O1B1F1 WAAR MY BEWUSSYN BEGIN
- henniej42
- Feb 4
- 14 min read
OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-01-19 01:45
DIE PAARL EN DIE ERFENIS VAN JB
My storie begin op ’n Vrydagoggend, 11 Desember 1942, in my ouers se huis in Auretstraat, Paarl. Destyds was dit die gewoonte dat ’n vroedvrou jou in die wêreld "vang", en so het my lewensreis in die skadu van die Bolandse berge begin.
My pa, Jurgens Bernardus (JB) de Jager, was in daardie tyd die senior wiskunde-onderwyser by die Hoër Jongenskool Paarl, algemeen bekend as Boishaai. Dié skool, wat reeds in 1868 gestig is, was ’n baken vir Afrikaner seuns van veral die Kaaplandse platteland.Hulle is natuurlik gehuisves in koshuise. Meeste van dié wat van vêr gekom het, soos my Pa, het gedurende daardie jare van swaarkry maar net twee keer per jaar met die trein huis-toe kon gaan, gedurende die Junie en Desember skool-vakansies. Dit moes vir hulle opwindend gewees het met die klik-klak van die staalwiele op die spore, die blaas van die lokomotief. Ma het ‘n kosmandjie gepak, en om te slaap op die harde groen opslaan banke was ‘n unieke ervaring.
My pa het self daardie pad geloop. As ’n skrander seun van die Noord-Kaap is hy deur sy pa se broer, dr. AL de Jager, na Boishaai gestuur. Hy was die Dux-leerling van die matriekklas van 1926, ’n prestasie wat die fondament gelê het vir sy akademiese loopbaan aan die Universiteit van Stellenbosch. Daar het hy in net drie jaar twee grade, B.Sc. en B.Ed., gelyktydig voltooi—’n bewys van die dissipline wat hom sy hele lewe lank sou kenmerk. Pappa het al die geld wat sy oom vir hom geleen het terugbetaal. In sy hele lewe wou hy nooit iemand geld skuld nie.
Pappa se wortels het diep in die dorre aarde van die Noord-Kaap gelê. Hy is 8 April 1907 op die plaas Modderfontein in die Vosburg-distrik gebore as een van agt kinders. Sy Pa, Cornelius de Jager, het daar geboer. Hulle was agt kinders, waarvan my Pa die tweede jongste was. Destyds was groot gesinne normaal onder Afrikaners. Ouma de Jager was ‘n nooi Badenhorst en blykbaar ‘n kwaai vrou, soos mens kan sien op die groepfoto van hulle familie wat behoue gebly het. Mamma het gesê moet nooit met ‘n Badenhorst trou nie. Oupa de Jager was ‘n baie saggeaarde mens.
Hy was ’n vermoënde boer totdat die Groot Droogte van 1915 hom geruïneer het. Sprinkane het die veld swart gevreet en uiteindelik is Oupa Cornelius gelikwideer. Later moes hy weens blaaskanker baie pyn verduur met die stilmoedigheid wat my pa blykbaar geërf het. Hy is twee jaar later oorlede in die Paarl, waar sy broer hom behandel het.
My ouers se paaie het op Colesberg gekruis, waar Pappa sy eerste onderwyspos in 1930 aanvaar het. Hy was tien jaar ouer as my ma en was ironies genoeg haar wiskunde-onderwyser. Mense het later gewaarsku dat so ’n begin ’n ewige "onderwyser-kind verhouding" skep, wat moeilik afgeleer word. Pappa was ’n aantreklike man met ’n baie sterk persoonlikheid—’n regte "vangs". Hulle is in 1938 getroud.
MY EERSTE HERINNERING: DARLING EN PERSKES
Ek was slegs ses maande oud toe my pa in 1943 die pos as skoolhoof op Darling aanvaar het. Dit is hier waar my eerste flitse van bewussyn begin.
My heel eerste herinnering is die bravade van ’n driejarige. Pappa en Mamma was nie tuis nie. My ouer broer, Boetie, was in die bed en het gevra vir ingelegde perskes. Destyds het meeste vrouens vrugte ingelê in Consol glas flesse. Ek onthou hoe ek in die spens op ’n stoel geklim het, en ’n klein "halfmas" Consol-fles van die rak afgehaal het. Daardie daad - om iets vir iemand anders te doen - het die oomblik in my geheue vasgebrand. Dit is die verste terug wat ek kan onthou.
