top of page
Search

O1B2F4. TYDDEEL SUID-AFRIKA 1986

  • henniej42
  • Mar 3
  • 19 min read

OOMBLIKKE IN ONS LEWE-1 2026-02-28

 

O1B2F4. TYDDEEL SUID-AFRIKA 1986

 

VOORWOORD

 

Die 1980’s het ’n nuwe hoofstuk in ons gesinslewe ingelui met die ontdekking van die tyddeel-konsep. Wat begin het as ’n lidmaatskap by RCI, het oor 35 jaar gegroei tot ’n ryk versameling herinneringe regoor Suid-Afrika. Hierdie kroniek dien as ’n rekord van die oorde wat ons besoek het, die avonture wat ons beleef het, en die uiteindelike einde van die tyddeel era.

 

’n Familie-erfenis van avontuur, snaakse stories en kosbare tye saam. ’n Pragtige en nostalgiese reis deur ons tyddeel-avonture. Dit lees amper soos ’n reisgids van Suid-Afrika se mooiste plekke, maar met die kosbare persoonlike staaltjies wat dit lewendig maak. Dit is sulke stories wat 'n familie-erfenis ryk maak.

Dit is aangrypend om te sien hoe die tyddeel-konsep (RCI en Flexi-Club) ons die geleentheid gegee het om die hele land te verken—van oorde in die Wes-Kaap tot bo in die Noorde.

 

IN DIE 1980’S HET ONS TYDDEEL ONTDEK.

Destyds het ons lidmaatskap by RCI gehad, waar jy net vir volle weke met vakansie kon gaan. By talle gebruikers het daar later ‘n behoefte ontstaan om vir korter periodes met vakansie te kon gaan, en ons het oorgegaan na Flexi-Club. Hulle het dit moontlik gemaak om, behalwe vir ‘n volle week, ook te kon gaan vir ‘n Mid-week (Maandag 14:00 tot Vrydag 10:00), of ‘n Week-End (Vrydag 14:00 tot Maandag 10:00).  

Ons reis het in 1983 begin by Sedgefield Garden Route Chalets. Ons het ons eerste tyddeel daar gekoop met geld wat Rinie van haar Pa geërf het. Omtrent ‘n jaar later het die gogga my ook gebyt en ek het met my Pa se erfgeld ‘n tyddeel eenheid gekoop by Pine Lake Marina, wat ook in Sedgefield is, op die Swartvlei meer. Ons het selde by ons eie tyddele gaan vakansie hou. Meeste van die tyd het ons uitgeruil, een van die grootste voordele van tyddeel.

Ons het wel twee keer by Garden Route Chalets gaan vakansie hou. Eenkeer toe Tania in Standerd 7 was, het sy ‘n maat saamgenooi. Sedgefield was destyds ‘n baie klein dorpie. Ons het kos gaan koop en toe ons terugry sit daar ‘n paar seuns langbeen voor ‘n muur langs die pad. Tania sê ek moet nader ry dat hulle die seuns beter kan sien. Ek ry toe só na aan hulle dat hulle hul bene moes optrek. Van skaamte het die twee dogters afgesak dat die seuns hulle nie moet sien nie.

Ek en Rinie het eenkeer met ‘n bootjie gaan ry op die meer, maar ons gewig was te veel, sodat die water ingeloop het as die bootjie kantel. Rinie was omtrent benoud. Toe ek uitklim kom my knieë bo die water uit, so vlak was die meer daar. Ek het in die water geloop en die bootjie met my hand na die wal getrek.

Eenkeer was ons in ons eie eenheid, ‘n gewone tweeslaapkamer huis, en die tweede keer in ’n A-raam huis, toe was Christiaan en Samantha saam.

Destyds was die tyddeelmark nie so oorvol nie, en ons het omtrent altyd plek gekry by die oorde waarvoor ons aansoek gedoen het - ek dink mens moes ‘n paar alternatiewe gee in die volgorde wat jy verkies. Ons het oor die jare baie lekker tyddeel vakansies gehad en dit omtrent altyd geniet.

My vakansies was gewoonlik die standaard drie weke, en ons het altyd by ons ouers, veral op die plaas gaan vakansie hou, en dan die laaste week ‘n tyddeel week gemaak. Die tyddele wat volg is nie in die volgorde wat ons daar was nie - dis hoe hulle in die Flexi-Club se vakansiegids voorkom.

