het toe 'n beter een by die Wellington-dienssentrum geleen. Omdat ons mediese fonds (LA Health) so traag was om 'n moderne rolstoel te verskaf, het ek self een vir R5,000 by Op Active gekoop. Dit het dinge baie vergemaklik om haar tussen die bed, die rolstoel en ons Honda Civic te "transfer". Aanvanklik het ek ons buurman, Eric, se hulp ingeroep om haar in die Civic te kry, maar soos ons dit meer geoefen het, het dit makliker geword en kon ek haar later alleen hanteer.
Op 17 Maart het ons 'n wonderlike versorger (carer), Tash-lynn Gous, gekry. Sy help ons 5 uur per dag, 5 dae per week. Sy is uitstekend opgelei om verswakte mense te was, doeke en lakens te ruil, en die transfers te doen. Sy maak ook die huis skoon, was wasgoed en kook kos. Sonder haar sou ek glad nie kon klaarkom nie, want 'n beroerte gooi 'n mens se hele geordende lewe holderstebolder.
Marinus het die situasie heeltemal reg opgesom. Hy was self op die punt om na Australië te emigreer en het besef dat ons nie alleen in die groot huis met die reuse tuin sou kon klaarkom nie. Hy het begin rondsoek na 'n plek met 24-uur mediese bystand en het 'n oop eenslaapkamer-woonstel No. 122 gevind by die Ametis-aftreeoord in die Strand, wat toe net vernuwe is. Ons sou die laaste week van Mei daar kon intrek.
Die grootste, mooiste verrassing was toe ons seun Christiaan (wat in Nieu-Seeland woon) sowat twee weke voor die trek uit die bloute saam met Marinus hier ingestap het! Hy het sy skoolvakansie gebruik om vir twee weke oor te vlieg om ons te help oppak. Wat 'n reuse werk het hy en Marinus nie gedoen nie! Hulle het die garage en solder leeggemaak en drie 3-ton vragte oortollige goed weggery. Christiaan het baie dinge op Facebook adverteer en verkoop, sakke vol klere en materiaal na die Hospice geneem, en ander oortollige goed vir behoeftige gesinne in die Perdeskoen-buurt gegee. Die kinders daar het naderhand selfs in die reën aangehardloop gekom om die kar te help leegmaak.
Dit gaan goed met Rinie. Haar kop is helder en sy praat vlot. Met die hulp van Jason, haar fisioterapeut, het sy reeds so gevorder dat sy met sy ondersteuning die gang af en terug kan stap. Daar is nog min beweging in haar linkerarm, maar die herstel daarvan neem baie langer omdat 'n arm en hand veel meer ingewikkelde spiere het.
Christiaan het vir my drie lyste opgestel: wat om te verkoop, wat om te stoor, en wat saam te vat Ametis toe. Op die ou end het ons op advies van Chris Erasmus besluit om niks te stoor nie. Lettie Lourens van Toeka Meubels het alles op 'n elektroniese veiling verkoop - weliswaar vir 'n breukdeel van die waarde, maar dit is maar die pad as mens van 'n groot huis na 'n klein woonstel moet afskaal.
Ons is ons vriende in Wellington ewig dankbaar vir die kos aandra, die kuiers en die morele ondersteuning. Dit het veral vir Rinie baie beteken, wat met 'n swaar hart daar weg is. Sy het altyd gesê sy verlang baie na haar lapa. Maar ons het nie 'n ander keuse gehad nie.
DIE NUWE LEWE IN AMETIS (STRAND)
Ons het aan die einde van Mei ingetrek by Ametis (Gordonsbaaiweg 4, Woonstel 122). Die woonstel word gehuur en is sowat 500 meter van die Kusweg af. Van die 5de vloer af kan mens die see mooi sien; as die wind van die see-af waai, hoor ons snags die branders breek.
Die personeel by Ametis is almal baie vriendelik en behulpsaam. Ons kry middag- en aandetes, in ons woonstel as ons wil, maar soms eet ons in die eetkamer. Die inwoners is ook baie vriendelik, so ons dink ons gaan lekker hier bly. Dit gaan nog 'n tydjie neem om alles op hulle plek te kry, maar ons het tyd en neem dit nou rustig.