Darling is ‘n boerdery gemeenskap wat koring produseer en het baie melkkuddes wat melkprodukte lewer vir die Wes-Kaap. Daar is ook baie veldblomme in die distrik. Boetie was 3 jaar ouer as ek en het aan ‘n nier-kwaal gely, wat ongeneeslik was op daardie stadium. In 1946, op die ouderdom van slegs sewe jaar, is hy oorlede. Dit was ’n verpletterende slag vir Pappa, ’n gevoelsmens wat lank getreur het. Mamma se nugter, amper harde woorde aan hom: “’n Mens lewe nie saam met die dooies nie.” - is vlymskerp. Dit wys hoe verskillend mense rou: Pappa met sy diep emosie, en Mamma met ’n amper brutale praktiese sin vir oorlewing. Dit het waarskynlik ’n blywende kraak in hul verhouding gelaat.
GOUDINI: DIE GOUE JARE VAN KAALVOET WEES
In 1948, die jaar toe my broer Louis gebore is, het ons na Rawsonville verhuis waar Pappa skoolhoof by Goudini Hoërskool geword het. My skoolloopbaan het in 1949 in Sub A begin by Juffrou Rademeyer, vir wie ek baie lief was. Sy het in my eerste rapport geskryf: "Hennie is te ernstig." Nou, op pad na 84, besef ek hoe raak daardie insig was. Ek het nou nog die Sub A klasfoto, met haar, breed glimlaggend, in die middel van 25 glimlaggende haasbekkies, ek reg agter haar, want ek was die langste.
Mamma en Pappa is in 1950 oorsee met 'n Union Castle Line skip na Europa. Destyds was 'n skeepsreis die norm en dit het 14 dae geneem van Kaapstad na Southampton. Dit opsigself was deel van die vakansie. Hulle het beplan om vir 6 maande te gaan toer, maar het na 5 maande teruggekeer, omdat hulle te veel verlang het.
Vir daardie tyd was ek en Louis by Mamma se Ma, Ouma du Plessis (Joey) in Colesberg op Gansgat, die familieplaas. Ek moes natuurlik skool-toe gaan en is in die koshuis van Colesberg se skool geplaas. Wat ek onthou van die koshuis is dat ons saans onder die komberse wit "vuurklippe" teen mekaar gekap het, dan spat die vonke so.
Elke twee weke het een van Mamma se broers (oom Roelof of oom Pieter of oom Jean) Vrydae dorp-toe gekom en my dan Gansgat toe geneem vir die naweek. Louis was toe net meer as twee jaar oud en was natuurlik die hele vyf maande op die plaas by Ouma. Ek kan onthou hoe Mamma en Pappa ons begin November kom haal en vasgedruk het. Dit was vir almal ‘n groot vreugde om weer bymekaar te wees.
In Rawsonville het ons kaalvoet skool-toe gegaan, ons skoolklere net die standaard grys kortbroekie met 'n gewone wit kortmou hempie. Pappa het geglo in eenvoud, nie in fieterjasies nie.
Op skool het almal natuurlik deelgeneem aan die jaarlikse skolesport in die somer. Die klein dorpies het teen mekaar meegeding - Rawsonville, Ceres, Tulbagh, Wolseley, en Villiersdorp. Kinders van die laerskool het natuurlik hoofsaaklik die kort afstande gehardloop, ook ver- en hoog-gespring. Vir my was die 440 treë aflos die heel lekkerste, altyd die laaste nommers van die byeenkoms. Die spannende opwinding om die stokkie reg oor te gee. Die vinnigste kind was gewoonlik laaste geplaas, want hy moes kan inhaal as hy nie voor was nie. Die res van die span het hom natuurlik oorverdowend aangemoedig en gejuig as hy eerste verby die wenpaal was. Goudini se hele atletiekspan, waarvan ek 'n foto het, van Sub A tot matriek, het bestaan uit net 36 kinders.