 

 

CAPE CENTRAL:

Avalon Springs - Dis by die lieflike ou historiese Karoo dorpie van Montagu, by ‘n warmwaterbron, 200km van Kaapstad af.

Bantry Bay - Dis in Seepunt, 5 verdiepings af vanaf Victoria Road na die see. Dit het ‘n fantastiese see uitsig, met ‘n swembad onder net bo die branders. Ons het 2 keer daar gekuier, een keer was Marinus saam met Frieda-Marié by ons. Die eenhede is smaakvol uitgelê en bly lekker. Dit is loopafstand van die pragtige 4 Clifton strande.

Cape Gordonia - Dis in Gordonsbaai, oorkant die South African Naval College en die die seiljag hawe. Dit is ‘n wonderlike oord en ons het daaraan gedink om daar te koop, maar ons kon nie, omdat die seuns nog destyds studeer het. Ons eenheid was op 3 vlakke, die boonste vlak ‘n oop dek met ‘n jacuzzi en fantastiese uitsig saans oor Valsbaai se liggies. Ons het een keer baie lekker daar gebraai met Chris, Arina, Billy en Marlene.

Club Mykonos - Dit lê tussen Langebaan en Saldanha, en het ‘n pragtige Griekse karakter met sy helder kleure van wit, blou, rooi, turkoois en geel. Die kalivas is almal in Griekse styl gebou en goed toegerus. Daar is ook ‘n seiljag hawe en Griekse restaurante (waar mens jou borde stukkend gooi!), tennisbane en swembaddens buite en ‘n verhitte swembad onderdak. Daar is ook ‘n klein casino met ‘n restaurant langsaan. Hulle het baie uitgebrei sedert hul beginjare. Ons was al 4 keer daar, een keer saam met Johan en Elize Uytenboogaardt, en ‘n ander keer saam met Billy en Marlene Phillips. Ons het ook met ‘n boot op in die lagoon gery.

Hastings Hall - Dis geleë in Tamboerskloof, Kaapstad. Dit is baie sentraal en ons het Kaapstad verken die tyd wat ons daar was. Ons was ook met die kabelkarretjie op na Tafelberg.

Hermanus Beach Club - Dit lê op die rotsagtige seekus en daar is ‘n verskeidenheid sportsoorte op die perseel. Marinus en Frieda-Marié het voor hulle troue oor ‘n naweek vir ons kom kuier.

Kagga Kamma - Dit lê in die Sederberge van die Wes-Kaap, met ‘n canyon binne die wildreserwe. Dit is bekend vir sy skilderagtige skoonheid en honderde Khoisan rotstekeninge, wat tot 6000 jaar oud is. 

Mount Sierra - Dis ‘n 6 verdieping woonstelblok in Tuine, Kaapstad, en ons het Kaapstad sentraal daarvandaan verken, asook die Waterfront, Seepunt, Groenpunt, Clifton se strande, die Rooi Bus gery, Kampsbaai, Llandudno, Houtbaai, Chapmanspiek en ander plekke op die Kaapse Skiereiland.

Port Owen Marina - Dis ’n heerlike oord naby Velddrif in die Weskus, by die mond van die Bergrivier. Ons was twee keer daar, die eerste keer in ‘n cabana op twee vlakke, waar ons slaapkamer bo was. Ons het die groot glasdeur oopgeskuif en kon heelnag die geklingel van die seilbote se mastoue in die wind hoor.

Party dae kan die wind sterk waai en ek en Rinie het in ‘n roeibootjie windaf na die seilboothawe gevaar. Toe ons klaar die hawe besigtig het, moes ons windop roei na ons eenheid, en dit het swaar gegaan. Elke keer as ek asem skep, waai die wind ons weer terug na die hawe. Gelukkig het ek agtergekom dat as ek na aan die wal bly die wind bo-oor ons gaan en kon ons uiteindelik moeg terug by ons eenheid kom.

Port Owen is ‘n marina, so hulle het vleilande uitgebagger sodat mense met hul seilbote by hul huise kon vasmeer. Daar is ook ‘n mooi swembad. Die omgewing is tipies Weskus, met min plantegroei.