Ek moet ook spesiaal melding maak van ds. Johannes Nortier van die NG Moederkerk Wellington. Hy het eendag uit sy eie by ons huis opgedaag, lekker gesels en voorgestel dat ek saam met hom ry om Rinie te gaan besoek. Ek was eers bang dis misbruik maak van sy goedheid, maar hy het aangedring. Hy is 'n wonderlike, interessante mens wat glad nie soos 'n dominee praat nie - hy het heerlik gekuier en nie eens 'n formele gebed gedoen soos mens sou verwag nie. Hy het my twee dae later weer opgelaai. Sy geselsies het Rinie geweldig opgekikker. Hy het voorheen in Heidelberg, Cradock (waar ons van 1955 tot 1962 gewoon het), en Slot-van-die-Paarl gedien. Hy is 'n ware mensch wat vir sy medemens leef.
DIE TWEEDE HARTPROSEDURE (JULIE 2023)
Op 23 Julie 2023 het suster Corrie Swart laat weet dat Rinie die Maandagoggend om 06:00 by Kuilsrivier Netcare moes inklok. Reneé van die nagpersoneel het gehelp om Rinie se blou tassie te pak. Om betyds te wees, moes ons 04:00 opstaan sodat Reneé vir Rinie kon stort en haar hare was. Dit neem baie tyd om haar reg te kry, en ons is eers om 05:15 in die vroeë oggendverkeer daar weg.
By die hospitaal is sy na Kamer 2 op die tweede vloer geneem. Ek moes haar groet met ons gewone vier soentjies. Om die tyd om te kry terwyl sy wag, het ek die kar laat was, by Exclusive Books in Tygervallei gekuier, 'n rump steak by Alamo Spur geëet en na Tom Cruise se nuwe Mission Impossible gaan kyk. Toe ek na 15:00 terug was by haar, was sy nog nie teater toe nie weens x-strale en bloedtoetse, en dr. Augustyn het besluit om haar eerder die Dinsdagoggend om 08:00 te opereer, wanneer hy vars is.
Die Maandagaand was maar eensaam in die groot bed. Marinus het gereeld gebel vir nuus. Hy is so lief vir sy "Moeks" en weet presies wanneer sy nie reg voel nie. Hy dra selfs nou R250 per maand by sodat sy gereeld haar hare by Ametis se salon kan laat doen (Rinie het eers gedink dit is haar dogter Tania wat dit gereël het, maar Tania is al vyf jaar gelede oorlede). Marinus weet hoe 'n vrou se hart werk en dat sy altyd netjies wil lyk.
Ek is die Dinsdag terug hospitaal toe. Ek het Rinie in die grondvloer-ICU gekry. Sy lyk slaperig, met twee naalde in haar regterarm, elk met 'n verskeidenheid proppies waar inspuitingsnaalde ingedruk kan word. Drie sakke met drup medisyne hang bo haar kop - dis fassinerend om te sien hoe die druppels afgemete val. Gelukkig het sy geen pyn gehad nie. Haar hakke het geklop, en ek het dit met Milking Cream gemasseer, wat dadelik verligting gebring het.
Die Woensdag om 15:00 het ek dr. Augustyn in die gang raakgeloop. Hy het met 'n breë glimlag gesê die prosedure was 'n groot sukses! Die "proppie" is met klein hakies oor die oortjie geplaas sodat dit glad nie kan loskom nie. Sy moes net vir nog drie weke haar rooi anti-stolpil (Rivaroxaban / Ixarola) drink, en daarna net Ecotrin. Wat 'n verligting - die pille het my R960 per maand gekos, waarvan ‘n groot deel uit my eie sak!