Altesame was daar 360 kinders in die skool, seuns en meisies. Daar was 2 pouses, die eerste kort, maar die tweede was baie lank, sover ek onthou 90 minute. Omdat baie van die kinders van plase af met busse gekom het, is skoolsport gehou in daardie lang pouse. Ek onthou hoe my Pa na ete slaapkamer toe was. Nadat hy die Burger gelees het, het hy dit soos 'n tent oor sy gesig staan gemaak terwyl hy op sy rug lê en slaap.
Rawsonville was die ideale grootword plek vir jong seuns. Dit was destyds 'n ou piepklein dorpie (is nog steeds) met net 'n paar grondstrate. Ek dink nie eens die hoofstraat was geteer nie. Daar was leiwater slote waarin ons sulke branders gemaak het as ons kaalvoet stroomop daarin loop. Selfs in die winter het ons só gespeel, wanneer dit vir dae aanmekaar misreën, sodat die ragfyn druppels so blink op jou woltrui sit, sonder dat dit deurdring na jou vel.
Daardie tyd was daar 'n reeks boeke vir kinders, ek dink deur Topsy Smith - Trompie en die Boksom Bende. Ons het natuurlik ons eie bende gemaak, geskool op die Trompie reeks. Ons het ‘n vriendskap van vierman gehad - Charl-Emile, die dominee se jongste seun, Heini, jongste van die sendeling, Riël, 'n boer se seun, en ek, die skoolhoof se seun. Soos Trompie-hulle het ons oral rondgeloop.
Ek kan onthou dat ons eenkeer 'n gat onder die grond gegrawe het agter in die pastorie tuin vir ons "den". Gelukkig vir ons het dit nie op ons ingeval nie. Agter ons huis was die motorhuis aan die kant, met 'n solder bo-op en 'n trapleer. Daar het ons 'n veiliger en groter "den" gemaak. Die solder was redelik hoog en ons het toe vir ons 'n "foefie-slide" daarvandaan gebou na 'n ankerpen in die grond. Die pyp waaraan ons gehang het, het jou hande gebrand, sodat ons 'n lap daarom moes draai. Die ankerpen was aan die voet van drie sulke reuse (vir ons) plataanbome, wat ideaal was vir boomklim, sodat jy hoog in die takke amper bo-oor die huis se dak kon kyk.
Ek het 'n pragtige kolliehond (Border Collie) gehad, wat ek baie liefgehad het. Sy naam was Rex. Hy was my dieremaat en het oral saam met my geloop. As 'n kar verbykom het hy altyd langsaan gehardloop en probeer om die draaiende bande te byt - 'n slegte gewoonte wat hy nooit afgeleer het nie.
Bo-op die huis se hele oppervlak was 'n reuse solder waarin ons seuns met gemak regop kon loop. Die trap daarna-toe het langs die muur opgeloop met 'n "landing" bo-aan. Daar was 'n klomp goed gestoor op die solder, waartussen ons lekker in die skemerdonker kon wegkruipertjie speel. Rex het natuurlik saam met my op die solder rondgeloop. Eenkeer was daar 'n kat op die solder. Toe Rex die kat uitsnuffel het dié natuurlik laat spaander na die oop solderdeur, rats af met die trappe, met Rex op volle vaart agterna. Hy kon nie sy draai op die "landing" maak nie en het die kruishoute skoon uitgehardloop - dit was seker maar vrot van ouderdom. Rex het deur die lug getrek en die grond met 'n harde slag getref. Sy jaaglus skoon vergete, het hy kruppel-kruppel opgesukkel en moeisaam na sy lêplek geloop. Ons wou ons natuurlik slap lag oor die voorval.
Toe Pappa 'n aanstelling as Inspekteur van Skole aanvaar het en Mamma in 'n losieshuis in Barkly-Wes moes gaan bly, kon Rex natuurlik nie saamgaan nie en hy is na Gansgat. Daar het hy aan sy einde gekom toe hy 'n vergigtigde hoender geëet het wat vir ‘n jakals gestel was. Ek was baie hartseer toe ons die treurige nuus kry.
Die Smalblaarrivier met sy glashelder poele en wit spoelklippe was ons somertuiste. Daar het ons vier boesemvriende ure deurgebring. Een het ‘n baie wit klip gegooi, dan duik almal daarna om dit eerste op te tel. En weer. En weer, tot ons uitgeput was. Tot vandag swem ek eerder onder as bo-op die water - dit gee my ‘n vry gevoel.