Strand Pavilion - Hierdie is ook ‘n baie lekker oord en ons het twee keer daar gebly. Beide kere was ons gelukkig om op die boonste vloer plek te kry, die tweede keer in die Penthouse aan die Gordonsbaai kant. Ons het vir Hugo en Ilse genooi om saam met ons daarnatoe te kom. Marietjie het ook saamgekom. Dit was ‘n baie lekker week daar saam. Almal het om die beurt kos gemaak. Ons het vir hulle die mooi plekke in die Kaap gaan wys. Net langsaan is die groot munisipale swembad. Op die boonste dek van die oord is ‘n klein swembad en braaigeriewe. Daar is ook ‘n verhitte swembad binne. Ons het op ons eie stoep gebraai en drankies gedrink.

The Peninsula - Dis op Beach Road in Seepunt en dis ook ‘n baie mooi tyddeel, pragtig geleë met ‘n volle seeuitsig voor jou. Dis luuks en ons was in ‘n lekker groot eenheid met volle kombuis, lugreëling en ‘n jacuzzi, wat die kinders baie geniet het. Die oord het daaglikse uitstappies gereël vir die gaste, een na Seinheuwel, en die ander langs die promenade langs die see af.

Ons het die makliker stappie langs die see gekies. By daardie groot sirkel net langsaan op Kusweg het die instruktrise ons oefeninge laat doen - plat op die rug, bene in die lug, swaai die arms, ens. Rinie het haar byna doodgeskaam, want daar is natuurlik ‘n aanhoudende stroom karre wat verby ry, maar ek het my nie daaraan gesteur nie. Verder af met die promenade was dit weer so, maar die twee seuns het hierdie keer sommer aangehou loop, seker ook skaamgekry.

Ons het die Passat snags buite in die straat parkeer, want binne-parkering was nogal duur. Die volgende oggend toe ons by die kar kom, was die passasiersruit uitgeslaan en die radio gesteel. Wat ‘n ergernis. Ek het Louis gevra waar ek die ruit kon laat vervang en dis toe naby sy werkswinkel gedoen. Die radio het ons later vervang.

Ons het Seepunt verken en ook op Cafda afgekom in Hoofstraat, ‘n tweedehandse boekwinkel wat ook baie LP’s verkoop het teen R3 elk, later R5, die meeste daarvan klassiek. Oor die jare het ek gereeld wanneer ons Kaap toe gegaan het, by Cafda aangegaan en is elke keer daar weg met ‘n klomp LP’s nog in uitstekende toestand.

Soos mense ouer word en na aftreeoorde verskuif, moet hulle kleiner gaan. Meeste het stapels LP’s, bymekaar gemaak oor baie jare, wat hulle dan van ontslae moet raak - dit laai hulle by Cafda af. Hulle verkoop dit en skenk die geld vir welsynsprojekte.

Toe ons self in 2023 moes kleiner gaan na Ametis, het ek byna 900 LP’s in uitstekende toestand, verseël in 5 stewige houtkiste, verkoop aan ‘n handelaar van Barrydale vir R1600. Hy het verseker ‘n baie groot slag geslaan - ek het seker tussen R4000 en R5000 daarvoor betaal.

Maar dis soos dit met almal gaan. As jy kleiner moet gaan, word jy geforseer om van baie, wat jy oor ‘n leeftyd opgebou het, ontslae te raak vir kleingeld. Uiteindelik is jy bly as iemand dit net van jou hande af wil neem. Baie van Rinie se rokke, uitgesoek oor jare, sommige nog nooit gedra nie, het ons gaan aflaai by Hospice en die ACVV. Sy het duisende daarvoor betaal.

The Riviera - Dis op Kusweg in Seepunt, en ons kon die Kaap daarvandaan verken. Dis na aan die groot munisipale swembad net langs die see. Die eenheid is met al die nodige toegerus.Soos al die vorige kere was dit ‘n lekker wegkomslag van die huis af.

 

TUINROETE:

Beacon Island Hotel - Dit is een van die skilderagtigste tyddeel oorde in Plettenbergbaai. Dis gebou op ‘n rots wat in die see inloop, 6 verdiepings hoog, en het ‘n groot ovaal binnekant, sodat jy van elke vloer kan afkyk na die grondvloer se binneruim. Dit is gebou op die plek waar daar ‘n walvisstasie was tot 1916. Aan die seekant is daar ‘n groot sitkamer met baie groot glasruite sodat ‘n mens ‘n pragtige uitsig oor die see en branders het, wat met hoogwater spat tot teen die ruite.