Toe ek in die saal kom, was sy reeds aangetrek! Ek het haar in die Civic gelaai net langs die restaurant, met ‘n bode se hulp, en ons is in 'n ligte reën terug Strand toe. By die aankoms by Ametis het ons egter groot geskrik: haar sterk been was nog effens verdoof van die narkose en kon nie haar gewig dra tydens die transfer nie. Sy het op die sementstene neergesak. Ek kon haar nie alleen opkry nie en het vir hulp ingehardloop. Gelukkig het 'n man genaamd Willem gehelp om haar in ‘n sittende posisie te kry langs die Civic, en saam met die Ametis-carers het ons haar veilig in haar bed gekry. Ons het groot geskrik, maar gelukkig sonder enige beserings. Ilse het gebel net nadat Rinie geval het, en ek kon net vir haar sê "Rinie het nou net geval, ek bel jou later". Toe Rinie veilig in die bed is, het ek vir Ilse terug gebel. Sy het haar natuurlik doodgeskrik en was baie verlig nadat sy met Rinie gepraat het dat alles OK was. Rosa het ook later gebel en toe sy hoor van die val het sy aangedring dat ons vir Dr. Augustyn in kennis moet stel van die val - daar kon miskien iets verkeerds gegaan het. Ek het hom toe 'n brief per epos gestuur.
VADERSDAG EN BEDERF (JUNIE 2023)
Dit is nou Saterdagaand, 17 Junie (eintlik al 01:00 die oggend). Ek sit met 'n beker koffie terwyl Bok van Blerk se Koue voete, warm liefde op die radio speel en die Strand-wind teen die ruite waai.
Gister het Rinie my vroegtydig uitgevat vir Vadersdag voor die groot Sondag-stormloop. Ons raak nou baie vaardig met die transfers in en uit die motor. Ons het op die TV gesien Longridge Wynkelder is op die R44 naby Stellenbosch en besluit om soontoe te ry. Dit is gelukkig baie rolstoel-vriendelik. Ons het 'n pragtige tafel by die venster gekry met 'n uitsig oor die kruietuin en die Kaapse berge. Ons het twee heerlike pizzas met 'n dun kors geëet; Rinie met 'n glas Cabernet (sy drink net rooi) en ek met 'n heerlike Ou Steen Chenin Blanc. Dit was so lekker dat ons besluit het om onsself voortaan meer so te bederf.
Hierna is ons na die Somerset Mall - die eerste keer sedert haar beroerte dat sy weer in 'n winkelsentrum was. Dit was heerlik vir haar om die gewoel te beleef, deur Woolworths te kyk en 'n cappuccino by Seattle Coffee Co. te geniet.
Die mense se hulpvaardigheid is oorweldigend en gee mens 'n warm gevoel om die hart. By die Spur op Kusweg skuif hulle tafels rond om ons te help, en by die Strand Pavilion (waar ons vroeër dae tyddeel gehad het) het die skoonmaker ons selfs toegelaat om na die boonste Penthouse te gaan sodat ek Rinie op die balkon kon stoot vir die uitsig oor Gordonsbaai.
Ook hier in Ametis het die mense se harte oopgegaan. Marie (83) het haar dadelik oor Rinie ontferm, bring beskuit en nooi ons na die fliek en bidure op die 5de vloer. Daar het ons Sucille ontmoet, en tot my groot verrassing uitgevind sy was net twee jaar na my op skool in Rawsonville en was groot vriendinne met Cisserie Marais, wat saam met my van sub A tot standerd 4 in Goudini Hoërskool was!
Die personeel hier by Ametis is ongelooflik. Hulle kom kyk elke paar uur uit hul eie - selfs in die nag - of Rinie veilig en gerieflik is. Ons kry ons etes in die woonstel of eet saam met ons bure, die Jouberts, in die eetkamer.
Ons mis Christiaan in Auckland en Marinus in Melbourne (wat onlangs op 21 April geëmigreer het), maar ons weet hul toekoms is blink daar. Dankie tog vir tegnologie - elke tweede en vierde Sondag van die maand hou ons 'n groot de Jager Chat via WhatsApp waar Heine ook vanuit Johannesburg inskakel.
Ons lewe is dalk holderstebolder verander, maar hier in Ametis is ons veilig, omring deur liefde, en ons neem die lewe nou rustig, een oomblik op 'n slag.

Comments