In daardie tyd het Mamma my laat klavierlesse neem, waarvoor ek nie baie geesdriftig was nie. My klasse was natuurlik in die middae, en in die somer het dit gebots met ons swemtye, sodat ek my maats al spelende in die swempoel moes los, terwyl ek langtand na my klavierles gaan. Ons skool se musiekonderwyser was erg swaksiende en het so 'n horlosie gehad waarvan die glas oopgemaak het sodat hy kon voel hoe laat dit was. Eenkeer was ek weer so belangeloos besig om note te druk, toe gryp hy 'n fietspomp wat op die tafel lê en slaan dit só hard op die tafelblad dat die pomp buig. Ek het my byna doodgeskrik. Daar was ‘n doodse stilte, totdat ek weer bewerig aangegaan het.
Dit was ook die einde van my klavierlesse. Hy het seker vir my Ma gesê ek stel glad nie belang nie en/of het geen talent nie. Baie jare later was ek baie jammer oor my optrede, want ek het baie lief vir musiek geword, veral klassieke musiek. Maar sonder die onderbou, wat klavierlesse vir my sou gee, het ek baie min begrip van die struktuur van musiek, wat 'n mens nodig het om veral klassieke musiek na behore te waardeer.
Toe ek by Mobil in Kaapstad gewerk het, het 'n groep mense wat lief was vir klassieke musiek elke Woensdag etenstyd na plate geluister. Ek het dit baie geniet. Eenkeer het ek vir die ou wat die byeenkomste gereël het, gesê ek hou baie van die musiek, maar ek het geen agtergrond of opleiding nie. Toe sê hy iets wat my baie bemoedig het: "Just listen to the music. Your ear will tell you what you like".
En so het my liefde vir musiek stadigaan al meer ontwikkel, van lig klassiek tot swaarder, beide simfonieë en operas. Tans hou ek meer van opera sang, my gunstelinge o.a. Montserrat Caballe, Elisabeth Swarzkopf, Leontyne Price, Luciano Pavarotti, en Placido Domingo. Oor die jare het ek ‘n versameling van meer as 900 langspeel-plate opgebou, almal in uitstekende toestand. Meeste is gekoop van die tweedehandse boekwinkel Cafda in Seepunt. Ek het ook baie boeke en ensiklopedieë oor musiek gekoop, en besef al meer hoe baie ek mis. Ek glo as ek musiek deur my hele skoolloopbaan geneem het, sou ek musiek in al sy vorme vandag veel beter kon waardeer.
DIE LESSE VAN JB
Tydlyn van Jurgens Bernardus de Jager, algemeen bekend as JB:Gebore 1907 8 AprilSub A Vosburg 1914Matriek Boishaai 1926B.Sc + B.Ed US 1929Colesberg 1930-1932Boishaai 1933-1943 Wiskunde onderwyserBoland Tennis Mans-enkelskampioen 1934Getroud 1938(31 jaar oud, met Mamma(21 jaar oud)Boetie (Cornelius) gebore 7/10/1939 (oorlede, nierkwaal 1946 - 7 jaar oud)Boland Tennis Mans-dubbelskampioen 1941Hennie gebore 11/12/1942Darling Skoolhoof 1943Louis gebore 12/01/1948Rawsonville(Goudini) Skoolhoof 1949Joanie gebore 19/10/1952Inspekteur van Skole 1954Oorlede 20/04/1983 (76 jaar oud).
Pappa was baie lief vir sport. Hiervan getuig sy twee Boland tennis titels. Hy het ook by Boishaai tennis, hokkie en rugby afgerig. Ek kan onthou hoe ons, nadat hy weens swak gesondheid vroeër moes aftree op 64, eendag saam met Oom Piet op die Murrays se plaas tennisbaan dubbels gespeel het. Omdat hy nie meer so vinnig kon beweeg nie, was hy voor by die net. Wanneer die bal binne sy bereik gekom het, is dit met ‘n mokerhou geslaan waar die opponente dit nie kon bykom nie. Na 30 jaar het hy nog steeds sy finesse behou. Iets visueels wat ek ook onthou was hoe hy, toe hy al goed in sy 70’s was, gereeld na rugby uitsendings op die radio geluister het (dit was voor televisie). Hy het die lyne van die veld op ‘n folio-vel geteken, en het dan die spel gevolg met sy potlood, om beter te beleef waar die spel plaasvind.