Daar is geen Self Catering nie, maar wel ‘n klein bar yskassie. Omdat ons nie kon bekostig om alvier elke dag in die hotel te eet nie, het ons eiers gekook in ons ketel en kos gekoop soos kits ontbytpap, hamburgers, melk, koffie, groente en vrugte. Ons het alle tekens daarvan, dat ons in die hotelkamer kos gemaak het, in die ingeboude kaste toegesluit.

Die laaste aand wat ons daar was, het ons onsself bederf deur in die hotel se eetkamer te gaan eet. Daar is baie sport en vermaaklikhede, en dit het natuurlik ‘n lieflike strand waar jy kan swem, branderplankry en bruinbrand.

Plettenbergbaai self is ‘n baie mooi dorp op die Tuinroete en daar is baie kunsplekkies naby, soos Old Nick Village, waar Rinie vir haar ‘n sybokhaar kniekombersie gekoop het - baie duur, maar die moeite werd. Ek was later spyt dat ons nie maar ‘n groter kombers gekoop het om ons albei toe te maak nie. Daar was ook ‘n stokou hout weefmasjien, waarmee hulle nog materiaal weef. Keurboomsrivier het pragtige kampeerplekke onder digte bome langs die rivier. Ons het daarop gevaar met kanoes.

De Bakke Terrace - Dis in Mosselbaai, oorkant die strande van Die Bakke, waar Oom Pieter-hulle baie jare gelede gereeld gaan vakansie hou het met sy bloedrooi motorboot met die swart Mercury buiteboord masjien. Die woonstel is goed toegerus en dit is Self Catering. Mosselbaai is ‘n baie historiese dorp met baie besieningswaardighede, soos die ou Poskantoorboom (wat al daar was in 1501), Delfinos Restaurant by die Punt, Cape St. Blaize ligtoring en grotte, Bartolomeu Diaz Museum, Pinnacle Point Estate en Casino, ATKV Hartenbos. Oudtshoorn en die Kango Grotte is ook naby, en natuurlik die Tuinroete.

Garden Route Chalets - in Sedgefield(sien vroeër) + Pine Lake Marina, ook in Sedgefield, op die Swartvlei meer. Daar is baie vermaaklikhede veral vir kinders, en ons het vêr op die meer gery met trapbootjies. Die eenhede is goed toegerus en is Self Catering.

Knysna Chalets - Naby Knysna lagoon. Dit is klein losstaande chalets, Self Catering. Van daar af het ons die Tuinroete verken.

Knysna River Club - Hier was ons tweekeer. Dit is goed-verniste aantreklike, ruim houthuise op die rand van die Knysna lagoon. Die eenhede is baie goed toegerus. Daar is ‘n swembad en dit is binne loopafstand van die Knysna Waterfront met sy baie vermaaklikhede en stalletjies.

Die mense wat met groter bote op die meer gaan vaar moet die gety dophou, want daar is groot dele wat baie vlak is met laagwater. Frik en Freda-hulle het só vasgesit met ‘n huisboot en moes wag vir die volgende hoogwater om weer los te kom.

Knysna is ‘n pragtige historiese dorp, met die Knysna Koppe, Brenton-on-Sea en die uitgestrekte Tsitsikamma woud met die Groot Boom, ‘n 800-jaar oue Outeniekwa-Geelhout, 36+ meter hoog, en ‘n omtrek van 9 meter. Dit is een van die mees gefotografeerde bome in Suid-Afrika. Ons het lekker daar gebly saam met ons twee seuns.

Stilheuwels - Hier het ons ook tweekeer gaan vakansie hou. Dit is teen ‘n heuwel in Stilbaai en goed toegerus en Self Catering. Stilbaai is ‘n rustige klein dorpie, net ‘n uur weg van Mosselbaai. Dit het lekker strande waar jy kan swem, die water is nie koud nie.

Eenkeer het ons saam met Mammie en Ilse-hulle met al hul kinders ‘n huis gehuur en vir ‘n paar dae baie lekker saam gekuier. Ons het eenkeer op die strand tussen die klippe en poele met die mooi anemone geloop, toe sien ek ‘n klein seekat in die water. Die kinders was baie skrikkerig, toe is ek ewe braaf en gaan versigtig nader. Ek het gehoor dat sy bek aan die onderkant tussen sy pote sit, toe gryp ek hom aan die bokant van sy kop, met die doel om hom op te lig dat hulle hom kan sien. Die volgende oomblik slaan hy sy arms soos blits op teen my arm en suig vas. Ek het my doodgeskrik en het sy arms een vir een probeer aftrek, dan slaan hy dit net weer op en suig vas. Ek was baie bang vir sy bek.

Gelukkig het hy seker agtergekom ek is onskadelik en netso bang vir hom as hy vir my, toe los hy my en ek laat val hom terug in die poel, waar hy dadelik onder die klippe in is. Ek weet nie wat die kinders gedink het van die hele petalje nie, maar verseker het hulle gesien ek het groot geskrik.

By ‘n ander geleentheid was ons by die swemstrand van Oos-Stilbaai en Mammie was tussen ons, al laggende in die branders. Met ‘n groot brander val haar valstande toe uit haar mond en dis natuurlik onmiddellik skoonveld. Ons het rondgesoek, maar soos ekself al by vorige soortgelyke geleenthede gevind het, die bewegende branders spoel so-iets weg en toe onder die sand, so dis verlore.

Die arme Mammie. Ons was na ‘n tandarts, maar dit sou meer tyd neem om vir haar nuwe valstande te maak as wat daar nog dae oor was van die vakansie. So Ilse-hulle het haar afgelaai sonder tande in Wolmaransstad.

Wilderness Dunes - Hierdie is ‘n fantastiese oord by Wildernis en ons was tweekeer daar, net verby die lang strand op pad na die Tuinroete. Dit lê 25 km vanaf George, verby die Kaaimansrivier pas, voor Sedgefield, aan die seekant van die N2, tussen bosse en baie na aan ‘n pragtige lang ongerepte sand strand. Daar is ‘n swembad en tennisbane.

Die atmosfeer is baie ontspanne en dis regtig ‘n ideale plek om te gaan uitrus. Die huise is almal luuks toegerus en Self Catering. Die ongewing is baie mooi, met die Map of Africa, die Fairy Knowe Hotel, Kaaimans Rivierbrug, Islandmeer, Bo-Langvlei, Rondevlei en die groot Swartvlei tussen Pine Lake Marina en Sedgefield, almal binne ry-afstand.

 

KWAZULU NATAL: 

Margate Sands - Hier is die goue Natalse strande, in teenstelling met die wit strande van die Kaap. Die hoofstrand is reg voor die groot woonstelblok van 7 verdiepings. Dit is ‘n heerlike vakansieoord, Self Catering, in die mooi ruie plantegroei van die Suidkus. Ons het baie rondgery na besienings-waardighede in die omgewing. Ons het almal met kanoes op in die rivier gery. Daar is baie ontspanningsgeriewe binne die oord met swembaddens buite. Dit was baie warm gedurende die nagte, en sweterig. Die laaste dag toe ons regmaak om 10:00 uit te gaan, sien ek ‘n kontrole teen die eetkamermuur en besef dis vir die lugreëlaar, wat ons só nodig gehad het!

Tenbury - Dit is ‘n 10 verdieping gebou op die Durban se Suidstrand. Dit is ook Self Catering en het nie juis fasiliteite op die perseel nie. Ons het die omgewing verken, ook langs die Golden Mile strand gestap. Die seewater is natuurlik heerlik warm, in teenstelling met die Kaap se koue water. Vos-hulle was dieselfde tyd toe ons by Tenbury was in die Oceanic in Durban, en ons het lekker saam gekuier, ook in die groot spa.

Hy en Marietjie het die hele Durban en omgewing goed geken, omdat hulle baie jare daar gaan vakansie hou het. Vos was baie lief vir Rinie, en elke keer dat ons na ‘n vakansie wegry was Vos in trane - hy was ‘n emosionele mens.

Hy het ons eenkeer uitgeneem na ‘n eetplek wat bekend was vir hulle steaks en ribs waar jy kon eet soveel jy wil vir een se prys. Vos kán eet en hy het die volle rekening betaal. Die volgende keer toe ons saam gaan uiteet, het hy ons geneem na Amanzimtoti suid van Durban, na ‘n eetplek waar jy soveel seekos kan eet as wat jy wil. Toe was dit my beurt om te betaal.