My pa was ’n man van vaste beginsels. Hy was "onkreukbaar" - ’n eienskap wat hy tot aan die einde behou het.
Onkreukbaar kan ek beskryf in die volgende ware staaltjie:Toe hy al in sy 70's was het hulle besluit om van Parys (naby Joanie) na die Kaap te verhuis sodat hulle naby my en Louis kon wees vir 'n paar jaar. Behuising was op daardie tyd baie skaars met waglyste oral. Ek het rondgesoek in die noordelike voorstede van Kaapstad, en op twee woonstelle afgekom. Vir my was die oplossing eenvoudig: aanvaar albei. Dan kan hulle afkom, na beide kyk en dié een te neem waarvan hulle die meeste hou. Pappa se antwoord was dadelik en beslis: "Dit doen ek nie". Hy was totaal eerlik, selfs al is iets tot sy nadeel.
Toe ek in Standerd 2 was, was ek deurmekaar met vriende wat gerook het. Ek moes toe natuurlik ook rook. Op daardie stadium beteken rook vir sulke jong kinders meer bravade as enigiets anders, en die rook word nie ingetrek in die longe nie, maar bloot in die mond. Eenkeer was Louis ook by, toe 5 jaar oud, wat toe 'n probleem vir ons skep. Die oplossing is toe om hom ook te laat rook, dan is hy mos 'n medepligtige en kan ons nie verklik nie. Of so dink ons. Die aand aan tafel sê Louis skielik: "Pappa, Hennie rook". Ek het so 'n sinkende gevoel hierbinne gekry, en toe so lamweg gesê "Louis het ook gerook". My Pa se skerp oë het na my geblits en ek het stilgebly. Na ete het Pappa net kortaf gesê "Kom" en ek het hom met 'n kloppende hart gevolg na sy studeerkamer, waar hy die deur toegemaak het. By sy opgestopte rusbank het hy gesê ek moet vorentoe lê op die kant. Hy het 'n rottang van die kas af gehaal en my drie afgemete houe gegee. Ek dink ek het seker geskree van pyn, want hy het geweet hoe om 'n rottang te gebruik. Hy het met my gepraat terwyl hy geslaan het, maar ek kan nie onthou wat hy gesê het nie. Tog was daar ’n sagtheid agter die strengheid. Daarna het hy gesê "Kom ons gaan koop 'n roomys" en toe loop ons na die kafee in die donker. Hierdie is ‘n goeie voorbeeld van volwasse dissipline wat my Pa toegepas het, op ‘n manier wat ek verstaan het. Die feit dat ons gaan roomys koop het, het gewys hy is nie vir my kwaad nie, net dat wat ek gedoen het verkeerd was. Dit was sy manier om te sê die skuld is vereffen; die dissipline was daar om te leer, nie om te vernietig nie.
Ek onthou dat ek daarna nog 'n dampie of twee gemaak het met daardie maats net om te wys ek is nie bang nie, maar daarna het ek nooit weer gerook nie, waaroor ek vandag baie bly is. Pappa self was ’n strawwe roker, tot 60 sigarette per dag toe hy jonger was. Dis ’n gewoonte wat sy lewe uiteindelik in 1983 sou eis op 76-jarige ouderdom, weens emfiseem.
Eenkeer het Charl-Emile en ek in die kerk se toring opgeklim met die steil trappies, tot bo by die klok en horlosie. Deur openinge kon ons vêr oor die dorp kyk. Toe ons besig was om af te klim, kom die koster van onder-af op en gee ons 'n skrobering: "Julle mag nie hier wees nie!". Hy dog ons is op pad op - ons het maar stil gebly daaroor dat ons reeds op pad af was.