Umhlanga Sands - Dit lê op die pragtige Noordkus langs die strand en is ‘n 15 verdieping gebou. Dit is een van die populêrste strande in Suid-Afrika en het baie vermaaklikhede on site en in die omgewing, pragtige plekke om na uit te ry. Die woonstel is goed toegerus en is deels Self Catering.

 

DRAKENSBERG: 

Champagne Lane - Dit is aparte grasdakhuise naby Winterton. Die huise is pragtig, ruim en goed toegerus en Self Catering. Dit lê in ‘n baie mooi omgewing, naby die reuse Drakensberge. Ek wou met een van die passe opry, maar die Passat wou nie, toe draai ons maar terug huis toe.

Daar was ‘n trampoline en die seuns het natuurlik baie daarop gespring. Christiaan was seker so in Standerd 1 of 2. Hy kom roep ons, want hy wil vir ons wys hoe hy summersault. Hy trap toe effens skeef en beland met sy kop op die staalraam. Sy kopvel was oopgekloof, sodat die wit van die been wys, en die bloed stroom uit. Die oordbestuurder sê die naaste dokter is in Winterton, 30 km weg. Ek het die dokter gebel en gesê ons kom. Toe ons met die Passat daar aankom het hy die bloeding gestop en verskeie steke ingesit.

Hy sê toe ons moet die volgende dag na Ladysmith hospitaal gaan dat hulle X-strale van sy kop kan neem om seker te maak hy het nie skedelbreuk nie. Dit was natuurlik ‘n hele dag se ry. Gelukkig was daar geen probleem nie - hy het ‘n harde kop, letterlik en figuurlik!

Little Switzerland - Dit lê hoog op die Olivierspas binne sig van die Drakensberg se Amfiteater, naby Bergville. Saam met Christiaan was Alida op sy BMW 1150 RS - hulle was kort getroud. Ons chalet was Self Catering en op twee vlakke - Marinus het in die woonkamer geslaap. Dit is goed toegerus en daar is redelik baie fasiliteite op die oord, soos ‘n swembad, tenniesbane, squash, tafeltennis en ‘n sauna. Ons het een middag vêr gaan stap na ‘n riviertjie. Daar is ook ‘n rolbalbaan en balle, so ons het ‘n paar keer daar gaan speel met die kinders - hulle het dit nogal geniet om saam met Rinie te speel, sy is mos ‘n kampioen.

Dis ‘n pragtige omgewing, maar die padoppervlak daarheen was ongelooflik swak - die oord is later gesluit as gevolg daarvan.

 

MPUMALANGA: 

Waterberry Hill - Dis naby Hazyview en ons was tweekeer daar, in losstaande huise, wat Self Catering is en goed toegerus. Op die perseel is ‘n swembad, jaccuzi, tennisbane, mini golf, tafeltennis en ‘n poeltafel. Die omgewing is baie mooi en ruig, met Hazyview 4km weg en Kruger Nasionale Park 19km.

Ons was daar toe Marinus en Ingrid, sy Engelse meisie, in Suid-Afrika kom kuier het gedurende sy Working Holiday. Ons was eenkeer in die Wildtuin in by Numbi hek. Êrens by ‘n laagwaterbrug oor ‘n rivier staan ons en kyk na wild by die water, toe skree Ingrid “Olifante, olifante!”. Daar kom toe ‘n hele trop olifante uit die bosse af na die water, met verskeie kleintjies ook. Ons het ons aan hulle vergaap, soos hulle speel in die water, baie na aan ons motor. Ons het die hele dag in die Wildtuin rondgery en nog baie ander diere gesien.

Dit moes vir Ingrid wonderlik gewees het, want alhoewel sy in Suid-Afrika gebore is, het beide haar ouers in England gebly, en is daar geskei. Sy het saam met haar drie susters en haar Ma in Hastings, op die kus suid van Londen gebly, en Marinus het by hulle loseer. Almal was baie erg oor Marinus en hy het Britse burgerskap gekry om gratis by ‘n Britse universiteit te gaan studeer. Maar hy het besluit om eerder in Suid-Afrika te kom studeer, by Stellenbosch Universiteit, waar hy later sy doktorsgraad gekry het.

Waterberry Hill lê in ‘n pragtige omgewing in die Laeveld, naby plekke soos God’s Window, Bourkes Luck Potholes, Blyderivier Canyon en talle wonderlike watervalle, o.a. Lone Creek, Lisbon, Mac Mac en Berlin. Die Laeveld het regtig van die mees besieningswaardige plekke in die land - die Long Tom pas, die Drie Rondawels, Graskop, Ohrigstad en Pelgrimsrus. Ons het lekker ontspan in ons eie jacuzzi.

Dit is piesangwêreld, en ek het ‘n hele tros grasgroen piesangs langs die pad gekoop om huis-toe te neem, meer as ‘n meter hoog. Die aand los ek die tros buite op ‘n staal tafeltjie. Die volgende oggend moes ons sien dat die ape of bobbejane in die tros piesangs was en die meeste daarvan gekneus het met hulle rowwe hantering. Ons moes later die meeste daarvan weggooi.

 

NORTH WEST:

Bakubung Bush Lodge - Dit lê in die Pilanesberg Nasionale Park, naby die Sun City kompleks. Die eenhede bestaan uit grasdak chalets, goed toegerus en Self Catering. Daar is ‘n groot swembad waar mens kan ontspan en tennisbane. Ons het deur die Pilanesberg Wildtuin gery en baie diere gesien, maar nie so baie soos in die Kruger Wildtuin nie. Ons het een volle dag na Sun City gegaan, 15 km weg, waar daar natuurlik baie besienswaardighede is. Ons het almal ook vir die snaaksigheid ‘n paar rand gaan dobbel - Marinus was die enigste een wat heelwat gewen het.

Dikhololo - Dit is 32 km van Brits af in Noordwes. Dit is grasdak eenhede, Self Catering en goed toegerus. Dit lê in die Bosveld en daar is ‘n swembad, tennisbane, squash, mini golf, ‘n poelkamer en restaurant. Ek het vir Heine gevra om die naweek vir ons te kom kuier en dit was vir my baie lekker met hom daar - ons het vêr ente alleen gaan stap en mekaar se geselskap geniet. Hy is my oudste seun en diep in my hart.

Mabula - Dit lê 50km van Warmbad af in die Waterberge se Bosveld. Die eenhede is wyd uitmekaar gespasieer sodat jy glad nie mekaar sien nie. Soms het ek snags die swaar voetval van ‘n groot dier buite die oop venster gehoor - dit moes ‘n olifant of renoster gewees het.

Die chalets is goed toegerus en Self Catering. Daar is tennisbane, ‘n gym, restaurante. My Ma en Rinie se Ma het saam met ons gekom en ons kon sien hulle het dit baie geniet.

Ons was almal op ‘n nagrit om na diere te gaan kyk, maar het omtrent byna niks gesien nie. Feitlik weer terug by die kamp skyn die gids met sy sterk flits op die pad en daar is twee baie klein blink liggies - dit was ‘n spinnekoppie se ogies! Dis nou ‘n wildrit!

Vos en Marietjie was ook daar. In die aand wanneer Vos vleis braai op die stoep het die vlakvarke met hul kleintjies daar naby verby gedraf, met hulle koddige stertjies regop in die lug. Mense het seker vir hulle kos gegooi.

Magalies Park - Dit lê langs Hartebeestpoortdam en is wyd uitmekaar gebou met groot grasperke tussen-in. Dis Self Catering en goed toegerus, met swembaddens, sauna, tennisbane, squash, golfbaan en restaurante. Die naaste dorp is Schoemansville (12 km). Een middag het daar ‘n hewige haelbui uitgesak. Ek het buite onder die oorhang gestaan, toe val daar ‘n baie groot haelsteen wat die plaveisel met ‘n slag tref sodat die ys in alle rigtings spat.

Sun City - Dit lê aan die kant van Pilanesberg Nasionale Park en is by verre die grootste tyddeel oord in Suid-Afrika. Daar is ‘n lugtrein om mense van hulle motors te vervoer na die talle vermaaklikhede. Daar is ook ‘n gereelde 24-uur busdiens om mense gratis van hulle chalets na ontspanningsplekke en terug te vervoer. Daar is 4 hotelle - The Palace, Cascades, Cabanas en Lost City.