Soms was daar nogal kwaai storms in die winter. Eenkeer is 'n groot akkerboom in van Riebeeckstraat afgedraai deur die wind sodat dit die pad versper het. Baie van die ou akkerbome is redelik vrot van binne (kernvrot) veral wanneer dit nie reg gesnoei en versorg is nie. Weens die stormwinde is daardie boom behoorlik afgedraai - net die buitekant van die stam was nog lewendig.
Daar was ook dikwels sneeu op die berge, veral na Worcester se kant. Rawsonville is omring deur groot berge. Die Drakenstein reeks lê tussen Rawsonville en Paarl, maar die velde na Worcester is oop. Die hele vallei is beplant met wingerd, destyds meesal bosstok. Dis eers later dat wingerde oor die algemeen opgelei is.
Die skool het 'n groterige koshuis gehad, want heelwat kinders het van elders gekom. Eenkeer het my Pa-hulle gaan kuier by Mnr. Lotz, die koshuisvader en onderhoof. Ek het met sy kinders gaan speel. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar ek het "Stille Nag, Heilige Nag" uit volle bors met my kinderstemmetjie gesing. Die grootmense het dit gehoor en my geroep. Ek was maar skaam in hulle geselskap, toe gee Mnr. Lotz vir my 'n halfkroon, wat vir my baie geld was.
Agter ons huis was 'n baie groot tuin waarin ons tuinman allerlei soorte groente geplant het. Daar was ook baie vrugtebome, o.a. vye, perske, appelkoos en pruime. Die vye was heerlik en het baie gedra met ‘n subtiele reuk van hul eie. Ek het my daaraan ooreet, en het naderhand dit sommer so skil en al geeët omdat dit te veel moeite was om die skil af te trek. Hiervoor het ek kort voor lank 'n prys betaal. My lippe het gebars, seker van die haartjies op die skil, of dalk die melk. Dit was nogal pynlik en het my 'n les geleer. Die koshuis seuns het natuurlik snags kom vrugte steel, totdat een 'n tak gebreek het. My Pa het dit genoem in die saal-byeenkoms en gesê hy gee nie om as die seuns vrugte steel nie, maar hulle moenie die bome breek nie.
Soos maar gebeur met meeste seuns een of ander tyd, het van ons die juffrou kwaad gemaak en sy stuur ons toe na die skoolhoof. Pa het ons 'n skrobering gegee, maar toe hy my so bedremmeld daar sien, het hy my met daardie skerp oë deurboor en gesê "Wat maak jy hier?". Toe gee hy ons almal drie van die beste met die rottang.
Daardie dae was die skoolhoof 'n gerekende persoon en my ouers is dikwels uitgenooi vir Sondagmiddag-etes. Op pad na Goudini Bad het die Ebersohns gebly, welgestelde boere. Wat my as kind baie beïndruk het was hulle Caterpillar ligte-enjin, so 'n groot geel masjien. Die oom wou ons wys hoe sensitief die masjien is. Toe hy 'n lig aanskakel het die Caterpillar onmiddelik outomaties aangeskakel. Dit het baie gebeur dat wanneer my Pa-hulle Sondae by boere gaan kuier, die kattebak vol groente, vrugte en 'n hele ballasmandjie druiwe gepak word. Behalwe die baie wat ons vars eet, kook Ma druifkonfyt en deel ook uit aan haar vriende op die dorp.
Baie jare later wou ek vir Rinie gaan wys waar ek grootgeword het. Die Rawsonville van vandag is meer verwaarloos as wat ek dit onthou. Die van Riebeeckstraat is nou geteer. Toe ek afdraai in Porterstraat om haar ons huis te gaan wys, sien ek dat die "reuse plataanbome" van my jeug redelik ordinêr was. Ek het deur die grondstrate gery om die ou gevoel te kry. Toe is ons na die Smalblaarrivier om te kyk waar ons so baie geswem het. Die diep poel van wit klippe is nou baie vlakker. Die enkelbaan houtbrug met die wye stuk in die middel waar voertuie verby mekaar kon gaan in die ou dae is nou vervang met 'n breë dubbelbaan sementbrug.
Hierdie sorgelose jare op Rawsonville het in 1954 tot ’n einde gekom. Pappa is as Inspekteur van Skole aangestel, en ons moes die Boland verlaat vir die kalkwêreld van Barkly-Wes.

Comments