Daar is 2 golfbane, een die Gary Player golfbaan, ontwerp deur Gary Player self, waar die Nedbank Golf Challenge jaarliks in November gespeel word. Dit lok top spelers van oor die hele wêreld. Die tweede baan is die Lost City golfbaan.

Dan is daar die Valley of Waves, waar kunsmatige branders gemaak word vir swemmers om te surf, seilbote, waterski, swembaddens, jacuzzis, tennisbane, squash, golf, perdry, ‘n dieretuin, 2 casinos, baie restaurante en ‘n supermark.

Verder kan mense met verskeie roetes deur Pilanesberg Wildtuin ry om ‘n groot verskeidenheid diere te besigtig.

Rondom Pilanesberg is daar verskeie tyddeeloorde - Bakubung, Kwa Maritane, Manyane en Bakgatla. As mense nie plek in Sun City kan kry nie, kan hulle by een van hierdie oorde tuisgaan en daagliks inry na Sun City. Binne Pilanesberg is daar 7 lodges. Sun City is die ideale oord vir mense om aan al die vermaaklikhede deel te neem wat aangebied word, 24-uur per dag by die casinos en sommige ander plekke soos restaurante.

 

SLOTSOM: DIE EINDE VAN ’n ERA

Ons het een keer by Club Mykonos ‘n tyddeel gekoop omdat die konsultant ons verseker het dat hulle die tyddeel vir ons sal verhuur. Dit het toe nie so gebeur nie en ons het lank gesukkel om van daardie tyddeel ontslae te raak. Ek het selfs met een van die direkteure van Flexi-Club, Peter Snyman, ‘n lang briefwisseling gehad, maar hy wou nie bes gee nie.

Daardie tyd was daar in die pers baie slegte beriggewing rakende die hele tyddeel bedryf, en Peter was uitgevra op een van daardie TV gesprekke. Die gesprekleier het aangevoer dat baie mense sê hulle kan nie hulle tyddeel eenhede verkoop nie, selfs nie eens daarvan ontslae raak wanneer hulle dit nie meer kan bekostig nie. Hierop het Peter gesê Flexi-Club stel wel mense vry van hulle tyddeel verpligting indien hulle die regte roetine nakom, voor die einde van Mei elke jaar.

Ek het toe die volgende jaar teen Maart vir Peter ‘n brief geskryf en hom herinner aan sy onderneming in die pers, en gevra om vrygestel te word van my finansiële verpligting, wat op daardie stadium R13,600 per jaar beloop het.

Uiteindelik was ek los van Flexi-Club. Toe Rinie haar tyddeel gekoop het in 1983 was die jaarlikse fooi maar R400, en ‘n mens het geredelik die oord wat jy versoek het gekry, op die tyd wat jy daarheen wou gaan.

Maar soos al meer mense ingekoop het in tyddeel het dit al moeiliker geword om te kry wat jy wou hê op die tyd wat jy dit wou hê. En inflasie het dit naderhand baie duur gemaak, sodat jy dit naderhand nie meer kon bekostig nie. Vir R13,600 kan ek waarskynlik ‘n goeie week êrens op my eie kry, sonder om aan ‘n tyddeel organisasie gebonde te wees.

Toe ons saam met die twee seuns by Margate Sands was, het Christiaan die oordbestuurder gaan vra wat dit sal kos om ‘n week daar te bespreek, want hy het op trou gestaan en het daaraan gedink om daar te bly vir ‘n week. Toe sê die bestuurder die prys is dieselfde as wat ek betaal het met my tyddeel lidmaatskap! Dus is daar geen voordeel meer om nog aan ‘n tyddeel-organisasie te behoort nie. Dié vakansie stelsel het sy nut uitgeleef.

 

My slotsom oor die tyddeelbedryf strook met die ervaring van duisende Suid-Afrikaners. In die 80's was dit 'n revolusionêre manier om luukse vakansies bekostigbaar te maak, maar die stygende heffings en die gemak van aanlyn besprekings het die model grootliks uitgedien. Die lidmaatskap fooie het uiteindelik die koste van direkte besprekings oorskry.

 

Hoewel die finansiële stelsel sy nut uitgeleef het, bly die herinneringe aan sonskyn, lag, en familie-saamwees ons rykste erfenis. Alhoewel die stelsel uitgedien is, die herinneringe in terme van familie-tyd onskatbaar.

 

 

 

 
 
 

Comments


bottom of page